Browsing by Author "Howell, Rykie Isabelle"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- Item'n Praktiese teologiese ondersoek na kontemporêre jeugkultuur en depressie in tienerdogters(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2017-12) Howell, Rykie Isabelle; Weber, Shantelle; Stellenbosch University. Faculty of Theology. Dept. of Practical Theology and Missiology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Hierdie navorsingstudie fokus op die invloed van kontemporêre jeugkultuur op depressie onder tienermeisies. ’n Praktiese teologiese ondersoek is gedoen, spesifiek in die veld van jeugbediening. ’n Teoretiese ondersoek na depressie onder tienermeisies en die verskeie invloede wat daarop ’n rol kan speel, is gedoen. Daar is spesifiek gekyk na die tienermeisies van die Nederduitse Gereformeerde Kerk Waterkloof nadat die waarneming gemaak is dat baie van dié dogters aan depressie ly en dit ook deur van die ouers bevestig is. Die studie is aan die hand van die vier praktiese teologiese take wat deur Osmer (2008) voorgestel is, uitgevoer. Hierdie take is: Wat gebeur? Hoekom gebeur dit? Wat is veronderstel om te gebeur? Hoe kan daar gereageer word? In die studie is daar spesifiek gekyk na herhalende depressiewe episodes en Major Depressive Disorders. Simptome van depressie onder tieners is nagevors. Daar word breedvoerig uitgebrei oor die verskeie invloede op depressie onder tieners, naamlik deur huislike omstandighede, skool, Internet en kontemporêre jeugkultuur. Die positiewe en negatiewe bydraes wat spiritualiteit, godsdiens en geloof tot depressiewe tieners kan maak, word bespreek. Die studie het die ondersoek vernou deur net op tienermeisies te fokus nadat daar gevind is dat meer tienermeisies as tienerseuns aan depressie ly. Daar is gevind dat tienermeisies waarde put uit ’n persoonlike verhouding met God en dat dit simptome van depressie kan verlaag. Die voorstel word gemaak dat jeugbediening depressiewe tienermeisies moet bemagtig om hulle Christelike spiritualiteit deel van hulle alledaagse lewe te maak; om dit te kan beleef en om dit uit te leef. Denise Ackermann se feministiese teologie van praxis, Legge se ervaringsteologie, Scrutton se teologie van transformasie, Van der Walt se feministiese en Afrikahermeneutiese lees van Bybeltekste en Dreyer se pastorale leiding word in gesprek gebring met jeugbediening om metodes te ontwikkel en ruimtes te skep waar depressiewe tienermeisies die geleentheid kan kry om hulle ervarings te deel, uit ander se ervarings te leer, God as liefdevol en as Verlosser ‒ eerder as kwaai en vol haat ‒ te ervaar en om die Bybel as bron te gebruik om met karakters wat ook lyding ervaar het, te kan assosieer. Daar word voorgestel dat jeugbediening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk, spesifiek die Nederduitse Gereformeerde Kerk Waterkloof, erns sal maak met die invloed van kontemporêre jeugkultuur op depressie onder tienermeisies; dat die jeugbediening in die Nederduitse Gereformeerde Kerk Waterkloof die tienermeisies se konteks in ag sal neem asook die uitwerking van hulle konteks op hulle gemoedstoestand en dat die jeugleraar ruimtes sal skep waar praktiese teologie saam met ’n feministiese teologie van praxis depressiewe tienermeisies kan bystaan.