Browsing by Author "Du Plooy, Nicole Tina"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemFostering sustainable energy transitions in South Africa: a system dynamics approach to achieving a sustainable electricity sector(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2017-12) Du Plooy, Nicole Tina; Brent, Alan C.; De Kock, Imke; Musango, Josephine Kaviti; Stellenbosch University. Faculty of Engineering. Dept. of Industrial Engineering.AFRIKAANSE OPSOMMING: Suid-Afrika ondervind tans talle uitdagings soos lae ekonomiese groei, maatskaplike ongelykhede en swak staatsbestuur, maar ondanks hierdie uitdagings streef die elektrisiteitsektor van die land na ’n oorgang na volhoubare energie. Dít blyk duidelik uit die aantal meganismes wat hierdie oorgang bevorder, waaronder die Nasionale Groeiplan, die Nasionale Ontwikkelingsplan en die Geïntegreerde Hulpbronplan vir Elektrisiteit. Die sukses van so ’n omvangryke oorgang berus op ’n holistiese beskouing van volhoubaarheid oor ’n aantal sektore heen. ’n Volhoubare energieoorgang (VEO) is uiters kompleks en vereis ’n multidissiplinêre benadering om in die samelewing se ontwikkelings- en ekonomiese groeibehoeftes te voorsien, en terselfdertyd klimaatsveranderingsuitdagings en hulpbronbeperkings die hoof te bied. VEO-raamwerke sluit verskeie kwessies in, wat onder meer insluit die verband tussen energieproduksie en -verbruik, die ingebruikneming van volhoubare tegnologie en die sosio-tegniese impak daarvan, die vereiste paradigmaskuif vir beleidvorming, sowel as die ooglopende omgewingsbeperkings. Hierdie studie het ten doel om by te dra tot die kennisbasis vir die bevordering van VEO’s in die elektrisiteitsektor van Suid-Afrika. Daarom konsentreer die studie op die vermoë van die elektrisiteitsektor om ’n VEO te bewerkstellig en terselfdertyd ’n aantal maatskaplike, ekonomiese en omgewingsbeperkings te bestuur. Dít word deur ’n dubbelnarratiefbenadering bereik. Die benadering behels ’n narratiewe fase, wat bestaan het uit ’n sistematiese literatuuroorsig om die verskillende aspekte van oorgange en die verbandhoudende kompleksiteite te bepaal, sowel as ’n modelleringsfase, waartydens ’n toepaslike modelleringsmetodologie deur ’n normvergelykingsproses gekies en ’n model gevolglik ontwikkel is om die VEO vir die Suid-Afrikaanse elektrisiteitsektor op nasionale vlak te modelleer. ’n Uitset van die narratiewe fase was die ontwikkeling van ’n stel kriteria waarvolgens die vordering van die VEO met betrekking tot die tempo en omvang van verandering oor tyd beoordeel kan word. Die gekose metodologie vir die modelleringsfase was stelseldinamika, waarvolgens ’n model ontwikkel is om die Geïntegreerde Hulpbronplan vir Elektrisiteit vir Suid-Afrika te modelleer en alternatiewe scenarios te bepaal wat ’n oorgang na volhoubaarheid kan bewerkstellig. Die model is ontwikkel met die doel om belanghebbendes van verskillende agtergronde by gesprekke te betrek en om toekomsmoontlikhede te skep, versiendheid te ontwikkel en beleidsontwikkelingsprosesse te versterk. Die resultate van die modelscenarios is aan die hand van die ontwikkelde stel kriteria beoordeel, en dui daarop dat die huidige beleid onvoldoende is om teen 2050 ’n VEO te bewerkstellig. Die resultate toon ook dat scenarios met meer hernubare-energietegnologieë doeltreffender is om VEO’s in die hand te werk. Uitdagings wat egter oorweeg moet word, sluit in die aansienlike vereiste finansiële belegging, die wisselvallige aanbod, en die beskikbare elektrisiteit wat vereis word om aan die vraag te voldoen. Hierdie scenarios word uitvoerig bespreek en aanbevelings word ook gedoen. Die studie bied in die geheel ’n alternatiewe benadering om die vermoë te evalueer van Suid-Afrika se elektrisiteitsektor om ’n VEO te bewerkstellig, en dra by tot die VEO-kennisbasis van die land.