Browsing by Author "Van Wyk, Milton"
Now showing 1 - 2 of 2
Results Per Page
Sort Options
- ItemDie geleefde ervarings van primere skoolonderwysers binne 'n kultuur van performatiwiteit(Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2016-12) Van Wyk, Milton; Le Grange, LesleyDie doel van hierdie studie is om uiteindelik 'n diepgaande begrip te vorm oor die belewenisse van laerskoolonderwysers met betrekking tot die fenomeen van performatiwiteit en die betekenis wat hulle daaraan heg. Die navorsingsvraag is: Wat is die geleefde ervarings van primêre skoolonderwysers binne 'n kuituur van performatiwiteit. In hierdie kwalitatiewe studie word daar op die hermeneuties-fenomenologiese navorsings benadering van Van Manen (1990) gekonsentreer. Die data is ingesamel deur fenomenologiese onderhoude met die deelnemers te voer, asook vanuit die deelnemers se eie geskrewe narratiewe. Die vier fundamentele eksistensiële bestaanswyses van Van Manen (1990) is gebruik om die ontleding van die data te rig. Tydens hierdie studie is die volgende bevind: Die bestaanswyse van "geleefde ruimte" was vir die deelnemers 'n heroproep en herbeleef van werklike, emosionele ervarings wat hulle moes verduur in hul pogings om tot die performatiewe diskoers te konformeer. Die bestaanwyse van die "geleefde liggaam" het kwessies van toerekenbaarheid en fisiologiese newe-effekte na vore gebring. Die bestaanswyse van "geleefde tyd" het die deelnemers se geleefde ervarings uit hul verlede, die hede en ook die toekoms in die onderwyslandskap uitgebeeld. Die bestaanswyse van die "geleefde ander" het die interpersoonlike verhoudings tussen die deelnemers en betrokke groepe onthul.
- ItemPerformatiwiteit as verskynsel in die onderwys(LitNet, 2017) Van Wyk, Milton; Le Grange, LesleyPerformatiwiteit in die onderwys is ’n neoliberale verskynsel. Die neoliberalisme is ’n gedagterigting wat effektiwiteit, doeltreffendheid en gehalte beklemtoon. Met hierdie artikel word daar op die toenemende belang van hierdie tipies besigheidsbeginsels in skole gefokus. Binne ’n performatiewe bestel word oordrewe klem op die regulering en bestuur van die onderwyser se werksverrigting geplaas. Deur performatiwiteit in die dagtake van onderwysers in te dwing, het regerings toenemend beheer oor daardie onderwysers se werkslewe verkry. Spesifieke tegnieke van dophouding en moniteringstelsels, soos selfbeheer, beheer deur ander, beheer deur inligtingsvervaardiging, beheer deur leerderprestasie en beheer deur assesseringsdata, is ingestel sodat onderwysers verplig word om hul toerekenbaarheid aan die onderwysowerhede te demonstreer. Die bestuur van hierdie toerekenbaarheidsprosesse is ’n soort skrikbewind wat ook die “gruwels (terrors) van performatiwiteit” genoem word. Hierdie gruwelhouding kan nie net ernstige gevolge vir die aard van onderrig en leer in skole inhou nie. Die negatiewe uitwerking kan ook fel op die innerlike lewe en die professionele identiteit van die onderwyser wees. Dit blyk dat onderwysers deur die gruwels van performatiwiteit verswelg word. Daar behoort weerstand teen die newe-effekte van performatiwiteit gebied te word, maar is so ’n optrede moontlik? Ten einde dit vir onderwysers moontlik te maak om konstruktiewe betekenis aan ’n weerstandsbeweging te verleen, word die volgende aanbevelings gemaak: Eerstens moet deelname aan onderlinge gesprekvoering tussen onderwysers aangemoedig word, sodat hulle saam oor hul professionaliteit kan besin. Tydens hierdie geleenthede van kollektiewe reflektering behoort onderwysers betrokke te wees in kritiese gesprekke oor die gevare van performatiwiteit, en eie ervarings binne ’n kultuur van performatiwiteit behoort met mekaar gedeel te word. Tweedens behoort onderwysers die geleenthede te inisieer om in interaksie met die beleidmakers oor onderwysbeleide te tree. Die uitdaging hier is om die ingesteldheid van die beleidmakers tot so ’n mate te verander dat onderwysers die geleentheid kan kry om nie bloot passiewe ontvangers van beleide te wees nie. Sodoende sal onderwysers die geleentheid kry om meer aktief by die vorming van onderwysbeleide betrokke te wees.