Doctoral Degrees (Systematic Theology and Ecclesiology)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (Systematic Theology and Ecclesiology) by Subject "Authority of Scripture"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemHearing the Living Word of God today? : a systematic-theological investigation into the authority and interpretation of scripture for contemporary Korean Presbyterianism(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2011-12) Yoon, Hyung-Chul; Smit, D. J.; Stellenbosch University. Faculty of Theology. Dept. of Systematic Theology and Ecclesiology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Die krisis rakende Skrifgesag vra ‘n dringende sistematies-teologiese ondersoek om ‘n weg vanuit dié krisis aan te dui deur ‘n oortuigender, meer verstaanbare en belowende benadering te bied om opnuut die sinvolheid, waaragtigheid, toepaslikheid en gesag van die Skrif vir ons geloof en lewe te bevestig. Die oorkoepelende oogmerk van hierdie verhandeling is dus om ‘n meer toepaslike sistematies-teologiese raamwerk te vind om oor die gesag en interpretasie van die Skrif te kan praat. Ten einde hierdie doel te bereik, maak die verhandeling gebruik van drie hoof benaderings – epistemologies, dogmaties en hermeneuties – in ‘n dinamies geïntegreerde, onderling afhanklike, en holistiese wyse. Om die epistemologiese status van die Skrif as God se waarheid te bevestig, het ons ‘n meer genuanseerde epistemologiese model nodig waardeur die uiterstes van sowel moderne dogmatiese funderingsdenke asook van postmoderne nie-funderingsdenke vermy kan word. As alternatiewe model sal ’n vorm van post-funderingsdenke as benadering hier ontwikkel word, te einde die valse verdelings tussen objektief en subjektief, ontologies en funksioneel, en epistomologies en hermeneuties te oorkom. Ons kan dus die objektiewe eenheid van die waarheid en gesag van die Skrif as beslissende weg na die realiteit van God bevestig, sonder om ons bewussyn van die voorlopige, kontekstuele en feilbare aard van menslike kennis te ontken. ‘n Dogmaties-ontologiese verantwoording van die Skrif plaas ons spreke oor Skrifgesag binne die konteks van die drie-enige God se ekonomie van verlossing. Vanuit ‘n trinitaries-pneumatologiese oogpunt word die gesag van die Skrif afgelei vanuit die drie-enige God se self-kommunikatiewe spraak-akte, sodat dit beskryf kan word as goddelike kommunikatief-performatiewe gesag binne die drie-enige God se verlossingsdrama. Die Skrifte kan gesien word as die teo-dramatiese teks wat ons binne die verbondslewe met God bring en ons deur die dinamiese, dienende en vormende werk van God se Gees oproep om aan die grootse drama van God se verlossing deel te neem. Hermeneutiese oorwegings en nadenke moet as ‘n wesenlike en kritiese deel van ons totale gesprek oor Skrifgesag ter sprake kom. Hermeneutiek help ons om hermeneutiese afgode bloot te lê en om die werklike teenwoordigheid van God in ons lees van die Skrifte te onderskei. Dit fasiliteer voorts ons beliggaming van bybelse tekste in die spesifieke en tydelike kontekste van die lewe. Dit stel ons bowenal in staat om realiteite van andersheid te herken en om na (‘n) ander stem(me) te luister. In die lig van hierdie drievoudige hermeneutiese taak, kan ons die gesag van die Skrif as die viva vox Dei, wat tot ons spreek in ons hier-en-nou lewe, herwin, terugeis en bekragtig. Ons herken dus opnuut die gesag van die Skrif as goddelik kommunikatief-performatief, verbondsmatig, dinamies-transformerend, lewens-deelnemend en veelvormig. Deur die Skrif te lees, daaroor te mediteer, dit te geniet en uit te leef, ervaar ons die drie-enige God se intieme teenwoordigheid, en aanbid en verheerlik ons God met eerbied en vreugde.