Taal en praktyk : 'n gevallestudie oor Afrikaans Eerste Addisionele Taal by graad 4-leerders in 'n meertalige skool

Nel, Jana ; Le Cordeur, Michael ; Kese, Phumla (2019)

CITATION: Nel, J., Le Cordeur, M. & Kese, P. 2019. Taal en praktyk : 'n gevallestudie oor Afrikaans Eerste Addisionele Taal by graad 4-leerders in 'n meertalige skool. LitNet Akademies, 16(3):591-620.

The original publication is available at https://www.litnet.co.za

Article

Meertalige onderrig en leer het ’n komplekse en algemene verskynsel in Suid-Afrikaanse skole geword, maar daar is nog steeds nie genoeg navorsing gedoen oor hoe leerders met verskillende huistale en kulture mekaar beïnvloed wanneer hulle ’n nuwe taal aanleer nie. Hierdie ondersoek fokus op sosiaal-konstruktivistiese mondelinge en skriftelike leerpraktyke van Afrikaans Eerste Addisionele Taal (EAT) vir graad 4-derde- of -vierdetaalsprekers. Die ondersoek het die vorm aangeneem van ’n gevallestudie met kwalitatiewe asook kwantitatiewe databronne as navorsingsmetodologie. Die literatuurstudie fokus op Piaget (1973) se teorie van kognitiewe ontwikkeling, die sosiaal-konstruktivistiese taalverwerwingsteorie van Vygotsky (1978) en Cummins (1984; 1988), en Pretorius en Mampuru (2007) se teorieë rakende die aanleer van ’n tweede taal. ’n Skool in die Wes-Kaap is oor ’n tydperk van twee kwartale besoek, waartydens waarnemings gemaak is en onderhoude gevoer is met leerders, hul ouers en die Afrikaansonderwyser, terwyl leerders se boeke as databron gebruik is. Hierdie artikel sal vir die leser aanbevelings gee oor die leerpraktyke vir Afrikaans EAT van graad 4-derde- of -vierdetaalsprekers, binne ’n meertalige en sosiokulturele konteks. Verdere navorsing kan uit hierdie ondersoek ontwikkel word om voorspraak te maak vir verskillende etnografiese benaderings wat huislike en skoolgeletterdheid integreer sodat die leerpraktyke binne en buite die klaskamer, sowel as in die Afrikaans EAT-kurrikulum, verbeter word. Dit is belangrik dat die leerpraktyke die rol van die addisioneletaalonderwyser, as ’n strategiese fasiliteerder van tweedetaalleer van veral leerders van die minderheidsgroep sal definieer. Indien hierdie rol nie erken word nie, sal kurrikulumbeleide steeds nie kognitiewe geregtigheid vir leerders wat leerondersteuning nodig het met die aanleer van addisionele tale in Suid-Afrika en in ander lande ondersteun nie.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/107433
This item appears in the following collections: