Department of Drama
Permanent URI for this community
Browse
Browsing Department of Drama by browse.metadata.type "Article"
Now showing 1 - 3 of 3
Results Per Page
Sort Options
- Item"Egtheid" in beelde : die verwerking van verbatim tekste na verhoogbeelde met spesifieke verwysing na tot stof \ tot stilte - 'n paniekreaksie (2018)(Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020-03) Gerber, Andre KrugerHierdie artikel ondersoek die verwerking van verbatim teks na verhoogbeelde deur 'n ontleding van die jeugteaterproduksie getiteld tot stof | tot stilte - 'n paniekreaksie wat deur die Hoër Meisieskool Bloemhof in 2018 opgevoer is. 'n Ondersoek word gedoen na die konvensionele skeppingsmetodologie van verbatim teater. Daar word krities gekyk na die data-insamelings-, seleksie- en redigeringsproses van die gesproke teks. Daar word tot die gevolgtrekking gekom dat die seleksie- en redigeringsproses van die gesproke data-verwerkings van verbatim teks nie noodwendig die volledige omvang van die rou data vasvang nie. Dit is veral die geval wanneer die rou data nie noodwendig toneelmatige trefkrag het wanneer dit byvoorbeeld as teaterdialoog beskou word nie. Deur gebruik te maak van Lehmann (2016) se teorieë van postdramatiese estetika argumenteer ek in hierdie artikel dat 'n verwerker die rou gesproke data na beelde kan omskep om die kontekste, inhoud en prosesse van die data-insamelingsproses vas te vang. Hierdie verwerking kan as potensieel meer "eg" beskou word omdat daar moontlik 'n breër omvang van die rou data uitgebeeld kan word, veral gegewe sekere kontekstuele beperkings (die teatermatige ervaring van die spelers, of die lengte van die toneelstuk in verhouding tot die rou data). Deur die klem van die produksie op die verhoogbeelde te plaas, word die implisiete kunsmatigheid van verbatim teater belig. Daardeur word die problematiek van lewensgetrouheid, "egtheid" en die "samestelling van egtheid" in beide die verbatim vorm en verwerkingspraktyk op 'n nuwe manier ondersoek.
- ItemDie oorsprong, ontwikkeling en estetika van die intieme musiekspel, en Fees as 'n Afrikaanse voorbeeld(LitNet, 2018) Gerber, Andre; Du Preez, PetrusHierdie artikel ondersoek die oorsprong, ontwikkeling en estetiese beginsels van die intieme musiekspel. Die artikel begin met ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse konteks waarin musiekspelvervaardiging geskied, en die gevolgtrekking is dat die hoë produksiekoste dit vir (veral Afrikaanse) praktisyns besonder uitdagend maak om musiekspele te skep. Daar word ’n geskiedkundige oorsig gelewer oor die internasionale ontwikkeling van die intieme vorm deur die vroeë ontwikkelinge tussen 1918 en 1959 te bestudeer. Daarna word Tom Jones en Harvey Schmidt se 1960’s-era intieme musiekspele ondersoek, gevolg deur enkele intieme musiekspele na die 1970’s wat Company (1970 en 2006) en March of the falsettos (1990) insluit. Die artikel bou voort op Melodie Galloway (2010) se definisie van die intieme musiekspel deur die begrip as uitgangspunt te gebruik om dit dan binne die Suid-Afrikaanse konteks toe te pas. ’n Meer gedetailleerde omskrywing van die vorm se estetiese beginsels word in die artikel verskaf. Deur die oorkoepelende tekstuele kenmerke van familiedrama in ’n intieme musiekspel toe te pas, word geargumenteer dat sommige eienskappe van dié sosiale struktuur dikwels ’n nuttige bron vir dramatiese gebeure vir die intieme vorm kan wees. Die artikel eindig met ’n kritiese terugskouing op ’n Afrikaanse intieme musiekspel, Fees (2016), met teks en lirieke deur André Gerber en musiek deur David Wolfswinkel, wat as ’n Afrikaanse voorbeeld van die intieme vorm voorgehou word. Die artikelskrywers kom tot die gevolgtrekking dat die intieme musiekspel ’n doeltreffende vorm kan wees om met verminderde produksiekoste ’n musiekspel op die planke te kan bring.
- Item"Wie praat hier?" Die rol van die verwerker in die aanpassing van ’n roman na ’n jeugteaterproduksie met kulturele en geografiese verskuiwings(Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020-03) Nel, Alma; Du Preez, PetrusHierdie artikel ondersoek die verwerkingsproses van die roman Dis ek, Anna deur Anchien Troskie (onder die skuilnaam Elbie Lötter) na 'n jeugteaterdrama getiteld Dis ek, Annatjie. Hierdie jeugteaterdrama is opgevoer deur hoërskoolleerders onder leiding van 'n professionele teatermaker vir 'n toneelkompetisie wat 'n tydsbeperking van 45 minute gestel het. Keuses moes dus gemaak word ten opsigte van die storiegegewens in die bronteks. Om die relevansie van die verhaalgegewens vir die leerders te verhoog, is kulturele aanpassings gemaak met taal as 'n belangrike merker, en die milieu is verplaas na die geografiese en sosiale omgewing van die leerders. Die posisie van die teksverwerker en regisseur word in hierdie artikel geproble-matiseer, aangesien hulle profiel verskil van die leerders se kultuur- en milieuprofiel. Kwessies rondom kulturele toe-eiening word derhalwe in die artikel vooropgestel. Die bevindinge uit hierdie praktykgerigte navorsing sluit in dat die samewerkende prosesse tussen die teatermaker en die deelnemende leerders van kardinale belang is. Die kulturele en geografiese verskuiwings bied verder vir die deelnemende leerders 'n geleentheid om identiteitskwessies aan te spreek, terwyl die tematiek van die verhoogproduksie relevante sosiale kwessies vir die deelnemers en teikengehoor bevat. Hierdie gevolgtrekkings kon slegs gemaak word omdat die aanpassings-proses nie 'n individu- of outeursgerigte proses was nie, maar die behoeftes en kennis van die leerders in die proses vooropgestel het. Die deelnemende aard van die proses verseker nie net dat die teikengehoor aanklank by die verwerking vind nie, maar dit bewerkstellig ook 'n outentisiteit wat bydra tot die geloofwaardigheid van die verwerking.