Browsing by Author "Terblanche, Tercia Elaine (du Plessis)"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemTechnical and vocational education and training (TVET) colleges in South Africa: a framework for leading curriculum change(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2017-12) Terblanche, Tercia Elaine (du Plessis); Bitzer, E. M.; Frick, B. L.; Stellenbosch University. Faculty of Education. Dept. of Curriculum Studies. Centre for Higher and Adult learning.AFRIKAANSE OPSOMMING : Die herstrukturering van die kollege-kurrikulum, wat die kern van Suid-Afrika se beroepsonderwys- en opleidingstelsel uitmaak, blyk noodsaaklik te wees ten einde die standaard van Tegniese en Beroepsonderwys en Opleiding (TBOO-) te verbeter en aan die industriebehoeftes en -vereistes te voldoen. Die studie dui op ‘n behoefte aan strategieë vir die hantering van die veranderinge waarmee TBOO-kolleges gekonfronteer word, met die hoofklem op volhoubare kurrikulumverandering. Die uiteindelike doel van die studie was om ’n raamwerk te ontwikkel waarvolgens kurrikulumverandering in die Suid-Afrikaanse TBOO-kollegesektor gerig kan word. Met behulp van ’n dokumentoorsig, ’n vraelysondersoek en onderhoude met rolspelers het dataversameling in vier fases plaasgevind ten einde die tendense, houdings en menings van kollegewerknemers by vyf TBOO-kolleges in die Wes-Kaap, Suid-Afrika, te ontleed. Fase een het bestaan uit ’n oorsig van dokumente soos beleide, tesisse, staatspublikasies, boeke, joernale, en verslae wat op die navorsingsprobleem betrekking het. In fase twee is ’n peiling deur middel van ‘n vraelys aan 116 TBOO-kollegerespondente gedoen, waarna 14 fokusgroeponderhoude met 90 TBOO-kollegerespondente tydens fase 3 gevoer is. Tydens die vierde en laaste fase is die bevindings van die vorige drie fases van die studie by ’n konseptuele raamwerk geïnkorporeer, met die doel om kurrikulumverandering in die TBOO-kollegesektor potensieel te rig. Met behulp van 'n vraelys en fokusgroeponderhoude is ’n deduktiewe benadering vir die empiriese gedeelte van die studie gebruik om data wat van TBOO-kollegepersoneel versamel is te beskryf, te vergelyk en te tabuleer. ’n Ontleding van die nie-numeriese data is deur oop kodering gedoen. Semigestruktureerde fokusgroeponderhoude is opgeneem, getranskribeer, en ontleed deur gebruik te maak van responsvlakke en -kategorieë. Die terugvoerdata van respondente in die geslotevraag gedeelte van die opname is grafies weergegee, terwyl ’n verteltrantformaat gebruik is om die bevindings van die oopvraag gedeelte te beskryf. Moontlike statistiese verbande tussen die biografiese karaktereienskappe van die respondente en drie vrae is met behulp van Pearson-waardes getrek. Die bevindings van die studie dui daarop dat herstrukturering van die TBOO-kurrikulum onontbeerlik is. Herstrukturering kan op verskeie maniere bydra tot beter aanwendbaarheid, produktiwiteit en suksessyfers van TBOO-kollegegegradueerdes. Die bevindings dui op ‘n kritieke behoefte aan verandering ten opsigte van bestuurstrategieë, ten einde huidige en toekomstige TBOO-kurrikulumuitdagings te hanteer. ‘n Duidelike behoefte aan groter industriebetrokkenheid by die TBOO-kurrikulumoorsigproses, ten einde bewusmaking van industriebehoeftes en -vereistes te bevorder, is ook geïdentifiseer. Voorts dui die bevindings oor leierskapkapasiteit by die TBOO-inrigtings wat in die studie verteenwoordig is op ‘n behoefte aan leierskapsprogramme in die TBOO-kollegesektor om leiers in staat te stel om leiding te neem ten opsigte van kurrikulumverandering. Hierbenewens toon die bevindings dat kurrikulumleiers verskeie kognitiewe en sosiale vaardighede benodig om kurrikulumverandering, met die gepaartgaande uitdagings, doeltreffend te lei. Die studie kom tot die gevolgtrekking dat bestuurstrategieë ontwikkel moet word ten einde TBOO-kollegeleiers voor te berei vir huidige en toekomstige kurrikulumuitdagings, soos byvoorbeeld kurrikulumontwerp en -ontwikkeling. Industrie-ondersteuning en -betrokkenheid by die TBOO-kollegesektor blyk ook van kardinale belang te wees vir kurrikulumvernuwing, beter studenteaanwendbaarheid, en beter industriekennis en -ervaring van kollegeleiers. Verder blyk dit dat TBOO-kollegegegradueerdes dit moeilik vind om tot hoëronderwysprogramme toegelaat te word. Gegrond op die uitslae van die studie, asook die sukses van TBOO in Duitsland, word ’n parallelle of tweestroomkurrikulum voorgestel om aan die huidige en toekomstige TBOO-opleidingsbehoeftes te voldoen. Die studie dra by tot nuwe kennis ten opsigte van TBOO-kurrikulumleierskap en tref ’n onderskeid tussen die konsepte beroepsonderwys en arbeidsonderwys. Meer spesifiek dra die studie by tot ‘n beter begrip van die sleutelfaktore en leierskapeienskappe wat TBOO-kollegeleiers in Suid-Afrika in staat sal stel om kurrikulumverandering te lei.