Browsing by Author "Wolff, Helena"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemDie pedagogiese benadering van opvoeders met betrekking tot leerders se leer in 'n landelike skool in die Oos-Kaap(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2020-12) Wolff, Helena; Fataar, Aslam; Stellenbosch University. Faculty of Education. Education Policy Studies.AFRIKAANSE OPSOMMING : Die fokus van hierdie studie is op die pedagogiese benadering van opvoeders met betrekking tot leerders se leer. Die studie vind plaas in ’n skool genaamd Zithulele Independent School. Dit is geleë in ’n arm landelike deel van die Oos-Kaap en vorm deel van die Vennootskapmodel vir Openbare Skole. Die bestudering van hierdie skool se onderrigpraktyke het ryk bevindinge opgelewer as gevolg van die diversiteit wat in die klaskamers aangetref word. Die klasse is gevul met isiXhosa-sprekende werkersklasleerders en Engelssprekende middelklasleerders. Die doel van hierdie studie is om die opvoeders se pedagogiese benadering tydens die onderrig van hierdie diverse groep leerders te analiseer. Die opvoeders se pedagogiese benadering ontmoet elke leerder in hulle huidige posisie teenoor leer deurdat hulle die leerders se omgewing deel maak van die onderrig. Die literatuur benoem hierdie pedagogiese benadering plekgebaseerde onderrig. Die navorsing bestudeer hoe die opvoeders hulle wyse van onderrig aanpas om die plaaslike omgewing deel te maak van die leerprosesse en sodoende die verskeidenheid ten opsigte van leerders op ’n gelyke basis te handhaaf. Die leerders in die skool bring ’n wye verskeidenheid van kennis vanuit hulle huishoudelike omgewing na die klaskamer toe. Hierdie tipe kennis staan in die literatuur bekend as fondse van kennis en vorm deel van ’n wisselende onderhandeling tussen die leerders. Hierdie onderhandelinge sluit ook die bronne vanuit die middelklas en werkersklas in. Die bronne vanuit die middelklas is kulturele kapitaal en die bronne vanuit die werkersklas is gemeenskapskulturele rykdom. Die kulturele kapitaal verwys na die akademiese kennis en gebruike wat benodig word om suksesvol binne die middelklas milieu te verkeer. Gemeenskapskulturele rykdom verwys weer na die praktiese gebruike en gewoontes wat gebruik word in die werkersklas milieu. Hierdie vorm deel van die teoretiese onderbou van die studie, omdat beide hierdie bronne nodig is om leerders se leer te versterk. Hierdie navorsing val onder ’n kwalitatiewe paradigma. As ’n kwalitatiewe navorser het ek die opvoeders in hulle alledaagse omgewing bestudeer en hul daaglikse onderrigpraktyke ondersoek. Die studie is ook interpreterend van aard, omdat ek as navorser die sosiale omgewing van die skool wou verstaan en ’n beter begrip wou kry van hoe die opvoeders onderrig. Ek is in ’n posisie van binne-persoon in hierdie navorsing geplaas deur die deelnemende observasie wat ek uit gevoer het. Dit het my in ’n goeie posisie geplaas om verskeie bevindinge vanuit die studie te maak. Die oorkoepelende bevinding is dat plekgebaseerde leer ’n onderhandelingsplatform na vore bring wat leerders toelaat om deel te neem aan ’n wisselende onderhandeling van kulturele kapitaal en gemeenskapskulturele rykdom, en daardeur word hulle leer versterk. Die studie bestudeer drie aspekte in Zithulele Independent School om die opvoeders se pedagogiese benadering te verklaar. Hierdie drie aspekte sluit in meertaligheid, verweefdheid van kulture en klaskamerdinamika. Die opvoeders onderrig in Engels en isiXhosa. Deur hierdie twee tale te gebruik word daar ook twee kulture tydens onderrig geakkommodeer en daarom benodig dit ’n spesifieke klaskamerdinamika. Hierdie aspekte is bestudeer om ’n beter blik op die opvoeders se benadering tot onderrig te kry en gevolglik ook te kan verduidelik hoe dit hierdie diverse groep leerders se leer versterk. Daar word dus geargumenteer, deur hierdie studie se bevindinge, dat opvoeders se plekgebaseerde onderrig ’n diverse groep leerders se leer verryk en versterk weens die onderhandelingsplatform wat dit tussen die opvoeders en leerders meebring. Die onderhandelinge versterk leerders se leer, omdat dit die leerders in ’n meer gevorderde posisie teenoor leer plaas. Hierdie gevorderde posisie verwys na die leerders se vermoë om gemakliker in ’n middelklas- of werkersklasomgewing te kan omgaan. Plekgebasseerde pedagogie stel beide die werkersklas- en middelklas leerders in staat om hulself te verken in ’n breër omgewing as net die beperkinge van hulle huishoudelike omgewing, en word daardeur die geleentheid gebied om veel wyer kennis op te doen en ’n beter begrip van die groter wêreld te bekom.