Research Articles (Afrikaans and Dutch)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Research Articles (Afrikaans and Dutch) by Author "Adendorff, Elbie"
Now showing 1 - 14 of 14
Results Per Page
Sort Options
- Item’n Behoefte-analise as eerste fase in die ontwerp van ’n taakgebaseerde sillabus vir Afrikaanstweedetaalonderrig op universiteitsvlak(LitNet Akademies, 2010-08) Adendorff, ElbieAbstract: The implementation of a multilingual language policy in South Africa requires the teaching and learning of Afrikaans as a second or additional language and especially the teaching of Afrikaans for specific purposes to adult learners. The latter has not received much attention in the South African context, especially research on the learning and teaching of Afrikaans for specific purposes in a university context. My research on Afrikaans as a second language has as framework Task-Based Language Learning and Teaching (Ellis 2003 and Nunan 2004). The research focuses on the challenges that await students in a multilingual university context and how task-based teaching fills these needs and challenges. The Cognition Hypothesis of Robinson (2001a, 2001b, 2003, 2005, 2007) posits a needs analysis, with target tasks as outcome, as a starting point for pedagogic task development. For the purpose of the article, a needs analysis was conducted through the use of a questionnaire and interviews with students at a university. This needs analysis shows that students whose first language is not Afrikaans have the need to acquire communicative skills in Afrikaans to communicate effectively with fellow students and lecturers at the university.
- Item’n Behoefte-analise met die oog op die ontwerp van ’n Taal vir Spesifieke Doeleindes (TSD)-kursus vir leerderonderwysers met Afrikaans as tweede taal(Stellenbosch University, Department of General Linguistics, 2014) Greyling, Arne; Adendorff, ElbieDie implementering van ’n veeltaligheidsbeleid in Suid-Afrika vereis dat die onderrig en leer van Afrikaans as tweede taal, met spesifieke fokus op die onderrig van Afrikaans vir spesifieke doeleindes aan volwassenes (ook op universiteitsvlak), aandag geniet. Onderwysers en onderwysstudente moet daarop voorberei word om effektief onderrig te kan gee, aangesien daar van leerders verwag word om op ’n akademiese vlak met taal te kan omgaan. Die Nasionale Departement van Onderwys verwag onder meer van nuutgekwalifiseerde onderwysers om in die algemeen sowel as binne hul spesifieke vakgebiede effektief te kan kommunikeer aangesien onderwysers as tussengangers van leer optree. Die doel van hierdie artikel is om die spesifieke behoeftes van eerstejaar-onderwysstudente met Afrikaans as tweede taal te ondersoek met die doel om ʼn taakgebaseerde Afrikaans vir spesifieke doeleindes-kursus te ontwerp. Sekere faktore moet in ag geneem word by die ontwerp van ’n sillabus, naamlik die kulturele, opvoedkundige en organisatoriese aspekte, die taalaanleerder, die onderwyser en die beskikbaarheid van onderrigmateriaal. ’n Behoefte-analise kan gebruik word om te verseker dat daar aan bogenoemde faktore aandag geskenk word met die ontwerp van ’n sillabus. Nog voordele wat behoefte-analises inhou, is dat onderrigmetodes kan verbeter, onderwysers kan aanpas by die verskillende taalaanleerders in hulle klasse en taalaanleerders deur die leerproses kan lei. Die artikel lewer verslag van ’n ondersoek oor die ontwerp van ’n Afrikaanse spesifiekedoeleindeskursus vir eerstejaar-onderwysstudente. Die spesifieke fokus is op die behoefte-analises wat onderneem is. ’n Reeks metodologiese stappe wat gevolg kan word in ’n behoefte-analise met die oog op kursusontwerp, tesame met die toepassing daarvan, word in die artikel aangebied.
