Moontlikheid en werklikheid. Waarom kan Suid-Afrika (nog) nie die droom van ’n inklusiewe samelewing verwesenlik nie?
Date
2022
Authors
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
LitNet
Abstract
Die artikel fokus op die vraag waarom Suid-Afrika na bykans drie dekades van ’n inklusiewe
politieke bestel skynbaar nog nie daarin kon slaag om die ideaal van ’n inklusiewe samelewing
te verwesenlik nie. Verskillende faktore dra hiertoe by. Een faktor wat nie voldoende in
aanmerking geneem word nie, is oorgelewerde denkpatrone wat die nuwe bestel in sy nuwe
formaat steeds kniehalter. Wat onderskat word, is die vertrekpunt van hierdie denke, die
kontoere wat dit volg en veral die rigting of oriëntasie waarin dit plaasvind.
Om hierdie probleem te illustreer, word insigte uit Mahmood Mamdani se onlangse boek,
Neither settler nor native, as uitgangspunt geneem. Mamdani (self ’n sterk voorstander van
dekolonialisering) beweer dat die dekolonialiseringsprojek in vele opsigte misluk het omdat
die nuwe bewindhebbers die denkwyses, sosiale kategorieë en burgerskapsmodelle van die
koloniale era oorgeneem en steeds gehandhaaf het. Aan die hand van voorbeelde soos
die “makmaak” van die Amerikaanse Weste, die opkoms van die Nazi-ideologie in Duitsland,
die skynbaar onoorbrugbare kloof tussen Israeliet en Palestyn in die huidige staat Israel en
die verdeling tussen Noord- en Suid-Soedan maak hy duidelik hoe die (koloniale) verlede
steeds die (gedekolonialiseerde) hede beïnvloed. Suid-Afrika is volgens Mamdani die een
uitsondering, waar die bestaande orde op radikale wyse vervang is deur ’n inklusiewe politieke
bestel waarin alle burgers in teorie dieselfde regte het. Die ironie is egter dat formele
inklusiwiteit nog nie in dieselfde mate tot sosiale inklusiwiteit gelei het nie. Waarom word die
moontlikheid wat die Grondwet bied, nie ’n werklikheid nie?
Die insigte van Eberhard Jüngel oor die verhouding tussen moontlikheid en werklikheid
bied ’n sleutel om hierdie dilemma te ontknoop. Anders as Aristoteles, wat die werklikheid as
van “meer waarde” as die moontlikheid ag, dring Jüngel daarop aan dat die prioriteit aan die
moontlikheid gegee word. As die bestaande werklikheid die norm is, kan ons alleen herhaal wat reeds werklikheid was. As die moontlikheid die voorrang het, open dit geleenthede om ’n
nuwe werklikheid tot stand te bring.
Hiervoor is verbeelding nodig – nie as ontvlugting uit die werklikheid nie, maar as die energie
wat “intensie” (Husserl) loslaat om – vry van die hede – ’n alternatiewe toekoms te bedink
en strategieë te ontwikkel om vanuit hierdie visie terug te dink na die hede. Hierdie moontlike
toekoms word werklikheid deur elke dag op te tree in terme en volgens die waardes van die
nuwe visie.
Description
CITATION: Lategan, B. 2022. Moontlikheid en werklikheid. Waarom kan Suid-Afrika (nog) nie die droom van ’n inklusiewe samelewing verwesenlik nie? LitNet Akademies, 19(3):631-647, doi:10.56273/1995-5928/2022/j19n3c4.
The original publication is available at https://www.litnet.co.za
The original publication is available at https://www.litnet.co.za
Keywords
Decolonisation
Citation
Lategan, B. 2022. Moontlikheid en werklikheid. Waarom kan Suid-Afrika (nog) nie die droom van ’n inklusiewe samelewing verwesenlik nie? LitNet Akademies, 19(3):631-647, doi:10.56273/1995-5928/2022/j19n3c4.