Browsing by Author "Groeneveld, Elise"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- Itemʼn Hervertalingsondersoek na die Afrikaanse Asterix en Die avonture van Kuifie(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2023-03) Groeneveld, Elise; Feinauer, Ilse; Feinauer, A. E.; Stellenbosch University. Faculty of Arts and Social Sciences. Dept. of Afrikaans and Dutch.AFRIKAANSE OPSOMMING : Die twee Franko-Belgiese strokiesprente, Asterix (Astérix) en Die avonture van Kuifie (Les aventures de Tintin) is twee van die bekendste humoristiese strokiesprente ter wêreld en word sedert die vroeë 1970’s in Afrikaans vertaal. Hierdie reekse, wat aanvanklik deur Human & Rousseau uitgegee is, word onderskeidelik sedert 2013 en 2019 deur Protea Boekhuis heruitgegee met Sonya van Schalkwyk-Barrois as hervertaler van albei reekse. Die doel van hierdie studie is om vas te stel of die hervertalings van die Afrikaanse Asterix- en Kuifie-reekse nader is aan die bronteks en op ’n meer vervreemdende benadering gegrond is as die eerste vertalings ten einde die hervertalingshipotese te bewys of te weerlê. Daar word afgelei dat domestikering en vervreemding as vertaalbenaderings ’n tweedeling is waarvolgens eerste vertalings en hervertalings met mekaar vergelyk kan word om die hervertalingshipotese te toets. In hierdie studie wil daar ook vasgestel word waarom daar ʼn behoefte is om die reekse weer te vertaal. Die doel van die studie word bereik deur vas te stel watter motiverings vir die hervertaling van die reekse aangevoer kan word, hoe die vertaaloplossings aan die hand van interkulturele en teksspesifieke uitdagings tussen die eerste vertalings en die hervertalings verskil, en watter een van die reekse meer met die hervertalingshipotese ooreenstem. Hierdie studie is deskriptief en kwalitatief van aard. Binne ʼn deskriptiewe raamwerk word die vertaalde produk volgens die funksie daarvan in die doelkultuur beskryf. Omdat die funksies van Asterix en Kuifie as humoristiese reekse soveel waarde dra, is dit belangrik om die vertaaloplossings deur ʼn funksionalistiese lens te ondersoek. Dit sal bepaal tot watter mate die doeltekste die gees en styl van die brontekste behou. Instrumentele en dokumentêre vertaling word om hierdie rede aanvullend tot domestikering en vervreemding in ag geneem wanneer die hervertalingshipotese in hierdie studie getoets word. Die vertaaloplossings word aan die hand van twee tipes vertaaluitdagings ondersoek: Interkulturele uitdagings sluit die vertaling van tekstuele elemente in wat deur kulturele sisteme beïnvloed word soos eiename, geld- en maateenhede en ideologieë, en teksspesifieke uitdagings behels die vertaling van woordspel en idiomatiese taalgebruik. Voorbeeldmateriaal wat dikwels uit ʼn kombinasie van die visuele en verbale modusse bestaan, word geneem uit ʼn korpus wat bestaan uit twee boeke uit elke Franse reeks en die Afrikaanse vertalings daarvan. Die vertaaloplossings word identifiseer aan die hand van verskeie vertaalteoretici se strategieë. Daar word bevind dat die hervertalingshipotese inderdaad bewys word in die Afrikaanse vertalings van sowel Asterix as Kuifie in dié sin dat die hervertalings nader is aan die bronteks. Dit word egter nie aan ʼn meer vervreemdende benadering toegeskryf nie, maar eerder aan ʼn meer instrumentele een aangesien die hervertalings die styl en vervolgens die funksie van die brontekste sterker oordra. Daar word voorts ook afgelei dat die motivering vir die hervertalings kan wees om die reekse se bronteksfunksie, sterker in die doeltaal oor te dra.