Department of Conservation Ecology and Entomology
Permanent URI for this community
Browse
Browsing Department of Conservation Ecology and Entomology by browse.metadata.advisor "Boelhouwers, Jan C."
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemThe biogeomorphology associated with a keystone plant species in the sub-Antarctic(Stellenbosch : University of Stellenbosch, 2011-03) Haussmann, Natalie Suzette; McGeoch, Melodie A.; Boelhouwers, Jan C.; University of Stellenbosch. Faculty of AgriSciences. Dept. of Conservation Ecology and Entomology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Min aandag is al gegee aan biogeomorfologiese interaksies in glasiale en periglasiale omgewings. Nietemin is hierdie interaksies, wat op die skeidingsvlak tussen ekologie en geomorfologie fokus, baie belangrik in hierdie omgewings, waar organismes in noue verband met die abiotiese omgewing saamleef. In hierdie tesis bestudeer ek die interaksies tussen die vaskulêre plantspesies met die hoogste voorkoms op sub-Antarktiese Marion Eiland, Azorella selago Hook. (Apiaceae), en die omringende geomorfologiese landskapsvorme, -prosesse en meettegnieke. Verder verskaf die tesis voorstelle om toekomstige geïntegreerde biogeomorfologiese navorsing te vergemaklik. Om die gevolge van A. selago-plante vir sedimentbeweging en -verspreiding te verstaan, het ek die verspreiding van sedimentgroottes om hierdie plante gemeet deur middel van 'n kombinasie van fotografiese analise-metodes. Deur as sedimentbewegingsobstruksies te dien, het plante 'n waarneembare effek op die omringende sedimentverdeling. Dit is veral belangrik om hierdie interaksies tussen A. selago en sy omgewing te verstaan in die lig van onlangse klimaatsverandering op die eiland, omdat sedimentgrootte belangrike grondeienskappe soos waterretensiekapasiteit en vriesgevoeligheid beïnvloed. Om die effek wat A. selago plante op die omringende mikroklimaat het beter te verstaan, is die kleinskaalse variabiliteit in grondtemperature om A. selago plante bestudeer. Grootskaalse grondligting as gevolg van fors is gemeet, ten spyte van relatief ligte forseienskappe. Dit dui daarop dat naaldys ook by temperature bo -2°C kan vorm. Wintergrondtemperature aan die oostekant van plante was effens laer en minder veranderlik as aan die westekant van plante, waarskynlik as gevolg van laer windsnelhede en/of sneeu wat ophoop aan die oostelike, lykant van plante. Die resultate benadruk dat A. selago plante 'n belangrike rol speel in die verandering van mikroklimate en dat dit belangrik is om die gevolge van sulke veranderings, soos die skep van mikrohabitatte vir grondorganismes, te verstaan. Daar word vermoed dat positiewe plantinteraksies negatiewe interaksies oorheers in omgewings met hoe abiotiese druk. Gevolglik wys ek dat daar 'n positiewe verband bestaan tussen A. selago plante en saailinge van beide A. selago self, asook van die meerjarige gras Agrostis magellanica Lam. (Poaceae). Ek stel voor dat beide plante en klippe sade, wat deur wind, reenval en/of afdraande sedimenttransportering as gevolg van vriesprosesse vervoer word, opvang. Verder dui verhoogde A. selago saailinggetalle om plante, maar nie om klippe nie, daarop dat plante een of ander biologiese voordeel aan A. selago saailinge bied. Dit is bekend dat die verspreidingspatrone van plantspesies as gevolg van abiotiese stresgradiente varieër. Met hierdie bevinding in gedagte, is moontlike faktore verantwoordelik vir A. selago saailinggetalle en -verspreidingspatrone, soos hoogte bo seespieël en substraatbedekking, bestudeer. Alhoewel dit wil voorkom asof daar 'n verband tussen saailinggetalle en hoogte bo seespieël is, is saailinggetalle en verpreidings meestal afhanklik van ongemeette perseel-spesifieke eienskappe. Plante kan die omringende geomorfologie beïnvloed, maar ook geomorfologiese meettegnieke. Om die potensiaal van kosmogeniese dateringsmetodes as geomorfologiese hulpmiddels in fellfield habitatte te verken, is die akkumulasietempo van die kosmogeniese isotoop ¹ºBe onder en langs 'n A. selago plant bepaal. Die resultate dui daarop dat ¹ºBe nie ten volle in die grondprofiel behoue bly nie en verskeie potensiële redes word bespreek. Verder dui die resultate daarop dat ¹ºBe konsentrasies in fellfield habitatte versigtig geïnterpreteer moet word, aangesien A. selago plante effektief ¹ºBe opvang in hulle grondryke kern. Om vordering in biogeomorfologie te vergemaklik, is dit belangrik om bewus te wees van die verskillende metodes wat geomorfoloë en ekoloë volg. Ekologiese benaderings is dikwels op strenger statistiese tegnieke gebaseer, terwyl geomorfoloë eerder fokus op 'n meer beskrywende benadering en teoretiese beredenering. Ek verduidelik hoekom die twee velde sulke uiteenlopende benaderings volg, benadruk moontlike struikelblokke en verskaf voorstelle om samewerking te vergemaklik.