'N VERTALERSWOORDEBOEKMODEL VIR DIE SUID-AFRIKAANSE WYNBEDRYF RUDI VENTER (THOD, BA) Tesis ingelewer ter gedeeltelike voldoening aan die vereistes vir die graad van MPhil (Vertaling) aan die Stellenbosch Universiteit Studieleier: Prof. R.H. Gouws April 2005 INLEIDING 1. Probleemstelling Vertalers in die Suid-Afrikaanse wynbedryf se taak word dikwels bemoeilik omdat te veel woordeboeke in die vertaalproses gebruik moet word. Bestaande Afrikaans- Engels-woordeboeke, verklarende en vakwoordeboeke in hierdie twee tale verskaf ook nie altyd voldoende data om trefseker vertaling in die Suid-Afrikaanse wynbedryf te verseker nie. Aangesien tyd ’n belangrike rol speel in vertaalopdragte, én akkurate vertaling ’n voorvereiste is, is onvoldoende data in genoemde woordeboeke dikwels ’n probleem vir vertalers in die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat navorsing vir aanbevelings tot regstelling in die vorm van één vertalerswoordeboek vereis. 2. Rede vir die ondersoek Vertalers in die wynbedryf se taak kan vergemaklik word indien hulle van slegs één woordeboek met uitgebreide, toepaslike data gebruik hoef te maak. Vir hierdie doel is dit die ideaal dat ’n Afrikaans-Engels-vertalerswoordeboek met die eienskappe van 'n verklarende, tweetalige en vakwoordeboek saamgestel word. ’n Vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan ’n gebruiksinstrument wees wat die kommunikatiewe standaard van vertaling in hierdie bedryf tot hoër vlakke verhef. 3. Ondersoekafbakening Wat die ondersoekafbaking betref, word hier gefokus op vertaling van historiese én resente wynverwante literatuur. Die afbakening van die ondersoek, sluit geselekteerde terminologie uit druiweboerdery en wynproe op sigself in. Hierdie navorsing geskied aan die hand van sekondêre en primêre bronne. Die sekondêre bronne sluit ’n verskeidenheid leksikografiese en vertaalteoretiese vakliteratuur, asook woordeboeke in. Die primêre bronnelys bestaan uit wynverwante literatuur en persoonlike onderhoude met vakkenners op die gebied van entomologie en wingerd- en wynkunde. Uit die primêre bronnelys word terminologie vir vertaling geselekteer om sodoende bepaalde leemtes in verband met bestaande woordeboeke in die vertaalpraktyk te identifiseer. Hieruit sal dan aanbevelings vir ’n model vir ’n vertalerswoordeboek geformuleer word. Die tesis strek oor drie hoofstukke. Hoofstuk een fokus uitsluitlik op die leksikograaf se rol in die samestelling van ’n woordeboek. In hoofstuk twee kom praktiese probleme met algemene woordeboeke in die vertaalpraktyk onder die soeklig. Die aanbeveling vir ’n model vir ’n vertalerswoordeboek vir die Suid- Afrikaanse wynbedryf volg daarna in hoofstuk drie. 1 2 1. DIE STRUKTUUR VAN ’N WOORDEBOEK 1.1 Die teikenmark en die doel van 'n woordeboek Waarskynlik die belangrikste oorweging vir die samestelling van enige woordeboek, is die vraag vir wie die woordeboek beplan word en vir watter doel. Die antwoord hierop sal die doel, die funksie, die woordeboeksoort en die beplanning daarvan bepaal. Tarp (2000: 194) is van mening dat die gebruiker en sy behoeftes twee essensiële aspekte in woordeboeksamestelling is. Kromann e.a. (1991: 2713, aangehaal in Gouws 1996: 18) asook Hartmann (1989: 103, aangehaal in Gouws 1996: 18) beklemtoon ook dat die behoeftes van die woordeboekgebruiker voorrang moet geniet alvorens daar met die beplanning van die woordeboek begin word. Ook Zöfgen (1994: 16, aangehaal in Gouws 1996: 18) maak melding van ’n aantal riglyne vir woordeboeksamestelling. Die eerste twee hiervan is die bepaling vir wie die woordeboek beoog word én waarvoor dit gebruik gaan word. Gouws (1989: 49) wys daarop dat die werkwyse wat aangewend word vir die tipologiese indeling van woordeboeke, juis die woordeboekgebruiker se spesifieke behoeftes beklemtoon. Woordeboeke word met ander woorde vir spesifieke gebruikersgroepe geskryf. Al- Kasimi (1983, in Hartmann 1983: 157) beklemtoon ook dat die vir wie en die doel van ’n woordeboek, bepalend is in die samestelling daarvan. Verder toon woordeboekgebruikersgroepe ook onderskeidende eienskappe wat belangrik vir die samestelling van ’n woordeboeksoort behoort te wees. Tarp (2000: 194) meld dat die eienskappe van woordeboekgebruikers die volgende behels: a) hulle moedertaal b) die kennisvlak van hulle moedertaal en c) hulle kennisvlak van ’n tweede taal. Voorts beweer hy (Tarp 2000: 195) dat genoemde eienskappe uiteindelik die belangrikheid beklemtoon van die situasie waarin die woordeboekgebruiker die woordeboek gaan gebruik en met watter doel voor oë. Behalwe die primêre data in verband met moeder- en tweede taal, vergelykings tussen genoemde twee, kultuur, ensovoorts, moet daar ook sekondêre data vir die woordeboekgebruiker wees. Laasgenoemde sluit in die algemene data, asook data aangaande ’n spesifieke woordeboek en hoe dit gebruik moet word (Tarp 2000: 196). Tarp (2000: 196) wys verder daarop dat wanneer die gebruikersgroep, hulle spesifieke aard, die situasie waarin die woordeboek gebruik gaan word en die doel daarvan bepaal is, die sogenaamde leksikografiese funksie daarna aan die beurt kom. Hierdie woordeboekfunksies kan volgens Tarp (2000: 196-197) óf kommunukatiewe 3 funksies óf kennisfunksies wees. Eersgenoemde het te make met teksresepsie en - produksie in óf die moeder- óf die tweede taal, asook vertaling uit die moedertaal in die tweede taal en andersom. Die tweede groep funksies verskaf algemene data in verband met byvoorbeeld kultuur en data in verband met ’n taal wat van belang is wanneer ’n vreemde taal byvoorbeeld bestudeer word. In die geval van gespesialiseerde woordeboeke bestaan die verwagting dat die gebruiker ’n hoë ontwikkelingsvlak in beide tale bereik het, daarom is dit belangrik om meer gedetailleerde data in beide tale te verskaf. Hierdie data is veral nodig vir vertalers (Tarp 2000: 197). Met verwysing na die teikenmark hierbo is die funksie van ’n woordeboek as deel van die beplanning daarvan genoem. Tarp (2000: 198) beklemtoon die funksie van ’n woordeboek en spreek hom soos volg daaroor uit: “The functions are the very essence of lexicography. The functions constitute the leading principle of all dictionaries. Everything in a dictionary is to a greater or lesser extent influenced by its respective functions. Neither the contents nor the form of a dictionary can be conceived without taking the functions into account.” Verder sê hy ook (Tarp 2000: 199): “… the best thing would always be to compile a dictionary with only one function and dedicated to only one type of user.” Maar, beweer Tarp, hierdie ideaal is selde moontlik omdat verskeie funksies dikwels gekombineer moet word om aan ’n homogene gebruikersgroep se behoeftes te voldoen. Tarp is egter ’n voorstaander daarvan dat die verskeidenheid funksies in woordeboeke en die gebruikerstipe in rangordes van belangrikheid geplaas moet word (Tarp 2000: 199). Ook Zgusta (1971: 299) meen dat die leksikograaf se doel met die woordeboek die vertrekpunt van die samestelling behoort te wees. Hy noem dat die doel daarmee kan wees dat die woordeboek moet dien as ’n hulpmiddel om tekste in die brontaal te verstaan, of ’n beskrywing van die brontaal te bied, of as hulpmiddel om tekste in die teikentaal te skryf. Kom ’n tweetalige woordeboek onder die soeklig (tweetalig omdat ’n vertalerswoordeboek ter sprake is), sal dit uiteraard uit die woordeskat van twee tale bestaan. Zgusta (1971: 298 en 299) beweer dat wanneer ’n tweetalige woordeboek beplan word, die samesteller vooraf moet besluit watter soort tweetalige woordeboek die lig gaan sien. Daarna moet hy/sy ook besluit watter twee tale van toepassing gaan wees en watse konsekwensies hierdie taalkeuse vir die woordeboeksamestelling inhou. 4 1.2 Die tipologiese klassikasie van 'n woordeboek Die doel van die woordeboek speel ook ’n rol in die tipologiese klassifikasie daarvan. Wat hierdie klassifikasie betref, dui Gouws (1989: 55) aan dat daar verskillende benaderings oor die klassifikasiemetodes van woordeboeke bestaan. Belangrike teoretiese beskouings in hierdie opsig is dié van Malkiel, Geeraerts en Zgusta. Laasgenoemde bied volgens Gouws die beste klassifikasiemetode, alhoewel Malkiel en Geeraerts se metodes ook bepaalde voordele inhou. Malkiel (1967, aangehaal in Gouws 1989: 55) se model is ’n klassifikasie volgens onderskeidende kenmerke, terwyl Geeraerts (1984a, aangehaal in Gouws 1989: 55) se model ’n klassifikasie volgens faktoranalise is. Zgusta (1971, aangehaal in Gouws 1989: 55) weer volg die kategoriale klassifikasiemetode. Malkiel (1967, aangehaal in Gouws 1989: 55 en ook vermeld deur Al-Kasimi 1977: 15-16) se metode sluit drie kriteria in, naamlik bestek (die hoeveelheid en verspreiding van data in die woordeboek), perspektief (die leksikograaf se besluit oor die aanslag – byvoorbeeld objektief of voorskriftelik) en aanbieding (tipografiese konvensies en illustrasiemateriaal). Gouws (1989: 55-57) beweer egter dat die belangrikste nadeel van hierdie metode die min aandag is wat dit aan taalkundige oorwegings skenk. Maar Gouws wys ook daarop dat Malkiel (1976) ’n ander perspektief bied wat slegs op een woordeboeksoort fokus, naamlik die etimologiese woordeboek. Weer eens identifiseer Gouws ’n leemte in hierdie benadering aangesien Malkiel nie voldoende aanduiding verskaf van moontlike kenmerkkombinasies of van hoe hierdie kenmerke kollektief aangebied moet word om één spesifieke etimologiese woordeboek te klassifiseer nie (Gouws 1989: 55-57). Dit blyk verder uit Gouws (1989: 56) en Al-Kasimi (1977: 14) dat Sebeok (1962) en Malkiel 'n vergelykbare indelingsbeginsel as vertrekpunt vir hulle praktiese toepassing gebruik. Sebeok se woordeboekindeling berus daarop dat enkele mikrostruktuurelemente as kriteria gebruik word om die tipologiese klasse te bepaal. Maar wat Gouws betref, maak beide Malkiel en Sebeok nie voorsiening vir ’n kenmerkhiërargie nie. Volgens Gouws (1989: 57) is die model wat deur hulle voorgestel word grotendeels ’n klassifikasie van woordeboeke volgens mikrostruktuurelemente en nie woordeboekklassifikasie op sigself nie. Daarby noem Al-Kasimi (1977: 14) dat Sebeok se klassifikasie verskeie beperkinge toon omdat hy 5 in sy studie van slegs ’n klein aantal woordeboeke en woordelyste gebruik gemaak het én boonop net op een taal gefokus het. Geeraerts se siening van tipologiese klassifikasie kom volgens Gouws (1989: 58) daarop neer dat daar bepaalde kenmerke in elke woordeboek voorkom wat dit onderskei van ander woordeboeke. Geeraerts (1984a: 41 e.v., aangehaal in Gouws 1989: 58) onderskei tussen makro- en mikrostrukture met sy indeling. Hy is van mening dat ’n klassifikasie wat op faktoranalise berus, eerstens kriteria bied vir die keuse van makrostruktuurelemente (dit is geografiese, sosiolinguistiese, temporele, intertalige, etimologiese, formele en grammatiese, stilistiese, pedagogiese, semantiese en ensiklopediese, idiolektiese en frekwensiekriteria). Hierna volg die aanbieding van die makrostruktuurelemente wat twee alternatiewe inhou, naamlik ’n alfabetiese of ’n ideologiese ordening asook die keuse en vorm van die lemmas. Die keuse van mikrostruktuurelemente kom vervolgens aan die beurt en ten opsigte van elke makrostruktuurelement kan ortografiese, fonetiese, grammatiese, stilistiese, verspreidings-, etimologiese, intertalige, voorbeeld- en semantiese data verskaf word. Laastens volg die besluit oor die aanbieding van mikrostruktuurelemente, met ander woorde die interne ordening van ’n woordeboekartikel. Uiteindelik (volgens Gouws 1989: 58) is Malkiel, Sebeok en Geeraerts se klassifikasie niks anders nie as ’n lysting van faktore in plaas van ’n lysting van tipes. Al-Kasimi (1983, in Hartmann 1983: 154) noem egter dat Malkiel en Sebeok (asook Rey) deur hulle deeglike en kritiese studie van bestaande woordeboeke tot die gevolgtrekking gekom het dat daar uiteindelik net twee soorte tweetalige woordeboeke bestaan, naamlik algemene en gespesialiseerde woordeboeke. Eersgenoemde poog om die totale leksikon van ’n taal te behandel, terwyl laasgenoemde slegs handel met een bepaalde komponent, soos medies, chemies, ensovoorts. Teenoor bogenoemde klassifikasiemetodes staan Zgusta se kategoriale klassifikasiemetode. Gouws (1989: 59) is van mening dat daar nie ’n ingrypende verskil tussen Zgusta se klassifikasiemetode en die voorafgaande twee is nie. Maar die voordeel wat die kategoriale klassifikasiestelsel bied, is dat sy klasaanduidingsfunksie duideliker is. Gouws (1989: 59) noem dat selfs Geeraerts (1984a: 56) (in sy verwysing na die kriteria vir die ontwerp van ’n standaard eentalige woordeboek) en Malkiel (1976) (met sy tipologiese klassifikasie van etimologiese 6 woordeboeke) ook maar kategorieë uit die Zgusta-model gebruik in die toepassing van hulle klassifikasies. Gouws (1989: 59-60) wys daarop dat Zgusta (1971) se tipologiese klassifikasie sterk aansluiting vind by Scerba (1940). Scerba het gefokus op wat die belangrikste kenmerk van ’n bepaalde woordeboek is. Hierdie kenmerk is dan bepalend in die woordeboekklassifikasie op sigself. Garvin (1947: 128, aangehaal in Gouws 1989: 60) en Al-Kasimi (1977: 12-13) noem dat die Scerba-model ses kontrasterende kenmerke aandui waarvolgens verskillende woordeboeksoorte onderskei kan word. Scerba maak ’n onderskeid tussen ’n normatiewe en ’n naslaanwoordeboek, ’n ensiklopedie en ’n woordeboek, ’n gewone woordeboek en ’n tesourus of algemene konkordansie, ’n gewone woordeboek en ’n ideologiese woordeboek, ’n definiërende of verklarende en ’n vertalende woordeboek en ’n historiese en ’n nie-historiese woordeboek. Volgens Garvin (1947: 129 e.v., aangehaal in Gouws 1989: 60) kom Scerba se kriteria vir die klassifikasie van woordeboeke daarop neer dat die basiese verskil tussen ’n ensiklopedie en ’n woordeboek bestaan. Eersgenoemde is ’n woordversameling gerig op algemene kulturele behoeftes, en laasgenoemde is ’n woordversameling op grond van taalkundige aspekte. Taalmateriaal teenoor taalsisteem onderskei ’n tesourus en ander woordeboektipes. Gewone woordeboeke word onderskei deur ’n klassifikasie deur fonetiese woorde en woorde-as-konsepte, en dit dien as onderskeiding tussen gewone normatiewe en naslaanwoordeboeke teenoor ideologiese woordeboeke. Normatiewe en naslaanwoordeboeke word deur styl onderskei. Eersgenoemde word gekenmerk deur ’n enkele stylaard en laasgenoemde deur ’n vermenging van verskillende stylaarde. Al die woordeboektipes kan verder óf verklarend óf vertalend wees. Die uitgangspunt kan ook óf histories óf nie-histories van aard wees. Gouws (1989: 60-61) noem dat sy verwysing na woordeboekkategorieë ook aansluit by die sogenaamde Zgusta-model van woordeboekklassifikasie wat hierna volg. Eerstens is dit Gouws (1989: 61) se uitgangspunt dat die alfabetiese ordening van woordeboeke reeds so gevestig is dat dit as standaardprosedure beskou kan word. Volgens hom is die basiese onderskeid tussen woordeboeke die tweedeling ensiklopediese en linguistiese woordeboeke. Eergenoemde fokus op die beskrywing van die saak waarna ’n woord verwys. Linguistiese woordeboeke weer fokus op die 7 linguistiese eienskappe van leksikale elemente. Dikwels word ensiklopediese data egter ook in linguistiese woordeboeke aangetref wat eintlik ’n aanduiding is van hoe moeilik dit is om tussen genoemde twee woordeboeke te onderskei. Linguistiese woordeboeke word verder ingedeel in diachroniese en sinchroniese woordeboeke. Diachroniese woordeboeke dui die geskiedenis van die vorm- en betekenisveranderinge van leksikale items aan. Diachroniese woordeboeke word verder verdeel in historiese en etimologiese woordeboeke. Etimologiese woordeboeke het die oorsprong van woorde in die visier en kan op sigself in twee verdeel word, naamlik algemene en beperkte etimologiese woordeboeke. ’n Beperkte etimologiese woordeboek bemoei hom net met een onderafdeling van ’n taal se woordeskat, terwyl die algemene etimologiese woordeboek nie deur een onderafdeling begrens word nie. Historiese woordeboeke aan die ander kant het leksikale items se verandering van vorm en betekenis oor ’n bepaalde tydperk as bemoeienisveld. Is die tydperk afgehandel, staan die woordeboek as ’n beperkte historiese woordeboek of ’n tydperkwoordeboek bekend. Indien die tydperk vanaf ’n bepaalde tydstip in die verlede tot die hede strek, word daarna as ’n algemene historiese woordeboek verwys. Gouws beweer dat Afrikaans egter nog nie oor ’n historiese woordeboek beskik nie (Gouws 1989: 62-64). Die moontlike rede hiervoor is omdat Afrikaans nog te jonk is en nie só 'n woordeboek regverdig nie. Gouws (1989: 65) noem verder dat sinchroniese linguistiese woordeboeke in twee hooftipes verdeel word, naamlik eentalige en vertalende woordeboeke. Eentalig is 'n vormlike kenmerk, terwyl vertalend verwys na 'n funksie. Vertalende woordeboeke kan verder twee- of meertalig wees. Tweetalige vertalende woordeboeke kan op sigself verdeel word in verskillende tipes. So tref Al-Kasimi (1977: 20-31) ’n onderskeid tussen verskillende tipes vertalende woordeboeke: a) woordeboeke vir óf doeltaal- óf brontaalspekers b) woordeboeke gerig op óf geskrewe óf gesproke taal c) woordeboeke vir die begrip van die doeltaal en woordeboeke vir die toepassing daarvan d) woordeboeke vir algemene gebruik of vir masjinale vertaling e) historiese of beskrywende woordeboeke f) leksikale woordeboeke of ensiklopediese woordeboeke g) en algemene teenoor spesifieke woordeboeke. Volgens Gouws (1989: 66) bied vertalende woordeboeke vertaalekwivalente aan wat binne spesifieke kontekste as vertaling van die brontaalvorm geld. Belangrik dus is dat ’n vertaalekwivalent nie sonder meer gelykgestel moet word aan betekenis nie. 8 Eentalige sinchroniese linguistiese woordeboeke aan die ander kant sluit algemene en beperkte woordeboeke in. Die beperkte woordeboek se begrensing sal afhang van die doel van die woordeboek. So byvoorbeeld kan ’n woordeboek slegs die woordeskat van ’n bepaalde vakgebied insluit. Sinoniem- en tematiese woordeboeke en tesourusse val onder andere in hierdie kategorie (Gouws 1989: 67-68). Algemene sinchroniese woordeboeke is verklarende woordeboeke bestaande uit omvattende verklarende, standaard verklarende en pedagogies verklarende woordeboeke. Laasgenoemde word weer onderverdeel in aanleerder- en skoolwoordeboeke (Gouws 1989: 68). Die omvattende woordeboek bemoei hom met die woordeskat in sy wydste omvang en verskaf verklaring van die lemmas se leksikale betekenis. In só ’n woordeboek word nie net standaardtaal aangebied nie, maar ook ander variëteite nie-taalkundige aspekte, soos ensiklopediese data. Hierdie soort woordeboek is deskriptief (beskrywend) en nie preskriptief (voorskrywend) van aard nie. Vakwoorde wat dikwels in só ’n woordeboek (byvoorbeeld die WAT) voorkom, word nie vir die vakkundige nie maar vir die algemene gebruiker aangebied. In hierdie woordeboeksoort maak leksikograwe heelwat gebruik van stilistiese en ander etikette om verskillende tipes taalgebruik te merk (Gouws 1989: 68-69). Standaardwoordeboeke (handwoordeboeke) is weer gerig op die weergawe van die standaardtaal. Gebruiksfrekwensie speel hier ’n belangrike rol. Anders as in die geval van omvattende woordeboeke, speel etikette ’n mindere rol, aangesien genoemde ’n aanduiding gee van byvoorbeeld ’n afwyking _ iets wat skaars in standaardwoordeboeke is. Verder het hierdie woordeboeksoort ’n duidelike normatiewe karakter. Dit gee min aandag aan etimologiese en historiese data. Dit het ook ’n preskriptiewe funksie omdat dit aandui hoe die taal táns gebruik word. Gebruiksinligting moet ’n belangrike komponent van 'n standaardwoordeboek wees. ’n Verskeidenheid datatipes in verband met ’n lemma (alhoewel nie op ’n gelykwaardige manier nie) word in hierdie woordeboeke aangebied. Verder plaas standaardwoordeboeke oor die algemeen meer klem op betekenisdata, aangesien dít die inligting is waarna sy gebruiker soek. Hierdie woordeboek word ook dikwels as ’n spellinghandleiding gebruik as gevolg van die normatiewe aard daarvan (Gouws 1989: 69-70). Oor pedagogies verklarende woordeboeke sê Zgusta (1971: 214): “Some types of dictionaries are conspicuous for the severe restriction of their purpose. Probably the 9 most important among these are the pedagogical dictionaries …; dictionaries of this type frequently contain more explanations, translations, glosses etc. than their more general counterparts.” Gouws (1989: 71) beklemtoon die rol van pedagogiese verklarende woordeboeke as taalkundige inligtingsbron vir taalstudente. Volgens hom is dit juis ook die spesifieke behoeftes van taalstudente wat lei tot ’n onderverdeling tussen aanleerder- en skoolwoordeboeke. Eersgenoemde is gerig op die diegene wat ’n vreemde taal aanleer. Skoolwoordeboeke aan die ander kant is gefokus op die behoeftes van die leerder, hetsy moedertaal- of vreemdetaalspreker. Daarom sal dit rekening hou met onder andere die teikengebruiker se taalvermoë. 1.3 Die raamstruktuur van 'n woordeboek 1.3.1 Inleiding Wat die raamstruktuur van ’n woordeboek betref, wys Gouws daarop dat die leksikograwe Hausmann en Wiegand (1989: 330 en 333, aangehaal in Gouws 2001: 102), die funksionele plasing van data in ’n woordeboek belangrik ag, asook die aanwending van verskillende tekste om die inhoud van die woordeboek te verduidelik. Kammerer en Wiegand (1998, aangehaal in Gouws 2001: 102 en 103) is van mening dat die raamstruktuur van ’n woordeboek in drie tekstuele fokuspunte verdeel kan word, naamlik die voortekste, die sentrale woordelys en die agtertekste. Die sentrale woordelys is die algemene soekplek in die woordeboek en hierdie deel moet ’n bepaalde struktuur hê wat die gebruiker vinnige en moeitelose toegang tot data in verband met ’n bepaalde lemma verleen. Dit is wat beskou word as die toegangstruktuur van die woordeboek. Die voortekste, die sentrale woordelys en die agtertekste dien onder meer as hulpverlening in 'n woordeboek se eksterne toegangstruktuur. Dit verskaf 'n soekroete tot by 'n lemmateken. Woordeboeke wat voor- en agtertekste as funksionele komponente aanbied, verleen in werklikheid groter hulpverlening aan die gebruiker. Die toegangstrukture van ’n woordeboek in sy geheel lewer dus ’n bydrae om die gebruiker daarvan te help. 1.3.2 Die raamstruktuur Landau (1984: 115) verwys na front and back matter (voor- en agtertekste) en meld dat die belangrikheidsgraad daarvan deur die aard van die woordeboek bepaal word. 10 Volgens hom (Landau 1984: 116) kan een van die voortekste byvoorbeeld elke deeltjie van ’n woordeboekartikel beskryf: die lemma, lettergreepverdeling, uitspraak, verboë vorme, verskillende etiketsoorte, kruisverwysings, variante, woordverklarings, sinonieme en toepassingsmoontlikhede. Oor voortekste se doel, sê Landau (1984: 116) die volgende: “The purpose of the guide (dit is die voorteks) is to describe as clearly as possible all the kinds of information included in the dictionary, show the reader how to interpret the data given (i.e. how to read the dictionary’s “style”), and provide clues for locating as quickly as possible particular items of information.” Vir hierdie doel word daar dan ook dikwels ’n bladsy uit die woordeboek as uittreksel gebruik met “… various parts of the entries bracketed and linked to captions that identify each part and refer to sections of the guide where the items are discussed” (Landau 1984: 116). Gouws (1989: 50) verwys ook na die woordeboekgebruiker en noem dat hy/sy leiding moet kry in verband met die tipe data wat in ’n bepaalde woordeboek vervat word en wat van die bepaalde woordeboek verwag kan word. In aansluiting hierby noem Gouws (1989: 33) dat elke woordeboek ’n afdeling moet bevat wat die teoretiese gesigspunte verklaar wat spesifiek op die bepaalde woordeboek van toepassing is. Hy sê ook verder dat hierdie afdeling ’n bondige uiteensetting moet gee van die doeltaal se grammatika, fonologie, spelling, betekenisstruktuur en ander verbandhoudende detail. Landau (1984: 116 en 117) is verder van mening dat agtertekste (back matter) gewoonlik data bevat in verband met biografiese en geografiese name (indien dit natuurlik nie in die woordeboek self opgeneem is nie), ’n praktiese skryfgids, grammatiese data, styldata, aanspreekvorme en proefleestekens. Ook massa- en volumetabelle, tekens en simbole, ’n afkortingslys en ’n lys van vreemde woorde en frases word dikwels ingesluit. Dit is ook belangrik om te noem dat Landau (1984: 118) beweer dat tegniese en wetenskaplike woordeboeke aan die anderkant nie altyd volledige riglyne in verband met byvoorbeeld uitspraak en subinskrywings verskaf nie, aangesien gebruikers van hierdie woordeboeksoorte dikwels nie daarin belangstel nie. In hierdie opsig kan die vraag egter gevra word of dit nie ’n algemene simptoom by gebruikers van ander woordeboeksoorte ook is nie. Waarskynlik lê die probleem daarin dat die raamstruktuur van ’n woordeboek nie altyd voldoende leiding aan die gebruiker verskaf nie. 11 Gouws wys daarop dat Bergenholtz, Tarp en Wiegand (1999: 1777-1778, aangehaal in Gouws 2001: 104) oortuigend onderskei tussen geïntegreerde en nie- geïntegreerde buitetekste. Eersgenoemde is daarop gerig om die werklike doel van die woordeboek te help verwesenlik en het dikwels ’n direkte skakeling met die artikelstruktuur van die woordeboek. Hieroor sê Gouws (2001: 104) die volgende: "An integrated outer text is one integrated into and helping to achieve the genuine purpose of the specific dictionary. It quite often has a direct link with the central list, e.g. a dictionary displaying both single and synopsis articles can assist the user by listing the lemmata heading the synopsis articles in a back matter text. Such a text explicates the heterogeneous article structure and creates another access possibility for the user. In this way the integrated outer texts, both in the front and back matter, can be employed to create polyaccassible dictionaries." Die buiteteks se relevansie en funksionele waarde hang egter nie af van die integrasie daarvan in die werklike doel van die betrokke woordeboek nie (Gouws 2001: 104). In hierdie opsig wys Gouws (2001: 104) daarop dat "... an outer text can have its own genuine purpose which does not necessarily correspond with the genuine purpose of the dictionary or its integrated outer texts. These unintegrated outer texts can play an important role in the overall transfer of data in a lexicographic text and their selection and presentation may not be done in an arbitrary way. The data distribution structure of a dictionary determines the type of data to be presented in outer texts and the target user of a dictionary needs to be aware of their contents and gain access to the data in these texts." Om die gebruiker bewus te maak van die handigheid van sulke buitetekste, is Gouws (2001: 105) van mening dat leksikograwe 'n innoverende benadering ten opsigte van die toegangstruktuur van woordeboeke moet openbaar. Die toegangstruktuur moenie uitsluitlik op die sentrale woordelys gerig wees nie; "... it should establish a search route to all the venues identified by the data distribution programme for the accommodation of lexicographic data." In genoemde opsig is 'n woordeboek se inhoudsopgawe dus belangrik. Daarin behoort die leksikograaf 'n sistematiese uiteensetting te bied van die verskillende tekssoorte wat in die bepaalde woordeboek ingesluit is (Gouws 2001: 105). Volgens Hausmann en Wiegand (1989: 333, in Gouws 2001: 105) bied 'n woordeboek se inhoudsopgawe 'n spesiale toegangstruktuur. Die inhoudsopgawe is eintlik 'n eksterne toegangstruktuurkomponent wat nie as deel van die sentrale woordelys aangebied word nie. Dit lei die gebruiker na die raamstruktuur se verskillende komponente én na 12 die afsonderlike tekste binne hierdie komponente van die woordeboek as 'n groter teks. Só 'n inhoudsopgawe is derhalwe deel van die woordeboek se primêre raamstruktuur en kan beskou word as 'n primêre buiteteks (Gouws 2001: 105). Gouws (2001: 105) is verder van mening dat die toegang tot buitetekste op verskillende wyses bewerkstellig kan word. Volgens hom is die nuttige aanwending van sekondêre buitetekste 'n aspek wat tot dusver nie genoegsame aandag geniet het nie. Vele woordeboeke bevat buitetekste, soos verklarende tekste, 'n inhoudsopgawe, ensovoorts wat nie op die woordeboek op sigself gerig is nie, maar eerder op 'n spesifieke buiteteks. Hierdie sekondêre buitetekste is nie direk 'n wesenlike deel van die groter teks nie, maar eerder deel van 'n spesifieke buiteteks. 'n Primêre buiteteks met sy eie voor- en agterteks vorm op sigself 'n sekondêre raamstruktuur. 'n Belangrike funksie van hierdie sekondêre buitetekste is toegangsverlening tot hulle primêre buitetekste en om toeganklikheid tot data buite die woordeboek se sentrale woordelys te verbeter. 1.3.3 Die sentrale lys 1.3.3.1 Inleiding Die sentrale lys bestaan uit 'n reeks woordeboekartikels. Elke woordeboekartikel sluit in die meeste gevalle 'n lemma en data (woordeboekinskrywings) oor die lemma in. Die lemmakeuse verteenwoordig die makrostruktuur van die woordeboek en die datatipes oor elk van die lemmas verteenwoordig die mikrostruktuur daarvan (Gouws 1989: 36-41). 1.3.3.2 Alfabetiese ordening van lemmas Volgens Zgusta (1971: 282) is die alfabetiese ordening van lemmas/woordeboekartikels in enige taal ’n praktiese oorweging. Enige ander ordening, soos die ordening volgens semantiese verhoudings, hou wel voordele in vir sekere woordeboeke, soos byvoorbeeld ’n woordeboek wat net op sinonieme gerig is. Vir woordeboeke gerig op algemene gebruik, is dit egter beter om van ’n alfabetiese ordeningsmetode gebruik te maak, omdat dit die minste moontlike onduidelikhede inhou en die eenvoudigste ordeningsmetode is. Landau (1984: 82) noem dat lemmas gewoonlik in 'n streng-alfabetiese volgorde gerangskik word. Hierdie ordeningsmetode het die voordeel dat dit die gebruiker se soekroete vergemaklik. Problematies egter is die besluit oor waar idiome byvoorbeeld 13 moet verskyn. In 'n idioom soos Op dorings slaap verskyn die selfstandige naamwoord dorings eerste, gevolg deur die werkwoord slaap, maar in die idioom Stik in die geld verskyn die werkwoord stik eerste, gevolg deur die selfstandige naamwoord geld. Die leksikograaf moet dus eintlik vooraf besluit of 'n idioom bestaande uit 'n selfstandige naamwoord en 'n werkwoord gaan verskyn by eersgenoemde se lemma of by laasgenoemde s'n. Dikwels verkies leksikograwe om die idioom by die eerste woord te plaas wat in die idioom voorkom (hetsy die selfstandige naamwoord of die werkwoord). Helaas bestaan daar in hierdie opsig egter nie altyd konsenkwentheid nie. Landau (1984: 82) wys verder daarop dat die alfabetiese ordeningsmetode heelwat probleme veroorsaak in wetenskaplike en tegniese woordeboeke as gevolg van die groter aantal frase-inskrywings (dikwels 50 persent en hoër van die totale inskrywings). Hy neem die term nucleus as voorbeeld en dui aan hoe genoemde probleem oorbrug word deur die alfabetiese ordening toe te pas op grond van die letters van die woorde wat daarop volg, byvoorbeeld: nucleus nervi vagi - nuclei nervi vestibularis - nucleus nervi vestibulocochlearis, ensovoorts. Landau (1984: 83) noem verder dat dit veral chemiese terme is wat probleme vir leksikograwe skep omdat "... systematic chemical names (like methylcellulose) are formed simply by sticking together the parts necessary to describe the terms chemically, and it is a matter of indifference whether they are written as one word or two". Landau wys egter daarop dat leksikograwe die probleem met terme wat as een of twee woorde geskryf word vir alfabetiese ordeningsonthalwe op ’n praktiese manier behandel. Hy haal die behandeling van die terme methyl cellulose en methylcellulose aan om te illustreer hoe die probleem opgelos word. Die chemiese terme word hier letter vir letter gealfabetiseer sodat methyl cellulose as ’n sublemma onder methyl verskyn en nie onder cellulose nie. Methylcellulose verskyn as ’n afsonderlike hooflemma. Waar methyl cellulose as 'n sublemma onder methyl verskyn, en nie onder cellulose nie, lyk dit egter of hierdie behandeling leksikografies nie aanvaarbaar kan wees nie. Hier is eintlik sprake van tweedevlaknesting, aangesien genoemde voorbeeld 'n interne afwyking van alfabetiese ordening toon. Hierdie behandeling van die probleem of ’n chemiese term as een of twee woorde geskryf moet word, is volgens Landua (1984: 83) ewe prakties, maar nie probleemvry nie. By die terme methylcellulose en methyl cellulose word die een behandel en 'n kruisverwysing by die ander aangebring, maar die probleem met terme soos methyl 14 blue, methyl green, ensovoorts word opgelos deur van dit sublemmas onder die hooflemma methyl te maak. Nog ’n probleem volgens (Landau 1984: 83-84) ontstaan met die alfabetiese ordening van inskrywings in tegniese woordeboeke wat nie as woorde op sigself geklassifiseer kan word nie. Wiskundige simbole dien hier as voorbeeld. Landau stel voor dat in sulke gevalle vooraf besluit moet word hoe hierdie simbole in die woordeboek behandel gaan word en dan moet die leksikograaf liefs konsekwent by dié besluit bly om verwarring by die gebruiker te voorkom. Daar moet dus 'n duidelike toegangsalfabet ontwikkel word. Gouws (2001: 105-107) meld dat nie alle woordeboeke dieselfde makrostrukturele ordeningsprosedure openbaar nie. Hy noem dat die tipiese onderskeid wat in woordeboeke met ’n alfabetiese ordening aangetref word, dié is wat ’n gewone alfabetiese ordening en dié wat ’n ingewikkelder ordening toon. Eersgenoemde bevat slegs hooflemmas, terwyl laasgenoemde nie net hooflemmas nie, maar ook sublemmas insluit wat nisting en nesting genoem word. By nisting word die gewone alfabetiese ordening intern en ekstern aangetref, byvoorbeeld: eenpersoons-. Vir een persoon; ~bed; ~vliegtuig; ~woonstel. eenpittig, -e. ... eenpolig, -e. ... Soos die voorbeeld weerspieël, word die alfabetiese ordeningsbeginsel in die ordeningsrigting (horisontaal teenoor vertikaal) gehandhaaf. Soms word hierdie interne alfabetiese ordeningsbeginsel ook by nesting aangetref, maar die eksterne alfabetiese ordening, toon afwykings ten opsigte van die vertikale ordening van die lemmas binne die bepaalde nesting. Gouws (2001: 106) verwys hierna as eerstevlaknesting. Die volgende lemmas uit die Verklarende Afrikaanse Woordeboek dien as voorbeeld hiervan: inskeping. Inlaai, verskeping; ~sdiens; ~soffisier; ~sorder. inskepingshawe, -(n)s. ... inskepingsverlof. ... (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'inskeping', 'inskepingshawe', 'inskepingsverlof'). In gewone alfabetiese ordening, sou 'inskepingshawe' tussen 'inskepingsdiens' en 'inskepingsoffisier' verskyn het. By eerstevlaknesting is daar dus ’n afwyking van gewone alfabetiese ordening, aangesien dít wat die lemma voorafgaan én ook daarop volg, nie gewone alfabetiese ordening toon nie. 15 Volgens Gouws (2001: 106-107) is daar ook sprake van tweedevlaknesting. In só 'n geval word net gedeeltelike alfabetiese ordening intern aangetref omdat die lemma- nes uit verskillende subgroeperinge bestaan. Ná elke subgroepering volg daar soms ’n inskrywing wat kommentaar lewer op die semantiese en morfologiese aard van die hooflemma waarmee die sublemma dan geassosieer kan word. Die afwyking vind dus op grond van semantiese en morfologiese oorwegings plaas. 'n Voorbeeld van tweedevlaknesting uit die Nasionale Woordeboek is die volgende: hael 1 s.nw. 1. bevrore reëndruppels; neerslag in die vorm van korrels of stukke ys; ook stormbuie hiervan. Die _ was so groot soos duifeiers. Die _ trek oor die koringland. 2. klein koeëltjies wat bestaan uit ronde korreltjies lood of loodlegering. Hy skiet die bok met 'n skoot _ . So bang soos 'n bok vir 'n skoot _ ,baie bang. haelbui, -korrel, -skade, -steen, -versekering, -wit (by 1); -geweer, -patroon (by 2) (Nasionale Woordeboek, s.v. 'hael'). In bogenoemde voorbeeld is daar 'n alfabetiese ordening vanaf 'haelbui' tot by '-wit'. Daarna volg '-geweer' en '-patroon' waar daar afgewyk word daarvan. Hier is dus sprake van tweedevlaknesting. Gouws (2001: 107) is van mening dat nisting en (veral) nesting as gevolg van die teksverdigtingsprosedure wat gevolg word, eintlik tot nadeel van sommige woordeboekgebruikers kan strek. Volgens hom bemoeilik dit die woordeboek se toegangstruktuur, terwyl gewone alfabetiese ordening gebruikersvriendeliker is. Ook Zgusta (1971: 289) is van mening dat die gebruik van nisting en nesting meer nadele as voordele inhou. Hy wys daarop dat samestellers van werklike groot woordeboeke net soms of hoegenaamd nie daarvan gebruik maak nie. In gevalle waar ruimte egter ’n rol speel, word leksikograwe dikwels genoodsaak om daarvan gebruik te maak. 1.3.3.3 Mikrostrukturele aspekte 1.3.3.3.1 Inleiding Wat die mikrostruktuur van 'n woordeboek betref, kan daar volgens Gouws (1989: 40- 41) onderskei word tussen 'n liniêre en 'n hiërargiese mikrostruktuur. Eersgenoemde sluit grammatiese data, uitspraakleiding, betekenisverklaring, voorbeeldsinne, ensovoorts in. 'n Hiërargiese mikrostruktuur aan die ander kant voorveronderstel 'n afhanklikheidsverhouding tussen bepaalde inskrywings; veral ter sake by lemmas wat verskillende polisemiese onderskeidinge het. Die polisemiese ordening moet die 16 verskil tussen primêre en sekondêre betekenisonderskeidinge weerspieël. Die rangskikking daarvan illustreer 'n hiërargiese mikrostruktuur. 1.3.3.3.2 Artikelstruktuur Betreffende vormkommentaar: Gouws (1989: 209-210) wys daarop dat alhoewel algemene woordeboeke grotendeels aandag aan betekenisdata skenk, dit ook belangrik is dat die leksikograaf grammatiese data (sintakties en morfologies) verskaf. Hierdie data verskyn as deel van ’n artikel én afsonderlik van die alfabetiese gedeelte van die woordeboek. Soos by ander datatipes, speel die gebruiker se behoeftes hier ook ’n beduidende rol. Die grammatiese data moet so aangebied word dat die gebruiker dit as ’n taalkundige handleiding kan gebruik. Wat semantiese kommentaar in tweetalige woordeboeke betref, meld Zgusta (1971: 329) dat dit in die meeste gevalle onvoldoende is om net vertaalekwivalente aan te dui. Die rede wat hy hiervoor aanvoer, is die dikwels vele betekenismoontlikhede én omdat dit dikwels slegs gedeeltelike vertaalekwivalente is. Daarom moet leksikograwe ook bondige aantekeninge tussen hakies naas die vertaalekwivalente aanbring. Hierdie aantekeninge is egter nie verduidelikings nie. Dit dui slegs aspekte soos die relevante verskille en die toepassingssfeer aan. Bondige aantekeninge blyk soms problematies te wees, veral as daar nie ’n verklarende woordeboek in die doeltaal beskikbaar is nie. 1.3.3.3.3 Die lemma Die keuse van woorde (of lemmas) wat in die voorgenome woordeboek opgeneem moet word, word bepaal deur die woordeboeksoort; wat die doel daarmee is (Zgusta 1971: 309). Maar wat word as ’n lemma beskou? Volgens Landau (1984: 76) is dit die “ … alphabetized headword, or main entry, by which the word or expression being defined (the lexical unit) is identified. The canonical form is the form chosen to represent a paradigm; most headwords, with the exception of cross-references and names, are canonical forms.” ’n Lemma is derhalwe hoofsaaklik die kanonieke vorm van ’n woord wat ’n bepaalde grammatiese paradigma by die woordeboekgebruiker oproep. Gouws (1989: 75) wys daarop dat lemmatekens as beide makro- en mikrostruktuurelemente kan optree. As makrostruktuurelement funksioneer ’n lemma in werklikheid as die gidselement van ’n woordeboekartikel, terwyl dit as 17 mikrostruktuurelement as lemmateken funksioneer wat ’n onderdeel van ’n woordeboekartikel is. Verder noem Gouws (1989: 75) dat ’n leksikograaf vooraf duidelikheid moet hê oor watter elemente spesifiek geregtig is op lemmastatus in die voorgenome woordeboek Hierdie besluit moet uitsluitlik in die algemene teksteorie gefundeer wees en nie in die leksikograaf se subjektiewe oordeel nie. Net soos Zgusta (hierbo aangehaal) is Gouws (1989: 75) ook van mening dat die woordeboeksoort bepalend in die lemmakeuse is. Vir algemene woordeboeke kan 'n leksikograaf nie sonder ’n standaardtaal vir die betrokke taal op lemma-opname besluit nie (Landau 1984; 76-77). Verder kan in hierdie standaardtaal ook verskeie woordvorme voorkom met dieselfde betekenis. Landau 1984: 77) sê in verband met die gebruiker van 'n tweetalige woordeboek die volgende: "Because the user of a bilingual dictionary may not know the canonical forms of the source language, it is particularly important that inflected forms be listed as headwords with cross-references to the canonical forms, especially when the inflections differ markedly from the canonical forms, as is and be". In 'n woordeboekartikel kan dit gebeur dat 'n nuwe artikeltipe ingesluit word. In die Verklarende Afrikaanse Woordeboek byvoorbeeld word 'kinderdokter' en 'pediater' as verwysingsadresse vir 'kinderarts' aangedui. Eersgenoemde twee lemmas verskyn in verwysingsartikels met kruisverwysing 'kinderarts' (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'kinderarts', 'kinderdokter', 'pediater'). Verkieslik moet 'n lemma se verboë vorme ook opgeneem word indien die woordeboekruimte dit natuurlik toelaat (Landau 1984: 77). Vakwoordeboeke geniet hier ook vermelding, aangesien die voorgenome model vir ’n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, nou aansluiting hierby gaan vind. Landau (1984: 80 - 81) dui aan dat wetenskaplike en tegniese woordeboeke dikwels eiesoortige terminologieprobleme skep. Die rede hiervoor lê nie by spellingprobleme of by die gebrek aan ’n grammatiese paradigma nie, maar eerder by die gebrek aan standaardvaktaal wat dikwels veroorsaak dat verskillende betekenisse met ’n bepaalde vakterm geassosieer word. Ten einde vermelde probleem op te los, bied (Landau 1989: 81) die volgende riglyne in volgorde van belangrikheid aan: a) Die leksikograaf moet let op die gebruik van terminologie in handboeke en ander verwysingsbronne b) Hy/sy moet kennis neem van die aanbevelings van kenners van spesialisorganisasies (hom/haar met ander woorde laat lei deur vakkundiges en terminoloë) c) Voorkeur moet gegee word 18 aan terme wat die aard van die konsep verklaar, eerder as aan naamgewende terme (soos die gebruik om ’n persoon se naam aan ’n term te koppel) d) Die leksikograaf moenie vaag nie, maar spesifiek wees e) Terme moet kort en so eenvoudig moontlik wees f) Verbandhoudende konsepte moet geassosieer kan word met die terminologie en g) Daar moet ’n linguistiese verband wees tussen die vertaalde terme in al die belangrikste tale, sodat die terme herkenbaar in al die belangrikste tale is. 1.3.3.3.4 Aspekte van vormkommentaar Korrekte spelling is uiteraard belangrik vir enige woordeboek. ’n Taal wat uit verskeie dialekte bestaan, moet ’n voorkeur plaas op ’n bepaalde dialek. Dialekte impliseer dikwels verskillende spellingvorme, derhalwe moet die standaardspelling uit die voorkeur dialek geselekteer word. In sommige gevalle (soos in historiese woordeboeke) word die spellingvariante en dialektiese vorme ook aangedui, maar ’n enkele spellingvorm as kanonieke vorm moet in die woordeboek opgeneem word (Landau 1984: 77). Die uitspraak van ’n lemma is nog ’n datatipe wat woordeboekgebruikers opsoek (Gouws 1989: 253). Al-Kasimi (1977: 35) wys daarop dat die gedrukte woord alleen lank nie meer die enigste manier van massakommunikasie is nie. Die gesproke woord se rol het ewe belangrik geword in die hierdie era van telefone, televisie, ensovoorts. Volgens Gouws (1989: 253) is uitspraakleiding een van ’n woordeboek se preskriptiewe funksies. Verder noem Gouws dat uitspraak egter net ’n klein deeltjie van elke woordeboekartikel uitmaak. Zgusta (1971:326) soos Gouws (1989: 209 en 253) noem dat grammatiese en uitspraakdata op verskillende wyses deur verskillende woordeboeke aangedui word. Ook Zgusta meld dat hierdie verskille bepaal word deur die woordeboek se doel. Die meeste woordeboeke voeg grammatiese data by die lemma. Dikwels word die uitspraak van die lemma ook aangedui. Zgusta (1971: 326 en 327) noem verder dat sommige woordeboeke ter wille van die doeltaalspreker grammatiese en uitspraakdata by die vertaalekwivalente ook aantoon. 19 1.3.3.3.5 Aspekte van semantiese kommentaar 1.3.3.3.5.1 Inleiding Volgens Zgusta (1971: 252) word betekenisdata op vier maniere aangebied: a) deur leksikografiese definisies b) deur sinonieme c) deur verklarings en d) deur aantekeninge. Gouws (1989: 113) weer groepeer betekenisdata in drie hoofgroepe, naamlik a) betekenisverklaring b) die aanduiding van betekenisbetrekkinge en c) die weergawe van vertaalekwivalente. In die bespreking wat hierna volg, word gefokus op die indeling volgens Gouws (1989: 113 e.v.). Gouws (1989: 113) is van mening dat die meeste woordeboekgebruikers hoofsaaklik betekenisinligting in woordeboeke soek. Daarom dat hierdie komponent eintlik die sentrale deel van ’n woordeboekartikel uitmaak. 1.3.3.3.5.2 Betekenisverklaring 1.3.3.3.5.2.1 Definisies Volgens Gouws (1989: 113) is betekenisverklaring die kerntaak van die opsteller van ’n eentalige woordeboek. Betekenisaanduiding word deur middel van leksikografiese definisies, asook polisemie en homonimie aangebied. Polisemie en homonimie word onder punt 1.3.3.3.5.2.2 hierna bespreek. Landau (1984: 120) is van mening dat alvorens ’n woord gedefinieer kan word, moet dit eers geklassifiseer word. Ook MacArthur (1986: 32 e.v., aangehaal in Gouws 1989: 115) meld die klassifikasie van woorde deur kategorie- of groepbepaling en die skep van hiërargieë binne hierdie groepe. Landau (1984: 120) noem verder dat die tradisionele definiëringsreëls van woorde gebaseer is op Aristoteles se beginsel dat ’n woord volgens genus en differentia geïdentifiseer word. Hy sê dat “ … the word must first be defined according to the class of things to which it belongs, and then distinguished from all other things within the class. Thus, bachelor is a man (genus) who is unmarried (differentia).” Maar só eenvoudig is dit egter ook nie altyd nie, want heelwat woordeboeke sal byvoorbeeld ook ander woorde in die klas plaas, soos die voorbeeld wat Landau (1984: 120) gebruik: “ … the definition of bachelor does not distinguish it from widower, also an unmarried man but one who was formerly married and has outlived his wife.” 20 Gouws (1989: 114-115) verwys ook na die genus en differentia in wat hy noem die genus-en-differentia-definisie, een van vier definisietipes wat hy onderskei. Volgens hom bestaan die definiens van hierdie definisietipe uit twee dele, naamlik die semantiese klas (die genus) en die verskille (differentia) tussen die definiendum en die ander lede van die betrokke klas. ’n Belangrike eienskap van hierdie definisietipe is dat dit die lemma se leksikale betekenis verklaar én die lemma binne ’n breër semantiese veld plaas. Zgusta (1971: 252-253) is van mening dat definisies op sigself in twee groepe verdeel kan word, naamlik logiese en leksikografiese definisies. Eersgenoemde het te make met presiese verklaring om die definiendum ondubbelsinnig te onderskei, terwyl laasgenoemde slegs die belangrikste semantiese kenmerke bied om 'n woord van ander te onderskei. Genoemde is ook die basis vir Wiegand se voorkeur vir die term betekenisparafrase. Zgusta se twee definisiegroepe word ook deur Eksteen (1965: 15, aangehaal in Gouws 1989: 114) beklemtoon. Gouws aan die ander kant weer, verkies om alle woordeboekdefinisies onder een sambreel, naamlik leksikografiese definisies, te plaas. Onder hierdie sambreel is daar volgens hom veral vier definisietipes wat as deskriptiewe (of leksikale) definisies, die genus-en- differentia-definisies, sinoniemdefinisies en sirkeldefinisies bekend staan (Gouws 1989: 114). Dit blyk uit Gouws (1989: 114-117) dat die genus-en-differentia-definisie dié definisietipe is wat die meeste in woordeboeke aangetref word. Soos reeds genoem, verklaar dit die lemma se leksikale betekenis en plaas dit ook die lemma binne ’n breër semantiese veld. Deskriptiewe definisies weer bied verklarings aan sonder dat dit betekenisverhoudinge tussen die definiendum en ander leksikale items hoef aan te toon, byvoorbeeld die definisie van die woord ‘nieroker’ in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek: nieroker, -s. Iemand wat geen sigarette of pyp rook nie (Verklarende Afrikaanse Woordeboek. 1993, s.v. ‘nieroker’). ’n Sinoniemdefinisie aan die ander kant se definiens is 'n sinoniem van die definiendum en bied slegs ’n kruisverwysing na ’n ander lemma waar byvoorbeeld ’n genus-en-differentia-definisie verskyn wat as betekenisverklaring van die betrokke definiendum kan dien. 'n Voorbeeld van 'n sinoniemdefinisie is die volgende: pasmeter. Pedometer (Verklarende Afrikaanse Woordeboek. 1993, s.v. ‘pasmeter’). 21 Die woord ‘pedometer’ as sinoniem van 'pasmeter' word dan elders in dieselfde woordeboek deur 'n genus-en-differentia-definisie soos volg gedefinieer: pedometer, -s. Werktuig om die afgelegde loopafstand te meet, treeteller (Verklarende Afrikaanse Woordeboek. 1993, s.v. ‘pedometer’). In sirkeldefiniëring weer bevat die definiens 'n deel van die definiendum, of 'n afleiding daarvan wat beteken dat die definiendum gedeeltelik met homself verklaar word en sinvolle betekenisoordrag sodoende soms in die slag bly. 'n Voorbeeld hiervan is die lemma ‘palmietvlei’ in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek: palmietvlei, -e. Vlei waarin baie palmiete groei. (Verklarende Afrikaanse Woordeboek. 1993, s.v. ‘palmietvlei’). Zgusta stel die leksikografiese definisie (wat in woordeboeke gebruik word) teenoor die logiese definisie (wat buite woordeboeke gebruik word). Hy wys egter daarop dat hierdie definisiesoorte ook kan oorvleuel. In sulke gevalle word die leksikografiese definisie só aangebied dat dit die indruk skep dat die genus proximum en differentia specifica van ’n logiese definisie gelees word. As voorbeeld gebruik hy die definisie van to tone: “to recite in a singing tone” (The Advanced Learner’s Dictionary of Current English 1963, s.v. ‘to tone’). ‘Recite’ is volgens Zgusta die genus proximum en ‘in a singing tone’ is die aanvullende semantiese data, met ander woorde die differentia specifica (Zgusta 1971: 253-254). Zgusta (1971: 254) maan ook verder teen definisies wat té spesifiek of nie spesifiek genoeg is nie. Die definisie van ‘palmietvlei’ hierbo aangedui, is ’n voorbeeld van ’n definisie wat nie duidelik genoeg is nie. Sirkeldefinisies oor die algemeen sal dié soort definisies wees wat nie duidelik genoeg is nie. Sirkeldefinisies is aanvaarbaar mits die dele van die definiendum wat in die definiens gebruik word elders volledig verklaar word. Wanneer tegniese terme egter ter sprake is, vereis dit definisies wat wetenskaplik korrek is (logiese definisies dus), eerder as algemene definisies. Maar ’n leksikale eenheid kan ook verskillende polisemiese waardes besit (Gouws 1989: 129- 130). Volgens Gouws moet die leksikograaf in gevalle waar verskillende polisemiese waardes voorkom, ook kontekstuele data (en nie net betekenisdata nie) verskaf wat saamhang met die gebruik van die woord. Die gebruik van 'n woord in verskillende kontekste beteken nie noodwendig dat die woord telkens 'n ander betekenisonderskeiding het nie. 'n Enkele betekenisonderskeiding kan deurgaans geld, soos in die geval van die woord 'kaal'. 'Kaal' kan in verskillende kontekste gebruik 22 word, maar die betekeniskenmerk, naamlik "bedekkingloos", sal telkens dieselfde wees. Zgusta (1971: 255) noem ook dat woorde verbonde aan 'n klas soos plante, in algemene woordeboeke volgens ’n leksikografiese definisie in algemene gebruikstaal verklaar moet word. Plante (en diere) het egter ook Latynse name wat dikwels deur leksikograwe aangedui word, maar nie maklik vertaalbaar is nie omdat daar nie ’n woordelikse ooreenkoms tussen die algemene woord en die wetenskaplike term bestaan nie. ’n Ander metode wat leksikograwe ook soms gebruik, is om woorde se betekenis met voorbeelde te illustreer indien ’n definisie nie verklarend genoeg blyk te wees nie (Zgusta 1971: 256). Maar volgens Al-Kasimi (1977: 91) moet voorbeelde slegs aangewend word om die gebruiker se begrip van die grammatiese en semantiese reëls in verband met die gebruik van ’n woord te verbreed. Voorbeelde mag egter nie die plek inneem van grammatiese of semantiese verklaring nie. Voorbeelde moet slegs voorbeelde bly. Selfs ostensiewe definiëring word in sekere gevalle gebruik om die verklaring van ’n woord duideliker te maak, veral in woordeboeke wat gerig is op taalaanleerders (Zgusta 1971: 256). ’n Voorbeeld hiervan kom in die Essential English Dictionary voor. Die woord briefcase (Essential English Dictionary. 1988, s.v. ‘briefcase’) word nie net in eenvoudige Engels verklaar nie, maar ’n illustrasie van ’n aktetas is ook bygevoeg om ’n duideliker beeld by die gebruiker/aanleerder tuis te bring. Zgusta (1971: 256) meen egter dat hierdie metode met groot omsigtigheid behandel moet word en eintlik net in gevalle van toepassing moet wees waar die betekenis van ’n woord aan die meerderheid van daardie woordeboekgebruikers onbekend is. Al-Kasimi (1977: 96-102) dui aan dat illustrasies ook in meertalige woordeboeke gebruik word. Hy wys daarop dat illustrasies eintlik ’n belangrike hulpmiddel vir die leksikograaf is. Behalwe vir groter duidelikheid soos deur Zgusta (1971: 256) beklemtoon, noem Al-Kasimi ook dat illustrasies gebruik kan word in gevalle waar vertaalekwivalente net te veel woorde sal vereis. Al-Kasimi wys daarop dat illustrasies kompak, realisties en interpreteerbaar moet wees. Zgusta (1971: 257) wys ook daarop dat definisies woorde moet bevat wat as lemmas in die woordeboek verklaar word. Verder moet definisies verstaanbaar wees. Indien ’n enkele definisie onduidelik of moeilik verstaanbaar blyk te wees omdat die lemma byvoorbeeld meer as een betekenis het, kan die leksikograaf elkeen van die 23 betekenisse (genommer) by die lemma aandui. Uit die Verklarende Afrikaanse Woordeboek lyk ’n voorbeeld hiervan soos volg: seweweeksvaring, -s. 1. Sekere soort varing. 2. Soort varingagtige klawer (Verklarende Afrikaanse Woordeboek 1993, s.v. ‘seweweeksvaring’). Zgusta (1971: 258) noem ook dat daar in die aanbieding van definisies nie eenvormigheid bestaan nie. Ook Landau (1984: 124-132) is van mening dat definisies aan die hand van sekere definiëringsbeginsels geformuleer moet word. Eerstens moet die leksikograaf sirkeldefinisies vermy, want sê hy: “No word can be defined by itself, and no word can be defined from its own family of words unless the related word is separately defined independently.” Tweedens moet elke woord in die definisie ook gedefinieer wees, want “… a reader has a right to expect that if he/she does not know the meaning of a word used in a definition, he/she can look that word up and find it defined”. Laastens moet die lemma gedefinieer word. “The definition must define and not just talk about the word or its usage. It must answer the question, What is it?, directly and immediately”. Landau (1984: 132-138) dui ook aan wat hy as reëls vir goeie definiëringspraktyk beskou. Eerstens moet die essensiële elemente van betekenis voorrang geniet. Die definieerder moet hom-/haarself in ’n oningeligte gebruiker se posisie plaas en besluit watter definisie selfs vir hierdie persoon verstaanbaar sal wees. Tweedens moet ’n definisie ’n woord in konteks kan vervang, alhoewel hierdie reël in sekere gevalle, soos in definisies van wetenskaplike terme, nie altyd moontlik is nie. Derdens moet die definisie as vervanger van ’n woord daardie woord se grammatiese funksie weerspieël. Vierdens, en weer eens nie heeltemal ’n reël wat konsekwent toegepas kan word nie, is dat ’n definisie eenvoudig moet wees. Sekere woorde, alhoewel op die oog af eenvoudig, kan bloot net nie deur eenvoudige definiëring verstaanbaar gemaak word nie. Dit vereis noodwendig ingewikkelder bewoording. Landau voer verder aan dat sekere woorde se betekenis alleenlik duidelik word as mense daarmee grootword. Ook Kuhn (1980, in Zgusta (red.) 1980: 115-121) verwys na ’n aantal soortgelyke problematiese gevalle en toon aan dat die probleem alleenlik met aanhalings (soos uit bekende skrywers se werke) en voorbeeldsinne opgelos kan word. Verder is Landau (1984: 134-137) ook van mening dat eenvoud nie altyd noodwendig beter is nie, want die teikenmark bepaal die definisieformulering. ’n 24 Definisie in ’n woordeboek gerig op hoërskoolleerders, sal byvoorbeeld beslis eenvoudiger wees as ’n definisie van dieselfde lemma in ’n tegniese woordeboek. Eenvoud impliseer dus eintlik dat ’n definisie in eenvoudig moontlike terme, op die punt af en so duidelik moontlik geformuleer moet wees. Die gebruikersprofiel sal hier bepalend wees. Vyfdens moet definisies ook bondig wees omdat woordeboekruimte dikwels beperk is. Landau (1984: 137) sê dat “The art of defining depends not only on the ability to analyze and understand what words mean, but equally on the ability to express such meanings succinctly.” Laastens moet dubbelsinnigheid in definisies vermy word. Indien ’n bepaalde woord in ’n definisie meer as een betekenis kan hê, moet daar in die definisie ’n aanduiding wees in watter sinsverband die woord gebruik word. Laasgenoemde vind eintlik aansluiting by homonimie wat hierna (4.3.2.2) onder die soeklig kom. Verder verskaf Landau (1984: 138-144) ook riglyne vir die definiëring van woorde na aanleiding van hulle woordsoortlike kategorie. Selfstandige naamwoorde is volgens hom (Landau 1984: 138-139) die maklikste definieerbaar. Wanneer ’n selfstandige naamwoord gedefinieer word, is die voorkoms, doel en samestelling van die objek wat gedefinieer moet word van belang. ’n Vraag wat die leksikograaf altyd moet beantwoord, is Wat is dit? ’n Voorbeeld van só 'n definisie is die definisie van die woord ‘krawat’ in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek: krawat, -te. Dun serp wat mans binne ’n oopnekhemp dra (Verklarende Afrikaanse Woordeboek 1993, s.v. ‘krawat’). Hierdie riglyn is veral van toepassing op algemene woordeboeke en minder op wetenskaplike en tegniese woordeboeke. Dikwels gebeur dit ook dat konnotasie ’n aspek is waaraan die leksikograaf aandag moet skenk, soos byvoorbeeld in die geval van so dronk soos 'n eendjie met as konnotasie dat die persoon 'n dronklap is. Wat die definiëring van byvoeglike naamwoorde (Landau 1984: 140) betref, het elke woordeboek ’n bepaalde styl van aanbieding. Weer eens is die riglyn dat dit so bondig moontlik moet wees, van toepassing. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek maak by die definiëring van woorde wat tot hierdie woordsoort behoort onder andere gebruik van die woorde ‘wat’ en ‘van’, soos in die geval van die volgende verklarings: 25 liefderik …; wat baie liefde betoon, liefderikheid …; hoedanigheid van liefderik wees [kursief self aangebring] (Verklarende Afrikaanse Woordeboek 1993, s.v. ‘liefderik’ en ‘liefderykheid’). Werkwoorde egter is volgens Landau (1984: 141-143) die moeilikste woordsoort om te definieer. Hy voer twee redes hiervoor aan: "... in part because many verbs have numerous senses that must be discriminated, and partly because of the complex relationship between verbs and their objects" (Landau 1984: 141). Die lemma tuislê ('n werkwoord) se verskillende polisemiese waardes word byvoorbeeld in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek soos volg aangedui: tuislê, -ge-. 1. Nie van die huis weggaan nie. 2. Nie gaan werk nie. 3. Nie gaan kuier nie; … (Verklarende Afrikaanse Woordeboek 1993, s.v. ‘tuislê’). Ook wanneer ander woordsoorte gedefinieer word, soos bywoorde en voornaamwoorde byvoorbeeld, word bywoorde en voornaamwoorde in die definisies gebruik. In beide gevalle word van voorsetselfrases ook gebruik gemaak om aan te toon hoe die betrokke bywoord of voornaamwoord optree. Definisies van voegwoorde weer word deur die konteks bepaal en sal derhalwe (in sekere gevalle) ook ander voegwoorde, bywoorde of voorsetselfrases insluit (Landau 1984: 144), byvoorbeeld: want. ...: ek kan nie kom nie, ~ek was nie tuis nie, omdat, aangesien, vermits (Verklarende Afrikaanse Woordeboek 1993, s.v. 'want'). Leksikograwe maak egter ook dikwels definiëringsfoute. Landau (1984: 144-145) wys op die volgende algemene foute wat sommige leksikograwe begaan: a) Hulle definisies is soms bloot handboekbeskrywings b) Hulle dui nie alle betekenisvelde van ’n lemma binne die dekkingsveld van ’n betrokke woordeboek aan nie c) Selfverduidelikende inskrywings (dikwels gebruik by wetenskaplike terme) is nie geldige leksikale eenhede nie, maar verskyn tog as sodanig in sommige woordeboeke d) Leksikograwe besef nie altyd nie dat ’n sinoniem in wetenskaplike verband ’n presiese vervanging van ’n woord deur ’n ander woord is nie e) Ook besef hulle nie altyd nie dat die konteks van ’n definisie nie noodwendig ’n verwysingsraamwerk aan die leser verskaf nie. 1.3.3.3.5.2.2 Polisemie en homonimie Soos reeds genoem, dui Gouws (1989: 114) aan dat betekenisoordrag nie net deur middel van definiëring nie, maar ook deur middel van die aanduiding van polisemie en homonimie geskied. Hy wys daarop dat 'n lemma soms meer as een 26 betekenisverklaring vereis aangesien dit as 'n enkele leksikale item verskillende verwante betekenisonderskeidinge (polisemie waardes) kan hê. Die betrokke polisemiese waardes moet dan in een artikel behandel word. Die leksikograaf moet ook vooraf besluit watter ordeningsbeginsel van toepassing sal wees. Verder noem Gouws (1989: 114) dat polisemie van homonimie onderskei moet word op grond van 'n hanteringsverskil tussen verwante en onverwante betekenisaspekte. Soms het verskillende leksikale items dieselfde vorm. In die geval van polisemie bestaan daar een leksikale item met meer as een betekenisonderskeiding. Zgusta (1971: 273) is van mening dat die meerderheid leksikale eenhede polisemies van aard is. Die detail en hoeveelheid data in verband met polisemiese gevalle, word egter deur die soort woordeboek bepaal. Daarby moet ’n leksikograaf daarteen waak dat hy/sy nie polisemiese verskynsels identifiseer wat in werklikheid nie bestaan nie. Die terme betekenisonderskeidinge en betekenisse hierbo genoem, word verder deur Gouws (1989: 121-122) onder die oorkoepelende term betekeniswaarde geplaas. Waar ’n reeks betekenisonderskeidinge van ’n leksikale item voorkom, verwys Gouws daarna as ’n polisemiese paradigma. Binne hierdie polisemiese paradigma kan aanpassings plaasvind wat Gouws polisemiese uitbreiding (waar nuwe betekenisonderskeidinge bygevoeg word) en polisemiese beperking (waar betekenisonderskeidinge in onbruik verval het), noem. Gouws (1989: 126-128) wys daarop dat dit dikwels moeilik is om tussen polisemie en homonimie te onderskei. Die leksikograaf moet bedag wees op gevalle waar 'n oorgang van verskillende betekenisonderskeidinge na verskillende betekenisse reeds plaasgevind het. In sulke gevalle behoort die leksikograaf hierdie betekeniswaardes onder homonimiese lemmas te plaas. So kan die woord ‘kapel’ as voorbeeld gebruik word. Die Woordeboek van die Afrikaanse taal bied die volgende verklarings vir ‘kapel’ aan: kapel. ... A. 1. a. (veral R.K. en Anglikaanse Kerk) Ingeslote ruimte, gew. as deel van die kerk, abdy of katedraal, maar soms ook as afsonderlike alleenstaande gebou en dikw. ook organies deel van 'n kasteel, klooster, paleis of private woning, bestem vir bepaalde beslote godsdiensoefeninge; ... B. Enigeen van die uiters giftige slange beh. t/d geslagte Naja en Sepedon (fam. Proteroglypha) m/d gemeenskaplike kenmerk dat hulle, ter afskrikking van of verdediging teen 'n vyand, met ong. die helfte van die lyf orent en die nek kapvormig verplat as gevolg van die laterale verbreding van 'n aantal nekribbetjies wat 'n dun raampie 27 vorm waaroor die vel styf span ... (Woordeboek van die Afrikaanse Taal, s.v. 'kapel'). Volgens Gouws (1989: 128) verskil leksikograwe ook in hulle siening van wat as polisemie en wat as homonimie in woordeboeke behandel moet word. Die meerfunksionaliteit waarna verwys is, word in byvoorbeeld die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal as polisemiese waardes van ’n lemma behandel, terwyl die Verklarende Afrikaanse Woordeboek hierdie verskynsel as homonieme beskou. Geleerdes soos De Villiers en Singh gebruik die term grammatiese homonieme daarvoor (De Villiers 1975: 70 en Singh 1982: 55, aangehaal in Gouws 1989: 128). Die onderskeid tussen polisemie en homonimie word getref op grond van die verhouding tussen die verskillende betekeniswaardes. Indien daar nie ’n betekenisverwantskap bestaan nie, kan die leksikograaf dit as verskillende homonimiese lemmas hanteer. Indien daar egter wel ’n betekenisooreenkoms bestaan, moet dit onder een lemma geplaas word. Wat polisemie betref, weerspieël dit verskillende semantiese waardes van ’n leksikale item. Hierdie waardes moenie uit die konteks afgelei word nie, maar uit die leksikale item self (Gouws 1989: 129-130). Verder wys Gouws (1989: 132 en 138) daarop dat leksikograwe polisemiese waardes mikrostruktureel orden in beide een- en tweetalige woordeboeke. Hiervoor word verskillende ordeningstipes gebruik waarvan historiese ordening, ordening volgens primêre en sekondêre betekenisonderskeidinge en empiriese ordening die bekendste in eentalige woordeboeke is (Mostert 1984: 144, aangehaal in Gouws 1989: 132). Eersgenoemde ordeningstipe rangskik die onderskeie polisemiese waardes chronologies van die oudste tot die jongste waarde. Uiteraard sal hierdie ordeningstipe slegs byval vind by ’n klein groepie woordeboekgebruikers, aangesien die meeste gebruikers inligting vinnig beskikbaar wil hê en nie eintlik belangstel in die historiese ontwikkeling van ’n polisemiese waarde nie (Gouws 1989: 133). Die tweede ordeningstipe hierbo genoem, fokus meer op ’n onderlinge verhouding tussen die verskillende betekenisonderskeidinge wat dan numeries (met nommers en letters) gemerk word. Om te onderskei tussen primêre en sekondêre betekenisonderskeidinge, word diachroniese of logiese kriteria gevolg. In eersgenoemde geval word die oudste polisemiese waarde as die primêre onderskeiding eerste geplaas. In die tweede geval word ’n primêre betekeniswaarde 28 eerste geplaas, terwyl die ander betekeniswaardes logies daaruit afgelei word (Gouws 1989: 134). By hierdie primêre en sekondêre betekenisonderskeiding, noem Gouws dat Mostert (1984: 44, aangehaal in Gouws 1989: 134) ’n verdere onderverdeling in konjunkte (letterlike polisemiese waardes) en disjunkte (metaforiese/figuurlike waardes) betekenisonderskeidinge maak. In gevalle waar dit voorkom, word die konjunkte betekenisonderskeidinge eerste geplaas, terwyl die disjunkte waardes daarna volg. ’n Voorbeeld hiervan is die woord ‘plafon’, soos deur die Verklarende Afrikaanse Woordeboek verklaar: plafon, -ne. 1. Solder, uitgevoerde (met hout, staal, ens.) bokant van ’n vertrek. 2. (fig.) Hoogste peil wat toegelaat is of bereik kan word, bv. van lone, pryse, ens.; hoogtegrens; ~kroonlys (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. ‘plafon’). Die derde ordeningstipe, naamlik empiriese ordening, is volgens Gouws (1989: 135-136) die metode wat deesdae algemeen in sinchroniese woordeboeke gebruik word. Hiervolgens word betekenisonderskeidinge in verskillende gebruiks- en registerkategorieë georden. In die praktyk gebeur dit soms dat minder betroubare frekwensiebepalers (soos die leksikograaf se intuïsie en ander moedertaalsprekers) vir dié ordening gebruik word, terwyl 'n statistiese bepaling daarvan deur middel van frekwensietellings nie ten volle benut word nie. 'n Korpus behoort ook 'n rigtinggewende rol in die empiriese rangskikkingsmetode te speel. Verder word hierdie ordeningstipe volgens Gouws (1989: 136) ook nie altyd probleemloos toegepas nie, aangesien dit soms nie duidelik is watter betekenisonderskeidinge die algemeenste voorkom nie. Zgusta (1971: 275-276) wys egter daarop dat daar in werklikheid nie ’n enkele spesifieke reël is wat leksikograwe kan toepas in die ordening van polisemiese inskrywings nie. Dikwels speel ’n gebrek aan data ’n beduidende rol. In ander gevalle weer bestaan daar wel voldoende data, maar die reëls kan dan weer nie in alle gevalle toegepas word nie. Soos genoem, word polisemiese ordening ook in tweetalige woordeboeke toegepas. Vertaalekwivalente in sulke woordeboeke kan doeltaalsinonieme wees, of vertaalekwivalente van verskillende polisemiese waardes van die brontaalvorm. Die leksikograaf moet die rangskikkingsvolgorde van die vertaalekwivalente motiveer. Ook moet daar in die makrostrukturele ordening voorsiening gemaak word vir homonimiese items (Gouws 1989: 137). So byvoorbeeld is daar vir die homonimiese 29 leksikale items 'mat' voorsiening gemaak vir vyf lemmas in die Tweetalige Woordeboek. Wat die makrostrukturele ordening van subleksikale lemmas betref, wys Gouws (1989: 138-139) daarop dat daar tussen streep- en leksikale lemmas hoegenaamd nie homonimiese of polisemiese verhoudinge bestaan nie. Die koppelteken van ’n streeplemma dui aan dit ’n subleksikale rol speel en moet as deel van die lemma beskou word. Derhalwe verskil streep- en leksikale lemmas vormlik. Sommige woordeboeke, soos die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, maak volgens Gouws die fout deur streep- en leksikale lemmas as komponente van ’n homonimiese paar aan te bied, terwyl daar in werklikheid vormlike verskille tussen hulle bestaan. Streeplemmas moet ook nie aaneenlopend met leksikale lemmas genommer word nie. Dit moet liefs afsonderlik van die lemmas verskyn. In gevalle waar daar meer as een leksikale of subleksikale lemma is, word superskrifte gebruik om ’n homonimiese onderskeid tussen óf die leksikale óf subleksikale lemma aan te toon. Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal dui ’n homonimiese verhouding in ’n leksikale paradigma aan deur twee of meer leksikale lemmas deur middel van ’n superskrif van mekaar te skei om sodoende aan te dui dat die leksikale items nie betekeniswaardes besit wat ooreenkomste toon nie. ’n Voorbeeld hiervan is die lemmas kryt 1 en kryt 2 wat in die HAT verskyn. 'n Voorbeeld van die gebruik van superskrifte om homonimie tussen twee subleksikale lemmas aan te toon, is byvoorbeeld para- 1 en para- 2 wat in dieselfde woordeboek aangegee word. 1.3.3.3.5.3 Betekenisbetrekkinge Die tweede tipe betekenisdata waarna Gouws (1989: 113 en 139) verwys, is betekenisbetrekkinge. Volgens Gouws (1989: 140) moet die leksikograaf veral twee tipes betekenisbetrekkinge aandui, naamlik semantiese insluiting en semantiese teëstelling, asook semantiese aansluiting as ’n mindere rolspeler. Betekenisbetrekkinge gerig op semantiese insluiting, kan in hiponimie en sinonimie onderverdeel word. Hiponieme is daardie leksikale items waarvan die betekenis ingesluit kan wees in die betekenis van ander leksikale items, soos byvoorbeeld die woord ‘klere’ (die superordinaat) wat ’n algemener beteniswaarde het as die woord ‘hemp’. ‘Hemp’ is ’n hiponiem (of subordinaat) van ‘klere’ (Gouws 1989: 141). Die woorde ‘pedagogies’ en ‘opvoedkundig’ weer is sinonimies van aard, want ‘pedagogies’ impliseer ‘opvoedkundig’ en andersom. In 'n artikel waar verskillende 30 sinonieme verstrek word, word daar na ’n sinoniemparadigma verwys. Twee duidelike sinoniemkategorieë word onderskei, naamlik absolute en gedeeltelike sinonieme. By eersgenoemde is ’n absolute betekenisoorvleueling en by laasgenoemde slegs 'n gedeeltelike betekenisoorvleueling ter sprake. Absolute sinonieme staan in 'n een-tot-een-verhouding tot mekaar. Dit kan mekaar in alle kontekste vervang sonder dat 'n verskil in betekenis ontstaan. Gedeeltelike sinonieme aan die ander kant is egter nie in alle kontekste onderling vervangbaar nie. Die rede hiervoor is omdat daar nie 'n volledige betekenisoorvleueling tussen die items bestaan nie. Verder kry nie alle lede van 'n sinoniemparadigma 'n deskriptiewe definiens in dieselfde woordeboek nie. Die betekenisomskrywing word slegs by die sinoniem met die hoogste gebruiksfrekwensie (met ander woorde die bekendste vorm) aangedui, terwyl die ander lede van die sinoniemparadigma slegs 'n sinoniemdefinisie kry wat die woordeboekgebruiker na die verklaarde lid van die paradigma verwys (Gouws 1989: 144-145). Gebruiksfrekwensie is egter nie die enigste kriterium om vas te stel waar die verklarende definisie moet verskyn nie. Ander aspekte soos vak- versus algemene gebruikstaal, verskille in styl en register, asook standaardtaal versus superstandaard- en substandaardtaal speel ook ’n beduidende rol (Gouws 1989: 147). Soos in die inleiding onder betekenisverklaring genoem, beskou Zgusta (1971: 259-263) sinonieme naas definisies as ’n metode om leksikale betekenis in verklarende woordeboeke weer te gee. Volgens hom geskied dit op twee maniere: a) Die absolute of gedeeltelike sinonieme word as bykomende data tot die definisie bygevoeg, byvoorbeeld: kreefdig, -te. Gedig waarby die reëls van agter na voor gelees ook ’n betekenis uitdruk; retrogade (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. ‘kreefdig’). b) Of die sinonieme kan alleen as definiens verskyn, byvoorbeeld: kranium, -s. Skedel, kopbeen (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. ‘kranium’). Volgens Zgusta is sinonieme veral belangrik wanneer gebruik in verskillende kontekste van toepassing is. In vertalende woordeboeke verskyn 'n stel vertaalekwivalente in die doeltaal van die lemmareeks wat in die woordeboek se brontaal aangebied word (Gouws 1989: 151-152). Dikwels bestaan daar nie 'n een-tot-een-verhouding tussen die brontaallemmas en die doeltaalvertaalekwivalente nie. Sou ’n lemma meer as een 31 vertaalekwivalent bevat, word die volle reeks vertaalekwivalente ’n vertaalekwivalentparadigma genoem. Verskillende vertaalekwivalente word vir verskillende polisemiese onderskeidinge aangebied. Indien daar nie verskillende polisemiese onderskeidinge vir ’n bepaalde lemma bestaan nie, word slegs die enkele vertaalekwivalent teenoor die betrokke lemma aangedui. Vertaalekwivalente in vertalende woordeboeke word dikwels nie met nommers aangedui soos wat polisemiese onderskeidinge in verklarende woordeboeke aangedui word nie, byvoorbeeld: worp, (-e), cast (fishing-line); fling, chuck, hurl, litter (of young) (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'worp'). Sou ’n vertaalekwivalent ook sinonieme bevat, is die leksikograaf veronderstel (uiteraard na gelang van die woordeboektipe) om die sinonieme daarvan ook aan te dui. Vertaalekwivalente wat op hierdie wyse aangebied word, staan bekend as ’n doeltaalsinoniemparadigma wat op sy beurt weer in ’n ongemerkte (’n aanduiding van absolute sinonieme as vertaalekivalente) en ’n gemerkte doeltaalsinoniemparadigma (’n aanduiding van sinonimiese vertaalekwivalente én kort betekenisverklarings), verdeel kan word (Gouws 1989: 152-155). ’n Voorbeeld van ’n ongemerkte doeltaalsinoniemparadigma is byvoorbeeld: slagtersbyl, butcher’s axe, cleaver, chopper (Tweetalige Woordeboek, s.v. 'slagtersbyl'). Van ’n gemerkte doeltaalsinoniemparadigma kan die woord ‘titularis’ as voorbeeld dien: titularis, (-se), holder (of an office), titular, official, functionary (Tweetalige Woordeboek, s.v. 'titularis'). 'Holder' is ’n gemerkte ekwivalent wat daarop dui dat hierdie woord ook ander betekenisonderskeidinge het. Blaai ’n mens na ‘holder’ in die dieselfde woordeboek, lyk die vertaalekwivalente dan ook soos volg: holder, houer, bevatter; draer; besitter, eienaar; bekleder (van ’n pos); - of an office, ampsbekleder (Tweetalige Woordeboek, s.v. 'holder'). Maar 'holder' se ekwivalente toon verder ook verskillende doeltaalsinoniemparadigmas. Hierdie doeltaalsinoniemparadigmas in die een artikel word geïdentifiseer deur die komma wat op ekwivalente volg, soos na 'houer' en 'bekleder'. 32 Die ander tipe semantiese insluiting, naamlik hiponimie, se weergawe verskyn in verklarende woordeboeke in óf voorbeelddefinisies óf genus-en-differentia-definisies. Leksikograwe maak van eersgenoemde gebruik waar die definiendum 'n superordinaat is en die definiens dié betrokke superordinaat se hiponieme insluit (Gouws: 1989: 142), byvoorbeeld: corn, corns. 1. Corn is used to refer to crops such as wheat and barley, or the seeds from these plants. EG ... a field of corn ... ... sacks of corn (Essential English Dictionary, s.v. 'corn'). Volgens Gouws (1989: 143) kom voorbeelddefinisies egter nie baie algemeen in woordeboeke voor nie, omdat die betekenisverklaring in so 'n definisie van 'n beperkte omvang is. In gevalle waar die definiendum 'n subordinaat is, maak leksikograwe van 'n genus- differentia-definisie gebruik om die definiendum in sy betekenisklas te plaas en dan van ander lede van die klas te onderskei (Gouws 1989: 142). In die volgende drie voorbeelde van genus-en-differentia-definisies uit die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, word die genus (in hierdie geval spelsoort) telkens vermeld, gevolg deur die spesifieke kenmerke wat die definiendum van ander lede van die genuskategorie onderskei. sokker (spel). Spel met 'n ronde voetbal waarby die bal nie met die hand geraak mag word nie, behalwe deur die doelwagter; ... rugby. Spel met 15 spelers aan 'n kant wat met 'n ovaalbal gespeel word wat met die hande gedra en geskop kan word, voetbal, rugbyvoetbal; ... hokkie. Soort balspel waar 'n harde bal met stokke na die doel geslaan word; ... [Kursief telkens self aangebring.] (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'sokker', 'rugby', 'hokkie'). Gouws (1989: 158) is van mening dat betekenisbetrekkinge gerig op semantiese teenstelling, waardevolle inligting aan ’n woordeboekgebruiker verskaf, maar dat nie alle leksikograwe daarvan gebruik maak nie. Semantiese teenstelling is vir die algemene woordeboekgebruiker bloot antonieme, maar in werklikheid bied die leksikograaf daarmee veel meer data aan as net antonieme. Die inskrywings teenoorgesteldes of teenoor word gewoonlik as struktuurmerkers gebruik om die opponerende leksikale items aan te dui. Hier kan Gouws (1989: 158) se voorbeeld uit die Nasionale Woordeboek aangehaal word. Die data in die artikel van 'hierdie' (Nasionale Woordeboek, s.v. 'hierdie') lui soos volg: 33 hierdie "dit wat naby die spreker is, wat (so pas) genoem is; teenoor daardie." (Kursief self aangebring.) Betekenisbetrekkinge gerig op semantiese aansluiting, word deur Gouws (1989: 157-158) as ’n tussenkategorie beskou. In só ’n geval verskaf die leksikograaf ’n kruisverwysing na ander leksikale items wat semantiese aansluiting by die betrokke lemma het. Hier maak die leksikograaf van die afkorting van die woord vergelyk (vgl.) as merker gebruik. Gouws (1989: 157) gebruik onder andere die data by die lemma 'imbesiel' uit die Nasionale Woordeboek as voorbeeld: imbesiel "persoon met 'n I.K. van 25 tot 50 en 'n verstandsouderdom van tussen 2 en 7 jaar. Vgl. idioot, moroon" (Nasionale Woordeboek, s.v. 'imbesiel'). (Kursief self aangebring.) 1.3.3.3.5.4 Vertaalekwivalente Die derde hoofgroepering van betekenisdata volgens Gouws (1989: 113) is die weergawe van vertaalekwivalente wat in tweetalige woordeboeke aangetref word. Oor die doel van ’n tweetalige woordeboek, skryf Zgusta (1971: 294) die volgende: “The basic purpose of a bilingual dictionary is to coordinate with the lexical units of one language those lexical units of another language which are equivalent in their lexical meaning.” Volgens Gouws (1989: 161-163) is die voorvereistes vir vertaalekwivalente die optrede daarvan as plaasvervangers en ook as vertalingsoorweging in ’n funksionalistiese benadering waar die boodskap soos vervat in die brontaal ook in die doeltaal oorgedra moet word. Nog ’n belangrike vereiste vir die verskaffing van vertaalekwivalente is die korrekte toepassing van die omkeerbaarheidsbeginsel wat veral van belang is vir tweerigtingvertalende woordeboeke, soos byvoorbeeld die Tweetalige Woordeboek. Die omkeerbaarheidsbeginsel impliseer dat die (Engelse) vertaalekwivalente wat byvoorbeeld vir ’n (Afrikaanse) lemma verskaf word, ook lemmastatus in die (Engelse) afdeling van die woordeboek moet hê. Hierdie beginsel word egter dikwels oortree, omdat die vertaalekwivalente wat langs ’n lemma verskyn nie almal altyd lemmastatus geniet nie. Die soeke na vertaalekwivalente is nie ’n probleemvrye proses nie (Zgusta 1971: 294-297). Die eerste wesenlike probleem wat Zgusta noem, is die dilemma wat kultuurgebonde woorde vir die leksikograaf skep. Al-Kasimi (1977: 61) meld ook dat hierdie probleem een van ’n leksikograaf se grootste probleme is. ’n Woord kan 34 byvoorbeeld vir ’n bepaalde fenomeen in die brontaal bestaan, maar nie in die doeltaal nie, aangesien dieselfde fenomeen nie by die doeltaalleser bekend is nie. Wanneer dit onmoontlik is om ’n vertaalekwivalent in die doeltaal te verskaf, moet die leksikograaf dan ’n kort beskrywing daarvan langs die lemma voorsien. Tweedens is die konnotasie van woorde binne kultuurverband ook dikwels ’n probleem. Derdens veroorsaak kultuurveranderinge in ’n gemeenskap ook dat die konnotasie van ’n woord aangepas word. ’n Vierde probleem (ook deur Gouws 1989: 163 uitgewys), is dat daar selde op betekenisvlak 'n een-tot-een-verhouding tussen lemma en vertaalekwivalent bestaan. By hierdie lysie probleme kan ook ’n vyfde een gevoeg word. Al-Kasimi (1977: 61) wys daarop dat wetenskaplike en tegnologiese terminologie dikwels bloot nie in die woordeskat van veral ontwikkelende tale bestaan nie. Al-Kasimi (1977: 62-64) noem dat dit altyd moontlik is om vertaalekwivalente tussen sinne te bewerkstellig, maar dat dit heelwat moeiliker is om dieselfde tussen leksikale items te doen. Die rede hiervoor is omdat daar so ’n noue band tussen taal en kultuur bestaan en omdat woorde eksplisiete simbole van ’n taal is. Absolute ekwivalente met dieselfde semantiese en grammatiese funksies is in werklikheid baie skaars. Die belangrikste redes wat Al-Kasimi daarvoor aanvoer, is dat a) tale verskil ten opsigte van hulle grammatiese kategorieë b) tale se woordsoorte verskil c) ’n leksikale eenheid in ’n taal nie altyd ’n ooreenstemmende leksikale eenheid in ’n ander taal het nie d) tale verskillende grammatiese patrone het om sekere ervaringsaspekte uit te druk e) ’n ooreenstemmende leksikale item in ’n ander taal dalk ’n ongewenste konnotasie het f) ’n leksikale eenheid in ’n taal uit twee verskillende komponente kan bestaan, terwyl die ekwivalent in die ander taal uit slegs een komponent bestaan en g) twee verwante items in twee verskillende tale nie dieselfde semantiese veld dek nie. Zgusta (1971: 294-297) noem dat leksikale diskrepansies dikwels eindelose probleme vir vertalers veroorsaak, alhoewel dit nie hulle taak absoluut onmoontlik maak nie, want vertalers hoef darem nie altyd woord-vir-woord te vertaal nie. ’n Vertaler kan uit ’n tweetalige woordeboek ’n vertaalekwivalent kies wat naastenby dieselfde betekenis in konteksverband het. In só ’n geval word die reeds vermelde funksionalistiese benadering gevolg. Zgusta (1971: 298-299) wys verder daarop dat wanneer ’n tweetalige woordeboek beplan word, die leksikograaf vooraf moet besluit watter soort tweetalige woordeboek 35 in die visier is. Dan moet die samesteller ook besluit watter twee tale van toepassing gaan wees en wat die konsekwensies van hierdie taalkeuses vir woordeboeksamestelling inhou. So kan die kultuur van die gekose tale hemelsbreed verskil wat meer ensiklopediese verklarings sal vereis. Of die grammatiese struktuur van die twee tale kan baie verskil wat sal vereis dat die samesteller vooraf moet besluit in watter vorm hierdie verskille behandel gaan word. Daarby is die stylvlak van die ekwivalente-aanbieding ook belangrik en moet genoemde stylvlak deurgaans gehandhaaf word. Ook die behandeling van beide bron- en doeltaal is essensieel. Aspekte van ’n taal wat vir die brontaalspreker as vanselfsprekend beskou word, is nie noodwendig vanselfsprekend vir die doeltaalspreker nie. Derhalwe sal die doeltaalspreker veel meer inligting as die brontaalspreker vereis. Zgusta (1971: 299) meen dat die leksikograaf se doel met die samestelling van ’n tweetalige woordeboek ’n beduidende rol speel. Die doel daarvan kan wees dat die woordeboek moet dien as ’n hulpmiddel om tekste in die brontaal te verstaan, of ’n beskrywing van die brontaal te bied, of as hulpmiddel om tekste in die doeltaal te skryf. Hy (Zgusta 1971: 300 en 301) verduidelik genoemde drie doelwitte soos volg: a) Indien die een taal die brontaal is (byvoorbeeld Afrikaans) en die doel daarvan slegs is om begrip van die brontaal te bied, sal die lemma met sy vertaalekwivalente soos volg lyk: namaker, imitator, counterfeiter, forger. b) Sou 'n woordeboek egter die Afrikaans wil beskryf, sal dit soos volg lyk: [Afr.] “Die namaker maak geld, dokumente, kunswerke onwettig na." [Eng.] forger. c) Indien 'n woordeboek ten doel het om die Afrikaanssprekende (doeltaalspreker) van hulp te wees om Engelse tekste te skryf, sal die Afrikaanse vertaalekwivalent voorafgegaan word deur ’n kort beskrywing ter wille van duidelikheid, byvoorbeeld: forger (iemand wat geld, dokumente, kunswerke onwettig namaak), namaker, aangevul met voorbeeldmateriaal wat dien as konteksleiding. d) Waar die doel is om die Afrikaanssprekende te help om Engelse tekste te verstaan, kan beide inskrywings in verkorte vorm aangebied word, byvoorbeeld: [Eng.] forger, [Afr.] namaker. In hierdie geval word koteksleiding verskaf. e) Indien ’n woordeboek se doel is om meer beskrywend te wees, moet dit óf in konteks die woord illustreer, byvoorbeeld [Eng.] girl (the boy and the girl are in the same class), [Afr.] dogter, óf dit moet dubbelsinnigheid deur middel van ’n semantiese verklaring uit die weg ruim, byvoorbeeld : [Eng.] daughter (one's female child) [Afr.] dogter, [Eng.] girl (anybody’s female child, a young woman), [Afr.] 36 meisie. f) Wanneer die tweetalige woordeboek, byvoorbeeld ’n Engels-Afrikaans- woordeboek, se doel is om die Afrikaanssprekende te help om Engelse tekste te skryf, is uitgebreide data nodig om byvoorbeeld aan te dui in watter verband die woorde [Eng.] daughter, [Afr.] dogter, [Eng.] girl, [Afr.] meisie. In aansluiting by genoemde, moet melding gemaak word van Tarp (2000: 196-198) se siening in verband met leksikografiese funksies. Soos vroeër in hierdie hoofstuk vermeld, noem Tarp dat genoemde funksies bepaal kan word wanneer die leksikograaf weet wie die gebruikers gaan wees, watter eienskappe hierdie gebruikers openbaar, in watter situasies die gebruikers gaan optree en wat hulle behoeftes is. Soos genoem, is Tarp van mening dat woordeboekfunksies onderverdeel kan word in kommunikatiewe en kennisfunksies, asook meer gedetailleerde funksies wat van toepassing is op 'n verskeidenheid gespesialiseerde woordeboeke, soos die beoogde model vir 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Kommunikatiewe funksies het te make met teksresepsie en -produksie in óf die moeder- óf die tweede taal, asook vertaling uit die moedertaal in die tweede taal en andersom. Die tweede stel funksies, naamlik kennisfunksies, het te make met algemene (onder andere etimologiese) data. Wat gespesialiseerde woordeboeke betref, noem Tarp dat dit algemeen aanvaar word dat die gebruiker 'n gevorderde vermoë in die brontaal het. Ook dat die vertaler se linguistiese agtergrond in die tweede taal op 'n betreklike hoë vlak is. Maar, beweer Tarp (2000: 197), "... if the dictionary is also conceived to serve experts in the respective subject field, you cannot necessarily expect such a foreign-LGP competence. Hence, in order to meet the needs of such users, you have to give more detailed general information about the foreign language." Verder aan kom Tarp (2000: 198) dan tot 'n gevolgtrekking: "Thus, in order to meet the different needs of these users, the dictionary must include the necessary special information about the subject field." Wat dataversameling vir woordeboeke betref, is Zgusta (1971: 307) van mening dat die samesteller van ’n tweetalige woordeboek soms ’n makliker taak op hande het as die samesteller van ’n eentalige woordeboek. Die rede wat hy hiervoor aanvoer, is dat die samesteller van ’n tweetalige woordeboek beskikbare data in bestaande woordeboeke vir die spesifieke twee tale het. In die geval waar die leksikograaf ’n woordeboek vir een spesifieke taal moet skryf, is die taak soms egter soveel groter. Die keuse van woorde wat in die voorgenome woordeboek opgeneem gaan word, word uiteraard bepaal deur die soort woordeboek wat beoog word (Zgusta 1971: 309). 37 Volgens Al-Kasimi (1977: 58) en Zgusta (1971: 312) is die samesteller van ’n tweetalige woordeboek se belangrikste taak die identifisering van vertaalekwivalente. ’n Vertaalekwivalent is ’n leksikale eenheid in die doeltaal wat dieselfde leksikale betekenis as die ooreenstemmende leksikale eenheid in die brontaal het. Dit vereis dus dat die leksikale betekenis van die twee leksikale eenhede absoluut identies in alle opsigte moet wees (denotasie, konnotasie en toepassingsmoontlikhede). Genoemde gebeur egter baie selde as gevolg van groot taalverskille, behalwe in die geval van wetenskaplike terminologie. Wat in werklikheid gebeur, is dat die leksikale betekenis van ’n leksikale eenheid in die doeltaal, slegs gedeeltelik identies is aan die leksikale eenheid in die brontaal. Zgusta praat hier van gedeeltelike vertaalekwivalente. Verder beweer Zgusta (1971: 313) dat leksikale ekwivalente verkieslik so geselekteer moet word dat dit behoort tot dié kategorieë wat as vertaalekwivalente beskou word. Maar dit kan ook gebeur dat daar ’n botsing voorkom tussen genoemde beginsel en die werklike leksikale ekwivalente van leksikale eenhede wat eintlik tot verskillende kategorieë behoort. In só ’n geval is Zgusta van mening dat die korrekte vertaalekwivalent dan eerder voorkeur moet geniet. As voorbeeld gebruik hy die Duitse selfstandige naamwoord Handarbeit wat op ’n produketiket sal verskyn en waarvan die Engelse ekwivalent hand-made ’n byvoeglike naamwoord sal wees. Die Engelse selfstandige naamwoord hand-work dui op die arbeid self en nie op die resultaat nie. Probleempunte rakende ekwivalensie tussen leksikale eenhede in die twee tale moet met die aanvang van die woordeboeksamestelling geïdentifiseer word en dan moet die leksikograaf liefs op eenvormige behandeling daarvan besluit (Zgusta 1971: 313). As voorbeeld gebruik hy die Tsjeggiese woord cihlový en die Engelse woord brick. Die twee woorde kan volgens Zgusta net so verskyn, met ander woorde cihlový – brick (met verkieslik ’n aanduiding van hierdie soort vertaalekwivalensie in die voorwoord of grammatiese bylae), of die klas cihlový – brick (adj.) kan aangedui word, of cihlový (adj.) – brick (adj.) of (attr.), of ’n voorbeeld kan bygevoeg word: cihlový – brick (brick wall), ensovoorts. Hierdie besluite word altyd bepaal deur twee faktore, naamlik: a) vir wie die woordeboek saamgestel word en b) wat die doel daarmee is (Zgusta 1971: 314). Zgusta (1971: 314) beklemtoon verder dat indien kategorie-ekwivalensie van woordsoorte nie bestaan nie, daar voortgegaan moet word met ekwivalensie van leksikale betekenis. 38 Gouws verskaf ’n gedetailleerde uiteensetting van ekwivalentverhoudinge waarmee die leksikograaf rekening moet hou. Hy (Gouws 1989: 163) onderskei ook soos Zgusta (1971: 315) tussen absolute en gedeeltelike ekwivalente. Eersgenoemde is waar die lemma en vertaalekwivalent op dieselfde betekenisvlak lê, terwyl laasgenoemde dui op slegs sekere betekenisooreenkomste. Waar daar in ’n een-tot- een-verhouding ’n volkome ekwivalentverhouding bestaan, verwys Gouws (1989: 164) daarna as kongruensie. Kongruensie is absolute ekwivalensie met bepaalde perke. Dit kom veral voor by vak- en gespesialiseerde taal. Maar waar daar ’n een-tot- meer-as-een-ekwivalentverhouding bestaan, verwys Gouws (1989: 167) daarna as divergensie. In só ’n geval word daar vir ’n lemma meer as een vertaalekwivalent verskaf sonder dat dit noodwendig impliseer dat óf die lemma óf die vertaalekwivalent polisemies is. Beide kongruensie en divergensie se ekwivalentverhouding geld op semantiese én leksikale vlak. Gouws (1989: 172) wys verder daarop dat sommige vertaalekwivalente in ’n meer- as-een-tot-een-ekwivalentverhouding staan, met ander woorde die omgekeerde van divergensie. Sulke ekwivalentverhoudinge word konvergensie genoem. Konvergensie beteken dat ’n vertaalekwivalent deur verskillende lemmas gedeel word. ’n Kombinasie van konvergensie en divergensie kan ook voorkom wat dan as multivergensie bekend staan (Rettig 1985: 94, aangehaal in Gouws 1989: 173). Soms gebeur dit dat daar in die doeltaal hoegenaamd nie ’n vertaalekwivalent vir ’n bepaalde lemma in die brontaal bestaan nie. Daar is dus ’n leksikale gaping in die doeltaal. In sulke gevalle moet die leksikograaf dan óf ’n vertaalekwivalent skep, óf ’n parafrase ter verduideliking in die doeltaal aanbied, óf ’n kombinasie van beide. Hierdie verskynsel word surrogaatekwivalensie genoem. Leksikale gapings bestaan egter nie net in die doeltaal nie, maar ook in die brontaal. Ten einde die omkeerbaarheidsbeginsel konsekwent toe te pas, moet die leksikograaf ook in hierdie verband leiding verskaf want surrogaatekwivalensie bestaan ook tussen 'n surrogaatinskrywing in die brontaal en 'n vertaalekwivalent met leksikale-itemstatus in die doeltaal. Verder word die tipe surrogaatekwivalent bepaal deur die aard van die leksikale gaping wat óf 'n linguistiese óf 'n referensiële gaping kan wees. By eersgenoemde kan die leksikograaf die surrogaatekwivalent baie bondig aanbied aangesien die verwysingswaarde van die betrokke leksikale item bekend is aan die meeste lesers, alhoewel daar in hulle taal nie 'n vertaalekwivalent daarvoor bestaan nie. Referensiële gapings vereis egter 'n omvattender doeltaalverklaring omdat die 39 betrokke lemma se verwysingswaarde nie bekend is aan die meerderheid doeltaalgebruikers nie. Gouws (1989: 176) noem byvoorbeeld dat daar in Fins nie vertaalekwivalente vir die Afrikaanse leksikale items biltong en koeksister is nie, aangesien die sake waarna hierdie Afrikaanse leksikale items verwys, bloot nie bekend is aan die Finne nie. Sulke gevalle vereis dus 'n omvattender doeltaalverklaring (Gouws 1989: 174-179). ’n Probleem wat ook soms kop uitsteek, is die verkeerdelike aanduiding van ’n ekwivalentverhouding (hetsy volkome of gedeeltelik) wat eintlik nie bestaan nie. Gouws (1989: 179) verwys hierna as faux amis (of valse vriende). Die woordpaar deer (Afrikaans) en deer (Engels) is volgens Gouws (1989: 180) 'n voorbeeld van volkome faux amis - 'n fouttipe wat nie sommer deur leksikograwe begaan word nie, maar eerder deur taalaanleerders: deer [Afr.] = hurt, harm [Eng.]. deer [Eng.] = takbok, hert [Afr.]. Gedeeltelike faux amis aan die ander kant is 'n fouttipe wat soms deur leksikograwe (in veral vertalende woordeboeke) begaan word. Dit kom voor waar bron- en doelpare vormlike ooreenstemming toon, maar semanties nie ekwivalent is nie alhoewel die betrokke leksikale items op semantiese vlak na aan mekaar is. Gouws (1989: 180) gebruik die leksikale items idle [Eng.] en ydel [Afr.] as voorbeelde om hierdie verskynsel te illustreer: idle [Eng.]: ledig, lui, nutteloos [Eng.]. ydel [Afr.]: nutteloos, leeg, onbeduidend. Volgens hom (Gouws 1989: 181) kan die leksikale item ydel wél 'n vertaalekwivalent van die Engelse woord idle wees. Dié ydel staan sinchronies in 'n homonimiese verhouding tot die leksikale item ydel met die volgende betekenis: vatbaar vir vleiery, pronksugtig, ingenome met jouself. Laasgenoemde leksikale item ydel se ekwivalente Engelse vorm is vain. Die Engelse idle het diachronies wél die woord vain as sinoniem vir enkele van sy betekenisonderskeidinge. Volgens Gouws (1989: 181) behoort daar in Afrikaans eitlik twee leksikale items ydel erken te word: een met die betekenis nutteloos en die ander met die betekenis vatbaar vir vleiery. In 'n woordeboek soos die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal word daar egter met slegs één lemma polisemies voorsiening gemaak vir waardes soos vatbaar vir vleiery, nutteloos, vrugteloos, ensovoorts. Gouws (1989: 181) noem dat beide die Groot Woordeboek/Major Dictionary en die Tweetalige 40 Woordeboek/Bilingual Dictionary 'ydel' hanteer as polisemiese leksikale item wat nie deel is van 'n homonimiese paar nie en waar daar eintlik twee homonimiese lemmas 'ydel' behoort te wees. Die een lemma behoort vertaalekwivalente soos vain, vainglorious, conceited en foppish in te sluit, en die ander vertaalekwivalente soos futile, fruitless, ineffective en vain. Die verskillende betekeniswaardes van vain is problematies vir die leksikograaf (Gouws 1989: 181-182). In die Oxford Advanced Learner's Dictionary word die volgende inskrywings as polisemiese waardes van vain aangebied: 1. Without use, value, meaning or result: ... 3. Having too high an opinion of one's looks, abilities, etc. ... Gouws (1989: 182) is van mening dat daar sinchronies 'n homonimiese verhouding tussen dié twee waardes weergegee behoort te word. Vertalende woordeboeke behoort ook so 'n verhouding deur die opname van twee lemmas vain te weerspieël. In die polisemiese paradigmas van vain en ydel het 'n soortgelyke semantiese polarisasie plaasgevind sodat die diachroniese polisemiese waardes uiteindelik tot sinchroniese homonieme ontwikkel het. Deur twee lemmas 'ydel' in 'n woordeboek op te neem, kan hierdie fouttipe (gedeeltelike faux amis) voorkom word. Soos Gouws (1989: 163) tref Zgusta (1971: 315) ook ’n basiese onderskeid tussen absolute en gedeeltelike vertaalekwivalente. Zgusta is van mening dat indien ’n moontlike vertaalekwivalent in al die kontekste, en slegs dáárdie kontekste, gebruik kan word, daarna verwys word as ’n absolute ekwivalent. Indien die waarskynlike ekwivalent egter net gedeeltelik in daardie kontekste gebruik kan word, moet ’n ander vertaalekwivalent gevind word. Wanneer ’n vertaalekwivalent in meer kontekste gebruik kan word, dui dit daarop dat die betekenis daarvan wyer is. Hierdie metode van kontekstoetsing, help nie net om die leksikale eenhede in die teikentaal te vind nie, maar ook om die leksikale betekenis tussen twee leksikale eenhede te onderskei. Volgens Zgusta dui ’n vergelyking tussen twee leksikale eenhede deur middel van die kontekstuele metode, verskille aan wat selde deur ’n eentalige woordeboek gedoen kan word. Daar moet ook in gedagte gehou word dat die wyse waarop ’n leksikograaf ’n vertaalekwivalent behandel en hoe hy/sy dit aanbied, afhang van onder andere die leksikograaf se doel met die woordeboek (Zgusta 1971: 315). Om genoemde toe te lig, bied Zgusta (1971: 316) die volgende verduideliking aan: a) Indien ’n tweetalige woordeboek se doel is dat die brontaalspreker slegs die doelteks moet verstaan, is dit voldoende om die lemma met die moontlike reeks vertaalekwivalente aan te bied. b) Wanneer die leksikale betekenis van ’n leksikale 41 eenheid meer spesifiek verklaar moet word, sal die bepaling/beperking tussen hakies op die lemma volg en daarna die vertaalekwivalente, byvoorbeeld: sewes, (rugby), sevens; ... (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'sewes'). c) Indien die doel egter is om ’n teks in die doeltaal te skryf, moet die leksikograaf voldoende koteks- en konteksleiding by die vertaalekwivalente verskaf, soos byvoorbeeld in die volgende geval (Tweetalige Woordeboek, s.v. 'stempel'): stempel, (-s), n. stamp (for making imprints in ink); seal (for making impressions on wax etc.); die (for coining, embossing, etc.); ... of die leksikograaf moet ’n kombinasie van (b) en (c) aanbied, byvoorbeeld: kuipestop, (renjaag), pit stop (motor-racing) (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'kuipestop'). Verder meen Zgusta (1971: 318) dat sinonieme vertaalekwivalente op drie maniere aangebied kan word. Hy gebruik die volgende voorbeelde om dit te illustreer: a) long, tall: ’n semantiese of grammatiese reël in die teikentaal maak die keuse tussen die twee vertaalekwivalente voorspelbaar, byvoorbeeld a long line teenoor a tall man. b) almost, nearly: beide ekwivalente kan gebruik word maar slegs met betrekking tot die oorvleueling van betekenis, byvoorbeeld almost finish en nearly finish. c) quick, fast: enige een van die twee kan gebruik word, byvoorbeeld quick return en fast return; die twee word gesamentlik aangebied om die data vollediger te maak. Zgusta (1971: 318) noem egter dat daar in werklikheid dikwels oorvleueling tussen en onsekerheid oor die kategorisering van vertaalekwivalente bestaan. Daarby kan verkorte woordeboeke probleme vir gebruikers skep omdat die aantal vertaalekwivalente afgeskaal word en algemener vertaalekwivalente voorrang geniet wat dan tot verkeerde keuses deur die gebruiker kan lei. Tekskondensasie kan tot nadeel van die woordeboekgebruiker strek, soos in die geval van 'n skoolwoordeboek wat uit 'n groter woordeboek saamgestel word en sekere essensiële data dan weggelaat word tot nadeel van die leerder. Zgusta (1971: 319) onderskei twee vertaalekwivalentsoorte, naamlik: a) translational (vertalende) of insertible (invoegbare) ekwivalente (dit is vertaalekwivalente wat net so in sinsverband in die doelteks gebruik kan word) en b) explanatory (verduidelikende) of descriptive (deskriptiewe) ekwivalente (dit is vertaalekwivalente wat meer data in verband met ’n leksikale eenheid in die doeltaal verskaf). Maar hy noem ook dat daar vele voorbeelde in tweetalige woordeboeke 42 voorkom waar genoemde vertaalekwivalentsoorte gekombineer aangebied word, sodat dit eintlik moeilik is om dié twee te onderskei. Watter een van genoemde twee vertaalekwivalentsoorte moet dan nou voorkeur geniet? Volgens Zgusta (1971: 320) moet ’n woordeboek wat as hulpmiddel dien om sinne in die doeltaal te skryf, liefs nie deskriptiewe ekwivalente aanbied nie. Só ’n woordeboek moet eerder so veel moontlik vertaalekwivalente bevat. In die ander tweetalige woordeboeksoorte kan vertaalekwivalentsoorte egter voorkom. ’n Voordeel van die deskriptiewe ekwivalent is dat dit algemeen gebruik kan word, maar dan moet die gebruiker oor ’n goeie kennis van die doeltaal beskik. Aan die ander kant lê die voordeel van ’n vertaalekwivalent daarin dat dit op leksikale vlak 'n een-tot-een-verhouding bied. Dit verskaf ook ’n verkorte analise van al die komponente van die betrokke woorde, asook die toepassing daarvan. Daarby is vertaalekwivalente se groot voordeel dat dit die gebruiker voorsien van uitdrukkings waarin dit toegepas kan word. Sou ’n leksikograaf egter ’n reeks van soveel moontlik vertaalekwivalente aanbied, kan die woordeboek uiteindelik ontaard in een groot sinoniemwoordeboek in die doeltaal – iets wat die leksikograaf liefs moet vermy. Geen leksikograaf kan ook waarborg dat al die gepaste vertaalekwivalente aangebied word nie. Sy/haar taak is bloot om die algemeenste vertaalekwivalente aan te bied (Zgusta 1971: 321-322). Volgens Zgusta (1971: 323 - 325) gebeur dit ook dat die leksikograaf hoegenaamd nie die gepaste vertaalekwivalent kan vind nie (met ander woorde leksikale gapings kom voor soos ook deur Gouws (1989: 175) uitgewys). Zgusta noem dat hierdie verskynsel veral in drie leksikale groepe voorkom: a) By leksikale eenhede met ander funksies as aanduidingsfunksies en waar die funksie daarvan bondig aangedui kan word, tesame met ’n paar tipiese voorbeelde. b) By kultuurgebonde woorde waarvoor daar nie vertaalekwivalente in die doeltaal bestaan nie en wat opgelos kan word deur die woord uit die brontaal te leen of deur ’n nuwe woord te skep. Die woord in die brontaal moet egter ook in die woordeboek verduidelik word. c) By onomastiese (naamkundige) gapings waarvan die leksikale betekenis altyd aangedui moet word. 1.3.3.3.5.5 Etikette Nou verbonde aan bondige aantekeninge, is etikette waarvan leksikograwe ook gebruik maak om aan te toon dat ’n woord byvoorbeeld tot ’n bepaalde tegniese veld behoort. Daar bestaan egter twee basiese verskille tussen bondige aantekeninge en 43 etikette. Die eerste verskil is dat die aantekeninge vryer is en kan verskil van byvoorbeeld een gedeeltelike vertaalekwivalent na ’n volgende. Etikette daarenteen se vorm moet vooraf bepaal word en dan deurgaans dieselfde daaruit sien, soos die voorbeeld wat Zgusta gebruik: astr(onomy), bot(any), ens. Die tweede verskil het met die doel te make. Bondige aantekeninge spesifiseer leksikale betekenis, terwyl die etikette die gebruiker van beskrywende feite oor die taal voorsien, soos weer eens die voorbeeld wat Zgusta voorsien: [Eng.] perfect (adj.), [Russ.] gram. perfektnyj. Die etiket gram. spesifiseer dat die Russiese perfektnyj alleenlik as ’n ekwivalent van die Engelse perfect in grammatiese terme beskou kan word. Etikette moet verder korrek geselekteer word om twee redes: a) ’n beskrywing van die brontaal en b) die skryf van doeltekste (Zgusta 1971: 332 - 333). 'n Verdere rol van etikette is om te dien as pragmatiese merkers. Gouws (1989: 202-205) onderskei vier verskillende etikettipes, naamlik vaktaal-, temporele, geografiese en stilistiese etikette. Vaktaaletikette het te make met ’n lemma binne ’n beperkte vakgebied en kom in nie-vaktaalwoordeboeke voor. Dit kan makrostruktureel of mikrostruktureel gefokus wees. Temporele etikette word veral gebruik om die tyd- en tydperkgebondenheid van ’n woordeboekinskrywing te merk. Geografiese etikette is gerig op die lemma met bygevoegde streekdata en word deur ander mikrostruktuurelemente in dieselfde artikel ondersteun. Stilistiese etikette weer dui eintlik kollektief op ’n verskeidenheid etikette. Hierdie tipe etikette word gebruik om stylkenmerke, gebruiksfrekwensie of wat sosiaal taboe is, aan te dui. Die belangrikste funksie van hierdie etikettipe is om sosiolinguistiese eienskappe van ’n lemma aan te dui. Die besluit oor waar bondige aantekeninge en etikette geplaas en in watter taal dit aangebied gaan word, is ’n belangrike besluit. Die algemene reël vir eersgenoemde is dat dit wat onder bespreking is, bepaal word deur wat dit voorafgaan, hetsy dit die vertaalekwivalent of die lemma is. Die taalkeuse vir die bondige aantekeninge en etikette lê tussen die bron- en doeltaal. Genoemde taalkeuse word bepaal deur die woordeboek se primêre doel: dit kan of op die brontaal- of die doeltaalspreker gerig wees. Maar indien verduidelikings die doeltaalspreker in ag neem, kan dit ook in die doeltaal verskyn (Zgusta 1971: 333 – 336). 1.3.3.3.5.6 Voorbeelde 44 Wat voorbeelde in konteks betref, is Zgusta (1971: 336 en 337) van mening dat die verskil tussen bondige aantekeninge en voorbeelde daarin geleë is dat bondige aantekeninge meer abstrak is. Nog ’n verskil is dat bondige aantekeninge in die brontaal en voorbeelde in die bron- en doeltaal verskyn. Daar is egter dikwels oorvleueling tussen die twee. Voorbeelde kan ook met ’n ander doel gebruik word, naamlik semanties of grammaties. Wat die semantiese betref, beklemtoon verskillende woordeboeke verskillende voorbeeldkategorieë. ’n Woordeboek wat daarop gerig is om die gebruiker te help om tekste in die doeltaal te verstaan, gebruik voorbeeldsinne om betekenisonderskeiding te illustreer. ’n Woordeboek wat daarop ingestel is om die gebruiker te help om tekste in die doeltaal te skryf, sal weer eerder van vaste kombinasies gebruik maak. Daarenteen sal ’n woordeboek wat daarop ingestel is om die brontaal te beskryf, beide vry en vaste kombinasies aanbied (Zgusta 1971: 337 en 338). Woordeboeke kan ook grammatiese data in verband met die lemma of vertaalekwivalente verskaf, of albei. Hierdie data sal gerig wees op die wyse waarop die lemma of die vertaalekwivalent kombineer met ander woorde in sinne. Weer eens sal die wyse waarop die grammatiese data aangebied word, afhang van die doel van die woordeboek. Indien ’n woordeboek uitsluitlik ingestel is op die verstaan van die brontaal, is dit voldoende om slegs daardie grammatiese data te verskaf wat dubbelsinnigheid van ’n lemma uit die weg ruim. Woordeboeke wat daarop ingestel is om die brontaal te beskryf, sal uiteraard soveel moontlik grammatiese data in verband met ’n lemma verskaf. Woordeboeke wat egter ingestel op die skryf van tekste in die doeltaal, verskaf weer meer data in verband die vertaalekwivalent (Zgusta 1971: 340). 1.4 Ten slotte Word genoemde aspekte herlei na ’n model vir ’n vertalerswoordeboek vir die Suid- Afrikaanse wynbedryf, is dit voor die hand liggend dat die antwoord op die vraag vir wie? grotendeels vertalers in hierdie bedryf sal wees. Hulle behoefte sal ’n tweetalige vertalerswoordeboek (byvoorbeeld Afrikaans en Engels – die soort woordeboek dus) wees wat as hulpmiddel aangewend kan word in die vertaalpraktyk in die Suid- Afrikaanse wynbedryf. Die doel daarmee sal waarskynlik wees om die brontaal (byvoorbeeld Engels) te beskryf en om te dien as hulpmiddel om tekste in die doeltaal (byvoorbeeld Afrikaans) te skryf. 45 Verder sal die samestelling van ’n Afrikaans-Engels-vertalerswoordeboek waarskynlik die volgende insluit: lemmas wat moeiteloos geïdentifiseer kan word, gepaste sinonieme en vertaalekwivalente, trefseker verklarings, duidelike uitspraak- aanduidings, grammatiese data en toepassingsmoontlikhede as voorbeelde waar nodig. Oor die moontlike tipologiese woordeboekklassifikasie van ’n Afrikaans-Engels- vertalerswoordeboek kan op hierdie tydstip slegs voorlopige afleidings gemaak word. Groter duidelikheid hieroor sal eers ná afloop van die navorsing aan die hand van die primêre bronne (wyntydskrifte, -pamflette, -advertensies, ensovoorts) in hoofstuk twee verkry kan word. Hier word slegs enkele aspekte uitgelig wat moontlik ’n rol kan speel in die klassifikasie daarvan. Dit blyk dat Scerba, Zgusta, Al-Kasimi en Gouws se beskouing van die tipologiese indeling van woordeboeke as vertrekpunt vir die beoogde woordeboeksoort van toepassing kan wees. Die uitgangspunt is derhalwe dat die kategoriale klassifikasiemetode oorwegend vir ’n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal geld. Omdat ’n vertalerswoordeboek hier ter sprake is, kan voorlopig afgelei word dat onderskeidingselemente van ’n verskeidenheid woordeboekkategorieë in die voorgenome produk prominent kan wees. Soos in die inleiding aangedui, wil hierdie woordeboek verhoed dat die beroepsvertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf onnodig tyd verspil met ’n eindelose soektog deur woordeboeke en woordelyste. Daarby moet trefseker vertaling verseker kan word. Gevolglik kan hierdie navorser aanneem dat onderskeidingselemente uit ’n verskeidenheid woordeboeksoorte hierin vervat sal wees – ’n soort woordeboekhutspot. Soos reeds genoem, dui Gouws (1989: 61) aan dat ’n oorvleueling van onderskeidingseienskappe tussen woordeboeksoorte wél voorkom. Só beskou, is die voorlopige gevolgtrekking dat ’n model vir nuwe woordeboekkategorie (of minstens ’n subkategorie) moontlik uit die navorsing kan voortspruit. Uiteraard sal ’n geïntegreerde eksterne struktuur vir ’n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf ook van belang wees. Aangesien die beoogde produk ’n vertalerswoordeboek is, behoort dit bepaalde eienskappe te openbaar wat dit onderskei van ’n algemene tweetalige woordeboek en ook ’n gewone vakwoordeboek. Hierdie andersoortigheid sal onder andere ’n verduideliking aan die gebruiker vereis wat in ’n voorteks in die woordeboek moet verskyn. Genoemde verduideliking 46 behoort ook die doel van die woordeboek en die funksie daarvan in te sluit. Om die gebruiker leiding te gee met die gebruik van só ’n woordeboek, sal dit dalk verder ook wenslik wees om ’n kopie van ’n bladsy uit die woordeboek voor in te publiseer waarin dan duidelike gebruiksaanwysings moet verskyn. Redaksionele afkortings en simbole sal vanselfsprekend ook deel vorm van hierdie voortekste in ’n vertalerswoordeboek. Wat die agtertekste in hierdie vertalersleksikon betref, wil dit voorkom of slegs dit wat van toepassing is op hierdie bedryf hierin aangedui sal word, én indien dit nie reeds voldoende in die woordeboek beskryf word nie. ’n Afkortingslys, massa- en volumetabelle, asook proefleestekens (indien dit nie vóór in hierdie vertalerswoordeboek verskyn nie) kan moontlik ook van toepassing wees. Word die dataverspreidingstruktuur na ’n model vir ’n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf herlei, sal dit ook deur die woordeboeksoort bepaal word wat grotendeels vir vertaling (doel) in hierdie bedryf sal geld. Vanselfsprekend moet die lemmas wat in só ’n woordeboek opgeneem word ook betekenis dra. Dit impliseer dus dat Zgusta (1971) se hoofkomponente van leksikale betekenis (denotasie, konnotasie en toepassingsmoontlikhede) ook in hierdie geval van toepassing kan wees. In die tweerigtingwoordeboek sal die lemmas (met hul verboë vorme) wél uit twee standaardtale (Afrikaans en Engels) mét standaardspelling spruit. Aangesien ’n gespesialiseerde veld ter sprake is, behoort standaardvaktaal dus ook te geld. Landau (1989) se riglyne vir die bepaling van standaardvaktaal sal waarskynlik ook oorweeg kan word. Vertalers stel veral in betekekenisdata belang aangesien die boodskap in die brontaal ook in die doeltaal weerspieël moet word. Daarom is aspekte soos betekenisverklaring, betekenisbetrekkinge, vertaalekwivalente, grammatiese data, uitspraakdata (want vertalers tree ook as tolke op), bondige aantekeninge, etikette, voorbeelde en moontlik ook illustrasies beslis essensieel vir die beoogde model vir ’n vertalerswoordeboek in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. 47 48 2. VERTAALDILEMMAS IN DIE SUID-AFRIKAANSE WYNBEDRYF MET BESTAANDE WOORDEBOEKE AS GEBRUIKSINSTRUMENTE 2.1 Inleiding In hierdie hoofstuk word 'n aantal woorde uit die bronne Kaapse Wyn en Brandewyn 1795-1860 (Van Zyl 1974), Tuinplae en -siektes (De Villiers en Schoeman 1988) en Wyn (Dedekind 2002) geselekteer en vir vertaling ontleed om sodoende te probeer vasstel watter spesifieke probleme 'n vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf met bestaande woordeboeke ondervind. Die woordeboeke wat in hierdie navorsing as gebruiksinstrumente getoets word, is die Tweetalige Woordeboek, Groot Woordeboek/Major Dictionary, Verklarende Afrikaanse Woordeboek, Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, Chamber's 21 st Century Dictionary, Collins Today's English Dictionary en die Woordeboek vir Tuinboukunde met plantname. Genoemde woordeboeke se teikenmark is hoofsaaklik algemene woordeboekgebruikers, behalwe die Woordeboek vir Tuinboukunde met plantname wat meer vakgerig is. Volgens die behoeftes van algemene woordeboekgebruikers, sal hierdie woordeboeke se doel dus wees om beskrywings in die brontaal te bied en ook om as hulpmiddels te dien om tekste in die doeltaal te skryf. Wat die leksikografiese funksie daarvan betref, is die woordeboeke veral kommunikatief van aard. Dit is dus gerig op teksresepsie en -produksie, asook vertaling. Die vakgerigte woordeboek is 'n gespesialiseerde woordeboek. 'n Woordeboekgebruiker verwag derhalwe om in só 'n woordeboek meer gedetailleerde inligting in beide tale te vind. Die woordeboekdata hierin vervat, is veral nodig vir vertalers op sigself. Verder is dié woordeboeke onderskeidelik vertalend en verklarend; dus linguisties sinchroniese woordeboeke. In die vertalende woordeboeke word vertaalekwivalente binne konteks aangebied. Daarby word grammatiese data, uitspraak van lemmas, bondige aantekeninge, etikette en voorbeelde ook hierin verskaf. Die verklarende woordeboeke is standaard verklarend, gerig op die weergawe van standaardtaal wat impliseer dat gebruiksfrekwensie 'n beduidende rol in die lemmakeuse gespeel het. Aangesien hierdie woordeboeksoort 'n normatiewe karakter het, kan daar verwag word dat min aandag aan etimologiese en historiese data gegee is. Die funksie daarvan is preskriptief omdat dit aandui hoe die betrokke taal tans gebruik word. Oor die algemeen word meer klem op betekenisdata geplaas omdat dít die inligting is waarna algemene woordeboekgebruikers gewoonlik soek. Betekenisdata se drie 49 hoofgroeperings word hierin aangetref, naamlik betekenisverklarings, betekenisbetrekkinge en vertaalekwivalente. Vertaalteoretici het al dikwels oor vertaaldilemmas geskryf, derhalwe kom relevante literatuur van sommige vertaalteoretici ook onder die loep om vas te stel of daar ooreenkomste is tussen húlle bevindinge, die bevindinge wat spruit uit leksikograwe se besinning oor bestaande woordeboeke en die bevindinge wat uit hierdie navorsing sal spruit. Uit hierdie bevindinge, word uiteindelik gevolgtrekkings afgelei waarmee die hoofstuk afgesluit word. 2.2 Identifisering van vertaaldilemmas 'n Vertaler se taak word bemoeilik wanneer hy/sy nie die betekenis van 'n woord ten volle onder die knie het nie. Woorde, frases, paragrawe en tekste in 'n brontaal hou bepaalde betekenis in wat die vertaler moet interpreteer om dit korrek in die doeltaal te kan weergee. Twee vertaalteoretici wat veral bekend is vir hulle beklemtoning van begrip van die bronteks vir effektiewe vertaling, is volgens Muntingh (1998: 512) Dancette (1993) en Toury (1995). Volgens hierdie twee teoretici eindig begripvorming wanneer die soeke na betekenis verby is. Uiteraard bestaan enige teks uit woorde, en sou daar 'n woord of woorde opduik waarvan die betekenis onduidelik is, kan dit trefseker vertaling dwarsboom. Die leser/vertaler vorm bepaalde paradigmas van die woorde wat hy/sy lees (of hoor) ten einde 'n geheelbeeld te vorm wat betekenis vir hom/haar inhou. Reeds in hoofstuk een is melding gemaak van die rol wat paradigmas speel en hoe dat die leksikograaf daarop bedag moet wees en seker moet maak dat hy/sy die korrekte paradigma in verband met 'n bepaalde lemma by die woordeboekgebruiker tuisbring. Daar is onder andere genoem dat Landau (1984:76) beweer dat 'n woord wat as lemma in 'n woordeboek verskyn, 'n woord is wat 'n bepaalde paradigma verteenwoordig. 