'n Studie van swangerskapsanemie met spesiale verwysing na die Kaapse kleurling

Retief, Francois Pieter (1965)

Proefskrif (M.D.) -- Universiteit van Stellenbosch, 1965.

Thesis

AFRIKAANSE OPSOMMING: Meer as honderd jaar gelede is dit reeds opgemerk dat die vrou geneig is om anemies te word tydens swangerskap (Nasse 1935). Indien anemie gedefinieer word as 'n toestand gekenmerk deur 'n hemoglobien of hematokritwaarde minder as die aanvaarde ondergrens van normaal, is swangerskap sekerlik een van die mees gewone oorsake van anemie. Nogtans heers daar groot onsekerheid oor die evaluasie van swangerskapsanemie. Die twyfel kan grotendeels toegeskryf word aan foutiewe veralgemenings met betrekking tot standaarde wat vir nie-swanger vroue opgestel is (Hytten en Leitch, 1964). Meer as tweeduisend jaar gelede is dit reeds geglo dat daar tydens swangerskap 'n toestand van abnormale bloedrykheid of pletora ontstaan (Smith 1860). Hierdie hipotese is teen die laaste helfte van die vorige eeu bevestig deur die diere-eksperimente van Duitse werkers (Spiegelberg en Gscheideln 1873, Cohnstein 1883), maar dit het terselfdertyd duidelik geword dat hierdie bloedvolume-vermeerdering grotendeels toegeskryf moes word aan 'n plasmavolume-toename as gevolg waarvan verdunnings-anemie ontstaan, (Willcocks 1881, Barnes 1884, Playfair 1878). Hoewel daar tot onlangs nog werkers was wat hierdie hidremie nie wou aanvaar as 'n onskuldige verskynsel nie (Benstead en Theobald 1952, Camilleri 1958, Verloop et al 1959), glo die meeste outoriteite vandag wel aan die "fisiologiese anemie" van swangerskap (Hytten en Leitch, 1964), en vir die verloskundige het dit belangrik geword om te weet hoe die perifere bloedondersoek hierdeur beïnvloed word.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/56758
This item appears in the following collections: