Die waarde van Akteur-Netwerk-Teorie en ’n etnografiese navorsingstrategie vir die ondersoek van opvoedkundige tolking aan die Universiteit Stellenbosch

Brewis, Carmen (2017)

CITATION: Brewis, C. 2017. Die waarde van Akteur-Netwerk-Teorie en ’n etnografiese navorsingstrategie vir die ondersoek van opvoedkundige tolking aan die Universiteit Stellenbosch. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 53:13-24, doi:10.5842/53-0-731.

The original publication is available at http://spilplus.journals.ac.za/

Article

Namate die sosiale wending in vertaalstudie toenemend inslag gevind het, het navorsers begin fokus op die menslike agente betrokke by vertalings, en op die sosiale voorwaardes wat in die reële wêreld geld. Navorsers het al hoe meer die waarde begin insien van meer prosesgeoriënteerde navorsing in vertaalstudie. Die Franse sosioloog Bruno Latour se Akteur-Netwerk-Teorie (oftewel ANT) laat die navorser die objek van navorsing nie as substantiewe verskynsel beskou nie, maar as ’n netwerk van verhoudinge deur ’n studie te maak van die betrokke mense én objekte (akteurs en aktante) en die wisselwerking tussen hulle. Binne hierdie teoretiese raamwerk is etnografie of ’n etnometodologie besonder gepas omdat dit die navorser nader bring aan die beleefde ervaring. Opvoedkundige tolking, of mondelinge tolking in klaskamers vir niegehoorgestremde studente, is ’n innoverende toepassing van tolking, en ook ’n grootliks onontginde kennisveld. Dit is as taalmodus by die nuwe Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US 2016) ingesluit ter wille van die praktiese uitvoerbaarheid van meertaligheid. In die praktyk is opvoedkundige tolking egter dikwels onderhewig aan onrealistiese verwagtinge, en die waarde daarvan in ’n opvoedkundige konteks bly kontensieus. Empiriese navorsing in getolkte klasse binne ’n raamwerk van ANT kan moontlik lig werp op die wisselwerking tussen die onderskeie faktore in opvoedkundige tolking en hoe hulle funksioneer. Hierdie artikel ondersoek die waarde van ANT na aanleiding van data wat gedurende veldwerk in 36 getolkte lesings aan die Universiteit Stellenbosch ingesamel is. Dit toon hoe ’n etnometodologie binne die teoretiese raamwerk van ANT die navorser in staat stel om verder en dieper te beskryf; om gebeure, verwantskappe, verskynsels en situasies wat tot nog toe onvertel was, aan die lig te bring. Uiteindelik kan hierdie bevindings waardevol wees vir taalimplementering aan die Universiteit Stellenbosch en die soeke na prakties uitvoerbare meertaligheidspraktyke aan Suid-Afrikaanse universiteite.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/103008
This item appears in the following collections: