Browsing by Author "Maree, Lizán"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemFaktore wat studente motiveer om by 'n Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling te studeer(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2021-03) Maree, Lizán; Fourie-Malherbe, Magda; Stellenbosch University. Faculty of Education. Curriculum Studies.AFRIKAANSE OPSOMMING : In die navorsing aangaande bemarking in hoër onderwys (HO) word die fokus geplaas op die student as verbruiker van ʼn diens. Vir die suksesvolle voortbestaan van ʼn hoëronderriginstelling (HOI) is dit nodig dat die behoeftes en begeertes van die teikenmark verstaan word, ten einde ʼn suksesvolle passing tussen die instelling en studente te verseker. Een manier waarop dit gedoen kan word, is deur beter begrip te ontwikkel van die keusefaktore wat studente belangrik ag in hulle evaluering en keuse van ʼn HOI, sowel as van die inligtingsbronne wat studente gebruik om meer van die moontlike opsies te wete te kom. Dit stel instellings in staat om beperkte hulpbronne aan te wend waar dit die teikenmark effektief kan bereik. Mededinging in HO is nie ʼn nuwe verskynsel nie. In Suid-Afrika verkeer HO onder druk van verskillende oorde aangaande aspekte soos beter toeganklikheid vir studente, verminderde staatsbefondsing en Afrikaans as taal van onderrig. Te midde van die uitdagings van die openbare HO-sisteem om te voorsien in die behoeftes van die groeiende mark, word die ruimte vir privaat HOI’s geskep om nismarkte te bedien. Een so ʼn instelling is Akademia, ʼn Afrikaanse privaat HOI, wat van ʼn hibriede onderrig-leermodel gebruik maak om na-uurse kwalifikasies aan 12 sentrums in SA en een in Windhoek aan te bied. Daar is ook ʼn blokrooster wat studente wat nie in die hoofsentra woon nie, bedien. Teen die agtergrond van Kotler se vyffase-besluitnemingsmodel poog hierdie studie om die besluitnemingsproses van studente van Akademia te verstaan deur van ʼn gemengde-metode-studie gebruik te maak. Die twee-fase navorsingsontwerp behels ʼn kwantitatiewe ondersoek na die keusefaktore en inligtingsbronne wat vir studente belangrik is tydens die keuse van ʼn HOI. Dit is ingewin deur middel van ʼn elektroniese vraelys wat deur ʼn gerieflikheidsteekproef, naamlik die eerstejaarstudente van Akademia, tussen Junie en Augustus 2020 voltooi is. Daar het 132 studente deelgeneem aan die studie waarvan 61% vroulik was, met 64% van die respondente tussen die ouderdom van 18 en 20 jaar. Dit is opgevolg met telefoniese onderhoude met sewe deelnemers wat kwalitatiewe data aangaande studente se besluitnemings-proses ingesamel het. Die studie het bevind dat die respondente nie dieselfde waarde aan keusefaktore heg nie, en dat die mark vir ʼn Afrikaanse privaat HOI nie homogeen is nie. Verskille in die belangrikheid wat studente van verskillende geslag, ouderdom, provinsies, werksituasies en rooster-model aan die keusefaktore heg, is bevind. Uit die kwantitatiewe resultate het gehalte van onderrig en die veiligheid van die studiesentrum as die belangrikste faktore vir studente na vore gekom, terwyl HOI-beheerde inligtingsbronne soos die webwerf, opedag of inligtingsessie, studenteadviseurs, brosjures en ook die Facebook-blad belangrik was. Die kwalitatiewe onderhoudsdata bevestig ooreenstemming met Kotler se besluitnemingsproses, en dui ook op die belangrikheid van na-uurse studies en Afrikaans as onderrigtaal in die keuse van ʼn privaat HOI. Die bevindinge van die studie maak ʼn wetenskaplike bydrae tot die bestaande literatuur oor studentekeuse, deur lig te werp op die keusefaktore en inligtingsbronne van twee nismarkte wat voorheen nie ondersoek is nie – werkende studente wat op ʼn hibriede onderrigmodel studeer en studente aan ʼn Afrikaanse privaat HOI.