Van Calvinisme tot Romantiek : die invloed van die Bybel op die skrywerskap van Hennie Aucamp

Date
2016-07-22
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
LitNet
Abstract
Hierdie artikel is die resultaat van my belangstelling in die neerslag van die Bybel en die godsdiens in die Afrikaanse letterkunde en spesifiek in die werk van Hennie Aucamp. Aucamp se omvattende oeuvre sluit sy groot kortverhaaloeuvre in, sy kabaret- en liedtekste, sy dagboeke en memoires. In sy memoires in In die vroegte (2003) skryf hy oor die sentrale rol van die Bybel en huisgodsdiens in die tipiese Afrikanergesin waarbinne hy grootgeword het. Ek bepaal my hoofsaaklik by Aucamp se kortverhaaloeuvre. In dié verband bespreek ek twee verhale uit sy debuut, Een somermiddag, waarin sy alter ego, die kind Wimpie, se skuld- en sondebesef ’n spelbederwer is. Twee personasies verteenwoordig in sy tweede bundel, Spitsuur, die buitestander wat breek met die tradisionele godsdiens van die Afrikanergemeenskap (“Au claire de la lune”) en die ek-spreker as reisiger (“My tante wat in Chelsea woon”), wat die voorloper is van die reisende romantikus en van die prominente romantiese en dekadente argetipes in Aucamp se latere werk. Hierdie argetipes is teenpole van die Bybelsgevormde Stormbergse boere in Aucamp se werk wat hy herskep as geesverwante van die wyse manne van Spreuke en Prediker. Waar Aucamp in sy memoires die lewensgevoel in sy kabaret- en liedtekste toeskryf aan die invloed van Prediker en ’n verband lê tussen die Prediker en Eugène Marais, kom ek tot die gevolgtrekking dat Aucamp se dekadentistiese sinisme inderdaad aansluit by die lewensgevoel van die digter van Prediker en van Eugène Marais. By nadere ondersoek blyk egter dat Aucamp se identifikasie van Marais se “”Skoppensboer” met Pred. 12 nie klop nie. Aucamp se dekadentisme eggo Marais se hedonisme, maar het in wese niks meer te doen met Prediker nie. In Kommerkrale, Aucamp se “ABC-leerboek”, tree Jesus ons drie keer tegemoet as ’n ontluisterde Jesus in tekste wat slegs vae assosiasies met die oorspronklike tekste het. Die Bybel kon vir Aucamp se skrywerskap groter moontlikhede gebied het as hy dit ontgin het aan die hand van insigte van prominente Bybelwetenskaplikes. Dit het wel verhale van blywende betekenis in sy kortverhaaloeuvre gegenereer, sy woordmeesterskap gesmee en neerslag gevind in sy memoires wat daarvan ’n boeiende leeservaring maak.
Description
CITATION: Spies, L. 2016. Van Calvinisme tot Romantiek : die invloed van die Bybel op die skrywerskap van Hennie Aucamp. LitNet Akademies, 13(2):329-345.
The original publication is available at http://www.litnet.co.za
Keywords
Aucamp, Hennie, Short stories, Afrikaans, Religion and literature
Citation
Spies, L. 2016. Van Calvinisme tot Romantiek : die invloed van die Bybel op die skrywerskap van Hennie Aucamp. LitNet Akademies, 13(2):329-345.