Masters Degrees (Curriculum Studies)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Masters Degrees (Curriculum Studies) by Subject "Academic achievement -- Mathematics"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemDie rol van woordeskat in suksesvolle wiskundeleer in graad 9 van een bepaalde hoërskool in die Overberg distrik in die Wes-Kaap(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2024-03 ) Gerber, Jeanne-Alex; Le Cordeur, Michael; Stellenbosch University. Faculty of Education. Dept. of Curriculum Studies.AFRIKAANSE OPSOMMING: Wiskundeprestasie bly ʼn aspek van kommer in Suid-Afrika, veral as gevolg van die afname in die aantal leerders wat suiwer wiskunde in die VOO-fase neem (Le Cordeur, 2020). Nog ʼn aspek van kommer is die afname in wiskundeprestasie. Slegs 54% van leerders wat wiskunde neem, het meer as 30%, wat leerders nodig het om te slaag, behaal (Shay, 2020). Van die 54% leerders wat wiskunde geslaag het, het slegs 2% van hierdie leerders onderskeidings behaal Conthia (2020) verwys na wiskunde in Suid-Afrika as ʼn nagmerrie-vak vir leerders, en identifiseer wiskunde as ʼn krisis in Suid-Afrika. Die rede tot kommer is duidelik wanneer gekyk word na Suid-Afrika se prestasie in wiskunde en wetenskap in vergelyking met ander lande. Suid-Afrika se prestasie in die "Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS)"-assessering sowel as "The Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS)"-assessering is kommerwekkend. Le Cordeur en Tshuma (2017) verwys na Durkin en Shire se stelling dat wiskunde-onderrig en -leer in taal begin en ontwikkel, dat struikelblokke ontstaan as gevolg van taal en meer spesifiek die leerder se taalvaardighede in Wiskunde en dat uitkomste en vordering gewoonlik in taal geassesseer word. Daarom word vrae gevra oor die verband tussen taal en wiskunde, en juis die belangrikheid daarvan in wiskunde-onderrig en -leer. Die doelwit van die betrokke studie was om die rol van woordeskat in wiskundeonderrig en -leer te ondersoek. Die studie het beide kwalitatiewe sowel as kwantitatiewe navorsingsmetodes gevolg om die navorsingsvrae te beantwoord. Die kwalitatiewe navorsing het waarneming van graad 9-leerders en die onderwyser in die klas, sowel as onderhoude met die wiskundeonderwysers, departementshoof asook vakadviseur ingesluit. Die kwantitatiewe navorsing het uit ʼn kwasi-eksperiment met ʼn voortoets, intervensie en na-toets bestaan. Vanuit die resultate kan die gevolgtrekking gemaak word dat leerders se uitdagings in wiskunde nie lê in die graad 9 kurrikulum nie, maar in die agterstand in basiese wiskundebeginsels en terminologie. Leerders het ʼn gebrek aan logiese denke en sukkel met probleemoplossing, en daarom sukkel hul met wiskunde en wiskundige begrippe. Leerders se swak algehele taalbegrip en verstaan van taalkonsepte speel ook ʼn deurslaggewende rol in hul wiskundeprestasie, omdat hul nie verstaan wat van hul gevra word nie. Vanuit die resultate word die aanbeveling gemaak dat daar baie meer klem gelê moet word op leesgeletterdheid in skole en dat die kurrikulum meer tyd moet toelaat om agterstande aan te spreek. Klasbespreking moet ook ʼn groter rol speel in wiskundeonderrig weens die belangrikheid daarvan in die ontwikkeling van wiskundeterminologie en -begrippe. Nog ʼn aanbeveling is dat daar gekyk moet word na die beskikbaarheid en voorsiening van hulpbronne aan leerders, hetsy dit boeke, werkkaarte of gekwalifiseerde onderwysers is. Ten slotte is daar tot die gevolgtrekking gekom dat leerders se woordeskat wel ʼn rol speel in hul wiskundeprestasie. Die hoeveelheid leerders wat nie wiskunde verstaan nie, weens die feit dat hul nie die woorde en terminologie wat gebruik word verstaan nie is kommerwekkend. Alhoewel die studie getoon het dat indien leerders se woordeskat verbeter, hul wiskundeprestasie verbeter, speel taal as geheel ʼn groot rol in wiskundeonderrig en -leer en affekteer leerders se taal- en leesvaardigheid hul wiskundeprestasie.