Sellulêre biomerkerresponse as maatstaf van gevoeligheid van klipmossels (Mollusca) vir kadmiumbesoedeling

Reinecke, A. J. ; Schoeman, W. ; Reinecke, S. A. (2008-06)

The original publication is available at http://www.satnt.ac.za/

Article

Die bioakkumulasie van kadmium in tussengetyspesies kan stres veroorsaak wat op sellulêre vlak meetbaar is. Verskeie klipmosselspesies kom volop op rotse aan die Suid-Afrikaanse kuslyn voor en kan moontlik vir ekotokiskologiese monitering gebruik word. Die oogmerk van die studie was om sensitiwiteitsdata te verkry wat kan bydrae tot die kies van ’n geskikte spesie vir monitering en die uiteindelike daarstelling van ’n model vir spesie sensitiwiteitsverspreiding (SSV) wat ’n biomerkerrespons as eindpunt gebruik. Die klipmossels Cymbula oculus, Scutellastra longicosta, Cymbula granatina en Scutellastra granularis en watermonsters is in Valsbaai versamel. Analises van kadmium in water en biologiese monsters is met behulp van atoomabsorpsiespektrofotometrie uitgevoer. Blootstellings van organismes aan subletale vlakke van kadmium is uitgevoer in statiese vloeitenks oor ’n periode van drie dae. Daar was ’n matige toename in liggaamskonsentrasies van kadmium oor tyd. Resultate wat by drie blootstellingskonsentrasies gekry is, het geen betekenisvolle verskille in metaalkonsentrasies tussen die verskillende C. oculus monsters uitgewys nie. Betekenisvolle verskille tussen die kontrole en die blootstellingsgroepe vir elke individuele blootstellingstyd is vir die spesie verkry behalwe tussen die kontrole en die 1mg/L CdCl2 blootstellingsgroep na 24 en 72 uur van blootstelling. Cd liggaamskonsentrasies (sagteweefsel) het tussen 4.56 en 21.41μg/g (nat massa) gevarieer. Gemiddelde Cd konsentrasies in sagteweefsel van S. longicosta was aansienlik laer (variërend tussen 1.18 en 19.58 μg/g Cd ) as in weefsel van C. oculus. Die kontrolegroep van hierdie spesie het betekenisvol verskil van die 0.8 en 1 mg/L CdCl2 blootstellings na 48 en 72 uur. Gemiddelde Cd liggaamskonsentrasies in S. granularis was die hoogste van al die blootgestelde spesies en het ’n vlak van 148 μg/g Cd by die hoogste blootstellingskonsentrasie bereik en het betekenisvol verskil van die ander monsters se gemiddeldes met die uitsondering van die 0.8 mg/ L CdCl2 blootstellingsgroep by 72 uur en die 1 mg/L CdCl2 groep by 24 uur. Betekenisvolle verskille is ook verkry vir die liggaamskonsentrasies van Cd van C. granatina tussen die drie verskillende blootstellingskonsentrasies en drie blootstellingstye. Integriteit van lisosoommembrane is bepaal met behulp van die neutraalrooi retensiemetode. Drie van die vier spesies het ’n betekenisvolle afname in retentsietye getoon met ’n toename in Cd konsentrasie. Tussenspesieverskille in gevoelighede vir omgewingsrelevante kadmiumkonsentrasies is deur die biomerkerresponse uitgewys. Gebaseer op die verlaging in NRR tye, is die volgorde van relatiewe gevoeligheid vir kadmium as volg: S. granularis > C. oculus> S. longicosta.> C. granatina.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/19553
This item appears in the following collections: