Browsing by Author "Anker, Johan"
Now showing 1 - 2 of 2
Results Per Page
Sort Options
- ItemFotografie in Fees van die ongenooides van P.G. du Plessis(LitNet, 2018) Anker, JohanHierdie artikel ondersoek die rol van foto’s, fotografie en die fotograaf in die historiese roman Fees van die ongenooides (Tafelberg, 2008) deur P.G. du Plessis. Dit beskou die belangrikheid van die fotograaf as karakter, die gebruik van en verwysing na foto’s en fotografie, en die funksie wat dit vervul as een van die aspekte in die struktuur van hierdie omvattende roman oor die ervarings van een familie en die betrokkenes by hulle tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902). Die artikel gee eerstens ’n uiteensetting van die uitgebreide voorkoms van foto’s in die roman en die rol van die beskrywing van daardie foto’s deur die verteller, die fotograaf en ander fokalisators. Teoretiese aspekte van die aard en betekenis van foto’s deur onder andere Roland Barthes, Susan Sontag en Allen Trachtenberg word bespreek, asook die invloed wat die ontwikkeling van fotografie gespeel het in die 19de-eeuse roman. Dit word duidelik dat die betekenis van foto’s veel meer inhou as ’n uitbeelding van ’n werklikheid van die ruimte en ander voorwerpe en persone. Die verskeidenheid van moontlike interpretasies van foto’s word gekoppel aan die konteks waarin dit geneem is en beskryf word, waarin en deur wie dit bekyk word, asook die rol wat dit speel in die uitbeelding van die werklikheid van historiese gebeure – die rol van die sogenaamde argief. Die verband tussen foto’s, die waarheid en die geskiedskrywing of fiksionalisering van die geskiedenis word bespreek en daar word verwys na aspekte soos die belangrikheid van tyd en geheue, afstand en teenwoordigheid, leuen en waarheid, verlede en hede, dood en verlies wat ook as deurlopende motiewe in die roman voorkom. Die metonimiese aard van foto’s word ook bespreek. Ek kom tot die slotsom dat die uitgebreide gebruik van foto’s in hierdie veelkantige historiese roman een van verskeie belangrike aspekte is in die ondermyning van die beskrywing van die waarheid en outentisiteit van die geheue oor en die opskrywing van die geskiedenis. Terselfdertyd verskaf dit ’n oortuigende en intense belewing van die persoonlike lyding en verlies wat individue tydens die Anglo-Boereoorlog ervaar het.
- ItemVakgerigte geletterdheid en leesbegripstrategie-ontwikkeling(LitNet, 2020) Anker, JohanHierdie artikel is ’n besinning oor die rol wat twee benaderings ten opsigte van die onderrig van leesbegrip in Suid-Afrikaanse skole en onderwysersopleiding kan speel om die gebrek aan leesbegrip by leerders te hanteer. Die twee benaderings waarna verwys sal word, is die onderrig van kurrikulumwye leesbegripstrategieë en vakspesifieke geletterdheid. Die bespreking geskied teen die agtergrond van die reeds erkende en bewese probleem rondom lees en leesbegrip in Suid-Afrikaanse skole, onderwysersopleiding en ook tydens tersiêre studie. Eerstens word leesbegrip in ’n Suid-Afrikaanse konteks en die noodsaaklikheid van dringende nasionale aandag aan die verbetering van leesbegriponderrig voorgehou, gevolg deur ’n samevatting van die belangrikste beginsels van vakgerigte geletterdheid (“disciplinary literacy”) in vergelyking met die meer algemene toepassing van leesbegripstrategieë binne die benadering van kurrikulumwye geletterdheid (“reading across the curriculum”). Die artikel verwys verder na onlangse navorsingsprojekte deur oorsese en Suid-Afrikaanse navorsers oor bostaande benaderings en vergelyk vakgerigte geletterdheid met die benadering van die onderrig van algemene leesbegripstrategieë wat oor die hele Suid-Afrikaanse kurrikulum toegepas word en waarbinne die strategieë moontlik oorgedra kan word. Die klem val op die onderrig hiervan in die intermediêre en senior skoolfases asook die opleiding van onderwysers in daardie fases. Daar word verder ook aandag gegee aan die intrinsieke rol van lees binne die leerproses en die aard en rol van die eksplisiete onderrig van leesbegripstrategieë tydens dekodering en nadat leesvlotheid bereik is. In vakgerigte geletterdheid val die klem op die inherente, unieke eienskappe van verskillende dissiplines of vakterreine. Die artikel dui aan hoe hierdie verskille kan en moet lei tot ’n meer spesifiek-gerigte leesbegripbenadering, sodat die onderrig van algemene leesbegripstrategieë aangepas kan word binne die spesifieke aard van verskillende vakdissiplines met die oog op die bereiking van funksionele akademiese geletterdheid. Die samewerking tussen die onderskeie belanghebbende partye word beskryf. Sodoende word ’n breë oorsig verkry oor wat die benadering van vakgerigte geletterdheid behels, watter gevolgtrekkings uit die bestaande navorsing gemaak kan word en hoe dit kan aansluit by die onderrig van die reeds bekende kurrikulumwye leesbegripstrategieë. Die noodsaaklikheid van verdere navorsing oor vakspesifieke leesbegripstrategieë en veral ingrypings in die leesbegriponderrig in Suid-Afrika, op skoolvlak en tydens onderwysersopleiding, word sterk beklemtoon.