Doctoral Degrees (Educational Psychology)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (Educational Psychology) by Author "Conradie, Karlien"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemEksistensiele ontstigting as noodsaak vir die denkende psigoterapeut: literere teater as platform vir die estetiese disposisie(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2021-12) Conradie, Karlien; Swart, Estelle; Painter, Desmond William; Stellenbosch University. Faculty of Education. Dept. of Educational Psychology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Om tot stille nadenke gestem te word, is uniek aan die mens. In wysgerige konteks staan bepeinsing, nabetragting en bewussynsontwikkeling deur die eeue heen in die intiemste betrekking tot mekaar (Nietzsche, 1961; Jung, 2002; Heidegger, 1966; Fromm, 1994; De Beer, 2010 & 2018). Dit is deur middel van omvattende besinning oor die aard van sy bestaan midde-in dit wat is en steeds word, dat die mens probeer “bind aan die wêreld waarin hy hom bevind” (Van Niekerk, 2019, p. 14). Ingeborduur in hierdie potensiële vermoë tot selfontplooiing en betekenisskepping – die Nietzscheaanse wekroep – is die empatiese ingesteldheid. Dit is slegs wanneer die mens sensitief is vir en betrokke raak by die eie ontologiese problematiek dat hy die moontlike wesensaard van ʼn ander as’t ware kan invoel. Binne die konteks van die sielkunde, by name die psigoterapie, is hierdie sensitief-invoelende bewustheid, oftewel die empatiese ingesteldheid, onteenseglik deel van die repertoire van kwaliteite waaroor die terapeut behoort te beskik. Dikwels is die ingesteldheid van oningewyde psigoterapiestudente jeens dit wat hiér, nóú, tussen hulle en hul kliënte gebeur, beperk tot oormatige selfbewustheid ontdaan van ontologiese oorwegings. Die gevolg is meermale ʼn geykte vorm van empatie wat hoofsaaklik gebaseer is op sentimentele emosionaliteit. Dit blyk ook waar te wees dat, in die gedruis van ʼn denklose kuberkultuur wat selfingenomendheid en die opeenstapeling van enkelvoudige verklarings hoog aanslaan, die belang van sensitiewe invoelendheid, ingekeerde stilte, intuïtiewe denke en sake van die syn algaande geringskat word. Die aanwesigheid van ʼn eksistensieel-ontologiese ingesteldheid kan nie as blote gegewendheid aanvaar word of in die verbygaan gedoseer word as deel van die inleiding tot ʼn nagraadse module oor psigoterapeutiese vaardighede nie. Inteendeel, dit behoort doelbewus tydens die onderrig en opleiding van studente in opvoedkundige sielkunde en by wyse van spesifieke leeraktiwiteite gestimuleer en ontwikkel te word. Kuns, spesifiek literêre teater, beskik oor die inherente vermoë om die student of terapeut (toeskouer) te druk tot aan die soom van wat dit vereis om ʼn mens te wees, by implikasie dus ʼn appèl tot eksistensiële betrokkenheid (Dewey, 1958; Degenaar, in Van der Merwe & Duvenhage, 2008; Dalton, 2016). Meteens kan die toeskouer nie aan die inkanterende kring van ontroering ontkom nie en word hy in der waarheid ʼn deelnemer aan sy eie drome en verlangens. In hierdie studie word die bestaanselemente van literêre teater, insluitende liggaamlikheid (taal, beweging, handeling, klank), tyd, ruimtelikheid, verwikkeldheid en stoflikheid benut om sodanige eksistensiële betrokkenheid te deurgrond en ontologiese refleksie by veral opvoedkundige sielkunde studente aan te moedig. Die doel van hierdie studie – ʼn konseptuele uitpluising gebaseer op die Swedbergse teoretiseringsproses (2012, 2016, 2017) – is om ʼn filosofies-besinnende net te span in die deurgronding van die verband tussen die psigologiese funksie van literêre teater en die eksistensiële bewussyn van die opvoedkundige sielkunde student. Binne dié eksistensieel-ontologiese, oftewel bewussynsmatige ingesteldheid, is geleë ʼn tipe kunstenaarskap, vernaamlik die estetiese disposisie, gekenmerk deur die eienskappe van verskerpte intuïsie, sensitiewe invoelendheid, asook genuanseerde verbandlegging. Dit is ʼn kunstenaarskap wat die opvoedkundige sielkunde student toelaat om bestaans- en betekenislae eie aan die menslike wesensaard te ont-dek (ontbloot) en deur middel van komplekse denke singewend te artikuleer – te ver-taal. Hierdie studie het uiteindelik aanleiding gegee tot ʼn tentatiewe teoretiese raamwerk, sowel as heuristiek, vir die konseptualisering en inoefening van die estetiese disposisie as voorkeuringesteldheid by die opvoedkundige sielkunde student en psigoterapeut. ʼn Verdere uitvloeisel was die formulering van enkele leeraktiwiteite wat tydens psigoterapieonderrig en -opleiding van studente in opvoedkundige sielkunde aangewend kan word ten einde die estetiese disposisie te stimuleer en te verskerp. Hierdie teoretiese proefskrif poog om die estetiese disposisie as noodsaaklike ingesteldheid by die opvoedkundige sielkunde student en psigoterapeut te belig, veral in die konteks van ʼn dikwels denklose, meganistiese en nuttigheidsgeoriënteerde samelewing. Literêre teater, as platform vir die konseptualisering en bevordering van die estetiese disposisie, bied alternatiewe kurrikulummoontlikhede om veral die bewussynsopvoeding van studente in die veld van die opvoedkundige sielkunde, in die hand te werk.