LIP Woordfeeskoerant 2009

Maré, Annelie ; Du Plessis, Charl ; Van Schie, Kristen ; Haasbroek, François ; Janse van Rensburg, Alet ; Molatlhwa, Olebogeng ; Cilliers, Mia ; Louw, Martinette ; Ncala, Nokuthula ; Steele, Samantha ; De Vries, Blanché ; Harbour, Tarryn ; Cloete, Salette ; Daneel, Roeline ; Davis, Tracey-Lee ; Dippenaar, Thinus ; Hendricks, Colin ; Myburgh, Pieter-Louis ; Nel, Jody ; Stehle, Rudolf ; Viviers, Gerda-Marié ; Warren, Joe (2009)

The LIP Woordfeeskoerant is an independent woordfees festival newspaper produced by the BPhil (Journalism) class of that specific year in the Department of Journalism, Stellenbosch University.

Article

Other

Die Wes-Kaap is ’n vreemde land vir diegene van die ander kant van die Tonnel. Hier stóp mense by voetoorgange, by vulstasies word jy in Afrikaans bedien en daar is selfs ’n kans dat jy hier ’n regering kan aantref wat nie deur die ANC oorheers word nie. Die tiende jaarlikse Woordfees, aangebied deur die Universiteit van Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands is eweneens so ’n rare verskynsel. Mense van die land van mynhope en jakarandas is gewoond aan feeste soos Aardklop en selfs die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees. Dáár is die Huisgenoot-tent vroeg reeds vol mense met piekniekmandjies of kiste bier en is Dowwe Dolla bo aan die lys van vermaak. Ander drentel van stalletjie tot stalletjie, elkeen met sy eie oorverdowende musiek. Mnr Eduard Rosenstrauch, die Woordfees se projekbestuurder, sê dit is juis nie die doel van die Eikestadfees nie. “Ons probeer spesifiek nie die stalletjies en goed, daai straatfees namaak nie. Dit wat ons Saterdag doen, is op ’n baie kleiner skaal sodat mense nie vertrap word nie.” André P. Brink het as spreker by die opening van die Woordfees aangedui dat daar deesdae feeste agter elke bos en klip is. Die belangrike Afrikaanse skrywer het verduidelik waarom veral die Woordfees dus so belangrik is om taal te bevorder. Hy het die verhaal vertel van ’n jong seun in ’n Nazi-konsentrasiekamp wat beveel is om ’n skoenlapper te teken. Die seun skryf toe eenvoudig dat hy geen skoenlappers kon sien nie. “Ons enigste antwoord op die donker samelewing is die woord,” sê Brink. En so het die fees van 2009 steeds gefokus op die woord, veral die Afrikaanse woord. Skrywers het soos gewoonlik voorgelees en onderhoude gevoer, maar dit was in Aan Tafel wat feesgangers regtig nader aan die skrywers en kunstenaars gebring is. Hier is middagete of aandete geniet terwyl onderhoude rondom die tafel met die verskillende persoonlikhede gevoer is. Die gehoor het ook later kans gekry om vrae te stel. Interaksie, interaksie... Woorde bestryk ook ander kunsvorme en hiervan het die fees deeglik kennis gegee. Debatte met denkers en meningsvormers, die Sanlam-dramafees, ’n verskeidenheid digkuns, lirieke en musiek was deel van die aanbod. Al die groot name in die Afrikaanse kunswêreld, met die waarskynlike uitsondering van Steve, het op die program verskyn. Om alles te kroon, het vanjaar se fees saamgeval met ’n hele paar belangrike verjaarsdae, waaronder dié van Hennie Aucamp en PG du Plessis wat albei 75 word, en Chris Barnard 70. Die Woordfees is vanjaar 10 jaar oud met “lag-lag” as die hooftema. Hulle wou meer komedie in vanjaar se fees hê, het Rosenstrauch gesê, want baie mense het deesdae ’n goeie rede nodig om te kan lag. Hieraan het Uys Krige se klassieke teaterproduksie, Die Ryk Weduwee, wat as die fees se vlagskip-produksie beskou word, volkome voldoen. Dit is egter ’n fout dat die fees net gemik is op ’n verfynde, uitgelese minderheid. Die fees het genoeg vermaak gebied om ook die studente te lok. Volgens Rosenstrauch is dit ’n probleem vir die Woordfees en die universiteit in sy geheel dat die studente onverskillig teenoor die fees staan. Dit is ondanks goedkoop kaartjies. “Studente sê hulle’t nooit geld nie, maar dan gaan kuier hulle buitendien elke Vrydagaand,” meen hy. Oor die toekoms van die fees het Rosenstrauch gesê ’n groot besluit wag op die feesdirekteure. Dit kan of sy klein formaat behou of dit kan ’n groot “doef-doef”-fees word. Hoe dit ookal sy, ’n mens kan nie anders nie as om optimisties te voel dat juis hierdie fees die versoenings- of eenheidsfees kan word wat die land so nodig het. Dit nou te oordeel aan baanbrekende produksies soos Dig Deep Paseka and Refiloe-Hape wat vanjaar by die fees te sien was. Antjie Krog, een van Afrikaans se uitsonderlikste woordkunstenaars, het vir dié woordmusiekopvoering tradisionele Sotho-liedjies en gedigte in Afrikaans vertaal. (Lees gerus op bl. 4 Olebogeng Molatlhwa se stuk oor dié produksie.) En dalk moet ’n mens volstaan met die woorde van prof Russel Botman, rektor van die US: “Dis laglag vorentoe, nie agtertoe nie.”

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/4894
This item appears in the following collections: