Department of Modern Foreign Languages
Permanent URI for this community
Browse
Browsing Department of Modern Foreign Languages by Subject "Adventure stories, German"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- Item„Wo ist der Junge aus dem Urwald?“ Abenteuer und koloniales Afrika in der Jugendliteratur(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2015-03) De Beer, Amanda Erika; Annas, Rolf; Stellenbosch University. Faculty of Arts and Social Sciences. Department of Modern Foreign LanguagesAFRIKAANSE OPSOMMING : Hierdie proefskrif is ’n ondersoek na die wyse waarvolgens Duitse jeugboekskrywers die koloniale periode in Afrika uitbeeld. Duitse avontuurliteratuur speel dikwels af in die koloniale periode in Afrika. Motiewe in die avontuurroman stem egter nie altyd ooreen met die historiese konteks en geografiese ruimtes nie. Dit skep die indruk dat so ’n verhaal tyd- en ruimteloos is en dat die historiese en geografiese konteks bloot die afstand tussen Afrika en Europa beklemtoon. In die lig van die feit dat Afrika en sy historiese konteks dikwels as eksotiese agtergrond dien, bespreek die studie die problematiek rondom die manier waarvolgens skrywers die koloniale periode in die avontuurliteratuur ontleed. Vervolgens word die vraag gestel tot watter mate die uitbeelding van Afrika sedert 1945 verander het. Die wyse waarop die koloniale periode in Afrika in Duitse jeugliteratuur uitgebeeld word, behoort dus ondersoek te word binne die konteks van die tradisionele avontuurliteratuur. Deurdat die studie gesentreer is rondom die avontuurliteratuur voor 1945 en avontuurboeke na 1945, stel die dissertasie ondersoek in tot watter mate jeugboeke en hulle uitbeelding van die koloniale periode verander het en in hoeverre die tradisionele avontuurliteratuur aan hierdie boeke ontleen is. In hierdie proefskrif word avontuurverhale en avontuurlike jeugverhale wat tydens die koloniale periode in Afrika afspeel, vervolgens ontleed. Die studie fokus op vier periodes: Eerstens word tradisionele avontuurstories en motiewe wat ’n belangrike rol speel in die uitbeelding van Afrika, geïdentifiseer. Die volgende tekste word ontleed: C.Falkenhorst se Der Baumtöter (1894), Gustav Frenssen se Peter Moors Fahrt nach Südwest (1906), Josef S. Viera se Bana Sikukuu (1924) en Gust in der Klemme (1933), Max Mezger se Aufruhr auf Madagaskar (1930) en Rolf Italiaander se Wüstenfüchse (1934). Tweedens ondersoek die studie die rol wat avontuurmotiewe – inisiasie, weerstand en verowering – speel in jeugboeke wat in die Federale Republiek van Duitsland gepubliseer is. Die volgende tekste word onder die loep geneem: Kurt Lütgen se ...die Katzen von Sansibar zählen (1962), Rolf Italiaander se Mubange, der Junge aus dem Urwald (1957), Herbert Kaufmann se Der Teufel tanzt im Ju-Ju-Busch en sy historiese roman Des Königs Krokodil (1959). Derdens ondersoek die studie watter rol avontuurmotiewe – die edel barbaar (edle Wilde), antiheld en die tweegeveg – speel in jeugboeke wat in die Duitse Demokratiese Republiek gepubliseer is. Die volgende tekste word analiseer: Ferdinand May se roman Sturm über Südwest-Afrika (1962) en Götz R. Richter se Savvytrilogie (1955 – 1963) en Die Löwen kommen (1969). Laastens stel die studie die vraag tot watter mate die kontemporêre avontuurliteratuur – soos Hermann Schultz se sendingroman Auf den Strom (1998) ’n nuwe ontwikkeling toon wat van die tradisionele avontuurliteratuur van die 19de en 20ste eeu afwyk.