Doctoral Degrees (Afrikaans and Dutch)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Doctoral Degrees (Afrikaans and Dutch) by browse.metadata.advisor "De Stadler, L. G."
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemDie tekskwaliteit van medisynevoubiljette : teksgerigte vs lesergerigte ondersoek(Stellenbosch : University of Stellenbosch, 2010-12) Maske, Janine Terese; De Stadler, L. G.; University of Stellenbosch. Faculty of Arts and Social Sciences. Dept. of Afrikaans and Dutch.AFRIKAANSE OPSOMMING: Medisynevoubiljette (MVB’s) is bekend vir hulle gebrek aan toeganklikheid. Dit word veral dan ook ’n ernstige aangeleentheid indien talle mense siek word en selfs onnodig sterf as gevolg van nie-nakoming of wanbegrip van die instruksies wat in hierdie dokumente voorsien word. Dit is logisties onmoontlik om ’n direkte verband te bewerkstellig tussen nie-nakoming en die tekortkoming van spesifieke mediese voubiljette. Dit is in beginsel ook moontlik om die MVB uit te skakel as moontlike oorsaak van nie-nakoming. Daarom word die beoogde funksies van die voubiljet bepaal, en ondersoekmetodes toegepas om die kwaliteit daarvan te bepaal. Sodoende word tekortkominge in hierdie dokumente teen die beoogde funksie van die dokumente blootgelê en word ruimte geskep vir die herontwerp van die dokumente. Die vakgebied Dokumentontwerp erken verskillende ondersoekmetodes wat op ’n kontinuum tussen teksgerig en lesergerig geplaas word. In hierdie studie word ’n teksgerigte studie uitgevoer deur middel van ’n kontrolelys wat opgestel is om die tekortkominge in medisynevoubiljette bloot te lê. Die teoretiese raamwerk waarbinne dit geskied is die Funksionele en die Sistemies Funksionele Linguistiek. ’n Kenmerk van dié raamwerk is dat dit genre betrek as die struktuur waarbinne dokumente opgestel en evalueer kan word. Die elemente van genre, naamlik register – met inbegrip van die konsepte diskoersveld, tenoor en modus - en kommunikatiewe doelwit, speel ’n belangrike rol hier en omvat beginsels waarby dokumentontwerpstudies kan baat. Die indelingskriterium wat gebruik word vir die genreindeling is doelwit wat implikasies inhou vir die resultate van teksevaluering. Om die daadwerklike kommunikatiewe geslaagdheid van die dokument te bepaal, word ’n lesergerigte studie uitgevoer in die vorm van ’n vraelysondersoek. Hierdeur word die verband gelê tussen die uitsprake wat gelewer word na toepassing van ’n kontrolelys en hoe die leser die teks ervaar. Die kontrolelys stel praktiese kwessies op die voorgrond. Die voordeel van kontrolelyste is dat hulle “Ja”- of “Nee”-antwoorde uitlok wat die evalueerder help om die resultate te kwantifiseer. Daar is ’n magdom faktore wat inwerk op ’n evalueerder se besluit om “Ja” of “Nee” te antwoord daarom moet die antwoorde gewoonlik gekwalifiseer word. Dit is juis in die kwalisering van antwoorde dat die kwantifiseerbare aspek daarvan ondermyn word. Daarom moet die stellings wat vir die kontrolelys geld, voorskriftelik wees. Voorskriftelikheid suggereer veralgemening wat die doel van die ondersoek kan verbysteek. Daarom is daar in die stellings probeer om soveel as moontlik van die omstandighede waaronder “Ja” of “Nee” geantwoord kan word te ondervang. Dit sorg ook in ’n mate vir die kwalitatiewe aspek van die studie. Die kwalitatiewe aspek word verder akkommodeer deur ruimte vir bespreking van die faktore wat teksopstellers se keuses inperk en vir aanbevelings vir verbetering van die stellings. Die benadering neem die polisentriese aard van besluitneming deur teksopstellers in ag. Die studie is bedryfsgerig. Die farmaseutiese bedryf erken die behoefte aan kommunikasie wat spesifiek op die leek gerig is. Daarom is daar deur die bedryf ’n studie geloods waarvoor bepaalde lesergerigte pasiëntinligtingsdokumete geskep is. Die bedryfsaspek van hierdie studie is in die vergelyking tussen hierdie tekstipe, wat die PID genoem word, en die MVB. Daar is ook opsigte waarin die PID verbeter kan word.