- ItemDie gebruik van gedigte in die onderrig van Afrikaans as addisionele taal(LitNet, 2019) Adendorff, ElbieDié artikel lewer verslag van ’n literatuurstudie en lesvoorstel wat spruit uit ’n projek wat onderneem is oor die gebruik van letterkunde as taalverwerwingshulpmiddel en as onderrigmetodologie in ’n Afrikaanse tweedetaalklaskamer1 (Adendorff 2014a). Hierdie opvolgstudie se fokuspunt is op die gebruik van gedigte2 as ’n suksesvolle, interaktiewe benadering tot taakgebaseerde leeraktiwiteite in taalverwerwingsklasse. Die gebruik van gedigte as hulpmiddel tot die aanleer van Afrikaans in die Afrikaanse addisioneletaalklaskamer3 is, nes die gebruik van letterkunde, ’n onderwerp wat nog nie deeglik ondersoek is nie. Navorsers soos Nasr (2001), Yavuz (2010) en Mittal (2014) problematiseer die onderwerp van gedigte as taalonderrighulpmiddel en kom tot die gevolgtrekking dat gedigte wel in die addisioneletaalklaskamer gebruik kan word om ’n nuwe taal aan te leer. Die doel van die artikel is om oor die volgende navorsingsvraag verslag te lewer: Hoe suksesvol kan gedigte in ’n taakgebaseerde onderrigprogram gebruik word om Afrikaans as addisionele taal te onderrig? Die eerste subdoelwit van die artikel is om te kyk na hoe en tot watter mate gedigte binne die taakgebaseerde benadering gebruik kan word ten einde die onderrig en leer van Afrikaans as addisionele taal te vernuwe en te verruim. ’n Verdere doelwit is om ’n geïntegreerde onderrigmetodologie voor te stel wat in skole gebruik kan word omdat dit een van die doelwitte in die Nasionale Kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) van die Departement van Basiese Onderwys is. Hierdie studie vind binne die teoretiese raamwerk van die taakgebaseerde benadering vir die leer en onderrig van addisionele tale plaas. Die taakgebaseerde benadering is ’n taalonderrigbenadering wat die klem op betekenis deur middel van outentieke taalgebruik plaas. Die metodiek wat gevolg word, sluit ’n literatuurondersoek na die gebruik van gedigte in taalverwerwing in, asook die gebruik van gedigte binne die taakgebaseerde benadering, en laastens ’n taakgebaseerde voorbeeldles. Uit die literatuurondersoek en die voorbeeldles wil dit voorkom of gedigte wel as taalverwerwingshulpmiddel in die addisioneletaalklaskamer gebruik kan word.
- ItemDie gebruik van onderskrifte in die onderrig en leer van Afrikaanse woordeskat en begrip(LitNet, 2017) Adendorff, Elbie; Binneman, Arne; Du Plessis, Ju-MariDie artikel lewer verslag van ’n studie wat onderneem is oor die gebruik van onderskrifte in die onderrig en leer van Afrikaanse woordeskat en begrip met taalverwerwingstudente. Die teoretiese raamwerk van die navorsing is die tweedetaalverwerwingsteorie van Krashen met spesifieke fokus op die inset- en affektiewefilter-hipoteses. Krashen se teorie is reeds in ander soortgelyke studies gebruik (Harji, Woods en Alavi 2010; Donaghy 2014; Rokni en Atæe 2014; Miller 2016). Die Europese Referensiekader (ERK) (Järvinen 2006; Little 2009) is voorts as teoretiese raamwerk gebruik asook teoretiese besinnings oor die gebruik van onderskrifte in die onderrig en leer van nuwe tale – sien byvoorbeeld D’Ydewalle 2002; Sokoli 2006; Zanón 2006; Aurstad 2013; Kruger 2013 en Beauprez 2014. Die deelnemers aan die studie was 15 Afrikaanse Taalverwerwing 178-studente aan die Universiteit Stellenbosch. Hierdie studente is in twee groepe verdeel: ’n kontrolegroep en ’n proefgroep. Die ondersoek na die gebruik van onderskrifte in ’n vreemdetaalklaskamer vir die verwerwing van Afrikaanse woordeskat en begrip is in drie stappe aangebied. Die eerste stap behels die voltooiing van ’n ERK-selfevalueringstabel en ’n agtergrondinligtingsvraelys, waarin die deelnemers se taalvaardigheidsvlak en taalagtergrond asook hulle menings oor onderskrifte bepaal word. Tydens hierdie stap skryf die deelnemers ’n woordeskattoets om die omvang van hulle bestaande Afrikaanse woordeskat te bepaal. Tydens die tweede stap kyk die studente na ’n uittreksel van ongeveer 20 minute uit die film Semi-Soet. Die kontrolegroep kyk die uittreksel sonder onderskrifte, terwyl die proefgroep die uittreksel met onderskrifte kyk. Die deelnemers skryf direk na die vertoning van die uittreksel ’n begripstoets daaroor, sowel as ’n woordeskatherroepingstoets oor die woordeskat wat in stap een getoets is. ’n Addisionele woorddefinisietoets, wat die deelnemers se begrip en woordeskat van Afrikaans toets, word in hierdie stap voltooi. Tydens die derde stap word ’n aangepaste weergawe van die agtergrondinligtingsvraelys en die oorspronklike ERK-selfevalueringstabel aan die studente gegee om sodoende die veranderde menings en taalvaardigheidsvlakke van die studente, na die blootstelling aan onderskrifte, te bepaal. Uit die resultate is daar afgelei dat al die deelnemers aan die studie van mening is dat hul Afrikaanse taalvaardigheidsvlakke tydens die proefneming bevorder is. Die ondersoek se resultate dui daarop dat die vreemdetaalstudente se begrip nie deur die blootstelling aan onderskrifte beïnvloed is nie. Die kontrolegroep presteer in ’n onbeduidende mate beter as die proefgroep. Vreemdetaalstudente se woordeskatontwikkeling is volgens die resultate bevorder nadat hulle aan onderskrifte blootgestel is. Die proefgroep se woordeskatontwikkeling het beduidend meer verbeter as dié van die kontrolegroep.
- ItemDie gradering en ordening van drie teikentake binne 'n taakgebaseerde leer-en-onderrig-program vir nieAfrikaanssprekende internasionale universiteitstudente(LitNet, 2019) Beukes, Vernita; Adendorff, ElbieDie artikel spruit uit navorsing wat deur die eerste skrywer onderneem is vir die ontwerp van ’n taakgebaseerde program vir internasionale studente wat aan Universiteit Stellenbosch studeer (Beukes 2017). Die doel van die artikel is om aan te dui hoe drie1 teikentake2 binne ’n taakgebaseerde leer-en–onderrig-program gegradeer en georden kan word ten einde optimale taalverwerwing3 binne sillabusontwerp te illustreer. Die studie word deur die volgende navorsingsvraag gelei: Watter faktore moet in ag geneem word wanneer take vir ’n taakgebaseerde program gegradeer en georden word? Onder meer Robinson (2001; 2005; 2009; 2010; 2011) se kognisiehipotese en kriteria vir die gradering en ordening van take; Pica, Kanagy en Falodun (1993) se taaktipologie soos verwerk deur Gleason en Slater (2016); Van Avermaet en Gysen (2006) se taalgebruiksituasies; asook Foster, Tonkyn en Wigglesworth (2000) se Analise van Spraak- (AS-) eenhede vorm deel van die teoretiese raamwerk van hierdie studie. Die deelnemers was die internasionale studente wat die kursus BeginnerAfrikaans Vlak I by die Universiteit Stellenbosch bygewoon het. Die kursus is deur die Taalsentrum se personeel wat in taalverwerwing spesialiseer, ontwikkel en verfyn, en word aangebied aan enige internasionale student wat aan die Universiteit Stellenbosch studeer en geen voorafkennis van Afrikaans het nie. Die metodiek wat gevolg is, spruit uit die studente se voorstelle in ’n vraelys wat as deel van ’n behoefte-ontleding aan hulle gegee is. Na aanleiding van die teoretiese raamwerk word aangetoon hoe teikentake effektief gegradeer en georden kan word deur die toepassing van die navorsers se aanbevelings. In die bevindinge toon ons aan hoe die teoretiese raamwerk toegepas word op die drie teikentake wat as voorbeeld in die artikel gebruik word.
- Item'n Multiperspektiefbenadering tot die ontwerp van 'n Afrikaanse taakgebaseerde sillabus op universiteitsvlak(LitNet Academic, 2012-08) Adendorff, ElbieOPSOMMING: Die artikel lewer verslag van navorsing wat binne die taakgebaseerde teorie onderneem is om ’n multiperspektiefbenadering tot kompleksiteit ten opsigte van die ontwerp van ’n Afrikaanse taakgebaseerde sillabus op universiteitsvlak te ondersoek. Die doel van die multiperspektiefbenadering is om ’n geheelbeeld van die fasette wat ter sprake in taakkompleksiteit is, te verskaf deur die ontginnings van die verskillende teoretiese benaderings oor taakkompleksiteit, wat gebruik kan word in die ontwerp van ’n taakgebaseerde sillabus vir beginnerleerders van Afrikaans op universiteitsvlak. Hierdie navorsing oor ’n multiperspektiefbenadering is om die volle spektrum van oorwegings wat ter sprake is in taakkompleksiteit binne sillabusontwerp te ondersoek ten einde te betoog dat ’n multiperspektiefbenadering voordelig is ten opsigte van die ontwerp van ’n verdedigbare sillabus vir Afrikaans op universiteitsvlak, aangesien intertaalontwikkeling optimaal binne elk van die benaderings verantwoord kan word. Die toereikendheid van ’n multiperspektiefbenadering lê in die samehang en komposisie van elke navorser se teoretiese uitgangspunte, wat elkeen op sigself bepaalde aspekte van onvolledigheid ten opsigte van die komponente oor kompleksiteit toon én die kombinasie-argitektuur van al die teoretiese uitgangspunte saam. Die navorsers op wie se werk oor taakkompleksiteit in sillabusontwerp gesteun word, is Van Avermaet en Gysen (2006) en Duran en Ramaut (2006) oor behoefte-analises; Pica, Kangy en Falodun (1993) se taaktipologie; Robinson (2001c; 2003; 2005; 2007a; 2007b; 2010) se kognitiewe kompleksiteitsondersoek na taakomstandighede en kognitiewe kompleksiteit en 'n linguistiese ondersoek aan die hand van Foster, Tonkyn en Wigglesworth (2000) se AS-eenhede; Michel (2011) se ondersoek na voegwoorde as kompleksaanduiders; en Loschky en Bley-Vroman (1993) se ondersoek na taakbruikbaarheid, taaknuttigheid en taaknatuurlikheid.
- ItemDie omskakeling van werklikewereld-take na pedagogiese take ten einde 'n taakgebaseerde sillabus te ontwerp(LitNet Academic, 2012-12) Adendorff, ElbieOPSOMMING: Die doel van die artikel is om te verduidelik hoe werklikewêreld-take binne die taakgebaseerde sillabus na klaskamertake omgeskakel word. Dit is ’n opvolgartikel van twee artikels wat in LitNet Akademies gepubliseer is – sien Adendorff (2010 en 2012b). Die eerste artikel het gekyk na die rol van behoefte-analises, terwyl die tweede artikel die multiperspektiefbenadering tot taakkompleksiteit in ’n taakgebaseerde sillabus bespreek het. Een van die vraagstukke en probleme in verband met die taakgebaseerde teorie is dat dit lyk soos die lukrake kies van take wat niks met mekaar te doen het nie. ’n Besluit oor die eenhede van klaskamer-aktiwiteite en die volgorde waarin hulle uitgevoer moet word, vorm die basis van sillabusontwerp. Sillabus is ’n breë en komplekse begrip en word somtyds as sinoniem vir kurrikulum gebruik. Volgens Nunan (2004:216) is ’n sillabus die subkomponent van ’n kurrikulum, wat die taalinhoude spesifiseer en orden. Nunan (2004:25) verskaf ’n diagrammatiese raamwerk wat verduidelik hoe die omskakeling van teikentake na pedagogiese take plaasvind voordat by taakontwerp uitgekom word. Die ESOHK-model (oftewel die Eenvoudige Stabiele Outomatiserende Herstruktureringskompleksiteitsmodel – my vertaling vir Simple Stable Automatisation Restructuring Complexity Model, of SSARC Model) van Robinson (2010) waarin hy hierdie proses van omskakeling uiteensit, is gebruik in die ontwerp van ’n taakgebaseerde sillabus vir kampuskommunikasie. Voorbeelde van pedagogiese take vir klaskamergebruik word gegee. Benewens die gradering en ordening van take met die oog op ’n taakgebaseerde sillabus is daar verder na die metodologiese prosedure vir die toepassing daarvan in die klaskamer gekyk. Willis (1996:38) verskaf ’n bruikbare raamwerk wat toegepas is in die ontwerp van taakreekse of individuele take. Een van die ander vraagstukke binne die taakgebaseerde benadering is die plek en aard van grammatika in die sillabus. In die artikel sal hierna gekyk word met ’n voorkeur aan gebruik van fokus op vorm bo fokus op vorme. Voorbeelde van gefokusde en ongefokusde pedagogiese take word verskaf.
