Browsing by Author "Theron, Margarita"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemTelepraktyk en die behandeling van volwassenes met vokale hiperfunksie : 'n Omvangsbepaling(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2022-12) Theron, Margarita; Klop, Daleen; Stellenbosch University. Faculty of Medicine and Health Sciences. Dept. of Health & Rehabilitation Sciences. Speech-Language and Hearing Therapy.AFRIKAANSE OPSOMMING: Die navorsingsvraag vir hierdie studie was: Wat is bekend in gepubliseerde navorsing oor die gebruik van telepraktyk in die behandeling van volwassenes met vokale hiperfunksie? Die hoofdoel van hierdie studie was om kennis in te win aangaande die behandeling van stempatologiee deur die gebruik van telepraktyk. Daar was twee spesifieke doelwitte vir die studie. Doelwit een was om die bestaande literatuur sistematies te ondersoek en te bepaal wat bekend is oor die gebruik van telepraktyk in die behandeling van stemprobleme. Doelwit twee was om kundiges te raadpleeg om temas en gapings in die kennis te identifiseer, met spesifieke verwysing na die haalbaarheid van telepraktyk in die Suid-Afrikaanse konteks. Arksey en O'Malley (2005) stel voor dat ’n raamwerk, bestaande uit ses stappe, gebruik word om die omvangsbepaling uit te voer. Stappe een tot vyf dek die volgende: die identifisering van die navorsingsvraag, die identifisering van relevante studies, die keuse van die studies, die dataversameling, opsomming en rapportering van die resultate. Die sesde stap behels ’n doelgerigte konsultasiefase. In hierdie studie is onderhoude gevoer met kundiges op die gebied van stemterapie en telepraktyk. Die sesde stap van konsultasie lei dus tot die verbetering van navorsing deur kundiges te betrek. Dit dra by tot die geldigheid en veralgemeenbaarheid van die studietemas. Pollock et al (2020) en Peters et al (2020) noem dat die konsultasiefase as ’n vereiste fase van ’n omvangsbepaling beskou behoort te word. In hierdie omvangsbepaling is konsultasie dwarsdeur die studie aangewend, byvoorbeeld konsultasie met die bibliotekaris as ’n deskundige op die gebied van inligtingskunde. Daar is besluit om ook kundiges aan die einde van die studie in te sluit. Die konsultasie met verkose kundiges is dus deel van die omvangsbepaling, soos omskryf deur die Joanna Briggs Institute (JBI)-riglyne, en moet nie as ’n afsonderlike komponent van die studie beskou word nie. Die konsultasiefase het die vorm van ’n kwalitatiewe beskrywingsontwerp aangeneem. Die doel van hierdie fase was om die bruikbaarheid van die resultate te verhef deur die opinies van kenners te verkry. Ses kenners wat tans in privaat praktyke in die Wes-Kaap en Gauteng werksaam is, is gekies om die kundige menings in die steekproefneming te lewer. Daar is besluit om spraak- en taalterapeute wat in privaat praktyk werk, te werf. Die rede hiervoor was dat spraak- en taalterapeute in privaat praktyk meer geneig is om telepraktyk met stempasiënte te gebruik. Tematiese ontledings is gebruik om die temas gevind in die data verkry uit die omvangsbepaling en konsultasie met kundiges te identifiseer, ontleed, beskryf en rapporteer. Die doel van die konsultasiefase in die omvangbepaling was nie ’n in-diepte kwalitatiewe verkenning nie, maar eerder om te help met die verfyning van die navorsingsvraag, die verduideliking van definisies en die verskaffing van ’n dieper begrip van die navorsing, en om navorsingsgapings te identifiseer (Pollock, 2020). ’n Voorlopige literatuursoektog het geen gepubliseerde studies oor telepraktyk in stemterapie vir die Suid-Afrikaanse konteks getoon nie. Telepraktyk bied baie voordele, maar beperkte navorsing binne die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel is al gedoen om die uitvoerbaarheid en doeltreffendheid van stemterapie vir die lewering van spraak-taalterapie te ondersoek. Daar is ook min data oor hoe spraak-taalterapeute hierdie metodes gebruik en implementeer in hul praktyke.