'n Lemma is hoofsaaklik die kanonieke vorm van 'n woord wat veronderstel is om 'n bepaalde grammatiese paradigma by die woordeboekgebruiker op te roep. In die lig hiervan word 'n aantal woorde uit die primêre bronne Kaapse Wyn en Brandewyn 1795-1860 (Van Zyl 1974), Tuinplae en -siektes (De Villiers en Schoeman 1988) en Wyn (Dedekind 2002) onder die soeklig geplaas om te toets of woordeboeksamestellers voldoende betekenis- en gebruikersleiding aan die 50 woordeboekgebruiker/vertaler via hulle woordeboeke as gebruiksinstrumente kommunikeer. 2.2.1 Probleme met algemene verklarende woordeboeke 2.2.1.1 Die algemene aard van die definisies Dit gebeur soms dat woorde/terme wat in 'n bronteks voorkom (en in werklikheid hiponieme van superordinate in algemene woordeboeke behoort te wees) nie in Afrikaanse en/of Engelse verklarende woordeboeke opgespoor kan word nie. Gewoonlik poog die woordeboekgebruiker/vertaler dan maar om 'n geskikte definisie by die superordinaat te vind. Hierdie definisies is egter hoofsaaklik algemene definisies en dit is opvallend hoe dit in die onderskeie verklarende woordeboeke só verskil dat dit die woordeboekgebruiker/vertaler óf op 'n dwaalspoor plaas óf hoegenaamd nie van 'n antwoord voorsien nie. Selfs waar gepaardgaande wetenskaplike terminologie voorkom, verskil die terminologie ook van so 'n aard dat dit duidelik is dat die onderskeie woordeboeksamestellers nie altyd presies dieselfde verskynsel per definisie verklaar nie. Maar samestellers van algemene verklarende woordeboeke selekteer uit 'n korpus wat hulle as geskikte algemene definisies beskou. Sodoende sal die gepaardgaande wetenskaplike terminologie wat by dié betrokke lemmas in die onderskeie verklarende woordeboeke verskyn, uiteraard óók soms verskil. Omdat algemene verklarende woordeboeke hoofsaaklik beperkte saakbeskrywings verskaf, word die vertaler dikwels daardeur gekortwiek. Daarby het 'n vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie net 'n behoefte aan saakbeskrywings in 'n verklarende woordeboek nie, maar ook 'n behoefte aan 'n kennisgerigte funksie in dieselfde woordeboek. Selfs meer ensiklopediese data in só 'n woordeboek kan help om sy/haar begrip van 'n bepaalde woord te versterk en akkurate vertaling daardeur te verseker. Om genoemde dilemma te illustreer, word die woorde 'wingerdkalanders' en 'kalanders' (as verwysing na wingerdkalanders) uit die bron Kaapse Wyn en Brandewyn 1795-1860 (Van Zyl 1974: 18-20) onder die soeklig geplaas. Hierin word wingerdkalanders/kalanders genoem as 'n wingerdplaag wat die Kaapse wingerde in die genoemde tydperk geteister het. Vir die vertaler is dit nou eerstens belangrik om 'n duidelike beeld te verkry van 'n wingerdkalander ten einde dit korrek te kan interpreteer vir doeltreffende 51 oordrag in die doeltaal. Maar word die Verklarende Afrikaanse Woordeboek oopgeslaan, kan slegs die superordinaat ‘kalander’ opgespoor word en nie 'wingerdkalander' as 'n hiponiem van 'kalander' nie. Die genus-en-differentia- definisie van die woord 'kalander' in genoemde woordeboek lyk soos volg: kalander, (s), -s. Insek waarvan die larwes wat in die korrels uitbroei gaatjies in gedorste graan maak en dit vreet [Kursief self aangebring] (Calandra granaria) (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. ‘kalander’). 'n Verwysing na wingerde kom dus glad nie voor in die definisie nie, maar wel 'n verwysing na graan met die wetenskaplike term daarvoor as Calandra granaria aangedui. Die genus-en-differentia-definisie vir dieselfde woord word in die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal soos volg aangebied: kalander s.nw. (-s) 1 Enigeen van twee klein, rolronde, skildvleuelige insekte, die graankalander (kursief self aangebring), Sitoplulus granarius, en die ryskalander (kursief self aangebring) S. oryzae, waarvan die larwes graan, peulvrugte e.d. (kursief self aangebring) beskadig; koringtor (kursief self aangebring): Die larwe van die kalander ontwikkel binne-in 'n graankorrel en vreet dit leeg ... (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, s.v. 'kalander'). Ook in hierdie woordeboek word nie vermelding van 'n wingerdkalander aangetref nie, maar wel van 'n graankalander (met die wetenskaplike benaming Sitoplulus granarius daarnaas aangedui, in teenstelling met Calandra granaria vir dieselfde familielid in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek) en 'n ryskalander (die S. oryzae). Twee Afrikaanse verklarende woordeboeke dui derhalwe nie 'kalanders' as 'n wingerdplaag aan nie. Hierdie leemte skep uiteraard 'n probleem vir 'n vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Omdat die Afrikaanse verklarende woordeboeke nie 'n geskikte antwoord kan verskaf nie, moet die vertaler hom/haar nou noodwendig wend tot Engelse verklarende woordeboeke. In twee van hierdie woordeboeke word 'weevil' as vertaalekwivalent van 'kalander' soos volg gedefinieer: weevil Weevils are small beetles and their grubs which feed on grain and seeds and destroy crops [kursief self aangebring] (Collins Today's Dictionary, s.v. 'weevil'). 52 weevil ... noun 1 any of several beetles with an elongated probiscis that may be as long as the rest of the body, which both as adult and larva can damage fruit (kursief self aangebring), grain, nuts and trees. 2 any insect that damages stored grain ... (Chambers 21 st Century Dictionary, s.v. 'weevil'). Soos hierbo gesien, is daar ook geen aanduiding in die Collins Today's English Dictionary dat 'n kalander (weevil) in wingerde aangetref word nie. In die Chambers 21st Century Dictionary se definisie is daar ook nie 'n spesifieke verwysing na wingerde nie, maar daar is wel 'n aanduiding dat kalanders ook 'n vrugtepes (kollektief) is. Aangesien druiwe in die breër klas 'vrugte' val, kan daar dus met redelike sekerheid aanvaar word dat die weevil wat hier verklaar word, die plaag is waarvoor die woordeboekgebruiker/vertaler 'n definisie soek. Die volgende vraag is egter hoe hierdie 'kalander' lyk. Word daar wéér gekyk na die lemmas 'kalander' en 'weevil' se beskrywings in die twee Afrikaanse en twee Engelse verklarende woordeboeke hierbo vermeld, dan is dit opvallend hoe die beskrywings (indien dit voorkom), verskil. Hierdie verskille veroorsaak dat die vertaler steeds nie 'n duidelike beeld van 'n kalander kan vorm nie. Hier sou meer ensiklopediese data in verband met kalanders van hulp gewees het. Dit sou ook gehelp het as 'wingerdkalander' aangedui is as 'n hiponiem van die superordinaat 'kalander'. Die vertaler sal graag wil sien dat die woord 'wingerdkalander' as 'n afsonderlike lemma of leksikale item behandel word, aangesien dit sy/haar taak sal vergemaklik. Wat uiteintlik duidelik hier weerspieël word, is dat algemene verklarende woordeboeke (soos dit ook hoort) slegs beperkte saakbeskrywings verskaf. Die moontlikheid bestaan dat die kalanders wat in graan, rys en vrugte aangetref word, nie dieselfde voorkoms het nie. Dit kan afgelei word uit die noem van kalanders in hierdie onderskeie woordeboeke wat spesifiek in graan of in rys of in vrugte voorkom. Die kalander se beskrywing in die onderskeie Afrikaanse en Engelse verklarende woordeboeke, verskil in 'n aantal opsigte. Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf dit as Enigeen van twee klein, rolronde, skildvleuelige insekte; die Verklarende Afrikaanse Woordeboek beskryf dit bloot as 'n insek; die Collins Today's English Dictionary beskryf dit as beetles and their grubs en die Chambers 21st Century Dictionary, beskryf dit as any of several beetles with an elongated proboscis that may be as long as the rest of the body. Eersgenoemde verwys dus na twee soorte; die tweede na slegs insekte 53 (klas); die derde na kewers ('n familie) én hulle larwes en laasgenoemde na 'n aantal soorte kewers (met ander woorde familielede). Wat die voorkoms van die kalander betref, beskryf eersgenoemde dit as rolrond en skildvleuelig; die tweede en derde beskryf hoegenaamd nie die vorm daarvan nie en laasgenoemde beskryf dit as 'n kewer met 'n langwerpige suigmond wat net so lank soos die res van die lyf kan wees, met ander woorde langwerpig in teenstelling met rolrond van eergenoemde. Uit die noem van graankalander ná die beskrywing van die insek in die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal kan met sekerheid afgelei word dat die beskrywing eintlik net van toepassing is op die graankalander. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek verwys ongetwyfeld ook na 'n graankalander. So ook die Collins Today's English Dictionary. In die Chambers 21st Century Dictionary volg egter 'n reeks moontlikhede waar die insek wat dit beskryf, voorkom: in vrugte, graan (dieselfde as in die ander drie genoemde woordeboeke), neute en bome. Eersgenoemde en laasgenoemde woordeboeke se graankalanders verskil ook in voorkoms. Hieruit kan afgelei word dat hierdie graankalanders uit meer as een sóórt bestaan, wat ook duidelik is uit die Latynse benaming daarvan in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek, naamlik Calandra granaria, terwyl die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal dit as Sitoplulus granarius aangee. Die wetenskaplike benaming vir die ryskalander word as S. oryzae in laasgenoemde woordeboek aangedui. Van Zyl (1974: 20) verwys egter na die kalander Plyctimus Callosus as die bekendste van veral drie soorte kalanders waarmee Kaapse wynboere in die tydperk 1795-1860 te doene gehad het. Hierdie verskillende soorte kalanders waarna Van Zyl verwys, kan met ander woorde óók van voorkoms verskil. Die beeld van 'n kalander aan die hand van genoemde woordeboeke, is dus nog nie volledig nie. Die volgende vraag is wat presies dóén hierdie insek aan die plant wat dit aanval? In die verklaring in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek hierbo aangehaal, lees die woordeboekgebruiker/vertaler dat die larwes wat in die korrels uitbroei gaatjies in die gedorste graan maak. Die 'gedorste graan' waarna hier verwys word, hou dus nie verband met wingerdplae nie, derhalwe kan dit eintlik nie van toepassing wees nie. In die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal se verklaring word gesê dat die kalander 'n insek is waarvan die larwes graan, peulvrugte e.d. beskadig. Die larwe van die kalander ontwikkel 54 binne-in 'n graankorrel en vreet dit leeg. Ook in hierdie geval word die insek se aktiwiteit grotendeels aan graan gekoppel. Van die 'weevil' word in die Collins Today's English Dictionary gesê dat dit feed on grain and seeds and destroy crops. Weer eens nie 'n verklaring wat op wingerde van toepassing is nie. Ook is die beskrywing van hierdie insek se aktiwiteite in die Chambers 21st Century Dictionary nie duidelik genoeg nie, aangesien hier slegs genoem word dat dié insekte damage fruit, grain, nuts and trees. Hóé hulle die gewasse en bome beskadig, kan nie uit die verklaring afgelei word nie. In elk geval ook nie hoe dit wingerde beskadig nie. Die woordeboekgebruiker/vertaler se poging om 'n volledige beeld van 'n wingerdkalander aan die hand van die vermelde woordeboeke te vorm, is derhalwe onsuksesvol. Daar bestaan egter géén twyfel nie dat kalanders ook in wingerde aangetref word, want die primêre bron Kaapse Wyn en Brandewyn 1795-1860 waaruit 'kalanders' vir hierdie navorsing geneem is, het uit die argivale navorsing van D.J. van Zyl (1974) gespruit. Van Zyl (1974: 19) skryf onder andere oor die wingerdkalander die volgende: "Die grootste (kursief self aangebring) skade wat deur plae in die Kaapse wingerde aangerig is (dit is nou in die tydperk 1795-1860), is veroorsaak deur wingerdkalanders (kursief self aangebring), onder andere Phlyctimus Callosus." Oor die spesifieke skade wat dit aangerig het (en daar kan sekerlik aanvaar word dat dit steeds die geval is), noem hy (Van Zyl 1974: 19) dat 'n wingerdkalander sy wurm- en larwestadium in die grond deurbring waar dit op die wingerdstok se wortels leef maar dáár nie eintlik skade aanrig nie. Dit is eers nadat die papie vroeg in die lente ontstaan en die kewers in Oktober en November uit die grond kruip dat die werklike skade aangerig word. Dit is dán wanneer die kalander al die groen dele van die wingerdstok opvreet (die blare, lote en trosse). Afhangende van hoe diep die kalander vreet, kan óf die korrels (as dit die korrelsteeltjies afgevreet het) óf die hele tros (as dit in die stengels ingevreet het), verdroog. 55 FIG. 1 Die drie bekendste wingerdkalanders. Uit: Kaapse Wyn en Brandewyn 1795-1860 (Van Zyl 1974: Die drie bekendste wingerdkalanders. Uit: Kaapse Wyn en Brandewyn 1795- 1860 (Van Zyl 1974: 20) Van Zyl (1974) beskryf egter nie die voorkoms van die onderskeie soorte wingerdkalanders nie, maar bied die bostaande foto's (Van Zyl 1974: 20) aan waarin die drie bekendste wingerdkalanders verskyn. Die kalander links is die Phlyctimus Callosus waarna vroeër verwys is. 'n Vergelyking tussen die voorkoms van hierdie wingerdkalanders in die foto's en die beskrywing wat in die genoemde woordeboeke aangetref word, toon tóg 'n mate van ooreenkomste. Vergelyk die eerste twee met die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal se rolronde, skildvleuelige insekte en veral die derde een met Chambers 21st Century Dictionary se beetles with an elongated proboscis that may be as long as the rest of the body. In onderhoude met me. Marelize de Villiers (Fakulteit Landbou- en Bosbouwetenskappe, Departement Entomologie en Nematologie, Universiteit van Stellenbosch. 6 Februarie 2004) en professor P.G. Goussaard (Fakulteit Landbou- en Bosbouwetenskappe, Departement Wingerd- en Wynkunde, Universiteit van Stellenbosch. 6 Februarie 2004) het hulle bevestig dat wingerdkalanders ('n verskeidenheid daarvan) steeds 'n wingerdplaag in die Kaap en die Boland is. Volgens De Villiers en Goussaard staan 'n wingerdkalander ook as 'n snuitkewer bekend. In die bron Grapevine Diseases & Pests in South Africa/Wingerdsiektes & - Plae in Suid-Afrika beskryf Ferreira en Venter (1996: 60) die snuitkewer (Phlyctinus callosus, Eremnus cerealis) se wingerdaktiwiteite soos volg: "Blare en jong lote word reeds vroeg in die seisoen deur snuitkewers aangeval. Gate 56 word in die blaar self, en halfmaanvormige gate in die blaarrande, gevreet. Die lote word sodanig gevreet dat duidelike oppervlakkige kolle of gate sigbaar is. Later in die seisoen word jong trosse ook aangeval. Gate word in die trosstingel, individuele korrelstingels en die korrels self gevreet. Hierdie vreetskade veroorsaak dat die korrels afval of verdroog. Selfs die hele tros kan verwelk." In 'n ander bron Tuinplae en -siektes in Suid-Afrika bied De Villiers en Schoeman (1988: 80) die volgende beskrywing van snuitkewers (familie Curculionidae) en hulle aktiwiteite aan: "Die volwassenes van verskeie soorte val wingerdstokke en vrugtebome aan. Hulle is 5-10 mm lank en dofkleurig. Die kop is verleng in 'n snuit. Hulle vreet slegs in die nag. Die meeste vretery vind op die onderste dele van die plant plaas. Op wingerdstokke word die ogies aangeval sodra hulle begin swel, en later die blare. Later vreet hulle ook aan die groen korrels wat dit laat afval. Hulle kou ook aan die stingels van jong trosse en verminder daardeur die trosgrootte ..." Van Zyl (1974: 19) se beskrywing van die kewers wat in Oktober en November uit die grond kruip en al die groen dele van die wingerdstok opvreet (die blare, lote en trosse) sodat die korrels of die hele druiwetros verdroog, stem dus ooreen met De Viliers en Schoeman (1988: 80), asook Ferreira en Venter (1996: 60) se beskrywing van die wingerdstokskade wat snuitkewers veroorsaak. 'n Kalander en 'n snuitkewer is met ander woorde dieselfde insek en 'snuitkewer' 'n sinoniem vir 'kalander', soos ook die Woordeboek vir Tuinboukunde met plantname aangedui. Die Engelse vertaalekwivalent van 'n snuitkewer word verder as 'n snoutbeetle (sonder 'n koppelteken) deur Ferreira en Venter (1996: 60) aangedui. Uit die voorafgaande blyk dit derhalwe dat die kalanderfamilie bekend staan as die Curculionidae (De Villiers en Schoeman (1988: 80)). Hierdie familie het 'n aantal familielede wat verskillende plantsoorte teister. Die bekendste van die wingerdkalanders is die Phlyctinus callosus (Ferreira en Venter (1996: 60) en Van Zyl (1974: 19)). Van Zyl spel Phlyctinus egter met 'n 'm' en nie 'n 'n' nie. Dit is moontlik dat Van Zyl hier 'n spelfout begaan het en ook dít veroorsaak probleme vir 'n vertaler. Hierbo is aangedui dat ook die Woordeboek vir Tuinboukunde met plantname 'snuitkewer' as 'n sinoniem vir 'kalander' aangee. En aangesien woordeboeke van die belangrikste gebruiksinstrumente vir die vertaler is, word daar met dié woord teruggaan op die soekroete na 'n wingerdverwysing in woordeboeke. 57 In die Verklarende Afrikaanse Woordeboek word die lemma 'snuitkewer' soos volg verklaar (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'snuitkewer'): snuitkewer, -s. Kewer met 'n lang snuit wat veral gomblare (kursief self aangebring) vreet, snuittor (fam. Curculionidae). Die lang snuit en die familienaam Curculionidae is die enigste ooreenkoms met dít wat vooraf bespreek is, maar die vreet van gomblare laat die woordeboekgebruiker/vertaler in die duister. Watter plantsoorte gomblare het, is moeilik bepaalbaar. Daarby bestaan twyfel of wingerdstokke gomblare het. 'Snuittor' word verder in bogenoemde verklaring as 'n sinoniem van 'snuitkewer' genoem, maar dan word 'snuittor' in dieselfde woordeboek (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'snuittor') slegs deur 'n sinoniemdefinisie verklaar: snuittor. Snuitkewer. Hierdie sinoniemdefinisie in 'n algemene verklarende woordeboek is dus ook nie voldoende vir effektiewe beeldvorming van kalanders as 'n wingerdplaag nie. 2.2.1.2 Onduidelike en dubbelsinnige definisies Nog 'n dilemma is dat sommige definisies óf onduidelik óf dubbelsinnig is sodat die vertaler nie 'n behoorlike beeld van 'n woord daaruit kan vorm nie. In hoofstuk een is genoem dat Zgusta (1971: 254) maan teen definisies wat nie spesifiek genoeg is nie. Verder is genoem dat Zgusta (1971: 257) daarop wys dat definisies verstaanbaar moet wees. Ook van belang, is Landau (1984: 144 e.v.) se vermaning dat leksikograwe se definisies nie bloot handboekbeskrywings moet wees nie. Nog 'n belangrike aspek in hoofstuk een genoem, is dat Landau (1984: 132-138) beklemtoon dat die definieerder hom-/haarself in 'n oningeligde woordeboekgebruiker se posisie moet plaas en daarvolgens moet besluit watter definisie vir genoemde woordeboekgebruiker verstaanbaar sal wees. Alhoewel Landau (1984: 132-138) noem dat definisies eenvoudig moet wees, is hy egter van mening dat eenvoud nie altyd beter is nie. Volgens hom (Landau 1984: 132-138) impliseer eenvoud in werklikheid dat 'n definisie op die punt af en so duidelik moontlik geformuleer moet wees. Daarby noem Landau (1984: 137) dat dubbelsinnigheid in definisies ook vermy moet word. 'n Ander aspek wat hy (Landau 1984: 138-144) uitlig, is dat wanneer selfstandige naamwoorde gedefinieer word, moet die definisie die voorkoms, doel 58 en samestelling van die objek wat gedefinieer word, weerspieël. Hierdie aspek is essensieel vir vertalers, aangesien hulle soms brontekste wat byvoorbeeld op vakkenners gerig is, moet verwerk en vertaal indien die opdraggewer die doeltekste vir oningeligde teikenlesers benodig en daar moontlik verduidelikings by sekere terme moet verskyn. Definisies móét derhalwe die voorkoms, doel en samestelling van die objek wat gedefinieer word, duidelik weerspieël. Indien dit nie die geval is nie, kan die vertaler interpretasieprobleme met sekere terme in die bronteks ondervind wat tot nadeel van die verwerking en vertaling van die doelteks kan strek. Probleme in hierdie verband waar 'n definisie nie volkome aan hierdie vereiste voldoen nie, sal in die voorbeelde hiernaas toegelig word. Aan die hand van bogenoemde word daar vervolgens na die woord skroefpers in die bronteks (Van Zyl 1974: 65) gekyk, asook die chemiese terme chloorkalk en sinksulfaat (Van Zyl 1974: 28). Volgens die bronteksskrywer is 'n skroefpers soms deur die Kaapse wynboere in die tydperk 1795-1860 gebruik. Die vertaler sal dus eerstens 'n voldoende beeld van só 'n skroefpers wil vorm. In die Verklarende Afrikaanse Woordeboek lui die definisie vir die woord 'skroefpers' soos volg: skroefpers, -e. Pers wat werk deur 'n skroef te draai (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'skroefpers'). Dit is veral die formulering deur 'n skroef te draai wat die woordeboekgebruiker/vertaler in die duister laat. Die vraag wat opduik, is of die pers werk deur 'n skroef los- of vas te draai, of het die pers 'n stam met skroefgleuwe waarteen dit los- of vasgedraai word? In die definisie is dit nie duidelik nie. Daarby is die definisie dubbelsinnig en nie spesifiek genoeg nie, derhalwe is dit nie heeltemal verstaanbaar nie. Dit wil ook voorkom of die samestellers hulle in hierdie geval nie volkome in die oningeligte woordeboekgebruiker se posisie geplaas het nie. Ongetwyfeld is die beginsel van eenvoud toegepas, maar dit blyk hier eerder of dié beginsel 'n duidelike en ondubbelsinnige saakbeskrywing ondermyn. 'n Ander probleem in hierdie verband is dat die woord onder bespreking nie in die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal opgeneem is nie. Die Engelse vertaalekwivalent daarvan screw press (volgens die Tweetalige Woordeboek, s.v. 'skroefpers') en screw-press (met 'n koppelteken in die Groot 59 Woordeboek, s.v. 'skroefpers') verskyn verder ook nie as lemma in die Chambers 21st Century Dictionary nie. Om duidelikheid oor hierdie bepaalde woord uit algemene woordeboeke te verkry, is dus ongetwyfeld problematies. Insgelyks die probleem met die woord mosbalie (Van Zyl 1974: 35) se woordeboekdefinisie. In die Verklarende Afrikaanse Woordeboek lui die definisie vir mosbalie (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'mosbalie') soos volg: mosbalie, -s. Balie, kuip waarin die mos gis. 'Balie', 'kuip', 'mos' en 'gis' is vier woorde in hierdie verklaring wat dalk nadere ondersoek vereis, aangesien die oningeligde woordeboekgebruiker waarskynlik hierdie terme ook as onduidelik kan ervaar. Vervolgens word dié lemmas ook onder die soeklig geplaas waar die definisies daarvan (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'mos', 'balie', 'kuip' en 'gis') soos volg lui: mos, (s). 1. Druiwesap voor die gisting voltooi is. 2. ... balie, -s. Oop kuip of vat, 'n houer vir 'n vloeistof of iets anders; ... kuip, (s), -e. 1. Vat van hout, klip, metaal of leer waarin gegis, gelooi, gelouter of ingesout word. 2. ... gis, (w), ge-. 1. Skuim en opbruis (bier, sjampanje, ens.). 2. Fermenteer. 3. ... 'n Totaal van vyf verklarings dus om eers net duidelikheid te probeer verkry oor wat 'n mosbalie is en waarvoor dit gebruik word. En vyf verklarings beteken dat die woordeboekgebruiker/vertaler telkens élders in die woordeboek na 'n verklaring moet soek. 'n Duideliker verklaring van die woord 'mosbalie' sal die vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf in staat stel om vinniger by die antwoord uit te kom. Soortgelyke probleme is ook met chemiese terme soos chloorkalk en sinksulfaat in die bronteks ervaar. Volgens Van Zyl (1974: 28) het dr. Ludwig Pappe, bekende koloniale botanis wat in 1859 en 1860 'n prominente rol gespeel het in die identifisering en bestryding van witroes/meeldou, 'n swamsiekte wat wingerdboere destyds geteister het, voorgestel dat die Kaapse wynboere chloorkalk en sinksulfaat moet aanwend in die bestryding van dié swamsiekte. In die Verklarende Afrikaanse Woordeboek word die volgende minder bevredigende definisies van hierdie twee terme aangetref (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'chloorkalk' en 'sinksulfaat'): chloorkalk. Bleikpoeier wat uit chloor en kalkhidraat bestaan. sinksulfaat. Sinksout van swawelsuur, witvitrioel. 60 Vanuit die perspektief van 'n vertaler is hierdie twee definisies beslis nie voldoende nie. Hoe chloorkalk as 'n bleikpoeier kon help met die bestryding van 'n swamsiekte, kan nie uit die definisie afgelei word nie. Nog minder hoe sinksulfaat dié swamsiekte kan help beveg. Hierdie is waarskynlik 'n tipiese geval van 'n blote handboekbeskrywing waarteen Landau (1984: 144 e.v.) leksikograwe waarsku. Word genoemde twee woorde in die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal nageslaan, lyk die definisies soos volg: chloorkalk s.nw. Bleikpoeier. sinksulfaat s.nw. (chemie) Wit verbinding oplosbaar in water, gebruik as 'n bytstof, wit vitrioel. (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, s.v. 'chloorkalk', 'sinksulfaat'). By chloorkalk verskyn daar dus slegs 'n sinoniemdefinisie wat die woordeboekgebruiker/vertaler na elders in die woordeboek verwys ('bleikpoeier'), terwyl sinksulfaat se definisie wél 'n aanduiding verskaf van hoe sinksulfaat kan dien as 'n bestryder van swamsiekte deur die vermelding van gebruik as 'n bytstof. Hieruit kan afgelei word dat die bytstof op sigself 'n rol speel in die bestryding van meeldou/witroes. Met hierdie voorbeelde word dus weer eens bevestig dat genoemde verklarende woordeboeke gerig is op die algemene woordeboekgebruiker en derhalwe algemene definisies sal verskaf. Dié woordeboeke se bewerking is egter getrou aan die tipologiese opdrag, maar die vertaler het iets meer nodig. Dit is problematies dat definisies in hierdie woordeboeke nie altyd duidelik genoeg is vir die woordeboekgebruiker/vertaler om 'n voldoende beeld van die betrokke woorde te kan vorm nie. 2.2.1.3 Woorde nie in algemene verklarende woordeboeke opgeneem nie 'n Ander dilemma wat die vertaler dikwels met onopgeloste probleme laat, is woorde wat in die bronteks verskyn maar nie in die algemene verklarende woordeboeke opgespoor kan word nie. In Suid-Afrikaanse wynliteratuur is dit veral sommige historiesgebonde woorde en vakgerigte terme, asook sommige woorde wat in die volksmond ontstaan het wat problematies is. Uiteraard speel gebruiksfrekwensie in sulke gevalle dikwels 'n beduidende rol. Die moontlikheid dat dié woorde dus in resente algemene verklarende woordeboeke sal verskyn, is 61 betreklike skraal. Woordeboeke wat vertalers gebruik, is primêr op die hede gerig, soos die meeste tekste waarmee hulle te doen kry. Daarby hoort historiese woorde in historiese woordeboeke. Vir die vertaler sal dit egter gerieflik wees as hy/sy sulke woorde in 'n daaglikse gebruiksinstrument (woordeboek) kan naslaan. Die huidige groei van die Suid-Afrikaanse toerismebedryf byvoorbeeld, kan moontlik lei tot toenemende vertaling in die wynbedryf wat die geskiedenis daarvan (met historiese terme) kan insluit. Dus: om 'n woord voldoende te kan interpreteer vir effektiewe boodskapformulering in die doelteks, móét 'n mens die nodige inligting (vir historiesgebonde woorde ook) in 'n verklarende woordeboek kán opspoor. Gebeur dit nie, sal trefseker vertaling sekerlik daardeur geraak word. Voorbeelde van historiesgebonde woorde in 'n bronteks wat nie in resente Afrikaanse verklarende woordeboeke opgeneem is nie, is die woorde pypvate, dopbier en bytapper. Van Zyl (1974: 65) meld dat Daniel Discou van die Cape Wine Trade Committee in 1826 aanbeveel het dat die Kaapse wynboere hulle wyngehalte kan verbeter deur die gistingsproses in pypvate te laat plaasvind soos dit op die eiland Madeira gedoen is. Dopbier weer is volgens Van Zyl (1974: 46) soms deur die Kaapse wynboere gebruik om wynvate te vul waarna dit ná 'n maand met skoon water uitgespoel is. 'n Bytapper was volgens Van Zyl (1974: 95) 'n outydse kroegman. Omdat die woordeboekgebruiker/vertaler nie hierdie woorde in die Afrikaanse verklarende woordeboeke kan opspoor nie, is dit vir hom/haar eintlik onmoontlik om 'n beeld daarvan te vorm, tensy 'n verklaring daarvan in die bronteks (soos in hierdie geval) verskyn. Daarsonder kan die vertaling van sulke woorde bemoeilik word, aangesien dit die soeke na die korrekte vertaalekwivalent ook sal dwarsboom. Soos genoem, is dit egter nie net sommige historiesgebonde woorde in die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat nie in resente Afrikaanse verklarende woordeboeke opgeneem is nie. Selfs sekere vakterminologie kan ook nie daarin opgespoor word nie. Neem die chemiese term loodarsenaat as voorbeeld. Volgens Van Zyl (1974: 20) het die wynboere tussen 1795-1860 nog nie chemiese metodes soos die bespuiting van wingerde met loodarsenaat gebruik om wingerdplae te bestry nie. Om dus duidelikheid oor genoemde term te verkry, sal die vertaler hom/haar noodwendig tot 'n vakwoordeboek en/of wynbouvakliteratuur (of selfs kenners) moet wend. 'n Vakwoordeboek behoort 'n vertaalekwivalent daarvoor te verskaf, maar omdat vakwoordeboeke eintlik net vertaalekwivalente verskaf, sal 'n 62 vertaler ook nie noodwendig 'n behoorlike beeld van die term daaruit kan vorm nie. Derhalwe kan doeltreffende vertaling as gevolg hiervan ook gedwarsboom word. Ander voorbeelde van vakterminologie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf (uit De Villiers en Schoeman 1988) wat nie in resente Afrikaanse verklarende woordeboeke verskyn nie, is die volgende: a) Insekdoders vir wingerdplae _ polisulfied-swael (De Villiers en Schoeman 1988: 60); karbaril, chlorpirifos, siflutrien, piperoniel butoksied, deltametrien, fenitrotion, fenotrien, tetrametrien (De Villiers en Schoeman 1988: 42); gamma-BHC, merkaptotien (De Villiers en Schoeman 1988: 66); sipermetrien (De Villiers en Schoeman 1988: 80); metaldehied, metiokarb (De Villers en Schoeman 1988: 78); bromofos (De Villiers en Schoeman 1988: 48); dichlorvos, protiofos (De Villiers en Schoeman 1988: 92); en kaptab, koperoksichloried, propineb (De Villiers en Schoeman 1988: 96). b) Wingerdplae _ Amerikaanse bolwurm (De Villiers en Schoeman 1988: 42); knopmyte (De Villiers en Schoeman 1988: 60); filoksera (De Villiers en Schoeman 1988: 88); en vrugtesteekmot (De Villiers en Schoeman 1988: 88). In die bron Wyn (Dedekind 2002: 87-92) word 'n aantal belangrike wynterme met betrekking tot wynproe vermeld wat ook nie in resente Afrikaanse verklarende woordeboeke opgespoor kan word nie. Van hierdie terme is byvoorbeeld bene wat volgens die skrywer (Dedekind: 2002: 87) die kleurlose lyne (bene) is wat teen die glas afloop wanneer wyn met 'n baie hoë alkoholgehalte in 'n glas geskommel word; mousse (Dedekind 2002: 90) wat die borreltjies in vonkelwyn is wat dikwels in stringetjies na bo hardloop en sodoende kwaliteit aandui; terpene (Dedekind 2002: 91) wat dui op die aangename, petrolagtige geurkomponente wat veral by Rieslings teenwoordig is; esters (Dedekind 2002: 88) wat die geurkomponente in wyn is, gevorm deur alkohol en suur tydens gisting en veroudering; ernstig (Dedekind 2002: 88) wat volgens die skrywer beeldspraak is vir kwaliteitwyn, wyn met sterk geurkomponente en tanniene; en botterig (Dedekind 2002: 88), 'n sagte vanilla geur (verkry deur eikehoutveroudering) wat veral eie is aan Chardonnay. Genoemde voorbeelde is maar enkeles uit hierdie bron wat nie in resente Afrikaanse verklarende woordeboeke opgespoor kan word nie. Sommige woorde wat in die volksmond ontstaan het, en in brontekste van die Suid-Afrikaanse wynbedryf voorkom, skep ook vertalersprobleme indien dit nie in resente Afrikaanse verklarende woordeboeke opgespoor kan word nie. Van 63 hierdie woorde is boonop historiesgebonde. Ander is selfs beperk tot 'n streektaal. Maar hoe dit ook al sy, sulke woorde verskyn soms in brontekste en die vertaler het 'n behoefte daaraan dat dit in 'n verklarende woordeboek móét verskyn. Dit is eintlik vanselfsprekend dat sy/haar taak bemoeilik word indien hy/sy nie woordeboekdefinisies van sulke woorde in algemene verklarende woordeboeke kan vind nie, aangesien dit hom/haar uiteindelik kortwiek in sy/haar soeke na geskikte vertaalekwivalente. Die woorde vlooitjie en broekmannetjie uit Van Zyl (1974) is voorbeelde van só 'n probleem. Gelukkig vir die vertaler het die skrywer (Van Zyl 1974: 35) aangedui dat 'n vlooitjie een van drie balies is ('n trapbalie en twee mosbalies _ die kleinste van laasgenoemde bekend as die vlooitjie) wat Kaapse wynboere vroeër in die parsproses gebruik het. 'n Broekmannetjie is volgens Van Zyl (1974: 19) 'n ruspe; klaarblyklik só genoem op grond van dié insek se voorkoms. Sou hierdie woorde egter in 'n bronteks sonder 'n verduideliking of beskrywing verskyn, het die vertaler 'n probleem. In súlke gevalle word hy/sy genoop om elders na verduidelikings te soek. 'n Tydrowende soekproses dus wat die vertaler nie kan bekostig nie. Uit De Villiers en Schoeman (1988) is die woorde bladspringer (De Villiers en Schoeman 1988: 50), gepantserde dopluis (De Villiers en Schoeman 1988: 56), verderflike dopluis (De Villiers en Schoeman 1988: 86) en grondpêrels (De Villiers en Schoeman 1988: 58) nog voorbeelde van woorde (in dié geval vir sekere wingerdplae) wat moontlik in die volksmond ontstaan het en bloot nie in resente Afrikaanse verklarende woordeboeke opgespoor kan word nie. 'n Kennisgerigte funksie in 'n verklarende woordeboek sal die vertaler beslis hier van hulp gewees het, want hy/sy sal onder andere byvoorbeeld wil weet hóé 'n vlooitjie of 'n broekmannetjie lyk en watter soort wingerdskade dit aangerig het. Eers as daar duidelikheid hieroor verkry is, kan die vertaler na 'n geskikte vertaalekwivalent daarvoor soek. Gebruiksfrekwensie het waarskynlik in al die genoemde gevalle 'n rol gespeel, sodat hierdie woorde nie in resente algemene verklarende woordeboeke plek kon vind nie. Die ideaal is egter dat die verklaring vir sulke woorde nie elders gesoek moet word nie, aangesien dit tydrowend is. Historiesgebonde woorde, woorde wat in die volksmond ontstaan het en vakgerigte woorde wat in één woordeboek ('n vertalerswoordeboek) gekonsolideer 64 is, sal die vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf se taak soveel makliker maak. 2.2.1.4 Probleme met sommige sinoniemparadigmas Sinoniemparadigmas wat by sommige lemmas in algemeen verklarende woordeboeke verskyn, hou ook soms probleme vir vertalers in die Suid- Afrikaanse wynbedryf in. Hier kom veral die jukstaposisie van die sinonieme binne 'n sinoniemparadigma onder die soeklig. Gouws (1989: 145) wys daarop dat 'n leksikograaf van 'n verklarende woordeboek twee stappe moet volg alvorens hy/sy sinonieme in sy/haar woordeboek mag opneem: a) Eerstens moet vasgestel word of die vermeende sinonieme absolute of slegs gedeeltelike sinonieme is. b) Tweedens moet hy/sy vasstel watter lid van die sinoniemparadigma die hoogste gebruiksfrekwensie het. Indien daar meer as twee lede in genoemde paradigma voorkom, moet die woordeboekstelsel voorsiening maak vir 'n hiërargiese aanduiding op grond van die gebruiksfrekwensie wat verskaf word. Verder beweer Gouws (1989: 145) dat nie alle lede van die sinoniemparadigma van 'n deskriptiewe definiens voorsien word nie. Die betekenisomskrywing verskyn slegs by die sinoniem van die paradigma met die hoogste gebruiksfrekwensie. Die ander lede van die sinoniemparadigma kry slegs 'n sinoniemdefinisie wat die woordeboekgebruiker deur kruisverwysing na die verklarende lid van die paradigma verwys. Maar gebruiksfrekwensie is nie die enigste kriterium wat die leksikograaf gebruik om te bepaal watter lid van 'n sinoniemparadigma die verklarende definiens moet kry nie. 'n Gebruiksgerigte benadering sluit ook die register van die verskillende betekenisonderskeidinge as kriterium in. Hier is aspekte soos vaktaal teenoor algemene gebruikstaal, styl- en registerverskille, asook standaardtaal teenoor onderskeidelik sub- en superstandaardtaal van belang (Gouws 1989: 147). Heel dikwels is 'n lid van 'n sinoniempaar 'n vakterm wat veral vir vakkundiges van belang is, terwyl die ander lid algemeen deur nie- vakkundiges gebruik word. In die geval van algemene verklarende woordeboeke moet die nie-vakkundige sinoniem dan voorkeurbehandeling geniet. Omdat algemene verklarende woordeboeke standaardtaal in die visier het, word sinonieme van 'n sinoniemparadigama wat nie op dieselfde stylvlak is nie, van etikette voorsien om sodoende afwykings van die standaardtaal te merk. Derhalwe 65 is die lemma sonder 'n etiket in 'n handwoordeboek die standaardtaalvorm. In 'n sinoniemparadigma moet die ongeëtiketteerde lid/lede die verklarende definiens kry aangesien die geëtiketteerde lid se gebruik beperk is. Wat belangrik is, is dat die leksikograaf deur sy/haar behandeling van sinonieme betekenisleiding én data moet verskaf om taalgebruik en -verskeidenheid te illustreer. Verder is die spesifieke plasing van die lede van 'n lemma se sinoniemparadigma gegrond op die onderskeid tussen absolute en gedeeltelike sinonieme. Absolute sinonieme word aan die einde van die betrokke artikel verstrek. Dit kom veral voor by leksikale items met 'n enkele betekeniswaarde (monosemiese leksikale items). Gedeeltelike sinonieme van polisemiese woorde word nie aan die einde van die artikel geplaas nie, maar regstreeks ná die betekenisparafrase van die betrokke polisemiese onderskeiding waarmee dit semanties oorvleuel (Gouws 1989: 147- 150). In die lig van wat Gouws in verband met sinoniemparadigmas meld, word daar vervolgens na die woord krompokkel se definisie in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek gekyk. Maar voordat die soeklig op die definisie in genoemde woordeboek val, moet die beskrywing van 'n krompokkel in die bronteks eers genoem word. Van Zyl (1974: 20) beskryf 'n krompokkel as 'n langhoringsprinkaan in sy jong stadium. Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek definieer 'n krompokkel egter soos volg: krompokkeltjie, -s. Besie, insek, goggatjie (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'krompokkeltjie'). Dus géén verwysing na 'n sprinkaansoort in 'n bepaalde ontwikkelingstadium soos wat Van Zyl in die bronteks meld nie. Hierbo is aangedui dat Gouws (1989: 145 e.v.) noem dat die lid van die sinoniemparadigma met die hoogste gebruiksfrekwensie, eerste geplaas moet word. In hierdie geval is dit egter te betwyfel of die sinonieme 'besie' en 'gogga' in die literatuur van die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal geld as sinonieme vir 'n krompokkel. Vir die algemene woordeboekgebruiker mag dit moontlik voldoende wees, maar beslis nie vir die vertaler in hierdie bedryf nie. Ook is aangedui dat Gouws (1989: 145) noem dat nie alle lede van 'n sinoniemparadigma van 'n deskriptiewe definiens voorsien word nie en dat die betekenisomskrywing slegs by die sinoniem van die sinoniemparadigma met die hoogste gebruiksfrekwensie verskyn. Die ander lede kry slegs 'n sinoniemdefinisie 66 wat die woordeboekgebruiker deur kruisverwysing na die verklarende lid van die sinoniemparadigma verwys. Soos gesien, word die woord 'krompokkeltjie' nie van 'n deskriptiewe definiens voorsien nie, maar wel van 'n reeks sinonieme wat dien as kruisverwysings na die verklarende lede van die sinoniemparadigma. Maar by elkeen van genoemde, verskyn die volgende verklarings met géén verwysing na 'n krompokkel as 'n sprinkaansoort nie (Verklarende Afrikaanse Woordeboek, s.v. 'besie', 'insek' en 'gogga'): besie, -s. 1. Klein diertjie of goggatjie. 2. ... insek, -te. Ongewerwelde diertjie met die liggaam in drie afdelings verdeel, kerfdiertjie; ... gogga, -s. 1. Algemene benaming vir enige soort insek, ongedierte. 2. ... Elk van die bogenoemde definisies is derhalwe ooglopend gerig op die algemene woordeboekgebruiker. Waarskynlik is dit dan ook die rede waarom die woord 'krompokkel' nie in enige een van laasgenoemde definisies vermeld word nie. Uiteraard dus 'n vertalersdilemma omdat dit die vertaler in sy/haar soeke na 'n geskikte vertaalekwivalent vir dié betrokke woord ook kan dwarsboom. Wat verder opvallend is, is dat die woord 'goggatjie' (diminutief) in die sinoniemparadigma van die woord 'krompokkel' in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek verskyn, maar as die lemma 'gogga' (sonder die diminutiewe vorm) in dieselfde woordeboek opgeneem is. Steeds by die diminutiewe vorm: die lemma 'krompokkeltjie' is in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek opgeneem. In die bronteks word egter net na 'n krompokkel (sonder die diminutiewe vorm) verwys. Tydens onderhoude met Goussaard (Persoonlike Onderhoud 6 Februarie 2004) en De Villiers (Persoonlike Onderhoud 6 Februarie 2004) het dit geblyk dat krompokkel en nie krompokkeltjie nie die benaming is wat in wingerdboerdery en in wingerdplaagnavorsing, gebruik word. Derhalwe sal in hierdie geval weer gekyk moet word na die korpus. Volgens Landau (1984:151) verskaf genoemde die voorkeurspellingvorm van woorde, asook onder andere etimologiese data. Belangrik egter is dat hierdie korpus (Landau 1984:152) voortdurend aangevul moet word vir die samestelling van nuwe en die hersiening van bestaande woordeboeke. Die vraag ontstaan egter nou: wie het die woord onder bespreking korrek beskryf? Van Zyl met sy krompokkel as 'n langhoringsprinkaan in sy jong stadium, of die leksikograaf met sy krompokkeltjie as 'n inseksoort, maar wat ook 67 'n besie, enige insek en selfs bloot 'n gogga kan wees? Nodeloos om te sê dat súlke verskynsels eindelose probleme vir vertalers (hier spesifiek in die Suid-Afrikaanse wynbedryf) skep, want soos in die inleiding gemeld, is tyd en vertaalakkuraatheid van kardinale belang vir 'n professionele vertaler. Om hierdie dilemma nou eers te ontrafel, is tydrowend én die vertaler gaan waarskynlik sukkel om vertaalakkuraatheid te waarborg. By verdere ondersoek, is die insek 'krompokkel' (en nie krompokkeltjie nie) met die wetenskaplike benaming Plangia graminea ook in die bron Grapevine Diseases & Pests in South Africa/Wingerdsiektes en -plae in Suid-Afrika (Ferreira en Venter 1996: 78) opgespoor waar dit soos volg beskryf word: Die onvolwasse stadia van die krompokkel (langhoringsprinkaan) verskyn vroeg in die seisoen (September/Oktober) op die wingerdstok en voed veral gedurende die nag op jong blare. Later, ná vrugset, kan die krompokkels ook op jong trossies voed en skade soortgelyk aan die van snuitkewers veroorsaak. Skade van ekonomiese belang word egter selde aangerig." Opvallend is dat 'krompokkels' ook as die Engelse vertaalekwivalent (dus 'n leenwoord) van die Afrikaanse 'krompokkels' in laasgenoemde bron genoem word. Dít is 'n aanduiding dat die benaming 'krompokkel' in die volksmond ontstaan het en dat daar nie werklik 'n Engelse vertaalekwivalent daarvoor bestaan nie. Maar om duidelikheid hieroor te verkry, sal die speurwerk elders voortgesit moet word, aangesien dié woord ook nie in 'n etimologiese woordeboek van Afrikaans verskyn nie. Uit die beskrywing van 'n 'krompokkel' (waar 'langhoringsprinkaan' as dieselfde insek aangedui word) is dit verder ook duidelik dat Van Zyl die korrekte beskrywing van hierdie insek, asook die korrekte inligting in verband die krompokkel se wingerdaktiwiteite, verskaf. Maar genoemde verklarende woordeboeke se behandeling van die lemma 'krompokkel', skiet egter ver te kort vir vertaling in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. 2.2.2 Probleme met tweetalige woordeboeke 2.2.2.1 Woorde nie in algemene tweetalige woordeboeke opgeneem nie Die probleem van woorde wat in 'n bronteks verskyn, maar nie in verklarende woordeboeke opgespoor kan word nie, geld ook vir algemene tweetalige woordeboeke. Soos onder 2.2.1 genoem, skep dit uiteraard 'n dilemma vir die vertaler. Weer eens kan dieselfde redes hiervoor aangebied word. Dit is veral 'n 68 te lae gebruiksfrekwensie wat in sulke gevalle 'n rol speel, omdat sommige woorde bykans of geheel en al in onbruik verval het, soos reeds gesien in die geval van sekere historiesgebonde woorde (soos dopbier, bytapper en pypvate), woorde wat in die volksmond ontstaan het en boonop streekgebonde is (soos vlooitjie, krompokkel, bladspringer, gepantsterde dopluis, verderflike dopluis en grondpêrels), asook sekere vakterminologie (soos loodarsenaat, polisulfied- swael, chlorpirifos, piperoniel butoksied, deltametrien, filoksera, bene, mousse, terpene, esters en botterig). Sulke gevalle is uiteraard problematies vir 'n vertaler. Gouws (1989: 69-70) wys egter daarop dat standaardwoordeboeke (handwoordeboeke) gerig is op die weergawe van standaardtaal. Verder ook dat gebruiksfrekwensie in hierdie woordeboeke 'n besliste rol sal speel. Daarby het standaardwoordeboeke 'n normatiewe karakter, sodat daar min aandag gegee word aan etimologiese en historiese data. Dit het ook 'n preskriptiewe funksie aangesien dit aandui hoe die taal táns gebruik word. In die lig hiervan kan genoemde probleem dus nie hierdie woordeboeke ten laste gelê word nie. 2.2.2.2 Omkeerbaarheidsbeginsel soms nie toegepas nie Soms word die omkeerbaarheidsbeginsel ook nie toegepas nie. Genoemde verskynsel is problematies vir die woordeboekgebruiker/vertaler, want tyd en vertaalakkuraatheid, soos genoem in die inleiding van dié tesis, is belangrike faktore in die vertaalpraktyk. In hoofstuk een is aangedui dat Gouws (1989: 161- 163) meld dat die korrekte toepassing van die omkeerbaarheidsbeginsel in tweerigtingvertalende woordeboeke een van die belangrikste vereistes vir die verskaffing van vertaalekwivalente is. Die vertaalekwivalent wat byvoorbeeld vir 'n Engelse lemma verskaf word, moet ook lemmastatus in die Afrikaanse afdeling van die woordeboek geniet. Gouws noem egter dat hierdie beginsel dikwels oortree word, soos dan nou duidelik weerspieël sal word in die geval van die woord 'langhoringsprinkaan'. In die Groot Woordeboek/Major Dictionary word die omkeerheidsbeginsel wél soos volg toegepas: 69 lang: ... ~horingsprinkaan, katydid; ... (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'langhoringsprinkaan'). katydid, langhoringsprinkaan (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'katydid'). Maar in die Tweetalige Woordeboek word die omkeerbaarheidsbeginsel in hierdie geval nie toegepas nie. In genoemde woordeboek kom 'katydid' wél as lemma voor (met 'langhoringsprinkaan' as die Afrikaanse vertaalekwivalent daarvan), terwyl die lemma 'langhoringsprinkaan' egter nie in die Afrikaanse afdeling van die woordeboek opgeneem is nie. Hier is die omkeerbaarheidsbeginsel derhalwe nie toegepas nie. 2.2.2.3 Probleme met nisting Nisting is nog 'n probleem wat die vertaler van tyd beroof. Soos genoem in hoofstuk een, meld Gouws (2001: 105-107) dat nie alle woordeboeke dieselfde makrostrukturele ordeningsprosedure openbaar nie. Volgens hom is die tipiese onderskeid wat in woordeboeke met 'n alfabetiese ordening aangetref word, dié wat 'n gewone alfabetiese ordening en dié wat 'n ingewikkelder ordening toon. By eersgenoemde kom slegs hooflemmas voor, terwyl laasgenoemde nie net hooflemmas nie, maar ook sublemmas insluit wat nisting en nesting genoem word. By nisting word die gewone alfabetiese ordening aangetref, maar by nesting word afgewyk daarvan. Volgens Gouws (2001: 107) is die gebruikmaking van nisting en nesting eintlik tot die woordeboekgebruiker se nadeel, omdat dit die toegangstruktuur van die woordeboek bemoeilik. Ook Zgusta (1971: 289) meld dat nisting en nesting meer nadele as voordele inhou. Volgens hom maak samestellers van werklike groot woordeboeke net soms of hoegenaamd nie daarvan gebruik nie. Maar hy noem ook dat waar ruimte 'n rol speel, leksikograwe dikwels genoodsaak is om daarvan gebruik te maak. 'n Voorbeeld van hoe nisting 'n tydrowende faktor vir die vertaler kan wees en hoe dit die toegangstruktuur van die woordeboek bemoeilik, kan weer eens aan die hand van die woorde 'langhoringsprinkaan' en 'krompokkeltjie', asook die woord 'rooidopluis' (De Villiers en Schoeman 1988: 74) geïllustreer word. In die Groot Woordeboek/Major Dictionary moet die woordeboekgebruiker/vertaler telkens deur 'n betreklike digte nis werk voordat hy/sy by 'n Engelse vertaalekwivalent daarvan uitkom. In die geval van die woorde 70 'langhoringsprinkaan' en 'krompokkeltjie' word die situasie vererger deur genoemde woordeboek se benutting van 'n stelsel van veelvuldige nisting met die gesoekte lemma wat eers in die tweede nis optree. lang: ~gatboor, slot-borer; ~gerek, (-te), protracted, long drawn-out; ~golfstasie, long-wave station; ~harig, (-e), long-haired; polilose; ~heid, length; ~hoofdig, (-e), long-headed; dolichocephalic; macrocephalic; ~horingsprinkaan, katydid; ... (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'langhoringsprinkaan'). krom: ~guts, bent gouge; ~hals, retort; ~heid, crookedness; ~hout, vine; ~houtsap gedrink hê, be tipsy; ~knie, calf-knees; ~lynig, (-e), curvilinial; curvilinear; ~lynmeter, opisometer; ~me, (-s), curve (graphs); ~ming, (-e, -s), curve, turn, bend; sinuosity; curvature; elbow; camber; flexion; crook; ~mingshoek, angle of curvature; ~mingslyn, line of curvature; ~nek, retort; ~nekkaartjie: hy het K~nekkaatjie gesoen, he has been at the bottle; ~neksleutel, bent wrench; ~neus, hawk-nose; hooked (Roman) nose; beak; ~passer, (outside) callipers; ~pokkeltjie, kind of insect; ... (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'krompokkeltjie'). rooi, red; ruddy; damask; gules (her.); ~ BLOEDLIGGAAMPIE, red corpuscle; ~ GEVAAR, (hist.), Red Danger (Communism); hoe ~er hoe MOOIER, a dash (pennyworth) of red works wonders; ~ WORD, grow red; blush; ~aarde, red ochre, ruddle; ~aas, red-bait (ascidian used as bait); ~agtig, (-e), reddish; ~assie, orange-breasted waxbill; ~baadjie, (-s), red-coat (British soldier); hopper (locust); ~beet, beet; ~bekeend, red-bill teal; ~bekkakelaar, red-billed hoopoe; ~bekkie, (-s), robin redbreast, common waxbill; grys ~bekkie, lavender finch; ~bekvink, red-billed finch, quelea; ~bessie, hard-pear; ~blaar, bush-willow; ~blom, witchweed; Matabele flower (Striga lutea); ~bok, redbuck, impala (antelope); ~bolus, red bolus; ~bont, red-speckled; roan (cattle), skewbald (horse); ~bors, (-e), robin redbreast; ~borsduifie, laughing dove; ~borslaksman, crimson-breasted shrike; ~bos, red bush (Borbonia spp.); ~bostee, redbush tea; ~breuklig, (-e), red short (iron); ~bruin, reddish brown; sorrel (horse), rubiginous, puce; foxy (paint); ~dag, dawn, daybreak, aurora; ~dagwag, morning watch; ~derm, oesophagus; ~doek, Turkey twill; ~ 71 dopluis, red scale; ... (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'rooidopluis'). 2.2.2.4 Probleme met spellingvariante Spellingvariante is nog 'n dilemma wat vir 'n vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf probleme skep. In hoofstuk een is genoem dat Landau (1984: 77) daarop wys dat spellingvariante net in sommige gevalle (soos in historiese woordeboeke) aangedui word, terwyl 'n enkele spellingvorm as kanonieke vorm vir algemene woordeboeke sal geld. Daar kan aanvaar word dat dieselfde beginsel ook op vakgerigte woordeboeke van toepassing sal wees. Genoemde veroorsaak egter probleme vir die vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. In 'n meer vakgerigte woordeboek (Woordeboek vir Tuinboukunde met plantname) word die lemma 'kalander' byvoorbeeld soos volg behandel: kalander (snuitkewer): weevil, snoutbeetle (Woordeboek vir Tuinboukunde met platname, s.v. 'kalander'). In die Tweetalige Woordeboek lyk die behandeling van dieselfde woord soos volg: kalander, (-s), n. (1) (corn-)weevil, grain-weevil, snout-beetle; vine-weevil. En in die Groot Woordeboek/Major Dictionary (waarin die woord 'snout- beetle' nie as Engelse vertaalekwivalent van die Afrikaanse woord 'kalander' aangedui word nie, maar wel as Engelse vertaalekwivalent van die woord 'snuitkewer') sien die behandeling van die lemma 'snuitkuiwer' soos volg daaruit: snuit, (s) (-e), ... ~kewer, snout-beetle; ... (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'snuitkewer'). Wat opvallend in die vergelyking tussen bogenoemde woordeboeke is, is die spellingvariante van die Engelse woord 'snoutbeetle'/'snout-beetle'. In die Woordeboek vir Tuinboukunde met plantname verskyn dié woord sónder 'n koppelteken en in die genoemde twee algemene tweetalige woordeboeke mét 'n koppelteken. Twee spellingvariante dus wat op sigself vertaalprobleme in die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan veroorsaak. 'n Ander voorbeeld van só 'n spellingvariant is onder punt 2.2.1 genoem waar die woord 'krompokkel'/'krompokkeltjie' as voorbeeld gebruik is. Met die bespreking van bogenoemde is aangedui dat terwyl die bronteks (Van Zyl 1974), onderhoude 72 met Goussaard en De Villiers (Fakulteit Landbou- en Bosbouwetenskappe, Universiteit van Stellenbosch) en die bron Grapevine Diseases & Pests in South Africa/Wingerdsiektes en -plae in Suid-Afrika (Ferreira en Venter 1996) voorkeur gee aan die woord 'krompokkel', dié woord as 'krompokkeltjie' in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek opgeneem is. Hierdie diminutiewe vorm ('krompokkeltjie') verskyn ook in die Groot Woordeboek/Major Dictionary. Die woord onder bespreking, is egter ook een van daardie woorde wat nie in die Tweetalige Woordeboek verskyn nie. In die bespreking onder 2.2.1 (b) is ook melding gemaak van die spellingvariant screw press/screw-press in die Tweetalige Woordeboek en Groot Woordeboek/Major Dictionary onderskeidelik. 2.2.2.5 Vertaalekwivalente vir kultuurgebonde woorde In hoofstuk een is genoem dat die soeke na vertaalekwivalente beslis nie 'n probleemvrye proses is nie (Zgusta 1971: 294-297). Een van hierdie probleemskeppers, is kultuurgebonde woorde (Zgusta 1971: 294-297 en ook Al- Kasimi 1977: 61). In krompokkel/krompokkeltjie het ons oënskynlik te make met 'n benaming vir 'n spesifieke fenomeen wat in die spreektaal van 'n bepaalde kultuurgroep (Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners) in 'n historiese tydperk ontstaan het en waarvoor die Engelse vertaalekwivalent klaarblyklik nie bestaan nie. In die Groot Woordeboek/Major Dictionary word slegs 'n kort Engelse beskrywing daarvan gegee sónder dat 'n Engelse vertaalekwivalent aangebied word: krom: ... ~pokkeltjie, kind of insect; ... (Groot Woordeboek/Major Dictionary, s.v. 'krompokkeltjie'). Beide Zgusta (1971: 294 e.v.) en Al-Kasimi (1971: 61) noem dat indien 'n vertaalekwivalent nie verskaf kan word nie, moet die leksikograaf 'n kort beskrywing daarvan langs die lemma verskaf. In bogenoemde geval het die leksikograaf dan ook só gehandel, maar vir die vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf is dit onvoldoende. Hy/sy benodig 'n vertaalekwivalent; nie 'n kort beskrywing nie. Die verskaffing van die Engelse vertaalekwivalent 'krompokkel' vir die Afrikaanse term 'krompokkel' in Grapevine Diseases & Pests in South Africa/Wingerdsiektes & -Plae in Suid-Afrika (Ferreira en Venter 1996) bevestig 73 die feit dat daar nie 'n Engelse woord as vertaalekwivalent vir 'krompokkel' aangebied kan word nie. Derhalwe is die leenwoord 'krompokkel' ook in Engels gebruik. Dié woord kom egter nie in die algemene tweetalige woordeboeke as vertaalekwivalent voor nie en skep gevolglik 'n probleem vir 'n vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, aangesien hy/sy dikwels daarmee as gebruiksinstrumente werk. Vroeër is genoem dat die woord 'krompokkel' ook nie in die Tweetalige Woordeboek opgeneem is nie en dít op sigself is problematies vir die vertaler. 2.3 Bevindings van enkele vertaalteoretici Ook vertaalteoretici wys daarop dat tydperk- en kultuurgebonde woorde (soos in die geval van vlooitjie en krompokkel(tjie)) probleme vir vertaling inhou. Volgens Munday (2001:38) het Nida 'n aantal dekades gelede al (in sy betrokkenheid by hoofsaaklik Bybelvertaling), kennis geneem van sekere woorde wat in die bronkultuur anders geïnterpreteer word as in die doelkultuur. Munday (2001: 38) noem ook dat Nida daarop wys dat hierdie verskillende interpretasies van woorde binne kultuurverband selfs verskillende reaksies by die onderskeie kultuurgroepe kan ontlok. Nida (met sy hoofsaaklik linguistiese vertaalbenadering) is egter nie die enigste vertaalteoretikus wat met kultuur as rolspeler (en dus ook woorde wat kultuurgebonde is) in vertaling worstel nie. Ander linguiste soos Kade en Koller kry in die Dictionary of Translation Studies ([S.a.]: 50) ook vermelding as vertaalteoretici wat met die kultuurdilemma in hulle ekwivalensie-ideaal (met sy vele beperkinge wat sekerlik vertaalekwivalente insluit) vir bron- en doelteks swoeg. Halverson (1997: 216) noem dat Toury 'n belangrike vertaalteoretikus is wat beklemtoon dat aspekte soos situasie en kultuur versigtige oorweging in vertaling vereis. Volgens Halverson (1997: 215-216) kom Toury (en ook Hermans (1985)) se siening daarop neer dat vertaling binne 'n bepaalde tydperk in 'n bepaalde ruimte plaasvind, sodat ekwivalensie uiteraard min (en in sommige gevalle geen) aandag geniet nie. Sekere aspekte in verband met 'n bepaalde situasie wat in die bronteks weerspieël word, asook die kultuur waaruit die bronteks spruit, kan byvoorbeeld onbekend wees aan die doelteksleser. Derhalwe sal die vertaler hierdie aspekte só verwerk dat die doelteks uiteindelik min of geen ekwivalensie daarmee toon nie. Die 74 doelteks word dus aangepas vir die situasie en die kultuur waarbinne die doelteksleser hom/haar bevind. Halverson (1997: 217) noem verder dat Vermeer met sy skoposteorie ('n benadering wat eerder fokus op die kommunikatiewe doel van die vertaling) die ekwivalensiegedagte eintlik op die agtergrond skuif. Ook Reis en Nord (met hulle funksionalistiese vertaalbenadering) ondersteun volgens Halverson (1997: 217) hierdie beskouing. Volgens hulle is vertaalekwivalensie slegs van toepassing in sekere soort vertalings, soos in die soeke na vertaalekwivalente vir woorde/terme wat in programme verskyn en waar woord-vir-woord-vertaling dus grotendeels sal geld. Uit die voorafgaande blyk dit derhalwe dat vertaalteoretici soos Vermeer, Reis en Nord poog om vertaalprobleme, wat kultuur- en historiesgebonde woorde ook kan insluit, deur middel van 'n funksionalistiese benadering hok te slaan. Derhalwe sal 'n woord in die bronteks deur 'n ander (maar steeds funksionele) woord in die doelteks vervang kan word. Die woordeboek moet egter die werklike taalgebruik weerspieël. So sal die woord 'krompokkel' (uit die bronteks) dan deur 'n ander woord wat steeds funksioneel is (in die doelteks), vervang kan word. Volgens Muntingh (1998: 507) is Thelen (1993) van mening dat om presies te vertaal moeilik is omdat woordeboeke en ander naslaanbronne nie altyd voldoende hulp kan verskaf nie. Hy skryf dit toe aan die dinamiek van tale wat nie in woordeboeke weerspieël word nie. Volgens Thelen (1993, aangehaal in Munday 1998: 507) impliseer dinamiek vorm en betekenis. Leonardi (2000: 3-4) noem dat die vertaalteorici Jakobson (1959) en ook Vinay en Darbelnet (1958) voorstel dat wanneer vertaling onmoontlik lyk, leenvertaling byvoorbeeld toegepas moet word. In só 'n geval sal 'krompokkel' as 'n woord in die bronteks (Afrikaans) dan ook as 'n vertaalekwivalent in die teikenteks (Engels) gebruik kan word. Maar volgens hierdie navorser is laasgenoemde slegs in sekere opsigte moontlik, veral as die vertaling vir kenners op hierdie gebied geskied. Indien die vertaling egter gerig is op oningeligte doeltekslesers of op lesers wat nie kennis dra van die brontaal nie, kan leenvertaling problematies wees. In só 'n geval kan 'n kort beskrywing van die problematiese woord(e) eerder gepas wees. Jakobson en Vinay en Darbelnet meen egter dat enige vertaling moontlik is, al is daar ook kulturele en grammatikale verskille. Genoemde vertaalteoretici is maar enkeles wat al oor vertaaldilemmas geskryf het. Uiteindelik blyk dit dat hulle probleme in hierdie verband veral drieledig van aard kan 75 wees: a) 'n Fenomeen wat aan die bronkultuur bekend is, maar nie aan die teikenkultuur nie; derhalwe bestaan daar nie 'n vertaalekwivalent daarvoor in die doeltaal nie. b) Vir sommige woorde in die brontaal is daar bloot nie voldoende vertaalekwivalente in die doeltaal nie. c) Woordeboeksamestellers verskaf soms onvolledige data in hulle woordeboeke (moontlik as gevolg van ruimte- en/of frekwensieprobleme) sodat bestaande woordeboeke as gebruiksinstrumente vir teksresepsie en -produksie, onvoldoende is. Die doel van 'n woordeboek (soos bespreek in hoofstuk een) kan uiteraard ook 'n beduidende rol speel in sulke onbevredigende dataverskaffing. 