- Item'n Ondersoek na die gebruik van kultuurgeorienteerde taakgebaseerde lesse vir die verwerwing van Afrikaanse woordeskat deur universiteitstudente(LitNet, 2018) Adendorff, Elbie; Koegelenberg, MariIn hierdie artikel bespreek ons ’n loodsprojek vir die insluiting en die gebruik van kultuur in ’n taakgebaseerde taalverwerwingsklas vir eerstejaarstudente wat Afrikaans aanleer. Die integrasie van kultuur in die aanleer van ’n nuwe taal is belangrik omdat taal en kultuur oorvleuel; derhalwe raak die insluiting van ’n kultuurkomponent in die taalklaskamer al hoe gewilder. Wanneer die gebruik van kultuur in die onderrigsituasie ingesluit word, is daar onsekerheid oor watter deel van die kultuur aangeleer moet word. Kavanagh (2000:102) noem drie moontlikhede: die insluiting van “Kultuur met ’n hoofletter-K”, “kultuur met ’n kleinletter-k” en die vermenging van die twee. Baie min studies wat taalverwerwing en die aanleer van Afrikaanse woordeskat deur middel van die taakgebaseerde benadering met kultuur kombineer, is nog onderneem – veral navorsing met universiteitstudente. Ons hoofnavorsingsvraag is of universiteitstudente deur middel van kultuurgeoriënteerde taakgebaseerde lesse Afrikaanse woordeskat kan aanleer. In dié voorlopige ondersoek is ’n gemengde metodologie gevolg. Eerstens is ’n kwalitatiewe studie onderneem, wat ’n literatuuroorsig oor die taakgebaseerde benadering, kultuur en woordeskat insluit, asook die gebruik van kultuur as pedagogiese hulpmiddel in die taakgebaseerde klaskamer. Die ondersoek sluit tweedens vraelyste in wat deur studente wat Afrikaans aanleer, voltooi is. Die doel van die vraelyste is om die studente se menings oor die insluiting van kultuur in die taalverwerwingsklas te bekom en om te bepaal wat hulle kulturele kennis is. Uit die resultate van die vraelyste en die literatuurondersoek is kultuurgeoriënteerde taakgebaseerde lesse ontwerp, waarvan vier vir die studente aangebied is.
- Item'n Ondersoek na die verwerwing van klanke deur middel van musiek deur vreemdetaalstudente van Afrikaans(LitNet, 2016-08-18) Sass, Jaydey; Adendorff, ElbieDie verwerwing van Afrikaanse klanke en die uitspraak daarvan vorm dikwels die basis van taalverwerwingskursusse. Uitspraak is ’n belangrike aspek in die verwerwing van ’n nuwe taal en daarom behoort die onderrig van uitspraak ’n vername rol in die taalverwerwingsklaskamer te speel. Uitspraak is dikwels vir taalverwerwingstudente die moeilikste aspek om te bemeester. Die gebruik van musiek as hulpmiddel in taalverwerwing is geen nuwe verskynsel nie. Die gebruik daarvan in die onderrig en leer van nuwe tale fokus dikwels op die verwerwing van woordeskat en begrip terwyl die gebruik daarvan om uitspraak en klanke te verwerf, min plaasvind. Min studies oor die gebruik van Afrikaanse musiek om kenmerkende Afrikaanse klanke te verwerf, is al onderneem. Hierdie artikel lewer verslag oor so ’n studie wat onderneem is met vreemdetaalstudente wat Afrikaans op universiteit volg. ’n Gemengde metodologie van kwantitatiewe en kwalitatiewe navorsing is onderneem deurdat vraelyste, klaswaarnemings, musiekroosters en klankopnames in die ondersoek gebruik is om vas te stel of die luister na Afrikaanse musiek die studente help om Afrikaanse klanke te verwerf, asook of dit hulle Afrikaanse uitspraak verbeter. Vier-en-dertig eerstejaarstudente wat vir die taalverwerwingsmodule geregistreer het, het die vraelys, wat hulle onder meer oor hulle eerste taal, hulle algemene Afrikaans-vaardigheid en hulle houding teenoor Afrikaans en Afrikaanse musiek gevra het, voltooi. Twee-en-twintig studente is vir die klankopnames in ’n proefgroep (12 studente) en ’n kontrolegroep (10 studente) verdeel. Die proefgroep moes op hulle eie buite klasverband vir 30 minute per dag vir sewe dae na aanbevole Afrikaanse musiek met lirieke luister en ’n rooster voltooi van die musiek en hoe lank hulle daarna geluister het. Die kontrolegroep het slegs in klasverband blootstelling aan uitspraak en klanke gekry. Die hoofbevindinge is dat die studente baat gevind het daarby om na Afrikaanse musiek met lirieke te luister deurdat 61% van klanke wat aanvanklik nie korrek uitgespreek is nie, na die luister na Afrikaanse musiek wel korrek uitgespreek is.
- ItemDie ontwerp van ʼn Afrikaanse taakgebaseerde rekenaaronderrigprogram vir internasionale studente aan die Universiteit Stellenbosch(Stellenbosch University, Department of Linguistics, 2014) Beukes, Vernita; Adendorff, ElbieDie navorsing waaroor in hierdie artikel verslag gelewer word, is spesifiek gerig op nie-Afrikaanssprekende internasionale studente aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die doel van die breë navorsing wat onderneem word en waarvan in dié artikel slegs gedeeltelik verslag gelewer word, is om die moontlike ontwerp van ʼn taakgebaseerde rekenaarprogram vir die kursus Beginner Afrikaans Vlak 1 te illustreer. Die navorsing val binne twee breë vakgebiede, waarvan die eerste een die taakgebaseerde benadering tot leer en onderrig is en die tweede een rekenaargesteunde taalonderrig (RGTO). Taakgebaseerde leer en onderrig is ʼn onderrigbenadering waar die fokus van die studente op die bereiking van ʼn doelwit geplaas word. Volgens Duran en Ramaut (2006) en Van Avermaet en Gysen (2006) is die vertrekpunt van enige taakgebaseerde benadering ’n behoefte-analise. Vir hierdie studie het die studente ʼn vraelys voltooi. As deel van die behoefte-analise gebruik die studente, saam met die vraelys, die Europese Referensiekader (ERK) (2001) om hulle taalvaardighede te assesseer. Die studente verskaf ook inligting oor onderwerpe wat hulle graag in die klas behandel wil hê. Nadat die taakgebaseerde benadering bespreek is, word daar op Mayer (2009, 2011) se kognitiewe teorie van multimedia-leer gefokus. Dit dien as vertrekpunt vir die tweede vakgebied, naamlik rekenaargesteunde taalonderrig (RGTO) wat verder in hierdie artikel bespreek word. Hierdie teorie verskaf die agtergrond vir enige aktiwiteit wat op die rekenaar ontwerp word. Nadat die kognitiewe teorie van multimedia-leer bespreek is, word daar op vier multimedia-instruksiebeginsels, deur Mayer (2009, 2011) ontwikkel, gefokus, naamlik die oortolligheidseffek, die samehangeffek, die ruimtelike-aangrensingseffek en die verpersoonlikingseffek. Hierdie beginsels word kortliks bespreek, voordat ʼn verbinding tussen die twee vakgebiede gemaak word deur die bevindinge wat sover van studente verkry is, te gebruik en dan prakties te toon hoe een van die instruksiebeginsels moontlik aan die studente voorgestel kan word in die rekenaarprogam.
