Browsing by Author "Van den Heever, Alettie"
Now showing 1 - 2 of 2
Results Per Page
Sort Options
- Item'n Alledaagse andersheid : 'n ondersoek na Lauren Beukes se Zoo City as voorbeeld van heterotopiese literatuur(LitNet, 2015-04) Van den Heever, AlettieIn hierdie artikel gebruik ek Foucault se begrip heterotopie as ’n instrument om die verskil tussen literatuur wat op ’n narratiewe vlak kompleks is en literatuur wat ’n dieperliggende kompleksiteit openbaar, te ondersoek. Wertlen (2011:16) sê in ’n resensie oor Lauren Beukes se Zoo City (2010): “Beukes clearly illustrates ‘the liberated imagination’ that the acclaimed academic, Gerald Gaylard, argues can lay the foundations for the resolution of many a complex and sensitive post-colonial tribulation Africa must wrest with.” In haar resensie oor Beukes se roman The shining girls (2013) vra Corrigall (2013:18) of die roman nie bloot ’n rondskuif van die (oppervlakkige) oppervlak van die narratief is nie. Sy voer aan dat die argitektuur van die vertelling in die geval van The shining girls deur geen “grand ideas” onderlê word nie. Verder sê sy dat dit ’n fout sou wees om narratiewe kompleksiteit aan kompleksiteit self gelyk te stel. Na aanleiding van Corrigall se bedenkinge oor The shining girls wil ek vra of Zoo City wel ’n manifestasie van Gaylard se “bevryde verbeelding” is en as sodanig daarin slaag om die kompleksiteite van ons samelewing “oop te skryf” en of dit eerder – soos Corrigall (2013:18) sê – ’n “cop-out” is; “[alleviating] the need to negotiate the sometimes irreconcilable socio-political issues of our times”. In die lig van ’n ontleding van Zoo City as heterotopiese roman maak ek ’n gevolgtrekking oor die ideologiese argitektuur van die roman en gee ’n antwoord op die vraag of Beukes se spekulatiewe fiksie in die geval van Zoo City net nog ’n ontvlugtingsopsie is.
- ItemDie toeval van ’n tentwoning / Die metanarratief van die toeverlaat(LitNet Academic, 2011-12) Van den Heever, AlettieOpsomming In hierdie artikel word Helena Verbloem, die hoofkarakter in Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat (2006), se verstrengeldheid in die taal van die toeverlaat vanuit ’n godsdienssosiologiese perspektief ondersoek. Die sosioloog Peter Berger verwys na die mens se soeke na betekenis en orde as instinkmatig. In die geskiedenis van die mens is godsdiens een van die mees algemene betekenisskeppende projekte. Soos wat die aanleer van ’n moedertaal deel is van die internalisasie wat gedurende primêre sosialisering moet plaasvind, so sou ’n mens die analogie kon maak dat ’n mens wat binne ’n sekere godsdiens opgevoed word, daardie godsdienstige diskoers as “moedertaal” aanleer. Op die oog af omarm Helena die taal van die toeval (onder andere in haar denke rondom evolusie), maar op ’n minder bewustelike vlak is sy steeds verstrengel in die godsdienstige diskoers, haar “moedertaal”. Haar skulpe sou as simbool van haar soeke na betekenis en sin gesien kon word. Haar denke en spreke oor hierdie skulpe, en ook oor enkele godsdienstig-gelade begrippe soos die hel, die duiwel en sonde, dui op haar onvermoë om genees te word van godsdiens as “disease of language”, soos Max Mueller daarna verwys.