Abstract:
Kuslande het ’n eenmalige geleentheid om by die Verenigde Nasies (VN) aansoek te doen om ’n uitgebreide
maritieme gebied, indien hul wetenskaplik kan toon dat die voet van die kontinentale helling (VKH) buite
hul soewereine 200 seemyl eksklusiewe ekonomiese sone geleë is. Die VN definieer geomorfologies die
VKH as die kromme van maksimale buiging tussen die afplattende kontinentale helling en die bodem van
die diepsee. In hierdie artikel word daar getoon hoe gediskretiseerde tegnieke uit differensiaalmeetkunde
suksesvol gebruik kan word om die VKH benaderd uit satelliet seebodem dieptedata te bepaal, sonder
om van data gladstrykingstegnieke gebruik te maak. Hierdie differensiaalmeetkundige benadering is ’n
alternatief tot ’n huidige, wyd-gebruikte tegniek vir die bepaling van die VKH en toon dat internasionale
spekulasie oor die opportunisme van hierdie tegniek bloot vanuit ’n geomorfologiese perspektief geregverdig
mag wees. Die numeriese resultate wat verkry word, is ’n wetenskaplik verantwoordbare aanwyser ten
opsigte van die moontlike ligging van die VKH rondom die Suid-Afrikaanse kus.