Produk teenoor proses tydens akademiese redigering : opmerkings as aanduiders van redigeergerigtheid

Lourens, Amanda (2014)

CITATION: Lourens, A. 2014. Produk teenoor proses tydens akademiese redigering : opmerkings as aanduiders van redigeergerigtheid. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 43:261-296, doi:10.5842/43-0-202.

The original publication is available at http://spilplus.journals.ac.za

Article

Omdat die redigering van akademiese tekste in Suid-Afrika gekenmerk word deur ’n gebrek aan standaardisering, is ’n verkennende beskrywing van redigeerders se werklike aktiwiteite tydens die redigering van hierdie tekste ’n nodige stap in die rigting van die formulering van riglyne of standaarde vir die redigering van akademiese tekste (Kruger en Bevan-Dye 2010). Die huidige studie gebruik die onderskeid tussen die sogenaamde produk- en prosesbenadering tot redigering as uitgangspunt om werklike redigeerprodukte te ondersoek. Die produkgeoriënteerde benadering plaas die klem op die eindproduk, sonder dat dialoog met die skrywer noodsaaklik geag word. Dit staan teenoor die prosesgeoriënteerde benadering wat eerder fokus op die teksredigeerder se rol as fasiliteerder in ’n proses wat die student se betrokkenheid by sy/haar eie skryfproduk beklemtoon. Moderne woordverwerkingstegnologie bied die funksie van opmerkings (“comments”) as ’n ruimte waarin interaksie met die student as skrywer moontlik is en só die prosesbenadering sigbaar maak. Die huidige ondersoek het ten doel om redigeerders van akademiese tekste (tesisse of proefskrifte) se benutting van die opmerkingfunksie in MS Word te beskryf en om afleidings rakende die redigeerder(s) se benadering te maak. Drie geredigeerde tesisse word empiries ondersoek. Dit blyk dat opmerkings wel deurgaans benut word, alhoewel die drie tesisse nie in dieselfde mate blyke gee van ’n benutting van opmerkings nie. Alhoewel die gebruik van die opmerkings in die drie redigeerprojekte op ’n aanwesigheid van die prosesbenadering dui, word hierdie benadering nie suiwer toegepas nie. Die uitkomste van hierdie verkennende studie dui nie slegs die rigting aan vir toekomstige navorsing nie, maar dui ook aan dat toekomstige standaardiseringsprosesse veral moet besin oor die redigeerder se rol en professionele identiteit, asook die verhouding tussen studieleier, student en redigeerder. Die opleiding van redigeerders behoort ook die eise van akademiese redigering as ’n spesifieke soort redigering te hanteer.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/99198
This item appears in the following collections: