Browse
Recent Submissions
Now showing 1 - 2 of 2
- Item"Raak getref en tog onaangetas gelaat." Parodierende toonsetting in Roelof Temmingh se Met apologie(LitNet, 2022) Holder, Alene; Ludemann, WinfriedIn sy toonsetting van D.J. Opperman se “Met apologie” maak Roelof Temmingh van verskeie tegnieke gebruik om die reeks parodiërende gedigte musikaal te vertolk. Hierdie artikel ondersoek die verhouding tussen teks en musiek in Met apologie deur die siklus aan die hand van stilistiese kenmerke en musikale intertekstuele verwysings te bestudeer. Temmingh se vermoë om in uiteenlopende style te komponeer is ’n belangrike faktor in hierdie bespreking. Hy verwys byvoorbeeld na die musiek van Claude Debussy, Anton Webern, Paul Hindemith en Dmitri Sjostakowitsj, asook na kabaretstyl om die stemming en parodiërende (of selfs satiriese) kommentaar van Opperman se teks te verklank. Temmingh se toonsetting vertolk egter nie net die strekking van Opperman se teks nie, maar resoneer ook met wyer aspekte van die oeuvres van digters wat nageboots word. Die liedsiklus bied verskeie vertolkings van die sentrale karakter: die weduwee Viljee. Sy word soms as tragies, soms as komies, soms as eroties en soms as kranksinnig uitgebeeld.
- Item'n Kritiese beskouing van Winfried Ludemann se teoretisering oor 'n musikale versoeningsdialoog(LitNet Akademies, 2020) Viviers, EtienneIn sy gewigtige en komplekse teoretisering oor musiek, kulturele diversiteit, menswaardigheid en Suid-Afrikaanse demokrasie formuleer Winfried Lüdemann ’n metodologie – of selfs ’n bloudruk – wat die georganiseerde beskerming van postapartheid Suid-Afrika se musiekkulturele diversiteit voorstaan. Sy voorgestelde aksie van dialoogvoering word aangebied as ’n versoeningsmeganisme waarsonder die moontlikheid van ’n multikulturele demokrasie ongedaan gemaak kan word. Alhoewel die teoretiese raamwerk van Lüdemann se gedagtegang ingewikkelde invalshoeke aan onder andere paleomusikologie en ekumeniese teologie ontleen, is daar ’n ongekompliseerde samevalling tussen sy betoog vir die beskerming van musiekkulturele diversiteit en eietydse, spesifiek Afrikaanse veldtogte by universiteite vir die beskerming van taaldiversiteit in postapartheid Suid-Afrika. In hierdie artikel word uitvoerig ondersoek ingestel na die spesifieke gedagtes en redenerings wat Lüdemann in hierdie verband met musiek se beskerming voorhou. Tesame met die uitwysing van enkele drogredenasies in sy voorgestelde sillogistiese metode om musiekkulturele diversiteit te implementeer en in stand te hou, word in hierdie artikel verskil met sy mening dat multikulturele samelewings se vreedsame naasbestaan afhanklik is van musikale interaksie en ’n versoenende musikale dialoogvoering rondom die gemeenskaplike waarde van menslikheid of menswaardigheid. Melding word gemaak van hoe enige toepassing van Lüdemann se voorgestelde metodologie of bloudruk onopsetlik die anachronistiese kulturele landskap van apartheid sou ondersteun in ’n scenario waar monistiese musiekkulture mekaar op ’n denkbeeldige tussengrond moet probeer ontmoet en daarna met mekaar ’n versoeningsdialoog voer. Indringende vrae word gestel oor sy opvatting dat veral Westerse en Suid-Afrikaanse kunsmusiek beskerm moet word om te dien as bolwerk teen die eenvormige versmelting van musiekkulturele diversiteit en die daarmee gepaardgaande en oënskynlike ongedaanmaking van Suid-Afrika se postapartheid demokrasie. Lüdemann se oortuiging dat interkulturele dialoogvoering met musiek nie deur middel van vertaling kan gebeur nie, word ook aan kritiese bevraagtekening onderwerp.