Van daar na waar? 'n Oorsigtelike blik op die herstandaardiseringsdebat van Afrikaans

Basson, Earl (2022)

CITATION: Basson, E. 2022. Van daar na waar? 'n Oorsigtelike blik op die herstandaardiseringsdebat van Afrikaans. LitNet Akademies, 19(1):105-137.

The original publication is available at https://www.litnet.co.za

Article

Standaardafrikaans geniet sedert 1925 tot vandag hoëtaalvormstatus terwyl ander variëteite, wat hoofsaaklik met bruin Afrikaanssprekendes geassosieer word, ’n laetaalvormstatus het. Dit is ’n gevolg van die invloed van Afrikanernasionalisme op die standaardisering van Afrikaans, waartydens die heterogeniteit van die Afrikaanse spraakgemeenskap misken is. Sedert die laat 1980’s was daar verskeie gesprekke oor die heroriëntasie, oftewel die herstandaardisering, van Afrikaans. Dit behels die daarstelling van ’n standaardvariëteit wat enersyds losgewikkel is van die Afrikanernasionalistiese ideologie, maar wat andersyds die totaliteit van die Afrikaanse spraakgemeenskap weerspieël. Ondanks die entoesiasme vir só ’n (hersiene) standaardvariëteit was daar destyds en is daar vandag steeds onduidelikheid oor hoe om Afrikaanste herstandaardiseer. Hierdie onduidelikheid is ’n gevolg van die uiteenlopende hantering van die begrip herstandaardisering. Ten einde dié onduidelikheid te belig, word die voorstelle deur Van den Heever (1987), Van Rensburg (1991, 1992), De Wet (1997), Willemse (2009), Hendricks (2011, 2016, 2017) en Odendaal (2012) bespreek, asook meer onlangse beskouings oor herstandaardisering deur Le Cordeur (2020), McLachlan (2020), Van Coller en Steyn (2020) en Van Huyssteen (2020). Om die behoefte aan ’n herstandaardiseringsprojek beter te begryp, word die begrip standaardtaalideologie onder die loep geneem. Hieruit volg ’n bespreking van Bourdieu (1977:650) se beskouing van die skoolstelsel as ’n ruimte wat die standaardtaalideologie handhaaf en sodoende die standaardtaal as die enigste legitieme taal voorhou. Binne die Afrikaans-klaskamer word Standaardafrikaans ook voorgehou as die enigste legitieme vorm van Afrikaans, terwyl variëteite soos Kaapse Afrikaans in so ’n mate gestigmatiseer en gedelegitimeer is dat daardie stigmas – te wete dat Kaapse Afrikaans onbeskaafd, onderontwikkeld en onsigbaar is – vandag nog aan dié variëteit kleef. Ter afsluiting, om hierdie stigmas teen te werk en Kaapse Afrikaans te legitimeer sodat dit as ’n voedingsbron gebruik kan word om die huidige standaardvariëteit te verbreed, stel ek voor dat Kaapse Afrikaans inskoolhandboeke opgeneem moet word. Deur Kaapse Afrikaans in Afrikaans-skoolhandboeke op te neem, word die geleentheid geskep om Afrikaans as die somtotaal van sy variëteite aan te bied en ook om die variëteite as legitieme taalsisteme te vestig.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/126662
This item appears in the following collections: