Browsing by Author "Oellermann, Anchen"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemGraad 5-leerders se ervaring van angs gedurende wiskunde-lesaanbieding(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2022-04) Oellermann, Anchen; Feenstra, Carla; Stellenbosch University. Faculty of Education. Dept of Educational Psychology.AFRIKAANSE OPSOMMING: Die doel van wiskunde as skoolvak is onder meer om die volgende vaardighede by kinders te ontwikkel: probleemoplossing, logiese denke, redenering, kommunikasie en kreatiwiteit. Hierdie vaardighede dra gesamentlik tot hul voorbereiding vir die toekoms by. Wiskunde kan dus gesien word as ʼn noodsaaklike lewensvaardigheid, maar die vermeende uitdagende aspek daarvan dra by baie volwassenes en jong kinders tot ʼn negatiewe assosiasie met die vak by. Gevoelens van angstigheid, ʼn lae selfbeeld en beperkte intrinsieke motivering dra dikwels tot ʼn gebrek aan suksesvolle wiskunde-prestasie in die klaskamer by. Die doel van hierdie studie was om ondersoek in te stel na moontlike negatiewe emosionele ervarings van leerders in die intermediere fase gedurende wiskunde-lesaanbiedings. Die studie is vanuit ʼn interpretivistiese paradigma en met ʼn kwalitatiewe navorsingsbenadering aangepak. ʼn Teoretiese raamwerk wat Bandura se sosiale kognitiewe teorie en Bronfenbrenner se bio-ekologiese sisteemteorie van ontwikkeling insluit, het as grondslag vir die studie gedien. Twee graad 5-klasse by ʼn hoofstroomlaerskool in die Kaapse Wynland-distrik is genooi om aan die studie deel te neem deur vooraf opgestelde navorsingsvrae te beantwoord. Die graad 5-leerders is deur middel van doelgerigte en gerieflike steekproefneming geidentifiseer en genader om vrywillig aan die studie deel te neem. Twee wiskunde-onderwysers is ook genooi om hulle kennis en insigte in die veld te deel, wat tot die geloofwaardigheid van die studie bygedra het. Nadat die toestemming van leerder-deelnemers se ouers en die leerder-deelnemers se instemming verkry is, het die leerder-deelnemers data gegenereer deur ʼn aantal oop vrae te beantwoord – ʼn reflektiewe aktiwiteit genoem. Die leerders het daarna aan ʼn semigestruktureerde individuele aanlyn-onderhoud op Microsoft TeamsR deelgeneem, wat diepgaande kwalitatiewe data opgelewer het. Die twee wiskunde-onderwysers het hul kennis en ervarings deur middel van diepgaande, semi-gestruktureerde onderhoude gedeel. Die data is tematies ontleed deur van ʼn rekenaargesteunde sagtewareprogram, genaamd ATLAS.ti8 gebruik te maak. Uit die navorsingsbevindinge het omvattende en ryk insigte na vore gekom. Temas wat tydens die ontledingsproses na vore gekom het, was individuele faktore by leerders en onderwysers wat tot hul ervarings in die wiskunde-klaskamer bygedra het, gedragsfaktore by leerders en onderwysers wat ook tot die bogenoemde bygedra het, omgewingsfaktore wat ʼn invloed op leerders se ervarings van wiskunde-angs uitgeoefen het, asook ʼn tema van verskillende vorme van tyd wat ʼn rol by wiskunde-angs kan speel. Insig in die ervaring van angs tydens wiskundeonderrig het moontlik geword deur te verstaan hoe leerders oor wiskunde dink wanneer hulle onderliggende gevoelens van angstigheid het. Deur die bewuswording van die aanleidende faktore wat wiskunde-angs veroorsaak, het leerders se ervaringe van angstigheid gedurende wiskunde-lesaanbieding duideliker geword en uiteindelik ook hoe angs in die wiskundeklaskamer die vordering van leerders negatief of positief kan beinvloed. Beskermende faktore is ook geidentifiseer, wat moontlik van hulp kan wees om te verseker dat leerders voldoende vordering in die wiskunde-klaskamer toon, al ervaar hulle onderliggende gevoelens van angstigheid. Die bevindinge van die studie het daarop gedui dat die deelnemende leerders in graad 5 wel soms ʼn mate van angstigheid in die wiskunde-klaskamer ervaar.