Allan Boesak en die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk : 'n teologies-historiese ondersoek

Date
2016-03-01
Journal Title
Journal ISSN
Volume Title
Publisher
Stellenbosch : Stellenbosch University
Abstract
AFRIKAANSE OPSOMMING: Die fokus van hierdie studie val op die rol wat Dr. Allan Aubrey Boesak as lidmaat en predikant van die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) binne dié kerk, asook binne die breër kader van die kerkstryd teen apartheid, gespeel het. Die fokus val veral op sy rol in die ontwikkeling van ‘n teologie van profetiese weerstand gedurende die tydperk 1976 tot 1990. Daarmeesaam wil ek ook die moontlike invloede op Boesak se teologie bespreek. Die argument is dat Allan Boesak, deur ‘n kreatiewe mengsel van bevrydingsteologie, swart teologie en Gereformeerde teologie, wat voortaan in hierdie studie as die teologie van profetiese weerstand bekend sal staan, nie net ‘n wending in die teologiese landskap in die laat 1970s en 1980s meegebring het nie, maar dat hy ook ‘n spesifieke raamwerk daargestel het om die ongeregtigheid en onmenslikheid van apartheid teologies aan te spreek. Met hierdie fokus in gedagte gee die navorser aandag aan ʼn aantal sleutel-episodes in die geskiedenis van die NG Kerk-familie, met spesifieke klem aan die ontwikkeling van segregasie langs die weg van ras in die Kaapkolonie (hoofstuk 2). Hoofstuk 3 bied ‘n kort oorsig oor Boesak se kinderjare en watter indruk apartheid op hom as kind gelaat het. Daar word verder gefokus op Boesak se opleiding as predikant en die ervaringe rondom die gebeure van die groepsgebiedewet by sy gemeente te Paarl. Verder word daar ook ingegaan op hoe Boesak ‘n oorsese studiebeurs bekom het en hoe die intellektuele invloede van o.a. Bonhoeffer, Calvyn en Kuyper hom gevorm het. Sy ontmoeting met Beyers Naudé en ‘n besoek aan die VSA, wat Boesak ingrypend verryk het, kom ook aan die orde. Hoofstuk 4 fokus op die periode vanaf Boesak se terugkeer uit die buiteland in 1976 tot en met die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) se algemene vergadering te Ottawa in 1982. In hierdie hoofstuk word daar gekyk na Steve Biko en die opkoms van die swartbewussynsbeweging voor 1978, en dit invloed daarvan op Boesak. Verder word daar na die faktore gekyk wat daartoe bygedra het dat die Sendingkerk haar jarelange stilte aangaande apartheid in 1978 verbreek het, en die rol van die opkoms van ‘n teologie van profetiese weerstand (met Boesak aan die spits) in die verband. Hoofstuk 5 handel oor die periode van 1982 tot 1986, binne die raamwerk van die Sendingkerk se aanvaarding van die Belharbelydenis, en Boesak se rol binne hierdie konteks en tyd. Hoofstuk 6 bied ‘n analise vanaf die noodtoestande in 1986 tot die val van apartheid en die begin van die oorgang na ‘n demokratiese bedeling in 1990. Boesak se internasionale werwing van sanksies, die spanning binne die kerk, en die polemiek rondom die NG Kerk se beleidsdokument Kerk en Samelwing (1986), en sy betrokkenheid by eenheidsgesprekke, is van die sake wat in hierdie hoofstuk aan die orde kom. Hoofstuk 7 dien as die samevatting van hierdie studie, en dui ʼn aantal karaktertrekke van Boesak se teologie van profetiese weerstand aan.
ENGLISH ABSTRACT: No Abstract
Description
Thesis (PhD)--Stellenbosch University, 2016.
Keywords
Boesak, Allan Aubrey, 1946-, Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika, UCTD
Citation