Masters Degrees (Curriculum Studies)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Masters Degrees (Curriculum Studies) by Subject "Academic success"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemKritiese suksesfaktore vir werkende studente in 'n aanlyn leeromgewing(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2023-03 ) Du Preez, Daniella; Fourie-Malherbe, Magdalena; Stellenbosch University. Faculty of Education. Dept. of Curriculum Studies.AFRIKAANSE OPSOMMING: Die volwasse werkende student is kenmerkend van die hedendaagse hoëronderwysbestel en word toenemend as die norm beskou. Volwassenes wat deur hoëronderwysstudies kennis wil ontwikkel, kundigheid wil versterk, vaardighede wil aanleer en lewenslange leer toepas, moet hul studies balanseer met vele ander verpligtinge soos gesins- en gemeenskapsverantwoordelikhede en ʼn loop-baan. Weens werkende studente se uiteenlopende verpligtinge en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan, word hulle genoop om voortdurend ʼn balans tussen werk, gesin en studies te probeer bewerkstellig. Wanneer dit nie meer moontlik is om hierdie balans te handhaaf nie en die werkende student sekere verpligtinge moet prioritiseer, bly hulle studies meestal in die slag. Die fokus van hierdie navorsing is gerig op die kritiese suksesfaktore wat werkende studente in staat stel om hulle studies te slaag. Suksesfaktore in drie subkategorieë, naamlik persoonlike, institusionele en werksplekfaktore, is uit vakwetenskaplike literatuur geïdentifiseer. Die teikengroep van die studie was afgestudeerde werkende studente, wat reeds hul kwalifikasies in ʼn aanlyn leeromgewing suksesvol voltooi het aan ʼn privaat hoëronderwysinstelling (HOI) met Afrikaans as onderrigtaal. Die verduidelikende gemengde navorsingsmetode is gevolg, wat beide kwantitatiewe en kwalitatiewe data in twee opeenvolgende fases ingesamel, ontleed en vermeng het om suksesfaktore vir die werkende student te bepaal. Die eerste fase het bestaan uit ʼn kwantitatiewe studie wat ʼn self-gegenereerde vraelys as data-insamelingsinstrument gebruik het. In fase twee is kwalitatiewe data ingesamel deur middel van individuele aanlyn onderhoude met afgestudeerde werkende studente wat ook aan die vraelysopname deelgeneem het. Alhoewel Bean en Metzner (1985) se model vir onkonvensionele voorgraadse studenteverlies as ʼn konsepsuele raamwerk vir hierdie studie voorgehou is, het die bevindinge van hierdie studie verskille getoon met die Bean en Metzner model. Die resultate van hierdie studie het dus gelei tot die ontwikkeling van ʼn konsepsuele raamwerk wat veranderlikes (kritiese suksesfaktore) identifiseer wat relevant is tot die bevindinge in hierdie studie en die privaat HOI waarop die studie gebaseer is. Die bevindinge het getoon dat toewyding, tydsbestuur, motivering en gesinsomstandighede deur deelnemers aan die studie as die belangrikste persoonlike faktore geag is. Die belangrikste institusionele faktore was gehalte onderrig, kurrikulumgehalte, die moontlikheid van ʼn beter werk na voltooiing van kwalifikasies, beskikbaarheid van nauurse studies, en studiekoste. Werksure, studieverlof, die invloed van werkslading op akademiese prestasie en verdeelde fokus tussen werk en studies is as die belangrikste werksplekfaktore bevind wat ʼn rol speel in die suksesvolle voltooiing van HO studies. Die deelnemers aan die onderhoude het almal tydsbestuur as uiters belangrik geag en dit was ook hul grootste uitdaging tydens hul studies. Die bevindinge van hierdie studie dra by tot die bestaande kennis en literatuur oor die suksesfaktore wat ʼn positiewe effek kan hê op die akademiese sukses van werkende studente. Wanneer werkende studente die belangrikheid van hierdie suksesfaktore beter verstaan, stel dit hulle in staat om ingeligte besluite te neem en die nodige stappe te neem om akademies suksesvol te wees. Die studie se bevindinge bied ook insigte vir HOI’s en werkgewers ten opsigte van die behoeftes en uitdagings van werkende studente.