Browsing by Author "Rocchi, Jacomien"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemOuers se belewing van hul kind met 'n ernstige spraakgestremdheid(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2022-04) Rocchi, Jacomien; Conradie, Karlien; Stellenbosch University. Faculty of Education. Dept of Educational Psychology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Kommunikasie is vir die meeste kinders moeiteloos en doeltreffend, maar vir diegene met ʼn ernstige spraakgestremdheid is dit egter ʼn heel ander ondervinding. Alhoewel daar talle studies beskikbaar is oor die redes waarom ouers ondersteuning benodig asook hul ervaring van intervensiedienste, blyk studies wat die ervaring of belewing van hierdie gestremdheid vanuit ʼn ouer se perspektief toelig, beperk te wees. Hierdie studie fokus vervolgens nie net op die toestand van ʼn ernstige spraakgestremdheid nie, maar bied insig oor die familiekonteks, persoonlike en omgewingsfaktore en die unieke uitdagings wat die ouers van hierdie kinders in die gesig staar. Die studie word gerig deur die primêre navorsingsvraag, ‘Hoe beleef ouers dit om ʼn kind met ʼn ernstige spraakgestremdheid groot te maak?’ en verder toegelig deur die sekondêre navorsingsvraag, ‘Hoe beïnvloed ʼn ernstige spraakgestremdheid ʼn kind se aktiwiteite en deelname binne ʼn veelvlakkige sisteem van sosiale verhoudings?’ Vanuit ʼn interpretivistiese paradigma is daar in hierdie kwalitatiewe studie gebruik gemaak van ʼn transendentale fenomenologiese ontwerp. Ses deelnemers is doelgerig met behulp van tussengangers gekies om aan die studie deel te neem en die data is aan die hand van semi-gestruktureerde, individuele onderhoude, waarneming en joernale van beskrywende woordlyste ingesamel. Voortspruitend uit die transendentale fenomenologiese ontwerp, is daar gebruik gemaak van die sistematiese prosedure wat deur Moustakas (1994) beskryf word om data te organiseer en te ontvou. Hierdie ontwerp en metode het op ʼn beskrywing van die essensie van die deelnemers se belewing eerder as die interpretasie daarvan gefokus. Die hoofdoel van hierdie studie was dus om data in te samel om die gedeelde kenmerke van die ouers se belewing van die besonderse uitdaging te beskryf. Deur hierdie studie kon die navorser vasstel dat ʼn ernstige spraakgestremdheid basies al ʼn kind se aktiwiteits- en deelnamedomeine beïnvloed en dat ʼn kind se disposisie een van die belangrikste faktore is wat ʼn rol speel in hoe ouers die uitdaging beleef. Wat verder uitgestaan het is die ontoereikendheid van openbare hoofstroomskole om hierdie kinders te akkommodeer en die ontoeganklikheid van spesiale onderrig. Alhoewel vroeë intervensie noodsaaklik is vir hierdie kinders om hul volle potensiaal te bereik, is daar bevind dat die verantwoordelikheid daarvoor op die ouers se skouers rus wat tot gevolg het dat kinders wie se ouers dit nie kan bekostig nie, agtergelaat word.