Kadmium in Valsbaai: Moniteringspotensiaal van die mariene slak, Oxystele tigrina (Mollusca)

Reinecke, A. J. ; Mdzeke, N. P. ; Reinecke, S. A. (2009-06)

The original article is available at http://www.satnt.ac.za/

Article

’n Opname is onderneem van die kadmiumvlakke in die tussengetygebied van Valsbaai, Suid- Afrika. Kadmiumkonsentrasies is seisoenaal bepaal in die water en sediment in verskillende lokaliteite. Die metings is oor ’n periode van een jaar gedoen deur seisoenaal monsters te versamel by ses verskillende versamelpunte in en een buite die baai. Dit is met behulp van atoomabsorpsiespektrofotometrie ontleed vir kadmium en die hoogste kontaminasievlakke is by die noordelike kusstreek gevind tussen Strand en Muizenberg waar die digsbevolkte gebiede en die meeste industriële aktiwiteit voorkom. Betekenisvolle variasie in konsentrasies van kadmium het seisoenaal en ruimtelik voorgekom. Die gemiddelde konsentrasies in die water en sediment was in sommige gevalle effens hoër as die vlakke wat deur die Suid-Afrikaanse waterkwalitetisriglyne aanbeveel is. Kadmiumkonsentrasies is ook in versamelde eksemplare van die mariene slak Oxystele tigrina vir verskillende seisoene vir drie lokaliteite bepaal. Laboratoriumeksperimente is uitgevoer om die opname, akkumulasie en verlies van kadmium in verskillende organe van die tussengetyslak, Oxystele tigrina te ondersoek. Weefselspesifi eke kadmiumkonsentrasies in kontrolesowel as blootgestelde lewende eksemplare is vergelyk oor ’n blootstellingsperiode van veertien dae. Die eksperimentele slakke is aan twee subletale konsentrasies van onderskeidelik 0.20 en 0.40 μg/ml watergedraagde kadmium in die vorm van CdCl2 blootgestel. Die proefdiere is gereeld gemonitor en kadmiumkonsentrasies is in verskillende organe, na suurvertering, atoomabsorpsiespektrofotometries bepaal. Die resultate het ’n algemene toename van kadmium in die liggame van die slakke uitgewys. Kadmium is in variërende konsentrasies in alle weefsel gevind. ’n Ongeveer liniêre patroon van akkumulasie het aangetoon dat die metaal waarskynlik nie deur O. tigrina gereguleer is nie. Die metaal se teenwoordigheid het verskil tussen die sagteweefsel en skulp op so ’n wyse dat die sagteweefsel normaalweg ’n hoër opnamekoers van die kadmium weerspieël het. Nadat die blootgestelde organismes in kadmiumvrye seewater oorgeplaas is, het gedeeltelike kadmiumverlies wel plaasgevind. Die variasie in kadmiumverlies van die verskillende organe dui moontlik daarop dat slegs ’n gedeelte van die geakkumuleerde kadmium sterk gebind was in sekere weefsels of organe. Die behoud van kadmium in beide sediment en diereliggame was sodanig dat afgelei kan word dat kadmium teen huidige omgewingskonsentrasies in sekere dele van Valsbaai, wat algemeen as laag beskou word, steeds met verloop van tyd in hierdie tussengetydiere kan akkumuleer tot vlakke wat nadelig is vir die spesies self, maar ook vir hulle predatore. Dit sal veral kan gebeur indien fi siese toestande verander om die biobeskikbaarheid te verhoog.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/19554
This item appears in the following collections: