Browsing by Author "Havenga, Elizabeth Angelique"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- Item"Om te word wat ons sien en te ontvang wat ons is" : 'n praktiese-teologiese studie van die verhouding tussen die nagmaal en menswaardigheid in 'n stryd van rasseskeiding(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2020-12) Havenga, Elizabeth Angelique; Cilliers, Johan; Stellenbosch University. Faculty of Theology. Dept. of Practical Theology and Missiology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Hierdie navorsingstuk is ‘n praktiese-teologiese studie van die verhouding tussen die nagmaal en menswaardigheid waarin die praktyk van die nagmaal in die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika ondersoek word. Dit word gedoen met die doel om vas te stel op watter wyse die teologiese teorie en vervolgens die teologiese praktyk van die viering van die nagmaal verstaan, verander en verbeter kan word om sodoende die menswaardigheid van alle deelnemers aan die sakrament te bevestig. In die studie word die tema aan die hand van die vier sleuteltake van praktiese teologie wat deur Richard Osmer in sy boek Practical Theology: An Introduction uiteengesit is, onder die loep geneem. ‘n Eerste diskoers, as die beskrywende-empiriese taak, word ingelei deur ʼn teologiese en geskiedkundige agtergrond van die nosie van menswaardigheid om sodoende vanuit hierdie agtergrond ʼn raamwerk van menswaardigheid daar te stel om as die lens te dien wat deurlopend in hierdie studie ingespan sal word om die effek van uitsluiting op die menswaardigheid van individue – hetsy met die viering van die sakrament van die nagmaal, in die kerk, of in die samelewing – duidelik te maak. Hierdie eerste diskoers word opgevolg met die interpretatiewe taak, waar die historiese agtergrond van die 1857-sinodebesluit van die NGK aangaande die skeiding van aanbiddingsruimtes en vervolgens die nagmaalstafel ondersoek word. In hierdie gedeelte word ook aandag geskenk aan die rol wat ʼn sekere beskouing van die persoon en teologie van Johannes Calvyn in die 19de-eeuse NGK gespeel het, waarna ʼn alternatiewe beeld van die hervormer daargestel word. ʼn Derde diskoers as die normatiewe taak van hierdie studie stel ʼn alternatiewe beeld van Johannes Calvyn voor: die beeld van Calvyn as vlugteling en Christelike humanis met ʼn besondere fokus op die mens en die welstand van die gemeenskap. In die lig van hierdie beeld word sy teologie en veral sy nagmaalsteologie aan die hand van die raamwerk van menswaardigheid uiteengesit. Die studie word met die finale, pragmatiese taak afgesluit waar praktiese voorstelle vir ʼn alternatiewe nagmaalspraxis vir die huidige NGK gegee word. In hierdie verband word daar ondersoek ingestel na die wyse waarop ʼn verantwoordelike beskouing en gebruik van die nagmaal in die lig van Johannes Calvyn se teologie die menswaardigheid van alle lede van die liggaam van Christus kan herstel en genees.