Browsing by Author "Van Dyk, Frederik Rudolph"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemOmgewingspligtigheid en landelike grondrestitusie(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2024-03) Van Dyk, Frederik Rudolph; Pienaar, Juanita M., 1965-; Stellenbosch University. Faculty of Law. Dept. of Private Law.AFRIKAANSE OPSOMMING: Die ondersoek in hierdie verhandeling is tweeledig: Eerstens word aangevoer dat die Suid-Afrikaanse grondhervormingsreg ‘n tydvak van dwingende verandering betree het. ‘n Bedeling wat groter skakeling tussen veral grondrestitusie en ander regsbelange behels, word in die vooruitsig gestel. Betreffende grondrestitusie, word ‘n bedeling verwag wat noodsaaklike verpligtinge jeens en verbande met die omgewing sterker benadruk. Daar word hipotetiseer en bewys dat ‘n regsgrondslag hiervoor in die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 bestaan. ʼn Leerstellige verband tussen die omgewingsmensereg in artikel 24 van die Grondwet en bepaald artikel 25(7), synde die restitusieklousule, kan uit hierdie regsgrondslag afgelei word. Tweedens en op sterkte van die eerste been van die ondersoek, word ‘n studieprotokol ontwerp en uitgevoer ten einde die mate te toets waartoe die bestaande landelike restitusiereg (soos in die Wet op die Herstel van Grondregte 22 van 1994 en in regspraak vervat) omgewingsregtelike belange te pligte te staan. Die eerste been van die ondersoek bou voort op drie leerstellings onderliggend aan die Handves van Menseregte, naamlik niehiërargiese fundamentele regte, die interafhanklikheid van fundamentele regsnorme en die sogenaamde “een regstelsel” beginsel. Hierdie leerstellings lewer die regverdiging op vir ‘n werkbegrip, “omgewingspligtigheid”, wat die mate waartoe ‘n regsbron die omgewing te pligte staan, beskryf. ‘n Afgebakende begrip van omgewingspligtigheid word aangewend om ‘n studieprotokol te ontwerp en te stuur, gebaseer op die “begronde teorie werkswyse”, ‘n metode ontleen uit die kwalitatiewe empiriese regsleer. Die studieprotokol word uitgevoer in drie oorhoofse stappe: Eerstens word ‘n keurstel eerste beginsels, teen die regsteoretiese agtergrond van omgewingspligtigheid, maatstafmatig uit die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur 107 van 1998 gekeur. Daarna word die landelike restitusiereg, vernaamlik die Wet op die Herstel van Grondregte 22 van 1994, ontleed en voorlopige koppelvlakke met die omgewingsreg uitgewys. Dan word die omgewingsregtelike keurstel eerste beginsels weer aangewend om konkrete bron-items uit die omgewingswetgewing te lig. Die studie sluit af deur die omgewingsregtelike bron-items te gebruik om die omgewingspligtigheidstoetsing van koppelvlakke uit die landelike restitusiereg mee uit te voer. Daar word bepaal dat die bestaande landelike restitusiereg ‘n betekenisvolle vlak van omgewingspligtigheid openbaar. ʼn Aantal aanbevelings word gemaak ter verbetering van die omgewingspligtigheidsposisie van die landelike restitusiereg. Ten slotte word die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruiksbestuur 16 van 2013 kortliks bespreek as ‘n moontlik bruikbare koppelaarstatuut, waarmee leemtes en losser koppelings tussen die omgewingsreg en landelike restitusiereg tot ‘n beperkte mate aangespreek kan word.