Die vleesgeworde Woord by Martinus Nijhoff en D.J. Opperman

Spies, Lina (2018)

CITATION: Spies, L. 2018. Die vleesgeworde Woord by Martinus Nijhoff en D.J. Opperman. LitNet Akademies, 15(3):430-455.

The original publication is available at https://www.litnet.co.za

Article

Die sterkste kulturele verbintenis tussen Martinus Nijhoff (1894–1953) en D.J. Opperman (1914–1985) is die Calvinisme, die geloofstradisie waarbinne albei grootgeword het en waarbinne die Bybel die sentrale plek inneem. Beide digters se gerigtheid op die woord gaan terug op God wat skep deur die woord (Gen. 1:1–3) en op die Johannes-evangelie: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God […] En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Joh. 1:1, 14). Wanneer die digter sy persoonlike ontroering onderwerp aan die vormlike eise wat die gedig daaraan stel, word die woord vlees; gee dit op konkrete wyse uitdrukking aan die algemeen-menslike en bly nie steek in abstrakte mymeringe of emosies nie. Vir sowel Nijhoff as Opperman moet die gedig los kom van sy maker en outonoom wees. Die digter bereik die sterkste mate van outonomie in die gedig deur hom te identifiseer met ’n personasie buite homself wat voortkom uit die magnetiese aangetrokkenheid van vlees tot vlees. In Nijhoff se oeuvre is daar ’n merkbare groei van die vers met ’n nog belydende inslag na ’n vers waarin die vormlike steeds sterker in beheer is van die inhoud tot die suiwer beeldende gedig. Opperman skryf vanaf sy debuut beeldende verse – uit sy natuurlike aanleg en om homself te distansieer van die belydenispoësie van sy voorgangers, die Dertigers. Die digter wat T.S. Eliot se “objective correlative” vind, se woord word vlees in die poësie van Nijhoff en Opperman. Opperman gebruik in sy kritiese geskrifte en sy digterskapsgedigte nie die beeld van die vleesgeworde woord nie, terwyl Nijhoff dit herhaaldelik doen in sy poëtikale kortverhaal-essay “De pen op papier” sowel as in sy gedig “Het steenen kindje”. Die metafoor vir die geslaagde gedig as vleesgeworde woord is egter net so geldig vir Opperman se poëtika as vir Nijhoff s’n. Die woord wat vlees word, gee nie net sin aan die ooreenstemmende poëtikas van Nijhoff en Opperman nie, maar ook aan die Woord as vlees soos dit uitdrukking vind in hulle religieuse gedigte. ’n Ruim ondogmatiese verstaan van die Bybel vind by albei neerslag in ’n werklikheidsreligie. Die vorming van dié werklikheidsreligie en absoluut eie geloofsbelydenis verskil egter wesenlik by die twee digters: by Nijhoff is dit Nuwe Testamenties en by Opperman Ou Testamenties. Die geïnkarneerde God as die gekruisigde Jesus vind by Nijhoff gestalte in teenstelling met die skeppende en verbondsgod by Opperman. Uit die aard van my ondersoek illustreer ek die ontwikkelende digterskap van Nijhoff en Opperman aan die hand van die religieuse gedigte in hulle oeuvres waaraan hulle ooreenstemmende poëtika ten grondslag lê. Waarop ek wil wys, is dat dié eenderse poëtika op verskillende wyses in hulle poësie gemanifesteer word. Opperman neem die gestalte van “die ander” aan en verleen deur dié gestalte aan sy eie dade en denke uitdrukking. Nijhoff kom as ’n ek-spreker aan die woord en gee gestalte aan die “ander” deur wat hy van hom veronderstel eerder as weet. Hy projekteer sy eie innerlike in “die ander”. Deurdat sy ek-spreker fokus op ’n gestalte teenoor hom, skryf hy nie ’n belydenisgedig nie, maar ’n beeldende gedig. Die werkwyse kom die sterkste tot uitdrukking in Nijhoff se gedig “Awater”, waarby ek uitvoerig stilstaan, veral ook omdat daarin drie Ou Testamentiese profete figureer: Noag, Jona en Moses; gestaltes met wie Opperman hom in van sy prominentste verse identifiseer. So tree twee groot digters oor tyd en afstand heen met mekaar in ’n boeiende gesprek.

Please refer to this item in SUNScholar by using the following persistent URL: http://hdl.handle.net/10019.1/106604
This item appears in the following collections: