Browsing by Author "Malan, Jean De'M"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemChloride induced corrosion and concrete carbonation of 3D printed concrete with reinforced connections(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2022-04) Malan, Jean De'M; Zijl, G. P. A. G. van; Van Rooyen, Algurnon Steve; Stellenbosch University. Faculty of Engineering. Dept. of Civil Engineering.AFRIKAANSE OPSOMMING: Die duursaamheid van gewapende betonstrukture word bepaal deur die betonbedekking se vermoë om die binnedring van chloriede en koolstofdioksied in mariene en stedelike omgewings te weerstaan. Die binnedring van hierdie kontaminante verlaag die pH van die beton, breek die beskermende passiewe laag van die staal af en inisieer die aktiewe korrosie-stadium. Die hoë korrosie-lesings tydens aktiewe korrosie lei tot vinnige vermindering van die staal, wat die kapasiteit van die struktuur verminder en uiteindelik die lewensduur van die struktuur verlaag. Baie navorsing is al uitgevoer oor betonkarbonering en chloried-geïnduseerde korrosie van gekraakte en ongekraakte gegote strukture. Die teenwoordigheid van krake is bekend daarvoor om die lewensduur van strukture te verkort. Outomatisering is onlangs in die konstruksiebedryf bekendgestel, spesifiek met verwysing na additiewe vervaardiging. Drie-dimensionele betondruk is die mees toegepaste additiewe vervaardigingstegniek in die konstruksiebedryf en die gebrek aan samesmelting by die grensgebiede tussen opeenvolgende gedrukte lae is prominent, veral as 'n verloopstyd tussen betonlae toegepas word. Die verloopstyd verwys na die tyd tussen die druk van opeenvolgende lae. Aangesien drie-dimensionele betondruk 'n nuut geïmplimenteerde konstruksiemetode is, is beperkte navorsing oor die duursaamheid van drie-dimensionele betondruk-strukture beskikbaar. Hierdie studie ondersoek die duursaamheid van drie-dimensionele betondruk met betrekking tot betonkarbonasie (versnelde betonkarbonasie toets) en chloried-geïnduseerde (deur sikliese benatting en droging met ‘n soutoplossing) korrosie om die effek van die grensgebiede te kwantifiseer. Die effek van 'n verloopstyd, wat wissel van 0 tot 30 minute, word ook in ag geneem en die resultate word vergelyk met konvensionele gegote beton wat uit dieselfde materiaal bestaan. Die duursaamheid word gemeet deur chloried-geïnduseerde korrosie, versnelde betonkarbonasie en om duursaamheidsindekstoetse uit te voer. Buigsterkte-toetse word ook uitgevoer om die gebrek aan samesmelting se teenwoordigheid by die grensgebiede te kwantifiseer. Die resultate van buigsterkte en duursaamheidstoetse toon dat die gegote beton beter as die drie-dimensionele betondruk presteer. Hoër korrosiesnelhede, groter karbonasie dieptes, laer kwaliteit duursaamheidsindeksresultate en laer buigsterkte, as gevolg van die gebrek aan samesmelting teenwoordig by die grensgebiede, is in drie-dimensionele betondrukproefstukke gemeet. Die buigsterkte en duursaamheidsprestasie neem ook af met 'n toename in verloopstyd wat toegeskryf word aan die gebrek aan samesmelting wat deur die verloopstyd veroorsaak word. Twee voorspellingsmodelle van die beton karbonasie diepte en chloriede konsentrasieprofiele, met behulp van die duursaamheidsindeks-resultate as insetparameters, word aangepas om die effek van die grensgebiede en verloopstyd in drie-dimensionele betondruk in ag te neem. Hierdie modelle kan gebruik word om die tyd tot aktiewe karbonasie en chloried-geïnduseerde korrosie stadium te voorspel.