Browsing by Author "Krige, Elaine"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemMaroela Media as openbare sfeer vir Afrikaanssprekendes: Die geval van grondonteiening sonder vergoeding(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2019-12) Krige, Elaine; Jordaan, Marenet; Stellenbosch University. Faculty of Arts and Social Sciences. Dept. of Journalism.AFRIKAANSE OPSOMMING: Opsomming Vanweë die toenemende verengelsing van openbare ruimtes soos die staatsdiens, opvoedkundige instellings en howe, het dit vir Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners nodig geword om hulle na digitale platforms te wend om deel te neem aan openbare gesprekke oor politieke kwessies wat vir hulle van belang is. Maroela Media, as die grootste Afrikaanse nuuswebtuiste, is ideaal geposisioneer om aan lede van hierdie taalgroep toegang te bied tot ’n Afrikaanse openbare sfeer, waartoe alle lede van dié gemeenskap geredelik toegang het en waar hulle vrylik aan openbare debatte kan deelneem. Die navorsing het onderneem om te bepaal tot watter mate Maroela Media aan hierdie ideaal voldoen. Ten einde Maroela Media se rol en effektiwiteit met betrekking tot die skep van ’n Afrikaanse openbare sfeer te ondersoek, het die navorser ’n kombinasie van die beginsels van die Ubuntu-benadering tot etiek en die netwerk-aangedrewe openbare sfeer as teoretiese raamwerk gebruik. Data is ingesamel deur semi-gestruktureerde onderhoude met redaksielede van Maroela Media te voer en leserskommentare wat op die webtuiste gepubliseer is in te win. Die politieke kwessie van grondonteiening sonder vergoeding is as fokus vir die studie gebruik. Data is deur middel van kwalitatiewe inhoudsontleding ontleed ten einde bepaalde bevindings te maak, wat die navorser in staat gestel het om die studie se navorsingsvrae te beantwoord. Hoewel die webtuiste vir talle Afrikaanssprekendes toegang tot die openbare sfeer bied en ’n verskeidenheid lesers se opinies verteenwoordig, het die navorser tot die gevolgtrekking gekom dat Maroela Media nie aan die beginsels van ’n ideale netwerk-aangedrewe openbare sfeer binne die konteks van Ubuntu voldoen het tydens gesprekke oor grondonteiening sonder vergoeding nie. Deur die aard van leserskommentare op Maroela Media te ondersoek, kon die navorser lig werp op die rol van Afrikaanse nuuswebtuistes, en in die besonder Maroela Media, om aan Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners toegang tot ’n openbare sfeer in hul moedertaal te bied.