Afrikanervroue se politieke betrokkenheid in historiese perspektief met spesiale verwysing na die Women’s National Coalition van 1991 tot 1994

Maritz, Loraine (2004-12)

Thesis (DPhil (History)—University of Stellenbosch, 2004.

Thesis

Toe die onderhandeling vir ‘n nuwe demokratiese bestel in Suid-Afrika na 1990 begin is, het dit ‘n tydperk ingelei waar talle kwessies oor menseregte na vore gekom het. Ook vroue het die geleentheid aangegryp om vrouesake en gender-verhoudings op die nasionale agenda te plaas in ‘n poging om die onregverdighede van die verlede aan te spreek. Die Women’s National Coalition (WNC) is in 1992 amptelik gestig uit vrees dat vroue van die belangrike politieke prosesse wat die toekoms van Suid-Afrika sou bepaal, uitgesluit sou word. Die doelwitte van die WNC was om inligting oor vroue se behoeftes en aspirasies in te samel en dit in ‘n Vrouehandves saam te vat wat uiteindelik ‘n integrale deel van die nuwe grondwet van Suid-Afrika sou word. Die WNC was ‘n inisiatief van die African National Congress Women’s League (ANCWL). Die swart vrou in Suid-Afrika se onderdrukking was drieledig: sy was onderdruk as vrou, deur patriargie en deur apartheid. Sy het polities aktief geraak toe haar familiestrukture bedreig is en het teen paswette, swak behuising, en uitsetttingsaksies van die regering, geprotesteer. Tydens die 1980’s het swart vroue wat aan die noodtoestand blootgestel is, se politieke betrokkenheid verander en sy het ‘n rewolusionêre vryheidsvegter geword. In die buiteland het die swart vrou wat in die bevrydingstryd betrokke was geleidelik erkenning in die ANC gekry. Hierdie vroue was ná 1990 gedetermineerd dat hul verwagtinge vir totale gelykberegtiging in die demokratiese Suid-Afrika sal realiseer. In hierdie proefskrif val die soeklig veral op die Afrikanervrou en -vroueorganisasies wat by die WNC aangesluit het. As Afrikanernasionalis was haar politieke betrokkenheid in die verloop van die geskiedenis marginaal. Met geïsoleerde aktivistiese optrede soos die vroue-optogte van 1915 en 1940, asook die militantheid van die vakbondvroue, het Afrikanervroue hoofsaaklik die veilige ruimte van die liefdadigheidsterrein gebruik om hul politieke voorkeure uit te leef. Afrikanervroue se betrokkenheid in die stemregbeweging was op aandrang van die mans en by insinuasie ook die optogte van 1915 en 1940. Met die magsoorname van die Nasionale Party het die Afrikanervrou polities onbetrokke geraak. Haar funksie was hoofsaaklik die van moeder en vrou en ondersteunend van die heersende ideologie. Met die aftakeling van apartheid is talle tradisionele Afrikanersimbole bevraagteken. Meer as 40% van die Afrikaner het by die meer regse partye aangesluit. Hierdie gebeure het die Afrikanervrou aan die begin van die 1990’s sonder ‘n spesifieke identiteit gelaat. Met die onderhandelings vir die toekomstige demokratiese bestel ‘n werklikheid, was die Afrikanervrou in ‘n onbenydenswaardige identiteitskrisis gedompel. Sy wou apolities bly, maar is deur Afrikanerintelligentsia en politici aangesê om die politieke wêreld te betree. Aan die anderkant wou Afrikanerkultuurorganisasies die Afrikanerkultuur inklusief beveilig. Die Afrikanervroue het moeilik by die WNC aangepas. Daar was talle praktiese probleme, maar dit was veral haar gebrek aan politieke vernuf, en die vyandigheid van swart vroue wat die vergaderings van die WNC domineer het, wat haar betrokkenheid in die wiele gery het. Die gedagte het ook by feitlik al die Afrikanervroue ontstaan dat die WNC ‘n politieke rookskerm was vir die ANC om sy magsbasis te versterk. Die spanninge van die Veelparty-onderhandelinge het ook na die WNC oorgespoel en vertragings en opskorting van lidmaatskap tot gevolg gehad. Daar was Afrikanervroue wat hul belewenis van die WNC as volkome positief ervaar het, wat dit as geleentheid gesien het om by vrouebemagtiging en politieke onderhandelinge betrokke te raak. Die meerderheid van vroue wat by hierdie ondersoek betrek is, was egter onseker en het die negatiewe aspekte van hul belewenis hulle die ondervinding laat bevraagteken. Daar was selfs vroue wat slegs die vyandigheid onthou het. Uiteindelik het Afrikanervrou nie heeltmal aangepas by die WNC nie en was ook nie werklik betrokke nie.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/1188
This item appears in the following collections: