Research Articles (Journalism)
Permanent URI for this collection
Browse
Recent Submissions
- ItemDie oorsprong van die (Hollands-)Afrikaanse joernalistiek, die tydsgewrig, en Abraham Faure as pionier(LitNet, 2021) Rabe, LizetteHierdie artikel het ten doel om die oorsprong van die (Hollands-) Afrikaanse joernalistiek, die tydsgewrig waarin dit ontstaan het, en Abraham Faure (1795–1875) as eerste redakteur van ’n eerste Hollands-Afrikaanse publikasie te beskryf. Die artikel gebruik as formaat ’n chronologiese mediageskiedkundige narratief om die verloop en ontwikkeling van dié era in die SuidAfrikaanse mediageskiedenis te karteer. Binne die veld van die mediageskiedenis word die teoretiese vertrekpunt en metode met mekaar vervleg om die ontstaansgeskiedenis van die Hollandse joernalistiek, wat later die Afrikaanse joernalistiek sou word, te ondersoek. ’n Oorsigtelike konteks van die Kaap van sy tyd vanaf die VOC-besetting word eerstens aangebied. Die Brits-koloniale tydperk, waarin Nederlands aktief deur Engels vervang moes word, word beskryf, asook die aanbreek van persvryheid wat ’n onbedoelde gevolg gehad het, naamlik dat Nederlandse publikasies vir die eerste keer vrylik gepubliseer kon word. Daarop volg ’n lewenskets van Faure wat die omvang van sy werk en statuur aan die Kaap beskryf, waarna die ontstaan en ontwikkeling van die eerste Hollandse publikasie, naamlik Het Nederlandsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift (HNZAT), beskryf word. Die deel van hierdie artikel fokus op Faure se rol as pionier wat betref die ontstaan van die vroee (Afrikaanse) joernalistiek. Faure was ook die stigter van die kerkblad De Honigbij, voorloper van D(i)e (Gereformeerde) Kerkbode, ook deur hom gestig, die oudste publikasie wat steeds gepubliseer word. Die joernalistieke ontwikkeling wat op HNZAT gevolg het, word ook ten slotte kortliks belig. Danksy die veelsydige Faure is die grondslag gele vir wat later die Hollands-Afrikaanse joernalistiek aan die Kaap sou word.
- ItemDie praktiese manifestasie van taalverhoudings in die mashoof van die eerste koloniale koerant in Suid-Afrika (1800–1829)(LitNet, 2021) Botma, GawieHierdie artikel ondersoek die praktiese manifestasie van Nederlandse en Engelse taalverhoudings in die veranderende mashoof van die eerste koloniale koerant, die Kaapsche Stads Courant, en Afrikaansche Berigter / The Cape Town Gazette, and African Advertiser (voortaan KSC/CTG), wat in 1800 in die Kaapkolonie gepubliseer is. Die fokus op KSC/CTG is geinspireer deur die feit dat die koerant – wat gewoonlik vinnig as “staatskoerant” geklassifiseer en afgemaak word – meer aandag van mediahistorici verdien. Hoewel die staat, onder die Britse en Nederlandse bedelings, aanspraak gemaak het op ruimte vir sy amptelike proklamasies, het die koerant terselfdertyd ’n ekonomiese, sosiale en kulturele rol gespeel in die afwesigheid van enige ander gereelde populere publikasies in die eerste kwart van die 19de eeu. In sy taalaanbieding, van meet af aan in Nederlands en Engels, het die koerant die verhoudings tussen twee mededingende Europese lande en verskillende koloniale belangegroepe beliggaam. Die koerant se oorspronklike mashoof, en die talle veranderinge daaraan in die daaropvolgende kwarteeu, verskaf insig in hierdie 19de-eeuse taalverhoudings aan die Kaap. ’n Literatuurstudie bied eerstens ’n oorsig van die ontstaansgeskiedenis en ontwikkeling van KSC/CTG. Dit word opgevolg met ’n kwalitatiewe inhoudsbeskrywing van veranderinge aan die mashoof van die koerant oor vier geidentifiseerde tydperke, naamlik die semi-onafhanklike stigtingstydperk (1800–1801), die eerste Britse tydperk (1801–1803), die Nederlandse tydperk (1803–1806) en laastens die tweede Britse tydperk (1806–1829). ’n Twaalftal uitgesoekte voorblaaie van die koerant word ter illustrasie ingesluit. Die argument berus op die veronderstelling dat ’n koerant se mashoof tradisioneel doelbewus gekies en slegs met goeie rede verander word. Die artikel toon dat Engels vinnig veld kon wen as koeranttaal in die Kaapkolonie ondanks die dominante rol wat Nederlands in die samelewing gespeel het. Dit word toegeskryf aan die samewerking tussen die staat en private ondernemers, ’n tendens wat in die Suid-Afrikaanse geskiedenis ook sigbaar is. Die slotsom is dat ’n meer inklusiewe benadering tot die ontstaansgeskiedenis van die eerste koloniale koerante, wat die Nederlandse en Engelse invloede gesamentlik eerder as apart beskryf, huidige eensydige beskouings van die 19de-eeuse stryd om die vryheid van die pers verder sal belig.
- Item'n Landboublad as "sosiale barometer" : Landbouweekblad as aanwyser van een eeu se landbou-ontwikkeling(LitNet, 2019) Rabe, LizetteDie Afrikaanse landboutydskrif Landbouweekblad vier in Mei 2019 sy eeufees. Hierdie artikel beskou vanuit ‘n mediageskiedkundige asook tydskrifstudie-vertrekpunt die ontstaan en ontwikkeling van die blad sedert 1919. ‘n Oorsig vanuit ‘n mediageskiedkundige perspektief, saam met ‘n kortbegrip van tydskrifstudie as onderontwikkelde navorsingsveld in Suid-Afrika, word as fundamentele vertrekpunte aangebied met as kernbegrip tydskrifte as sosiale barometers van hul tyd. Dié begrip van tydskrifte as barometers is ‘n gepaste metafoor gesien die fokus van die artikel, aangesien die landbou van die stand van ‘n barometer afhanklik is as aanwyser van goeie of slegte nuus. ‘n Oorsigtelike bespreking van die politieke ekonomie van die mediateorie, veral toepaslik in die lig van die ontstaansgeskiedenis van die blad in sy spesifieke sosiopolitieke omstandighede, volg. Daarna word ‘n chronologiese boekstawing van die blad se ontstaansgeskiedenis aangebied. Kontekstueel kan die gevolgtrekking gemaak word dat dit vandag ‘n dinamiese produk te midde van groot uitdagings is. Sy eeufees word gevier te midde van erge onsekerheid rondom die landbou (die teikenmark wat dit bedien) asook die tegnologierevolusie (as mediaproduk). Ook hierin toon dit egter sy fundamentele aard as ―sosiale barometer‖ deur byvoorbeeld sy leierskap met die aanbied van die 2018-konferensie oor grondhervorming in ‘n tyd van sosiopolitieke onstabiliteit. Wat betref mediavernuwing as gevolg van die tegnologierevolusie het die blad ook gemorfeer in nuwe produkte in antwoord op uitdagings betreffende die ontwrigtende digitale ekonomie. As finale gevolgtrekking kan dit gestel word dat die doelwitte van een eeu gelede steeds nagestreef word en dat die blad inderdaad beskryf kan word as ‘n sosiale barometer wat die stand van sake, of ―temperatuur‖ en ―klimaat‖, kon ―lees‖ en in sy blaaie kon weerspieël.
- ItemDie belang van kritiese selfrefleksie deur joernalistiekopvoeders(Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2018) Jordaan, MarenetDie joernalistieke bedryf is onder groot druk en verander teen ʼn ongekende pas. Dit beteken joernalistiekopvoeders – veral op tersiêre vlak – moet gedurig herbesin oor wat in die lesinglokaal gebeur om tred te hou met omwentelinge in die bedryf. Die kernargument in hierdie artikel is dat joernalistiekopvoeders die basiese beginsels van kritiese selfreflektiewe onderrigpraktyk in gedagte moet hou wanneer hulle interaksie met studente het en kurrikula ontwikkel. Kritiese selfreflektiewe onderrigpraktyk beteken om deeglik na te dink oor bestaande waardestelsels en ervaring alvorens besluite oor toekomstige onderrigbenaderings gemaak word (Larrivee 2000:294). In die artikel word kennis geneem van debatte binne joernalistiekonderrig, wat insluit die soms gespanne verhouding tussen die akademie en die bedryf, sowel as onsekerheid wat steeds bestaan oor waar joernalistiekprogramme in die groter universiteitsomgewing inpas. Aandag word ook geskenk aan die veranderende leerstyle van studente. Die gebruik van digitale media-tegnologie word as voorbeeld gebruik van hoe daar soms wanopvattings kan bestaan oor studente se ervaring binne en buite die lesinglokaal. Kritiese selfreflektiewe onderrigpraktyk word gedefinieer ten einde te argumenteer dat dié benadering veral relevant kan wees vir joernalistiekonderrig op universiteit. As voorbeeld van hoe kritiese selfrefleksie aangewakker kan word onder joernalistiekopvoeders, word verwys na ʼn gevallestudie by die Universiteit Stellenbosch se nagraadse joernalistiekdepartement. In dié geval word terugvoer uit fokusgroepe met honneursstudente aangewend om te reflekteer oor kursusinhoud en leerbenaderings wat ook tot kurrikulumvernuwing kan lei.
- ItemLoerbroer en biegbank : die uitwysing van rassisme deur die postapartheid- Suid-Afrikaanse media(Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2018) Botma, GawieDie voortdurende debat oor die rol van die media in die samelewing word in hierdie artikel verryk deur die identifisering van twee nuwe metaforiese beskrywings: loerbroer en biegbank. Die beskrywings spruit uit ʼn Foucaultiaanse lesing van die wisselwerking tussen mag/kennis en die rol van die media in diskoerse wat in die samelewing om hegemonie meeding. Die toepassing daarvan werp lig op die dekking van insidente van beweerde rassisme in die Suid- Afrikaanse media oor die laaste paar jaar. Die artikel toon aan hoe daar ondanks diversiteit in die media tog ʼn patroon ontstaan wat deur die loerbroer en biegbank beskryf kan word.