Abstract:
In hierdie artikel word twee literêre bekeringsverhale waarin die historiese
werklikheid deur die skrywers weergegee word, met mekaar vergelyk: die
Confessiones van die vierde eeuse kerkvader Augustinus, en Surprised by Joy
van die twintigste eeuse skrywer en geleerde C.S. Lewis. Die navorsing word
gestruktureer aan die hand van bakens wat Augustinus op sy bekeringsweg
uitgelig het: persone wat ’n beduidende rol gespeel het, besondere gebeure wat
hom beïnvloed het en innerlike konflik wat hom voortgedryf het. Die artikel
toon deur ’n analise op grond van inhoud en tematiek aan dat daar duidelike
ooreenkomste is tussen die bakens op Augustinus se bekeringsweg en dié op
Lewis se bekeringsweg.