Browsing by Author "Jacobs, Jacques Warrant"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- Item'n Sistematies-teologiese ondersoek na die rol wat emosie mag speel(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2020-04) Jacobs, Jacques Warrant; Forster, Dion Angus; Stellenbosch University. Faculty of Theology. Dept. of Systematical Theology and Ecclesiology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Emosies kan ʼn belangrike rol speel in die vestiging van samelewings van geregtigheid en indien negatiewe emosies nie aangespreek word nie, kan dit destruktiewe gevolge hê, soos vervat in die woorde van die Anglikaanse priester, Michael Lapsley: “If we are filled with anger, hatred, bitterness and a desire for revenge, we will never create a just and compassionate society.” Kwessies oor geregtigheid staan as brandpunte uit in die heersende politieke en etiese diskoers in Suid-Afrika. Dit sluit kwessies in rakende sosiale en ekonomiese geregtigheid soos die herverdeling van grond, ekonomiese ongelykheid, en die regte van vroue en persone in die LGBTIQ+-gemeenskap1 . Hierdie studie ondersoek die rol wat emosies in die verwesenliking van geregtigheid binne hierdie konteks kan speel. Die soeke vir geregtigheid word binne die raamwerk van ʼn etiek van verantwoordelikheid geplaas, omdat verantwoordelike optrede vereis dat die gevolge wat handelinge in die hede op die toekoms mag hê, verreken moet word. Teologies veronderstel ‘n etiek van verantwoordelikheid dat Christene aan God toerekenbaar is wat betref hul verantwoordelikheid teenoor hul naaste. Die kognitief-evaluerende teorie betreffende emosies, soos geskep deur Martha Nussbaum, word bespreek omdat dit die moontlikheid van die vestiging van gewenste emosies en die uitwis van ongewenste emosies bied. Die kognitief-evaluerende teorie stel dat emosies intelligent is en dus waardevolle inligting oordra oor wat vir mense belangrik is. Prominente emosies wat aan die orde kom, is simpatie, empatie, deernis en liefde, asook skuld, skaamte en afguns. Die sentrale vraag wat hierdie studie poog om te beantwoord, is waarom emosies so ’n beduidende rol in die vestiging van samelewings van geregtigheid kan vertolk, ondanks die feit dat daar reeds goeie beginsels in plek is. Emosies mag ’n belangrike motiveerder vir die najaag van geregtigheid wees, omdat die bereidheid tot en strewe vir geregtigheid op ’n emosionele basis berus. So stel liefde en genade persone byvoorbeeld instaat om lydendes en verontregtes raak te sien. Die teenwoordigheid van emosies soos liefde impliseer nie volmaaktheid, of geen gronde vir kritiek nie, want publieke liefde kan betoon en geregtigheid nagestreef word, ten spyte van publieke onvolmaaktheid.