- ItemTaalverwerwing vir studente met gehoorverlies : 'n gevallestudie(LitNet, 2020) De Waal, Marthie; Adendorff, ElbieDie artikel doen verslag van ’n studie wat onderneem is oor die onderrig en leer van Afrikaans as tweede taal1 aan studente met gehoorverlies. Die teoretiese raamwerk van die navorsing is die tweedetaalverwerwingsteorie van Krashen (1981; 1982) – veral sy hipotese oor die affektiewe filter, wat volgens Krashen (1982:31) beteken dat die aanleer van ’n taal2 deur affektiewe faktore wat motivering, selfvertroue en angs insluit, beïnvloed word. Krashen (1981; 1982) se hipotese oor die affektiewe filter is belangrik vir ons studie aangesien studente3 met verskillende grade van gehoorverlies ’n motiverende en bemagtigende klasomgewing benodig, want hulle betree die taalverwerwingsruimte reeds met ’n agterstand. Studente met gehoorverlies ervaar die taalverwerwingsproses as moeilik, tydrowend en vernederend of vreesaanjaend – veral as hulle met uitspraak of spelling sukkel. Aansluitend by Krashen, is Moss en Blaha (1993) en Pekrun, Goetz, Titz en Perry (2002) se teoretiese raamwerke oor akademiese emosie gebruik. Voorts het ons doofheidstudies aan die hand van verskeie navorsers soos Case (2005), Busch (2012), Bell (2013) en Hernandez (2017) bespreek. Studente met gehoorverlies benodig verskeie klaskamer- en kurrikulumaanpassings, onder andere om teen ’n rustiger tempo te werk, van tolke gebruik te maak, en om alternatiewe assessering af te lê vir taaltoetse wat rondom gesproke taal gesentreer is. In ons artikel bespreek ons klaskamerstrategieë vir beide die dosent4 en die betrokke studente. Klaskamerstrategieë verwys hier na ’n verskeidenheid maniere waarop die dosent (en student) te werk kan gaan om die taalverwerwingsproses te vergemaklik. Deur die artikel poog ons om die volgende navorsingsvraag te beantwoord: Hoe kan taalverwerwingsklaskamers vir en rondom studente met gehoorverlies aangepas word? ’n Literatuurstudie oor die taakgebaseerde benadering, akademiese emosies, gehoorverlies en strategieë vir klaskameraanpassings word eerstens verskaf ten einde ’n kwalitatiewe agtergrond vir die artikel te verskaf. Tweedens gebruik ons deelnemende aksienavorsing met ’n gevallestudiekomponent waarin ’n vraelys saam met ’n aangepaste taakgebaseerde les gebruik is om te bepaal wat die behoeftes van die studente met gehoorverlies is wat Afrikaans as tweede taal op universiteit aanleer. Ons resultate toon dat studente met gehoorverlies met meer gemak ’n taal sal verwerf indien hulle ’n belangstelling in die taal het en opgewonde is oor die taalverwerwingsproses en -lesse.5 Ons het ook bevind dat aangepaste taalverwerwingslesse wel dié studente kan help om Afrikaans as tweede taal te verwerf.
- ItemA task-based approach to improving the communicative skills of university students learning Afrikaans as an additional language(Stellenbosch University, Department of Linguistics, 2014) Adendorff, ElbieThis paper reports on a qualitative study which was conducted with first-year Afrikaans Language Acquisition students in the Department of Afrikaans and Dutch of the Faculty of Arts and Social Sciences at the University of Stellenbosch, South Africa. The aim of the study was to determine how task-based activities contribute to the teaching and learning of communication skills in Afrikaans as an additional language. The aim therefore was not to present quantitative data, but to look at the attitudes and perceptions of the students and the lecturer through questionnaires and interviews. This study was explorative in nature and made use of task-based activities for the teaching of Afrikaans as an additional language to university students by using authentic material in pedagogic tasks. A secondary aim was to prove the acquisition of Afrikaans by way of spontaneous communication and interaction with the target language. The study was undertaken specifically on the teaching and learning of Afrikaans as an additional language in the context of the language acquisition classroom. The framework which was used and implemented in this study was a combination of qualitative research and the task-based approach to language teaching. A brief review is provided of the implementation of a task-based syllabus after a needs-analysis was conducted with students registered for the Afrikaans Language Acquisition module at the university. In addition, a brief review will be given of the criteria used in the design of the syllabus, the teaching materials and the teaching programme. The outcome of the tasks was formulated according to what students needed to do with Afrikaans in the university context and is therefore focused on the students’ needs. The focus was not on the formal linguistic aspects of the language but rather the functions thereof. The students were encouraged to participate and they learned Afrikaans by completing the tasks. The communicative potential of the task-based activities in the teaching programme is evaluated. This study showed that task-based activities contributed to the communication skills of students in the Afrikaans Language Acquisition class.
- ItemVertaling en taalverwerwing : 'n literatuuroorsig oor die vertaling van intertalige onderskrifte(LitNet Akademies, 2020) Adendorff, ElbieHierdie oorsigartikel vorm deel van ’n breë navorsingsprojek oor vertaling en taalverwerwing.1 Die doel van hierdie artikel is om eerstens in die breë na die gebruik van vertaling vir taalverwerwing te kyk en tweedens om die gebruik van intertalige2 onderskrifte3 in taalverwerwingsklaskamers te ondersoek – spesifiek om woordeskat aan te leer. Die teoretiese raamwerk vir die studie is die tweedetaalverwerwingsteorie4 van Krashen (1982 en 1985) asook bewuste en onbewuste taalverwerwing aan die hand van veral Hulstijn (2013) se navorsing. Omdat woordeskataanleer ’n belangrike vaardigheid binne taalverwerwing is, word teoretiese aspekte rondom die aanleer van woordeskat geïntegreerd bespreek. Voorts word vertaling binne taalverwerwing onder die loep geneem – sien Newmark (1991), Jones (2010), Yadav (2014) en Van den Berg (2019). Die artikel lewer verslag van ’n kleinskaalse empiriese ondersoek deur Van den Berg (2019). Sy onderneem ’n gevallestudie met dosente wat by die Universiteit Stellenbosch by die onderrig van vreemde tale betrokke is om hulle menings oor die gebruik van vertaling binne taalverwerwing te verkry. Die fokus van die artikel verskuif na die gebruik van intertalige onderskrifte binne die veld van taalverwerwing – soos ondersoek deur Harji, Woods en Alavi (2010), Caimi (2013), Du Plessis (2015) en Peters en Webb (2018). Muller (2019) maak gebruik van ’n vraelys om studente wat Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch aanleer se menings oor hoe intertalige onderskrifte in taalverwerwing gebruik kan word om ’n vreemde taal aan te leer, te verkry. Die vertaalstrategieë van Gottlieb (1992 en 1994) vorm deel van die teoretiese raamwerk oor intertalige onderskrifte. Etlike studies wat van Gottlieb (1992) se taksonomie gebruik maak, word kortliks bespreek voordat die artikel tot ’n slotsom kom.
- ItemDie verwerkingsproses ten opsigte van toneelkeuse met verwysing na die rolprent Roepman(LitNet, 2014-08) Adendorff, Elbie; Van Dyk, AdeanDie herskrywing van literêre romans na draaiboeke vir verfilming is ’n populêre keuse onder filmmakers. Afrikaanse films beleef tans ’n opbloei, tog is die aantal filmherskrywings van Afrikaanse romans min in vergelyking met die totale aantal films wat vervaardig word. Tradisioneel word die studie van filmverwerkings vanuit ’n literêre domein gedefinieer en die draaiboek en uiteindelike film staan sekondêr tot die literêre roman as bronteks. Die studie van die verwerking van ’n roman na ’n draaiboek is een waaroor tot dusver, in vergelyking met studies in letterkunde en filmkunde, min geteoretiseer is. Daar is min Afrikaanse bronne oor die praktyk van verwerkings beskikbaar. Die draaiboekskrywer, as verwerker of herskrywer van die roman vir die filmmedium, moet verskeie verwerkingsprobleme gedurende die proses oorkom, insluitend die probleem van toneelkeuse en die vlak van getrouheid aan die bronteks. Die verwerkingsproses is nie so eenvoudig as om bloot die verhaal oor te skryf nie. Die draaiboekskrywer dra die verantwoordelikheid om die roman in gedagte te hou terwyl hy1 die verhaal vir die filmmedium herskryf. Verskeie kritici en akademici is dit eens dat die draaiboek uiteindelik as ’n aparte teks van die roman moet staan, maar steeds die essensie van die romanverhaal moet behou omdat dit die teks is waarmee die filmkyker die film vergelyk. Dit is net een argument in die verwerkingsdiskoers en in die praktyk is die draaiboekskrywer (en/of regisseur) verantwoordelik vir die besluit hieroor. Die vraag na hoe die proses van die kies van tonele plaasvind, asook die vlak van getrouheid aan die oorspronklike teks tydens die verwerking van ’n roman na draaiboek, word in hierdie artikel krities ondersoek. Die onlangse 2010-verfilming van Jan van Tonder se Roepman (2004) dien prakties as voorbeeld van ’n verwerkte draaiboek wat getrou bly aan die essensie van die oorspronklike teks. De Jager en die mededraaiboekskrywers se draaiboek (2010) word in die artikel prakties gebruik as voorbeeld van ’n onlangse Afrikaanse filmverwerking, spesifiek met verwysing na die proses van toneelkeuse en die probleem van getrouheid aan die roman. Met hierdie artikel bied ons ’n oorsig oor die verwerkingsproses van roman na draaiboek met Roepman as voorbeeldteks. Ons trek geen parallelle met ander films of draaiboeke nie.