Masters Degrees (Afrikaans and Dutch)
Permanent URI for this collection
Browse
Browsing Masters Degrees (Afrikaans and Dutch) by Author "Bartlett, Rentia"
Now showing 1 - 1 of 1
Results Per Page
Sort Options
- ItemArnon Grunberg : die retoriek van oorlog en die etiek van getuienis(Stellenbosch : Stellenbosch University, 2015-12) Bartlett, Rentia; Schaffer, Alfred; Stellenbosch University. Faculty of Arts and Sciences. Dept. of Afrikaans and Dutch.AFRIKAANSE OPSOMMING: Die oorlogsretoriek van die Nederlandse skrywer en openbare intellektueel, Arnon Grunberg, word in hierdie tesis bestudeer en verbind met etiese vraagstukke wat deur sy werk opgeroep word. Daar word ondersoek op welke wyse reportage uit Kamermeisjes en soldaten; die roman Onze oom; en enkele essays geskryf deur Grunberg asook deur sy heteroniem Marek van der Jagt die leser prikkel om etiese vrae te stel, na aanleiding van die wyse waarop hierdie tekste van retoriese middele gebruik maak, of daarop kommentaar lewer. Die reportages wat Grunberg as klandestiene joernalis in onder andere Afghanistan, Irak en Guantánamo Bay geskryf het, word ondersoek om te bepaal hoe hy “die ander” uitbeeld wat hy in hierdie oorlogsterreine ontmoet. Daar word geargumenteer dat Grunberg se reportage nie as instrumentalisties beskou kan word nie omdat hy probeer om sy subjekte as ongelyksoortig uit te beeld. Grunberg dui die werking van retoriek in hierdie literêre joernalistiek aan deur die gaping tussen die sg. offisiële diskoers en die werklikheid aan te stip. Hierdie reportages word beskou as tekste wat die werking van retoriek ten toon stel en kommentaar lewer op die impak van retoriese meganismes. Die ondersoek na die oorlogsretoriek van Grunberg behels ook die bestudering van die roman Onze oom, ’n verhaal gebaseer op werklike oorlogservarings en gesprekke met soldate. Grunberg maak met hierdie roman ’n studie van die potensiële mag van woorde om “immorele dade” te regverdig, deur die kortsluiting te wys tussen die “werklikheid” en die karakters se opvattings. Daar word stilgestaan by die weerstand wat hierdie roman teen appropriasie bied in die manier waarop die teks geen eenvoudige morele boodskap verkondig nie, en nie as ’n vervoermiddel van ’n sekere boodskap – vir of teen oorlog of rewolusie – beskou kan word nie. Dit is eerder ’n roman wat die illusionêre gedagtegoed van sy karakters aanspreek en daardeur die gevaar van retoriek as ’n vorm van vleitaal ten toon stel. In plaas daarvan om Onze oom as ’n etiese roman te beskou wat sy subjek op ’n etiese wyse verteenwoordig, kan dit gesien word as ’n roman wat ’n etiese eksperiment aangaan en weerstand bied teen ’n finale interpretasie. Die term “oorlogsretoriek” verwys in hierdie tesis ten slotte na die potensiaal van ’n diskoers om verandering te bewerkstellig. Die oortuigende retoriese effek van Grunberg se gebruik van aforismes of maxims word ondersoek en daar word bevind dat Grunberg die maatskaplike relevansie van fiksie probeer bevestig. Aan die ander kant maak hy gebruik van ironie en dubbelsinnigheid wat hierdie absolute uitsprake kompliseer. Dié spel tussen betrokkenheid en afsydige ironie lei daartoe dat sy werk nié as manifes vir of propaganda teen ’n sekere saak beskou kan word nie. Die sosiale en sosiologiese betrokkenheid van Grunberg is nie onproblematies of duidelik definieerbaar nie. Die konflik wat hierdie tekste genereer, stimuleer by die leser ’n kritiese besef van eties-komplekse vraagstukke oor die verhouding tussen “die self” en “die ander”, en kan daarom gesien word as ’n vorm van “etiese getuienis”.