Literere pryse : 'n oorsigtelike bespreking met voorbeelde uit die Afrikaanse literere veld

Bonthuys, Marni ; Foster, Ronel (2022)

CITATION: Bonthuys, M. & Foster, R. 2022. Literere pryse : 'n oorsigtelike bespreking met voorbeelde uit die Afrikaanse literere veld. LitNet Akademies, 19(1):232-260.

The original publication is available at https://www.litnet.co.za

Article in Press

Literatuurpryse het ’n lang geskiedenis en kan beskou word as ’n noodwendigheid binne die meeste literêre velde. Dit is verder ’n verskynsel wat heelwat media-aandag ontlok en verskeie voordele vir literêre rolspelers soos skrywers en uitgewerye (kan) inhou. Dit het veral ’n belangrike kanoniserende funksie – toenemend, in ’n era waarin kommersiële aandag ’n al groter rol in die literêre veld (asook ander kultuurvelde) speel. Tog is literêre bekronings, asook die breër terrein van literêre evaluering, nie histories ’n onderwerp wat dikwels deur letterkundiges akademies ondersoek word nie. Die vernaamste rede hiervoor is die hiërargiese element verbonde aan kultuurpryse wat dit volgens sommige akademici te subjektief sou maak om vanuit ’n wetenskaplike hoek te ondersoek, asook die skouspel en omstredenheid wat geneig is om met die prysverskynsel gepaard te gaan. In hierdie artikel word gepoog om die verskynsel van literêre pryse te belig deur aandag te skenk aan fasette soos die geskiedenis en proliferasie daarvan; die verwerwing en uitruiling van kapitaal – veral in die simboliese sin – wat deel uitmaak van die bekroningsproses; die kanoniseringsfunksie van literatuurpryse en die veranderende posisie van literêre hekwagters; die rol of bydrae van pryse binne die literêre veld; en ten slotte die kwessie van omstredenheid as kenmerkende eienskap van die kultuurprys. Telkens word die bespreking belig met voorbeelde uit die Afrikaanse literêre veld. Pierre Bourdieu se veldteorie word as teoretiese raamwerk benut en begrippe soos simboliese kapitaal, sosiale kapitaal, simboliese mag en die produksie van geloof word ingespan om verskillende fasette van die bekroningsproses te ondersoek. James F. English (2005) se seminale teks The economy of prestige, wat steeds ’n toonaangewende bron oor kultuurpryse is, asook onlangse studies oor literêre evaluering en kultuurpryse, word voorts betrek. Uiteindelik is dit die argument dat literatuurpryse deur die literatuursosiologiese navorser as belangrike kanoniserende en vormgewende verskynsel binne die hedendaagse literêre veld verstaan en verken moet word.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/125450
This item appears in the following collections: