Verwondering ondanks verwonding. Tussen aftakeling (verganklikheid) en ontkieming (onverganklikheid) ‒ oor die spirituele estetika van 'n "pneumatiese liggaam" binne die knyptang van veroudering, sterwe, graf en dood

Louw, Daniel (2022)

CITATION: Louw, D. 2022. Verwondering ondanks verwonding. Tussen aftakeling (verganklikheid) en ontkieming (onverganklikheid) ‒ oor die spirituele estetika van 'n "pneumatiese liggaam" binne die knyptang van veroudering, sterwe, graf en dood. LitNet Akademies, 19(1):328-357.

The original publication is available at https://www.litnet.co.za

Article

Antjie Krog se digbundel Verweerskrif (2006a) stel opnuut die vraagstuk van veroudering, liggaamlike aftakeling en die besef van verganklikheid, sterwe en dood aan die orde.1 Die besef van sterwe en dood laat beslis ’n wond in die brose “siel” van die sinsoekende mens. Verwonding verwys na die verlies aan liggaamlike vermoëns binne die aftakelingsproses van veroudering en die besef van eindigheid en onafwendbare stoflikheid. Maar is die liggaam bloot stof en die dood aaklig? ’n Alternatief is om die vraagstuk van veroudering, liggaamlike aftakeling, sterwe en dood vanuit ’n spiritueel meta-fisiese hoek te benader ‒ die méér van transendentale verbeelding (désir métaphysique). Antropologies gesproke is die mens dan nie bloot homo ludens (die spelende mens) nie, maar ten diepste homo transcendentalis (die verwonderende, selfoorstygende mens). Die vraag duik dan op of, in die woorde van N.P. Van Wyk Louw, die dood ook “mooi” kan wees. Indien die mens nie inherent ’n “onsterflike siel” besit nie, hoe moet daar dan teologies en vanuit ’n Christelik-eskatologiese perspektief oor die estetika van sterwe, dood en die uiteindelike graf nagedink word? Die basiese stelling is dat die metafoor van saad, en die korrelasie tussen sterwe en ontkieming, nuwe perspektiewe open vir ’n doksologie oor “die oop graf”. Stof en kosmos word dan estetiese elemente van ’n opstandingshoop ‒ die sogenaamde “pneumatiese liggaam” (πνευματικόν/ pneumatikon). In dié verband bied Dostojefski se siening van ’n dodekamer as bruilofskamer (Joh. 2:1), en Michelangelo Buonarroti se soeke na “siel” in die gebeitelde volmaaktheid van die menslike liggaam asook die estetika van beskilderde, harmonieuse lyflikheid ten spyte van aftakelende veroudering, ’n verhelderende, hermeneutiese perspektief om “mooi” teologies te herinterpreteer. Vandaar die spirituele estetika van liggaamlike verwonding as die wonderbaarlike ontkiemingsproses van ’n “onsterflike siel”.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/125452
This item appears in the following collections: