Browsing by Author "Lessing, Petronella"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- Item'n Ondersoek na die integrasie en wisselwerking van die betekenisdraende elemente in poppeteater(Stellenbosch : University of Stellenbosch, 2009-12) Lessing, Petronella; Kruger, M. S.; Du Preez, Petrus; University of Stellenbosch. Faculty of Arts and Social Sciences. Dept. of Drama.AFRIKAANSE OPSOMMING: In hierdie navorsing word gepoog om die betekenisdraende elemente van poppeteater, naamlik beweging, klank en ontwerp van naderby te ondersoek om vas te stel in watter mate al drie elemente onmisbaar is al dan nie en hoe hierdie elemente op mekaar inspeel. Die semiotiek van beide teater en poppeteater word as agtergrond en teoretiese basis vir die ondersoek bespreek. Binne hierdie elemente word verskillende kernaspekte ondersoek waaronder distorsie, oordrywing en die dubbele aard van die toneelpop as lewelose objek met ‘n verbeelde lewe. In hierdie deel van die studie word daar ook na verskillende soorte tekens gekyk, naamlik die indeks, die simbool en die ikoon. Daar word bevind dat hierdie tekens saam ‘n dubbele verskuiwing in doel kan ondergaan naamlik van teken na verwysde, en van verwysde na nuwe tekens. Hierdie verskuiwings vind in die teater, sowel as poppeteater plaas. Ontwerp, beweging en klank word afsonderlik bespreek om die aard, rol en moontlike dominansie van elkeen te bepaal. Poppeteater maak staat op die gehoor se verbeelding en gewilligheid om die toneelpop ‘n verbeelde vorm van lewe te gee. Díe siening van die toneelpop, as beide lewelose voorwerp en ‘n verbeelde vorm van lewe, staan bekend as dubbele visie. Dubbele visie kan egter nie alleen binne die poppeteater funksioneer nie, en die verskillende elemente moet saam met die gehoor se dubbele visie ingespan word om die boodskap van die poppespel oor te dra. Beweging verlewendig die toneelpop deurdat dit die illusie van lewe en die sogenaamde dubbele visie ondersteun. Verskillende toneelpoppe word verskillend beheer en geartikuleer, elk met sy eie betekenisse wat hy deur middel van beweging oordra. Daar is bevind dat klank die enigste element is waarmee weggedoen kan word in ‘n toneelpopproduksie. Terselfdertyd kan dit ook nie afsonderlik van beweging en ontwerp funksioneer nie. Wanneer klank wel gebruik word, funksioneer die hoofveranderlike kenmerke van klank soos toonhoogte, volume, tempo, infleksie, uitspraak en ritme in die oordraging van die boodskap. Die navorsing toon dat toneelpoppe nie gebonde aan realiteit is nie, en as gevolg hiervan kan die ontwerper die toneelpop maak sonder dat dit realisties hoef te wees. Ontwerp as ‘n element bepaal ook die kwaliteit en kwantiteit van toneelpoppe, sowel as die aanwending van ander ontwerp-elemente soos kleur, tekstuur, materiaal en die grootte van die toneelpop. Poppeteater is nooit ’n blote nabootsing van ’n mens of dier nie. Poppeteater kan daarom in nabootsende en konseptuele poppeteater verdeel word. Verwringing kom in beide nabootsende en konseptuele poppeteatervorme voor, hoewel tot ‘n mindere mate in nabootsende poppeteater. In konseptuele poppeteater word daar op die gehoor gesteun om die tekens wat dit ontvang korrek te interpreteer. Die betekenisdraende elemente werk saam om die boodskap suksesvol oor te dra. Klank en beweging werk saam om karakterisering te skep; so ook klank en ontwerp. Elemente kan wel afwisselend gebruik word. Die samewerking tussen beweging en ontwerp lei tot uitvoerbare beweging. Alhoewel daar met klank as ‘n element weggedoen kan word, is dit dikwels nie ideaal nie.