Browsing by Author "Laubscher, Martin"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemPublieke teologie as profetiese teologie? : 'n kritiese beskouing van die sosio-ekklesiologiese implikasies van die drieërlei amp in die teologie van Karl Barth(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2021-03-01) Laubscher, Martin; Forster, Dion Angus; Stellenbosch University. Faculty of Theology. Dept. of Systematical Theology and Ecclesiology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Daar is ʼn akute dog dubbelsinnige vraag na “Publieke Teologie as Profetiese Teologie?” in Suid-Afrika vandag. Desnieteenstaande die dringende en aktuele aard van die vraag, bevat dit ook hoogs aanvegbare terme waarmee die Suid-Afrikaanse teologiese verhaal van die laaste vier dekades geskets kan word; en selfs só gestel, is dit al omstrede. Vraend na die een, is in sommige gevalle ook bevraagtekenend van die ander. Gewaarwordinge in beide die onuithoudbare as kreatiewe spanninge tussen die vraag na publieke teologie en profetiese teologie, noop ons uiteindelik om ook só vraend na Karl Barth se unieke bydrae in die verband te gaan soek. Buiten Barth se insigself problematiese voetspoor in bogenoemde vertelling, is sy teologie in die algemeen besonders aantreklik om nagespeur te word in die verband. Trouens, om Barth los van die Suid-Afrikaanse verhaal profeties te profileer, mag dalk opnuut weer ʼn waardevolle oefening wees. Nie net leer ons van die breë kontoere en beduidende kenmerke se ontwikkeling in die lewe-en-werk van Barth ken in die proses nie, maar dit begelei ons ook om ʼn relatiewe onontginde deel van sy werk noukeurig te gaan nalees. Daar is al vele in-diepte studies oor bepaalde aspekte in Barth se versoeningsleer gedoen, maar opmerklik is ʼn gebrekkige lees van wat hy waarskynlik bedoel met die profetiese amp as een van die drie vorme in sy versoeningsleer. Vervolgens kyk ons aandagtig na die drieërlei amp tradisie se “teenwoordigheid” in die versoeningsleer, voor ons andersyds die derde band in die versoeningsleer oor “Jesus Christus, die Ware Getuie” aandagtig deurlees met die nodige kommentaar. Op die punt is dit dan gepas om te stop, ʼn paar treë terug te tree, te reflekteer op die talle ontdekkings en bevindinge langs die weg, en dit ten einde al vraend en gaande kortliks in ons gevolgtrekking aan te stippel in antwoord op die vraag waarmee ons die heeltyd besig was.