'n Woordeboek vir algemene gebruik, sal uiteraard nie volledige data vir 'n gespesialiseerde veld soos vertaling in die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan verskaf nie. 2.4 Gevolgtrekking Uit die navorsing aan die hand van die primêre bronne Kaapse Wyn en Brandewyn 1795-1860 (Van Zyl 1974), Tuinplae en -siektes (De Villiers en Schoeman 1988) en Wyn (Dedekind 2002) is 'n aantal vertaalprobleme geïdentifiseer wat toegeskryf kan word aan onvoldoende dataverskaffing in algemene tweetalige woordeboeke, verklarende woordeboeke en selfs vakwoordeboeke. Dit moet egter gekonstateer word dat hierdie onvoldoende woordeboekdata nie impliseer dat bestaande woordeboeke swak hulpmiddels in die hande van vertalers nie. Dit is bloot ontoereikend vir 'n gespesialiseerde veld soos vertaling in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Algemene verklarende en Afrikaans-Engels-woordeboeke sal altyd handige hulpmiddels wees, aangesien tekste in die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie net uit veldgebonde terme bestaan nie. Vele algemene terme en woorde sal ook daarin voorkom wat sekerlik sal vereis dat die vertaler hulpverlening in die algemene woordeboeke ook moet soek. Vervolgens word die spesifieke probleme met bestaande woordeboeke puntsgewys uiteengesit: 1. Omdat jargon dikwels in 'n gespesialiseerde vertaalveld voorkom, en hierdie jargon waarskynlik ook van toepassing kan wees op ander gebiede, laat dit leksikograwe van algemene verklarende en tweetalige woordeboeke met geen ander alternatief nie as juis om 'n middeweg te volg. Samestellers van hierdie woordeboeke sal uiteraard algemene verklarings vir bepaalde terme wat in verskillende kontekste geld, aanbied. Dieselfde benadering sal ook vir algemene tweetalige woordeboeke geld. Die rede daarvoor is eintlik voor die hand liggend. 76 In hoofstuk een is genoem dat die leksikograaf eerstens moet bepaal vir wie die beoogde woordeboek beplan word en wat die doel daarmee is. Uiteraard sal tweetalige en verklarende woorde grotendeels op die algemene woordeboekgebruiker gerig wees en nie op 'n vertaler op die gebied van 'n spesifieke veld soos die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie. Daarby speel faktore soos woordeboekruimte en woordfrekwensie 'n beslissende rol. Om vir elke spesialisveld voldoende bewerking in genoemde woordeboeke te verskaf, is net nie moontlik nie. Daar kan boonop ook nie van 'n leksikograaf verwag word om 'n kenner op haas elke gebied te wees nie. So 'n verwagting sal beslis vergesog wees. 2. Dit kan gebeur dat 'n vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf probleme ervaar met die korrekte beeldvorming van sekere woorde/begrippe. In sulke gevalle sal dit dus beteken dat die vertaler moontlik van 'n verskeidenheid bronne gebruik moet maak om die korrekte beeld van 'n woord te verkry ten einde dit effektief te kan vertaal. Die woorde wat vir hierdie navorsing geïdentifiseer is, dien as voorbeeld van hierdie dilemma. So 'n soeke in bronne is vanselfsprekend tydrowend en tyd is dikwels 'n beduidende faktor in die dagtaak van 'n vertaler. Vertaalopdraggewers en kliënte (soos vertaalinisieerders) stel heel dikwels sperdatums aan vertalers. Sou 'n vertaler as gevolg van genoemde dilemma dan nie by hierdie sperdatums hou nie, kan die gevolge daarvan verreikend wees. In 'n mark waar kompetisie, akkuraatheid en sperdatums gedugte rolspelers is, kan die vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie bekostig om met onvoldoende woordeboekdata sy/haar brood-en-botter-taak aan te pak nie. Niks weerhou vertaalinisieerders en -opdraggewers daarvan om hulle opdragte elders te neem nie. En sulke voorvalle wil 'n vertaler liefs vermy. 3. Verklarings in algemene verklarende woordeboeke (soos reeds genoem) is veral op die algemene woordeboekgebruiker gerig. Derhalwe sal 'n woordeboeksamesteller waarskynlik in só 'n geval eerder fokus op lemmaverklarings wat algemener van toepassing sal wees. Die geval 'kalander' is 'n voorbeeld hiervan. Kalanders blyk problematies vir 'n verskeidenheid boerderysoorte te wees, soos koring, rys, druiwe en ander vrugtesoorte. Die leksikograaf sal dus eerder op die algemener saak- en betekenisbeskrywing fokus. Sulke verklarings kan met ander woorde nie 'n gespesialiseerde veld soos die Suid-Afrikaanse wynbedryf volledig bedien nie. Inteendeel. Woordeboekruimte is maar een van die faktore wat die leksikograaf hiervan sal weerhou. Daarby (soos 77 ook reeds genoem) is 'n leksikograaf nie 'n absolute kenner op alle studieterreine nie. Maar hierdie feite help nie om die beroepsvertaler se probleem te versag nie. Hy/sy wil met die oopslaan van 'n woordeboek onmiddellik 'n akkurate en ondubbelsinnige verklaring vind. 4. Dikwels word sinonieme in Afrikaans-Engels-woordeboeke verskaf wat op die bepaalde terrein (in hierdie geval die Suid-Afrikaanse wynbedryf) hoegenaamd nie verbandhoudend is nie. Sekere woordeboeke verskaf reekse sinonieme vir 'n lemma, maar elk van hierdie sinonieme kan weer in 'n ander veld van toepassing wees (met ander woorde gedeeltelike sinonieme). Sulke verskynsels veroorsaak ook probleme vir die vertaler, want nie alleen kan dit die vertaler op 'n dwaalspoor plaas nie, maar hom/haar ook van vertaaltyd beroof. Ontrafeling kan 'n onnodige lang soektog tot gevolg hê. Daarby het dit ook in die navorsing geblyk dat sinonieme vir lemmas aangebied word wat in werklikheid nie sinonieme van 'n bepaalde lemma is nie. In hierdie geval is daar sprake van polisemie. Die sinonieme wat vir 'krompokkel' aangebied word, dien as voorbeeld. 'n Sprinkaan in 'n bepaalde ontwikkelingstadium kan tog nie 'n besie wees nie. Gouws (1989: 167) sê egter dat sinonieme wat slegs ten opsigte van styl en register van mekaar verskil, leksikografies as absolute sinonieme hanteer word en derhalwe binne die bestek van leksikale divergensie sorteer. Hier is ook sprake van semantiese divergensie wat spruit uit die polisemiese aard van genoemde lemma. Dit vereis dat die leksikograaf bondige semantiese toeligting moet verskaf (Gouws 1989: 170). 5. Ook problematies is die verskeidenheid vertaalekwivalente wat in sommige Afrikaans-Engels-woordeboeke aangebied word. Dit sal net geriefliker en tydbesparend wees as die vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf die korrekte vertaalekwivalent met een soektog kan vind. 'n Verskeidenheid vertaalekwivalente kan lei tot verwarring en waarskynlik in sommige gevalle verkeerde vertaalekwivalentkeuses. 6. Diskrepansies in die aanduiding van wetenskaplike terme vir sekere lemmas, is nog 'n probleem wat in die navorsing na vore gekom het. Sulke verskille in woordeboeke bemoeilik die taak van die vertaler, veral as die doelteks gerig is op wetenskaplike kenners op die gebied van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Wetenskaplike terme sal waarskynlik grotendeels in doeltekste vir genoemde teikengroep verskyn, maar juis daarom wil die vertaler in hierdie bedryf die 78 korrekte term (en die spelling daarvan) beskikbaar hê wanneer hy/sy 'n woordeboek oopslaan. Met hierdie navorsing is byvoorbeeld gevind dat net te veel wetenskaplike terme in die geval van die woord 'kalander' aangedui word. Die rede hiervoor natuurlik is omdat die kalanderfamilie (Curculionidae) uit verskeie familielede bestaan. Die familielid of -lede wat in 'n algemene woordeboeke voorrang geniet, se wetenskaplike benaming sal dan noodwendig in die betrokke woordeboek verskyn. Maar dit op sigself veroorsaak eindelose probleme vir die vertaler in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die familielid wat van toepassing is op wingerde, is al waarin hy/sy belang stel. Die ander familielede is irrelevant. Daarom sal die Phlyctinus callosus byvoorbeeld een van die wingerdkalanders wees wat die vertaler in hierdie bedryf graag in 'n woordeboek wil sien. 7. Die afwesigheid van woordeboekillustrasies is nog 'n probleem wat geïdentifiseer is. Illustrasies is veral van toepassing waar daar moontlike begripsprobleme kan ontstaan. Die drie woorde 'kalander', 'krompokkel' en 'vlooitjie' vereis dalk illustrasies ter ondersteuning van die onderskeie woordverklarings. Vir 'n vertaler is dit dikwels moeilik om 'n duidelike beeld van 'n fenomeen uit woordverklarings alleen te vorm. Goeie illustrasies sal in sulke gevalle die voordeel van behoorlike beeldvorming inhou. Korrekte beeldvorming is uiteraard belangrik vir 'n vertaler, want dit bepaal uiteindelik of die vertaler die korrekte vertaalekwivalent in die doelteks gaan aanlê. 8. Woorde wat in die volksmond vir bepaalde fenomene ontstaan, is 'n ander aspek wat nie effektiewe behandeling in óf algemene verklarende óf Afrikaans-Engels- woordeboeke geniet nie. Vir 'n gespesialiseerde veld soos vertaling in die Suid- Afrikaanse wynbedryf is dit egter belangrik, want sulke woorde kan in brontekse voorkom en vertalers moet dan in staat wees om met 'n eerste vingertog trefseker sinonieme en/of vertaalekwivalente in ’n enkele woordeboek te vind. In hierdie geval kan die woorde 'krompokkel' en 'vlooitjie' as voorbeelde uitgesonder word. 9. Nie net resente brontekste word vertaal nie. Die moontlikheid dat 'n vertaler ook historiese brontekste as vertaalopdrag kan ontvang, is nooit uitgesluit nie. Tydperk- en ook kultuurgebonde terme kan dus vertaaldilemmas vir 'n vertaler inhou indien sulke terme nie in woordeboeke opgespoor kan word nie. Neem die term 'vlooitjie' as voorbeeld. Indien dié term in 'n historiese bronteks verskyn as verwysing na 'n mosbalie, en die vertaler nie bewus daarvan is dat dit na 'n soort parsimplement in 'n bepaalde historiese tydperk verwys nie, sal hy/sy waarskynlik 79 nie die korrekte (Engelse) vertaalekwivalent in die doelteks gebruik nie. Natuurlik is gebruiksfrekwensie (soos genoem) 'n rolspeler in die samestelling van woordeboeke, maar vertalers sal verkies om selfs terme wat moontlik as gevolg van lae gebruiksfrekwensie in onbruik verval het, óók in 'n (resente) woordeboek (veral vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf) te vind. Derhalwe moet die korrekte tipologiese keuse gemaak word. 10. Omdat 'n vertalerswoordeboek uitsluitlik vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie bestaan nie, moet vertalers in hierdie bedryf noodwendig van bestaande woordeboeke gebruik maak. Die meeste van hierdie verklarende en Afrikaans- Engels-woordeboeke is op die algemene woordeboekgebruiker gerig. Die enkele bestaande vakwoordeboeke is ook nie op die Suid-Afrikaanse wynbedryf spesifiek gerig nie, derhalwe is hierdie woordeboeke ook nie volkome geskik vir genoemde bedryf nie. Data in hierdie woordeboeke vervat, is net nie voldoende vir vertaling in die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie. 11. Die navorsing toon dus dat vertalers in die Suid-Afrikaanse wynbedryf 'n behoefte het aan 'n vertalerswoordeboek om hulle taak te vergemaklik. Tydbesparing en akkurate vertaling kan deur 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf moontlik gemaak word. 80 81 3. 'N VERTALERSWOORDEBOEKMODEL VIR DIE SUID-AFRIKAANSE WYNBEDRYF 3.1 Inleiding In hoofstuk twee het hierdie navorsing getoon dat 'n vertaler in die Suid- Afrikaanse wynbedryf 'n aantal probleme met bestaande woordeboeke as gebruiksinstrumente ondervind. Hierdie probleme spruit grootliks uit die samestelling daarvan wat hoofsaaklik op die algemene woordeboekgebruiker gerig is. Die belangrikste tekortkoming hierin is dat dit nie voldoende uitgebreide terreinspesifieke data verskaf om die vertaler in staat te stel om akkurater en vinniger te vertaal nie. Dit noodsaak dus 'n aanbeveling vir 'n vertalerswoordeboekmodel wat uitsluitlik op hierdie bedryf gerig is. 3.2 'n Vertalerswoordeboekmodel 3.2.1 Die teikenmark en die doel van hierdie woordeboek Soos vermeld in hoofstuk een, beklemtoon Tarp (2000), Kromann e.a. (1991), Hartmann (1991), Zöfgen (1994), Gouws (1989) en Al-Kasimi (1983) dat woordeboeksamestellers rekening moet hou met die beoogde woordeboekgebruiker en sy/haar spesifieke behoeftes. In die lig hiervan behoort 'n vertalerswoordeboek hoofsaaklik gerig te wees op vertalers/tolke (Afrikaans en Engels) in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Genoemde gebruikers se spesifieke behoefte is 'n woordeboek wat as ideale gebruiksinstrument kan dien in die uitvoering van hulle taak in die vermelde bedryf. Soos in hoofstuk twee gesien, behoort die ideale gebruiksinstrument gekonsolideerde data uit 'n verskeidenheid woordeboeksoorte in een produk te bevat. Derhalwe is die ideaal dat verklaring en vertaling in só 'n produk geïntegreer moet word, sodat dit uiteindelik die unieke stempel van 'n vertalerswoordeboek kan dra. Genoemde ideaal behoort dan ook die beplanning van só 'n vertalerswoordeboek te rig. Tarp (2000: 195) se vermelding van die twee soorte data wat vir algemene woordeboeke van belang is, naamlik primêre (dit is data in verband met moeder- en tweede taal) en sekondêre data (soos data in verband met die spesifieke woordeboek en hoe dit gebruik moet word) behoort ook van toepassing te wees op 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. 82 Die twee leksikografiese funksies waarna Tarp (2000: 196) verwys _ die kommunikatiewe funksie (vir teksresepsie en -produksie in Afrikaans en Engels, asook vertaling in die moedertaal en anderom) én die kennisfunksie (byvoorbeeld algemene data in verband met kultuur) _ behoort gesamentlik in 'n vertalerswoordeboek aangebied te word. Soos gesien in hoofstuk twee van hierdie navorsing, is beide leksikografiese funksies dikwels van belang vir die vertaler. Aangesien 'n vertalerswoordeboek 'n produk vir 'n gespesialiseerde terrein behoort te wees, is dit ook belangrik dat dit meer gedetailleerde data in beide tale verskaf. Die doel van hierdie woordeboek behoort dus te wees om die brontaal te verstaan en te beskryf, maar ook om tekste in die doeltaal te kan skryf. 3.2.2 Die tipologiese klassifikasie Die ideale vertalerswoordeboek behoort 'n gekonsolideerde produk te wees van wat Gouws (1989: 61) as ensiklopediese en linguistiese woordeboeke onderskei _ uiteindelik dus 'n ensiklopedies-linguistiese woordeboeksoort. Omdat ensiklopediese woordeboeke op saakbeskrywing gerig is, is dit uiteraard belangrik vir 'n vertaler, soos ook in hoofstuk twee aangetoon. Maar só is die fokus van linguistiese woordeboeke op linguistiese eienskappe van leksikale items uiteraard ook van belang. In hoofstuk een is verder daarop gewys dat Gouws (1989: 62 e.v.) linguistiese woordeboeke verdeel in diachroniese en sinchroniese woordeboeke. Vir 'n vertalerswoordeboek is die eienskappe van beide van belang. Diachronies omdat dit lig werp op (in hierdie geval beperkte) historiese en (beperkte) etimologiese aspekte wat in hoofstuk twee as probleemareas met algemene woordeboeke uitgewys is, en sinchronies omdat die tweedeling, eentalig (met die fokus op vormlike kenmerke) en vertalend (in hierdie geval tweetalig), ook van belang is vir 'n vertalerswoordeboek. Derhalwe behoort 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf ook eienskappe van beide diachroniese en sinchoniese woordeboeke te openbaar. In hierdie opsig moet daar egter 'n balans wees. Diachoniese data behoort net aangedui te word waar dit noodsaaklik is om verwarring of onduidelikheid te voorkom. 83 Wat die vertalende komponent betref, is dit belangrik dat vertaalekwivalente slegs binne die konteks van die Suid-Afrikaanse wynbedryf aangebied moet word. Sodoende sal nie net onduidelikhede wat kan lei tot onakkurate vertaling, uitgeskakel word nie, maar ook tyd bespaar word in die soeke na geskikte vertaalekwivalente. Alhoewel Gouws (1989: 67 e.v.) eentalige sinchronies linguistiese woordeboeke in beperkte en algemene woordeboeke indeel, behoort 'n vertalerswoordeboek ook in hierdie opsig beide se eienskappe te toon. Die doel van só 'n woordeboek is wel om die (beperkte) veld van die Suid- Afrikaanse wynbedryf te bedien, maar soos gesien in hoofstuk twee het 'n vertaler dikwels ook 'n behoefte aan die deskriptiewe (beskrywende) funksie. Ensiklopediese data wat in 'n omvattende woordeboek aangetref word (maar in hierdie geval slegs op die beperkte veld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf van toepassing behoort te wees), is dikwels vir die vertaler óók van belang. Derhalwe word aanbeveel dat 'n vertalerswoordeboek nie net die eienskappe van 'n beperkte woordeboek toon nie, maar ook dié van 'n algemene woordeboek. In hoofstuk een is verder melding gemaak van Gouws (1989: 69 e.v) se verwysing na die gebruik van etikette in omvattende woordeboeke en in 'n mindere mate ook in handwoordeboeke om byvoorbeeld 'n afwyking aan te toon. Die gebruik hiervan behoort vir 'n vertalerswoordeboek ook te geld. Afwykings veroorsaak dikwels dat vertalers verskeie woordeboeke en/of ander bronne moet raadpleeg om antwoorde op vertaaldilemmas te vind. Hierdie probleem is ook uitgewys in hoofstuk twee. Volgens Gouws (1989: 201-205) word standaardtaalvorme normaalweg nie geëtiketteer nie. Die samesteller van 'n vertalerswoordeboek vir hierdie bedryf hoef dus nie etikette by lemmas of by ander inskrywings in 'n artikel met standaardtaalstatus aan te bring nie. In 'n vertalerswoordeboek behoort etikette slegs aangebring te word waar daar afwykings voorkom, soos temporele etikette (verouderd, histories, ensovoorts) wat veral gebruik word om die tyd- en tydperkgebondenheid van 'n woordeboekinskrywing te merk. Die woord 'vlooitjie' in hoofstuk twee vermeld, kan byvoorbeeld van só 'n etiket voorsien word. Verder behoort geografiese etikette (dialekties, ensovoorts) en stilistiese etikette wat 84 stylkenmerke (informeel, ensovoorts) en gebruiksfrekwensie (ongewoon, ensovoorts) merk, ook in 'n vertalerswoordeboek te verskyn. Gebruiksfrekwensie (deur Gouws 1989: 69 e.v. vermeld as 'n belangrike faktor in die samestelling van handwoordeboeke) behoort 'n kleiner faktor in die samestelling van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf te wees. In hoofstuk twee is getoon hoe die woord 'vlooitjie' byvoorbeeld probleme vir die vertaler/woordeboekgebruiker veroorsaak omdat dié woord in géén algemene woordeboek as verwysing na 'n plat mosbalie opgespoor kan word nie. Gebruiksfrekwensie het uiteraard 'n rol gespeel in die weglating van hierdie woord uit algemene woordeboeke. Maar vertalers/tolke kry wél met sulke woorde te doen. Uiteraard kan daar egter binne hierdie beperkte veld moontlik ook woorde/terme voorkom met 'n lae gebruiksfrekwensie. Súlke woorde/terme behoort dus ook nie in die subkorpus van 'n vertalerswoordeboek vir hierdie bedryf opgeneem te word nie. 'n Vertalerswoordeboek behoort verder ook 'n tweetalige vertalende woordeboek te wees. Alhoewel Al-Kasimi (1977: 20-31) onderskei tussen verskillende vertalende woordeboeksoorte, word hier aanbeveel dat 'n vertalerswoordeboek kollektief eienskappe van die meeste van hierdie woordeboeke openbaar. Uiteraard behoort só 'n woordeboek gerig te wees op vertalers/tolke in beide doel- én brontaal. Vir hulle is die geskrewe én gesproke taal belangrik. Verder behoort hierdie woordeboek historiese én beskrywende komponente te bevat (soos uitgewys in hoofstuk twee as belangrike aspekte). Só 'n woordeboek behoort ook leksikaal én ensiklopedies van aard te wees (ook in hoofstuk twee as onontbeerlik uitgewys). Daarby behoort dit spesifiek te wees, want dit is 'n vertalerswoordeboek vir die Suid- Afrikaanse wynbedryf. 3.2.3 Die raamstruktuur Kammerer en Wiegand (1998, aangehaal in Gouws 2001: 102 e.v.) en ook Landau (1984: 115 e.v.) se vermelding dat die meeste woordeboeksoorte uit tekstuele fokuspunte bestaan, naamlik die voortekste, die sentrale woordelys en die agtertekste, behoort ook van belang te wees vir 'n vertalerswoordeboek. In hoofstuk een is genoem dat Kammerer en Wiegand (1998, aangehaal in Gouws 2001: 102 e.v.) beklemtoon dat 'n woordeboek se sentrale woordelys 'n 85 bepaalde struktuur moet hê om die woordeboekgebruiker vinnige en moeitelose toegang tot bepaalde data te bied. Kammerer en Wiegand (1998, aangehaal in Gouws 2001: 102 e.v.) se siening dat daar in die voor- en agtertekste ook funksionele komponente van 'n woordeboek behoort te wees, asook Bergenholtz, Tarp en Wiegand (1999, aangehaal in Gouws 2001: 104) se beklemtoning van die vollediger benutting van geïntegreerde en nie-geïntegreerde buitetekste, word ook deur hierdie navorser as essensieel vir 'n vertalerswoordeboek beskou. Uiteraard kan die gebruik van genoemde tekste groter hulpverlening aan die woordeboekgebruiker/vertaler bied. Direkte skakeling tussen die buitetekste en die artikelstruktuur kan die taak van die woordeboekgebruiker/vertaler vergemaklik. Soos Gouws (2001: 104) ook noem, behoort die werklike doel met die woordeboek sodoende bereik te word. 'n Duidelike inhoudsopgawe (vermeld in Gouws 2001: 105) behoort verder eintlik 'n vereiste vir 'n vertalerswoordeboek te wees, want hierdeur verkry die woordeboekgebruiker/ vertaler sistematiese toegang tot die moontlike verskeidenheid tekstipes waaruit dié woordeboek kan bestaan. Dit kan ook die nodige data verskaf oor die funksie van elke teks binne die onderskeie fokuspunte van die woordeboek. Dit is ook belangrik (soos deur Gouws 1989: 33 genoem) dat die voortekste 'n afdeling moet bevat waarin die leksikograaf sy/haar teoretiese gesigspunt in verband met hierdie woordeboek toelig, asook 'n uittreksel uit die sentrale woordelys met verklarende aantekeninge daarby (soos ook deur Landau 1984: 116 vermeld). Hierdeur kan die woordeboekgebruiker/vertaler effektiewe leiding in die gebruik van die vertalerswoordeboek verkry. Soos in die geval van die meeste ander woordeboeksoorte, kan daar moontlik ook data wees wat eintlik nie in die sentrale woordelys van 'n vertalerswoordeboek kan verskyn nie, byvoorbeeld sekere tekens en simbole, massa- en volumetabelle, ensovoorts (waarvan Landau 1984: 116 e.v. spesifiek melding maak). Met die samestelling van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, moet die samesteller egter die insluiting hiervan versigtig oorweeg. Genoemde agtertekste verskyn buitendien in 'n aantal bestaande woordeboeke, sodat dit dalk nie nodig sal wees om dit in die vertalerswoordeboek ook in te sluit nie. 86 3.2.4 Die sentrale lys 3.2.4.1 Alfabetiese ordening van lemmas Word daar gekyk na die ordening van lemmas in 'n vertalerswoordeboek, word aanbeveel dat die alfabetiese ordeningsmetode ook hier moet geld, omdat dít die metode is wat Zgusta (1971: 282) onderskei as die metode wat die minste onduidelikhede inhou én die eenvoudigste van alle ordeningsmetodes blyk te wees. Sodoende sal die woordeboekgebruiker/ vertaler se soekroete dan ook vergemaklik word. In hoofstuk een is verder genoem dat Landau (1984: 82 e.v.) aandui dat die alfabetiese ordeningsmetode geskied deur die lemmas volgens hulle eerste letter in 'n streng-alfabetiese volgorde te rangskik. Verder meld Landau dat waar woorde as een of twee woorde geskryf kan word (byvoorbeeld in die geval van sekere chemiese terme), elkeen van dié woorde as afsonderlike lemmas opgeneem moet word _ beginsels wat na 'n vertalerswoordeboek ook herlei behoort te word. 'n Kruisverwysingstelsel behoort ook in 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf gebruik te word. 3.2.4.2 Mikrostrukturele aspekte 3.2.4.2.1 Artikelstruktuur 'n Hoofstuk twee is aangetoon hoe oortollige data in algemene woordeboeke problematies vir die vertaler in die beperkte veld van die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan wees. Indien nie slegs terreinspesifieke data in 'n artikel verskyn nie, kan dit tydrowend wees om die relevante data in die artikel te identifiseer. Ook is daar aangetoon hoe oortollige data dikwels tot onduidelikhede kan lei wat trefseker vertaling kan dwarsboom. Derhalwe blyk dit dat die artikelstruktuur in 'n vertalerswoordeboek vir hierdie bedryf slegs relevante data vir akkurate vertaling behoort te bevat. Daarom word aanbeveel dat die artikelstruktuur in 'n vertalerswoordeboek soos volg daaruit moet sien: Die lemma (meervoud- en verkleiningsvorm waar nodig ingesluit) met fonetiese uitspraakaanduiding daarnaas (vir die gerief van tolke), gevolg deur 'n etiket in gevalle waar dit nodig is om byvoorbeeld tydperk- of streekgebondenheid aan te dui. Daarna (slegs) die absolute vertaalekwivalent(e), of 'n kort beskrywing indien genoemde nie bestaan nie, asook 'n duidelike en ondubbelsinnige woordeboekdefinisie in die brontaal én 87 'n woordeboekillustrasie indien 'n woordeboekdefinisie nie voldoende blyk te wees nie (soos in die geval van byvoorbeeld die woord vlooitjie). 3.2.4.2.2 Die lemma Daar is in hoofstuk een genoem dat Zgusta (1971: 30) beklemtoon dat die woordeboeksoort (in hierdie geval 'n vertalerswoordeboek vir die Suid- Afrikaanse wynbedryf) en die doel daarvan (die vertalerswoordeboek as gebruiksinstrument vir die vertaler/tolk in hierdie bedryf) die lemmakeuse vir opname daarin moet bepaal. Verder bevat die Suid-Afrikaanse wynbedryf 'n woordeskat wat as die standaardvaktaal van hierdie bedryf beskou kan word. In die lig hiervan word daar nou eers verwys na twee problematiese sake wat vroeër geïdentifiseer is, naamlik nisting en nesting. Aan die hand van die woorde 'langhoringsprinkaan' en 'krompokkeltjie' is in hoofstuk twee geïllustreer hoe nisting (waar sublemmas ter sprake is) die woordeboekgebruiker/vertaler se toegang tot woordeboekartikels kan vertraag en bemoeilik. Ook is daarop gewys dat beide Gouws (2001: 107) en Zgusta (1971: 289) meen dat nisting (én nesting) problematies vir 'n woordeboekgebruiker kan wees. Maar aangesien 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf uitsluitlik gerig is op 'n beperkte gebied, sal die moontlike insluiting daarvan nie noodwendig tot nadeel van die woordeboekgebruiker/vertaler strek nie. In só 'n vertalerswoordeboek is dit te betwyfel of die dataverskaffing in hierdie verband dieselfde omvang as 'n algemene woordeboek sal hê. Derhalwe sal nesting en nisting in 'n vertalerswoordeboek nie noodwendig problematies vir die woordeboekgebruiker/vertaler wees nie. Die moontlikheid is dus nie uitgesluit dat dit wél in só 'n woordeboek kan verskyn nie. Ten einde standaardvaktaal in 'n woordeboek te konsolideer, is daar in hoofstuk een gewys op wat Landau (1989: 81) as riglyne vir die byeenbring van 'n standaardvaktaal beskou. Hier word genoemde riglyne herlei na die samestelling van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf: die samesteller moet sy/haar terminologieseleksie uit die bestaande korpus van woordeboeke (primêre bronne) maak, asook uit wynverwante handboeke en ander wynliteratuur (sekondêre bronne), én deur kennisname van die algemene omgangstaal in die Suid-Afrikaanse wynbedryf via Suid-Afrikaanse 88 wynmakers, wynboere, wynkenners en Suid-Afrikaanse wynspesialis- organisasies (tersiêre bronne); hy/sy moet voorkeur verleen aan terme wat die aard van wynkonsepte verklaar; en hy/sy moet termspesifiek wees en vaagheid vermy. 3.2.4.2.3 Aspekte van vormkommentaar Korrekte spelling is ook vir 'n vertalerswoordeboek van belang. In hoofstuk een is daarop gewys dat Landau (1984: 77) beklemtoon dat 'n enkele spellingvorm as kanonieke vorm in 'n woordeboek opgeneem moet word, maar dat daar ook in sekere gevalle (soos in historiese woordeboeke _ ook 'n kenmerk wat vroeër aangedui is as een van dié wat vir 'n vertalerswoordeboek van belang is) spellingvariante en dialektiese vorme voorkom. Vergelyk in hierdie verband die woorde 'krompokkel'/'krompokkeltjie' wat in hoofstuk twee onder die loep gekom het. Soos Gouws (1989: 209-210) noem, is dit ook belangrik dat die leksikograaf (wat ook die samesteller van 'n vertalerswoordeboek impliseer) grammatiese data moet verskaf. Ook uitspraak as datatipe (Gouws 1989: 253 en Al-Kasimi 1977: 35) is veral belangrik vir tolke. Dit word aanbeveel dat die grammatiese data as mikrostruktuurelement in die woordeboekartikel verskyn as deel van die leksikografiese bewerking van die lemma. Uitspraakdata (soos vermeld deur Zgusta 1971: 326 en 327) moet ook by die lemma gevoeg word. 3.2.4.2.4 Aspekte van semantiese kommentaar 3.2.4.2.4.1 Betekenisverklaring 3.2.4.2.4.1.1 Definisies Veral drie van die vier leksikografiese definisies (as betekenisverklaring volgens Gouws 1989: 114-117), naamlik deskriptiewe, sinoniem- en genus-en- differentia-definisies is na hierdie navorser se mening ook van toepassing op 'n vertalerswoordeboek. Die vierde een, naamlik die sirkeldefinisie, kan aangewend word indien die leksikograaf sekerheid het dat die lemma van 'n uitvoerige deskriptiewe definisie voorsien is wat ook 'n kruisverwysing insluit indien 'n onbekende woord in die definiens voorkom. 'n Sirkeldefinisie is egter soms 'n onduidelike definisietipe (soos in hoofstuk een ook aangedui as 'n definisietipe wat Landau (1984: 124-132) nie aanbeveel nie), maar gevalle kan 89 voorkom waar die samesteller van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid- Afrikaanse wynbedryf nie anders kan as om daarvan gebruik te maak nie, byvoorbeeld by die bewerking van samestellings. Zgusta (1971: 254) se vermaning oor definisies wat nie spesifiek genoeg is nie, behoort vir 'n vertalerswoordeboek ook te geld. 'n Vertaler/tolk wil met 'n enkele definisie duidelikheid oor die betekenis van 'n term uit die Suid- Afrikaanse wynbedryf verkry, sodat hy/sy verseker kan wees van die vertaalakkuraatheid daarvan. In hoofstuk twee is daar geïllustreer hoe die definisies in algemene verklarende woordeboeke van byvoorbeeld die woorde 'kalander' en 'skroefpers' vanuit 'n vertaler/tolk in die Suid-Afrikaanse wynbedryf se oogpunt, nie duidelik genoeg is nie. Lemmas wat in 'n vertalerswoordeboek vir genoemde bedryf opgeneem behoort te word, sal uiteraard vakterminologie wees wat sal vereis dat (soos beklemtoon deur Zgusta 1971: 254 en Gouws 1989: 113-114) die definisies daarvan ook wetenskaplik korrek moet wees. Ongetwyfeld behoort Landau (1984: 132-138) se reëls vir goeie definiëringspraktyk ook op 'n vertalerswoordeboek van toepassing te wees: die definisies moet selfs vir 'n oningeligte gebruiker verstaanbaar wees; dit moet 'n woord in konteks so ver as moontlik kan vervang (alhoewel soms moeilik in die geval van wetenskaplike terme wat sekerlik ook in die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan voorkom); dit moet as vervanger van 'n woord daardie woord se grammatiese funksie weerspieël; dit moet so eenvoudig as moontlik wees, en in gevalle waar dit nie moontlik is nie, behoort die definieerder (soos aanbeveel deur Kuhn 1980, in Zgusta (red.) 1980: 115-121) die probleem met voorbeeldsinne op te los; dit moet bondig wees; en dit moenie dubbelsinnig wees nie ('n probleem wat in hoofstuk twee uitgewys is met die definisie van die woord 'skroefpers' in algemene verklarende woordeboeke). Die definiëringsfoute wat Landau (1984: 144-145) uitwys, moet in alle opsigte deur die samesteller van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid- Afrikaanse wynbedryf vermy word: die definisies moenie bloot handboekbeskrywings wees nie; selfverduidelikende inskrywings moenie as leksikale eenhede aangebied word nie (soos dikwels gebeur in die geval van wetenskaplike terminologie); 'n sinoniem in wetenskaplike verband moet 'n presiese vervanging van 'n woord deur 'n ander woord wees; en die 90 woordeboeksamesteller moet seker maak dat die konteks van 'n definisie wél 'n verwysingsraamwerk aan die woordeboekgebruiker/vertaler verskaf. 3.2.4.2.4.1.2 Polisemie en homonimie Gouws (1984: 114 e.v.) se onderskeid tussen verwante betekenisonderskeidinge (polisemie) en onverwante betekenisse (homonimie) vereis versigtige oorweging vir 'n vertalerswoordeboek vir die Suid- Afrikaanse wynbedryf. Sou sulke gevalle in die woordeskat van hierdie bedryf voorkom, behoort die samesteller van só 'n woordeboek slegs te fokus op die polisemie en homonimie wat op die Suid-Afrikaanse wynbedryf van toepassing is. Die gepaardgaande detail en hoeveelheid data in hierdie verband (soos Zgusta 1971: 273 ook uitwys), sal deur hierdie woordeboeksoort (vertalerswoordeboek) bepaal word. Waar (Gouws 1989: 121 e.v.) polisemiese paradigmas ('n reeks betekenisonderskeidinge) in só 'n vertalerswoordeboek van toepassing sou wees, word aanbeveel dat beide polisemiese uitbreiding (die byvoeging van nuwe betekenisonderskeidinge binne hierdie bepaalde terrein) en polisemiese beperking (betekenisonderskeidinge wat in onbruik verval het, maar steeds binne hierdie bepaalde terrein) in genoemde paradigmas weerspieël word. Soos in hoofstuk twee vermeld, bemoei vertalers/tolke in die Suid-Afrikaanse wynbedryf hulle nie net met die vertaling van resente brontekste nie, maar ook met historiese tekste (alhoewel moontlik op kleiner skaal) waar polisemiese verskeidenheid wat ook ouer onderskeidinge insluit wél relevant kan wees. Wat die mikrostrukturele ordening van moontlike polisemiese waardes betref, blyk dit dat 'n kombinasie van die twee bekendste ordeningstipes, naamlik historiese ordening en empiriese ordening (volgens Mostert 1984: 144, aangehaal in Gouws 1989: 132) moontlik in só 'n vertalerswoordeboek van toepassing kan wees. Alhoewel die empiriese ordeningsmetode (ordening van betekenisonderskeidinge volgens gebruiks- en registerkategorieë) dié ordeningsmetode is wat deesdae in sinchroniese woordeboeke gebruik word (volgens Gouws 1989: 135-136), moet daar ook kennis geneem word dat historiese ordening óók van belang kan wees vir vertalers. Polisemiese ordening is ook van toepassing op die tweetalige komponent van die vertalerswoordeboekmodel. In 'n tweetalige woordeboek word 91 (volgens Gouws 1989: 137) vertaalekwivalente as doeltaalsinonieme, of as vertaalekwivalente van verskillende polisemiese waardes van die brontaal aangebied. In beide gevalle moet dit egter binne die beperkte terrein van die Suid-Afrikaanse wynbedryf geskied, aangesien hierdie model gerig is op genoemde terrein. Ook hier moet byvoorbeeld die historiese ordening toegepas word. Wat die makrostrukturele ordening van subleksikale items betref, word dit aanbeveel dat (soos reeds vroeër aangedui) die samesteller van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf die gebruik van nesting en nisting versigtig moet oorweeg. Omdat die veld van die Suid- Afrikaanse wynbedryf beperk is, sal die toepassing daarvan nie noodwendig tot nadeel van die woordeboekgebruiker/vertaler strek soos wat Gouws (2001: 107) en Zgusta (1971: 289) as problematies in algemene woordeboeke aandui nie. 3.2.4.2.4.2 Betekenisbetrekkinge Die tweede hoofgroep betekenisdata wat Gouws (1989: 113 en 139 e.v.) onderskei, naamlik betekenisbetrekkinge (semantiese insluiting en semantiese teëstelling, asook semantiese aansluiting), is ook van belang vir 'n vertalerswoordeboekmodel vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Hiponimie en sinonimie (as onderverdeling van semantiese insluiting) behoort ook in 'n vertalerswoordeboek voor te kom, maar dit word egter aanbeveel dat hiponieme (of subordinate) van superordinate ook beperk moet word tot die genoemde bedryf. So ook woorde wat sinonimies van aard is. Sinonieme in sinoniemparadigmas van só 'n woordeboek, behoort slegs met die Suid- Afrikaanse wynbedryf verband te hou. Sodoende sal waarskynlik eerder absolute as gedeeltelike sinonieme van belang wees. Soos Gouws (1989: 151-152) verder aandui, word doeltaalsinonieme as vertaalekwivalente in vertalende woordeboeke aangebied. Omdat dit aanbeveel word dat die vertalerswoordeboek onder die loep ook die eienskappe van 'n vertalende woordeboek behoort te bevat, sal genoemde dus ook van belang wees vir hierdie produk. Ook hier kan vertaalekwivalentparadigmas ('n reeks vertaalekwivalente) wél voorkom, maar dit word weer eens aanbeveel dat die samesteller slegs relevante (tot 92 hierdie bedryf) vertaalekwivalente insluit. In gevalle waar daar nie verskillende polisemiese onderskeidinge vir 'n bepaalde lemma bestaan nie, kan slegs die enkele vertaalekwivalent teenoor die betrokke lemma aangedui word. In gevalle waar daar egter verskillende polisemiese onderskeidinge voorkom wat binne hierdie bepaalde terrein geld, kan die samesteller ook van nommers by elke vertaalekwivalent gebruik maak soos dit in verklarende woordeboeke gedoen word. Sou doeltaalsinoniemparadigmas (sinonieme vir vertaalekwivalente binne hierdie bepaalde terrein) verder voorkom, en dit 'n lysting van absolute sinonieme as vertaalekwivalente is, moet dit ongemerk aangebied word. Waar daar egter 'n verhouding van gedeeltelike sinonieme tussen die gegewe lys vertaalekwivalente bestaan, moet kort betekenisverklarings (gemerk dus) naas die sinonimiese vertaalekwivalente aangebied word, soos Gouws (1989: 152 e.v.) ook in hierdie verband aandui. Waar semantiese teëstellings van toepassing kan wees in hierdie woordeboek, word aanbeveel dat die samesteller dit wel vir die woordeboekgebruiker/vertaler se gerief insluit. Soos Gouws (1989: 158) ook noem, hoef die samesteller nie op die aard van die semantiese teëstellings uit te brei nie. Slegs die inskrywings teenoorgesteldes of teenoor kan daarby verskyn. In gevalle waar semantiese aansluiting in hierdie woordeboek ter sprake is (Gouws 1989: 157-158), moet die samesteller die afkorting van die woord vergelyk (vgl.) as merker gebruik in sy/haar kruisverwysing na ander leksikale items wat semantiese aansluiting by die betrokke lemma het. 3.2.4.2.4.3 Vertaalekwivalente Vertaalekwivalente as die derde hoofgroepering van betekenisdata (Gouws 1989: 113), is van kardinale belang vir die tweetalige komponent van die vertalerswoordeboekmodel. Soos Gouws (1989: 161-163) ook aandui, is dit essensieel dat vertaalekwivalente wat in woordeboeke verskyn, as plaasvervangers moet kan optree, of as vertalingsoorweging kan geld in 'n funksionalistiese benadering waar die boodskap soos vervat in die brontaal ook in die doeltaal oorgedra moet word. Verder moet die omkeerbaarheidsbeginsel konsekwent toegepas word _ in hoofstuk twee is dit uitgewys as 'n probleem in die Tweetalige Woordeboek waar die Afrikaanse 93 woord 'langhoringsprinkaan' as die vertaalekwivalent van die Engelse lemma 'katydid' aangedui word, maar nie lemmastatus daarin geniet nie. 'n Vertaalekwivalent móét ook lemmastatus in dié betrokke woordeboek geniet. Die verskaffing van vertaalekwivalente vir veral kultuur- en tydperkgebonde woorde, is 'n dilemma wat in hoofstuk twee met byvoorbeeld die woorde 'krompokkel/krompokkeltjie' en 'vlooitjie' uitgewys is, en ook deur Zgusta (1971: 294-297) en Al-Kasimi (1977: 61) as problematies vir leksikograwe vermeld word. In gevalle waar dit onmoontlik is om vertaalekwivalente as gevolg van kultuur- en tydperkgebondenheid te verskaf, word dit aanbeveel (soos Al-Kasimi 1977: 61 vermeld) dat die leksikograaf/samesteller 'n kort beskrywing langs die betrokke lemma of lemmas verskaf om sodoende duidelikheid aan die vertaler/tolk te bied. Ook die stylvlak (Zgusta 1971: 298-299) van die ekwivalente-aanbieding, en die handhawing daarvan, is van belang vir 'n vertalerswoordeboek. Die samesteller van só 'n produk vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf moet vooraf besluit op 'n ekwivalent-aanbiedingstyl en deurgaans daarby hou. So ook moet die behandeling van beide bron- en doeltaal in hierdie woordeboek konsekwentheid openbaar. Soos Zgusta (1971: 298-299) aandui, kan die leksikograaf nie bloot aanvaar dat sekere taalaspekte wat vir die brontaaltaalspreker vanselfsprekend is, noodwendig dieselfde vir die doeltaalspreker sal wees nie. In sulke gevalle sal die leksikograaf van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf, meer data aan die doeltaalspreker moet verskaf, soos byvoorbeeld uitspraakaanduiding in fonetiese vorm. Sodoende sal die woordeboekgebruiker/vertaler se taak vergemaklik word. Die doel van hierdie vertalerswoordeboek, naamlik om te dien as die ideale gebruiksinstrument vir vertalers/tolke in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, sal uiteraard ook 'n beduidende rol speel in die samestelling van die tweetalige komponent daarvan. Soos in hoofstuk een gesien, wys Zgusta (1971: 299 e.v.) daarop dat die doel van 'n tweetalige woordeboek brontaalbegrip of - beskrywing kan wees, of om tekste in die doeltaal te skryf. Hier word egter aanbeveel dat die samesteller van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid- Afrikaanse wynbedryf moet kyk na brontaalbegrip en die skryf van tekste in die doeltaal. Vir brontaalbegrip, moet die samesteller slegs die (absolute) 94 vertaalekwivalent(e) aanbied, en om 'n brontaalspreker van hulp te wees met die skryf van doeltekste, moet die samesteller (maar ook net waar nodig) die vertaalekwivalent van slegs 'n kort beskrywing ter wille van duidelikheid voorsien. Hier speel koteksinskrywings (kollokasies en gebruiksvoorbeelde) 'n belangrike rol. Daar is vroeër vermeld dat absolute vertaalekwivalente van groter belang is vir 'n vertaler/tolk in hierdie bedryf as wat gedeeltelike vertaalekwivalente is. In só 'n woordeboek soek die vertaler/tolk eerder woorde wat in 'n een-tot-een- verhouding in 'n volkome ekwivalentverhouding bestaan; kongruensie dus, soos Gouws (1989: 164) daarna verwys. Om te bepaal of 'n vertaalekwivalent 'n absolute ekwivalent is, moet die leksikograaf 'n kontekstoets doen (Zgusta 1971: 315). Soos in hoofstuk een genoem, gebeur dit egter soms dat daar in die doeltaal hoegenaamd nie 'n vertaalekwivalent vir 'n bepaalde lemma in die brontaal bestaan nie; gevolglik is daar 'n leksikale gaping in die doeltaal (Gouws 1989: 174 e.v. en Zgusta 1971: 323 e.v.). In sulke gevalle moet die leksikograaf (die leksikograaf van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf) óf 'n vertaalekwivalent skep, óf 'n parafrase ter verduideliking in die doeltaal aanbied, óf 'n kombinasie van beide insluit. Hierdie verskynsel is die sogenaamde surrogaatekwivalensie. Zgusta (1971: 323 e.v.) noem dat leksikale gapings onder andere voorkom by kultuurgebonde woorde waarvoor daar nie vertaalekwivalente in die doeltaal bestaan nie (soos byvoorbeeld die woorde 'krompokkel/krompokkeltjie' en 'vlooitjie' uit hoofstuk twee), en by naamkundige (onomastiese) gapings (wat moontlik ook problematies kan wees in die Suid-Afrikaanse wynbedryf). Wanneer surrogaatekwivalensie toegepas word, moet die leksikograaf verder toesien dat die omkeerbaarheidsbeginsel óók geld (Gouws 1989: 174 e.v.). 3.2.4.2.4.4 Etikette Ook temporele etikette (om byvoorbeeld tydperkgebondenheid van 'n woordeboekinskrywing te merk - Gouws 1989: 202 e.v.) behoort van belang te wees vir hierdie vertalerswoordeboek. Hierdie etikette moet liefs by die lemma verskyn (ná die uitspraakaanduiding) en moet die betrokke vertaalekwivalent voorafgaan. 95 3.2.4.2.4.5 Voorbeelde In gevalle waar definisies nie verklarend genoeg kán wees nie, word aanbeveel dat daar van voorbeelde (genoem deur Zgusta 1971: 256 en Al-Kasimi 1977: 91) en selfs van woordeboekillustrasies gebruik gemaak word (soos ook genoem deur Zgusta 1971: 256 en Al-Kasimi 1977: 96-102, én na aanleiding van die geïllustreerde belangrikheid daarvan met byvoorbeeld die woorde 'wingerdkalander' en 'vlooitjie' in hoofstuk twee). 3.3 Die leksikografiese proses en die vertalerswoordeboek Die korrekte toepassing van die leksikografiese proses (Gouws 2001: 64-72) is ook van belang vir hierdie vertalerswoordeboekmodel. Die kern van hierdie proses, is die woordeboekplan. Deel van hiérdie plan is die organisatoriese plan wat primêr die projeklogistiek en die bestuur daarvan insluit. Van belang hier is die identifisering en duidelike formulering van die werklike doel met die produk wat in hierdie geval 'n vertalerswoordeboek as die ideale gebruiksinstrument vir die vertaler/tolk in die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal wees. Van verdere toepassing is die konseptualiseringsplan wat volgens Gouws (2001: 67) die belangrikste direkte invloed op die samestellingsproses van 'n woordeboek het. Wiegand (1989: 151, aangehaal deur Gouws 2001: 67) verdeel hierdie konseptualiseringsplan in vyf fases: a) Die algemene voorbereidingsfase wat die grondslag lê vir die struktuur, inhoud en aanbieding van die finale produk. b) Die materiaalversamelingsfase waartydens die databasis/leksikografiese korpus uit die reeds vermelde primêre, sekondêre en tersiêre bronne saamgestel word. c) Die materiaalvoorbereidingsfase waartydens materiaal wat mondeling meegedeel is, getranskribeer en in die rekenaar ingevoer word vir latere insluiting in die korpus, asook die sortering van versamelde materiaal vir in- of uitsluiting, sodat die leksikograwe kan voortgaan met die makrostrukturele seleksie van die leksikale items wat as lemmas in die betrokke woordeboek (volgens die tipologiese kategorie) opgeneem gaan word. d) Die materiaalprosesseringsfase wat die toepassing van die data- verspreidingsstruktuur (waarvolgens die spesifieke posisie - in die voortekste, sentrale woordelys of agtertekste - van elke datatipe bepaal word) en die skryf 96 van die woordeboektekste behels. Sodra die mikrostrukturele programme geformuleer en die makrostrukturele seleksie afgehandel is, kan die leksikograwe voortgaan met die konstruering van die woordeboekartikels as tekste in die sentrale woordelys. e) Die voorbereidingsfase vir publikasie is die laaste fase waartydens die manuskrip deur verskeie proefleesfases gaan en finale verstellings daaraan gemaak word. 3.4 Opsommend 'n Vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf behoort derhalwe 'n unieke produk te wees wat die vertaler as die ideale gebruiksinstrument kan aanwend in sy/haar taak as vertaalpraktisyn in hierdie bedryf. 'n Produk wat al die eienskappe openbaar wat in hierdie hoofstuk aanbeveel word, behoort só 'n gebruiksinstrument te wees. Vervolgens word gekyk na die moontlike toepassing van sommige van die vermelde eienskappe op enkele artikels. Die toepassingsvoorbeelde wat hier aangebied word, is voorbeelde wat in die Afrikaanse afdeling van die vertalerswoordeboek sal verskyn. Blaaspootjie (wingerdplaag), balans (wynproeterm) en vlooitjie (klein outydse mosbalie) is die woorde wat vir dié doel geselekteer is. a. blaaspootjie Hierdie term uit De Villiers en Schoeman (1988: 48) se Engelse vertaalekwivalent thrips kom uit die Groot Woordeboek/Major Dictionary. Die definisie vir blaaspootjie wat hier aangebied word, is 'n kombinasie van die definisie in die Verklarende Afrikaanse Woordeboek en data bekom uit De Villiers en Schoeman (1988: 48). blaaspootjie [bla:spoici], (-s), thrips. Skadelike klein, skraal insek met vier roeispaanvormige vlerkies en lang hare op die vlerkrande wat blaarversilwering en roesbruin korrelverkleuring veroorsaak. b. balans Hierdie wynterm uit Dedekind (2002: 87) se Engelse vertaalekwivalent balance kom uit Croft (2002: 62). Die definisie daarvan is uit Dedekind (2002: 87) en Croft (2002: 62) gesamentlik geformuleer. 'n Wynverwante definisie vir balans/balance is nie in resente verklarende woordeboeke opgeneem nie. 97 balans [balans], balance. Integrasie van vrugtigheid, alkohol, suur en tannien (droë, bitter smaak) in wyn. c. vlooitjie Soos in hoofstuk twee genoem, was 'n vlooitjie in vroeër dae 'n mosbalie kleiner as die gewone grootte wat in gebruik was. 'n Historiese, maar ook streekgebonde term dus wat in die volksmond ontstaan het. Omdat dié term nie in resente woordeboeke opgeneem is nie, en daar gevolglik ook nie 'n Engelse vertaalekwivalent daarvoor bestaan nie, word hier gepoog om die vertaalekwilentprobleem met 'n kort Engelse beskrywing hok te slaan. Die definisie wat daarna volg, is 'n verwerking van data verkry uit Van Zyl (1974: 35) en data verkry uit die Verklarende Afrikaanse Woordeboek. vlooitjie [floici], (-s), (hist.; streek), small must-vat. Mosbalie of houtkuip kleiner as die gewone waarin Kaapse wynboere gedurende die agtiende en negentiende eeu mos gegis het. ('n Woordeboekillustrasie kan in hierdie geval bygevoeg word.) Bogenoemde is enkele voorbeelde van hoe woordeboekartikels in 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf moontlik kan lyk. Die doel van dié woordeboek word weerspieël deur die bogenoemde voorbeelde: moeitelose lemma-opsporing, verskaffing van uitspraakdata wat veral van belang is vir tolke, etiketverskaffing om duidelikheidshalwe, aanbieding van slegs die gepaste vertaalekwivalent (of 'n kort verduideliking indien 'n vertaalekwivalent nie bestaan nie) en 'n bondige, maar duidelike en wynverwante definisie daarnaas. Só saamgestel, kan 'n vertalerswoordeboek die ideale gebruiksinstrument in die hande van die vertaler/tolk in die Suid- Afrikaanse wynbedryf wees. Belangrik egter (soos vroeër aangedui) is dat die voortekste effektiewe gebruiksleiding aan die vertaler/tolk moet verskaf. Derhalwe behoort dit 'n integrale deel van só 'n woordeboek te wees. Geïntegreerde buitetekste (wat die agtertekste insluit) sal die gebruikswaarde van hierdie woordeboek verhoog. 98 Bronnelys Woordeboeke Allen, R. et al. 1996. Chambers 21st Century Dictionary. Edinburgh: Chambers. Bosman, D.B. et al. 1980. Tweetalige Woordeboek. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers. Bosman, D.B. et al. 1984. Tweetalige Woordeboek/Bilingual Dictionary. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers. De Villiers, M. et al. 1987. Nasionale Woordeboek. Kaapstad: Nasou. Eksteen, L.C. 1997. Groot Woordeboek/Major Dictionary. Kaapstad: Pharos. Holthausen, L.C. et al. 1991. Woordeboek vir Tuinboukunde met plantname. Pretoria: Nasionale Vakterminologiediens. Hornby, A.S. 1980. Oxford Advanced Learner's Dictionary. Oxford: Oxford University Press. Labuschagne, F.J. en Eksteen, L.C. 1993. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Pretoria: J.L. van Schaik. Odendal, F.F. en Gouws, R.H. 2000. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal. Midrand: Perskor Uitgewers. Sinclair, J. et al. 1995. Collins Today's English Dictionary. London: HarperCollins Publishers. Sinclair, J. et al. 1988. Essential English Dictionary. Londen: Collins. Snyman, F.J. et al. 1968. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Pretoria: Die Staatsdrukker. 99 The Advanced Learner’s Dictionary. 1963. Londen: [s.n.], aangehaal in Zgusta 1971. Manual of Lexicography. The Hague: Mouton. Ander bronne Al-Kasimi, A.M. 1977. Linguistics and Bilingual Dictionaries. Leiden: E.J. Brill. Al-Kasimi, A.M. 1983. The interlingual/translation dictionary. Dictionaries for translation. In: Hartmann, R.R.K. (red.) 1983. Lexicography: Principles and Practice. Londen: Academic Press. Bergenholtz, Henning, Sven Tarp en Herbert E. Wiegand. 1999. Datendistributionsstukturen, Makro-en Mikrostrukturen in neueren Fachwörterbüchern. Hoffmann, L., H. Kalverkämper en H.E. Wiegand (Reds.). Fachsprachen. Ein internationales Handbuch zur Fachsprachenforschung und Terminolgiewissenschaft/ Languages for Special Purposes. An International Handbook of Special-Language and Terminology Research. Berlyn: De Gruyter. 1762-1832. Croft, N. 2002. Winetasting. London: Ryland Peters & Small. Dedekind, N. 2002. Wyn. Pretoria: LAPA Uitgewers. De Villiers, M. 1975. Die Semantiek van Afrikaans. Kaapstad: HAUM. De Villiers, W.M. en Schoeman, A.S. 1988. Tuinplae en -siektes in Suid-Afrika. Kaapstad: Struik Uitgewers. Dictionary of Translation Studies. [S.l.: s.n.]. Eksteen, L.C. 1965. Die Leksikale Definisie. ’n Leksikografiese Ondersoek. Ongepubliseerde proefskrif. Universiteit van Pretoria. 100 Ferreira, J.H.S. en Venter, E. 1996. Grapevine Diseases & Pests in South Africa/Wingerdsiektes & -Plae in Suid-Afrika. Stellenbosch: LNR-Nietvoorbij vir Wingerd- en Wynkunde. Garvin, P.L. 1947. Bespreking van Scerba, L.V. 1940. Opyt obscej teorii leksikografii. Word 3: 128-130. Geeraerts, D. 1984a. Dictionary Classification and the Foundations of Lexicography, in ITL Review 63 (1984): 37-63. Gouws, R.H. 1989. Leksikografie. Kaapstad: Academica. Gouws, R.H. 1996. Bilingual Dictionaries and Communicative Equivalence for a Multilingual Society. In: Lexikos 6: 14-31. Gouws, R.H. 2001. Lexicographic Training: Approaches and Topics in Emejulu, J.D. 2001. Elements de Lexicographie Gabonaise, Tome 1. New York: Jimacs-Hillman Publishers: 64-72. Gouws, R.H. 2001. The use of an improved access structure in dictionaries. Lexikos 11: 101-111. Hartmann, R.R.K. et al (red.) 1983. Lexicography: Principles and Practice. London: Academic Press. Hartmann, R.R.K. 1989. Sociology of the Dictionary User: Hypotheses and Empirical Studies. Hausmann, F.J. et al. (reds.). 1989-1991: 102-111. Halverson, Sandra 1997. The Concept of Equivalence in Translation Studies: Much Ado About Something in Target 9:2 207-233. Amsterdam: John Benjamins. Hausmann, Franz J. en Hebert E. Wiegand. Component Parts and Structures of Monolingual Dictionaries. Hausmann, Franz J. et al. (Reds.) 1989-1991: 328-360. 101 Kammerer, Matthias en Herbert E. Wiegand. 1998. Über die textuelle Rahmenstruktur von Printwörterbüchern. Präzisierungen und weiterführende Überlegungen. Lexicographica 14: 224-238. Kromann, H.P. et al. 1991. Principles of Bilingual Lexicography. Hausmann, F.J. et al. (reds.). 1989-1991: 2711-2728. Kuhn, Sherman M. 1980. The Art of Writing a Definition That Does Not Define. In: Zgusta, L. (red.). 1980. Theory and Method in Lexicography. Columbia: Hornbeam Press: 115-121. Landau, S. 1984. Dictionaries: The Art and Craft of Lexicography. New York: The Scribner Press. Leonardi, Vanessa 2000. Equivalence in Translation: Between Myth and Reality in Translation Journal [S.l.: s.n.]. Malkiel, Y. 1967. A Typological Classification of Dictionaries on the Basis of Distinctive Features, in Householder, F.W. en Sol Saporta (Reds.) 1967: 3-24. Malkiel, Y. 1976. Etymological Dictionaries. A Tentative Typology. Chicago: University Press. McArthur, T. 1986. Worlds of Reference. Cambridge: CUP. Mostert, N. 1984. Die Opeenvolging van Betekenisonderskeidings in die Leksikale Definisie. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling, RAU. Muntingh, L.M. 1998. 'n Ondersoek na die plek en inhoud van ekwivalensie binne die moderne vertaalwetenskap met besondere verwysing na die Nuwe Afrikaanse Vertaling in Old Testament Essays, Volume 11 number 3. 513-517. [S.l.:s.n.]. Munday, J. 2001. Introducing Translation Studies. New York: Routledge. 102 Rettig, W. 1985. Die zweisprachige Lexikographie Französisch-Deutsch, Deutsch- Französisch. Stand, Probleme, Aufgaben. Lexicographica 1: 83-124. Scerba, L.V. 1940. Opyt Obscej Teorii Leksikografii. Leksikograficheskij Sbornik 3: 89-117. Sebeok, T.A. 1962. Materials for a Typology of Dictionaries, in Lingua 11: 363-374. Singh, R.A. 1982. An Introduction to Lexicography. Manasagangotri, Mysore: Central Institute of Indian Languages. Tarp, Sven. 2000. Theoretical Challenges to Practical Specialised Lexicography. In: Lexikos 10: 189-207. Van Zyl, D.J. 1974. Kaapse Wyn en Brandewyn. Kaapstad: HAUM. Wiegand, H.E. 1998. Wöterbuchforschung. Berlyn: De Gruyter. Zgusta, L. 1971. Manual of Lexicography. The Hague: Mouton. Zöfgen, E. 1994. Lernerwörterbücher in Theorie und Praxis. Tübingen: Max Niemeyer. Persoonlike Onderhoude De Villiers, M. 2004. Persoonlike Onderhoud. 6 Februarie, Universiteit van Stellenbosch. Goussaard, P.G. 2004. Persoonlike Onderhoud. 6 Februarie, Universiteit van Stellenbosch. 103 OPSOMMING Vertalers/tolke in die Suid-Afrikaanse wynbedryf se taak word dikwels bemoeilik omdat algemene tweetalige en verklarende woordeboeke, gerig op die algemene woordeboekgebruiker volgens die tipologiese opdrag, nie voldoende data verskaf wat uitsluitlik op die beperkte terrein van genoemde bedryf gerig is nie. Die inligting wat vertalers/tolke uit hierdie woordeboeke as noodsaaklike gebruiksinstrumente bekom, skiet dikwels ver te kort wat vertaling in die Suid-Afrikaanse wynbedryf betref. Onvoldoende data (data wat nie terreinspesifiek is nie), oorbodige data (as gevolg van algemene dataverskaffing) en ontbrekende data (omdat terreinspesifieke terme/woorde as gevolg van 'n lae algemene gebruiksfrekwensie weggelaat is) noodsaak hulle dan om duidelikheidshalwe ook gebruik te maak van ánder bronne. En só 'n proses is tydrowend. Dit het tot gevolg dat vertalers/tolke se soeke na trefseker woordeboekdefinisies en vertaalekwivalente soms in die slag bly. Daarby is tyd 'n belangrike faktor. Dit is moontlik dat vertalers nie altyd by vertaalopdraggewers se sperdatums kan hou nie as gevolg van genoemde tekortkominge. In 'n mededingende praktyk waar vertaalakkuraatheid en sperdatums gedugte rolspelers is, het vertalers/tolke in hierdie bedryf 'n behoefte aan 'n woordeboek wat die ideale gebruiksinstrument is. Só 'n woordeboek kan 'n vertalerswoordeboek wees waarin terreinspesifieke, ondubbelsinnige en duidelike data aangebied word wat die taak van vertalers/tolke in die Suid-Afrikaanse wynbedryf beduidend kan vergemaklik. Spesifieke probleme met resente algemene woordeboeke kom hier onder die loep. Aan die hand van hierdie geïdentifiseerde probleme word uiteindelik aanbevelings geformuleer vir die samestelling van 'n vertalerswoordeboek vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf. 104 ABSTRACT Often the task of translators/interpreters in the South African wine industry is hampered by insufficient data in dictionaries for general use. Information obtained from these dictionaries as important user instruments do not always come up to expectations for translation in the South African wine industry. General bilingual and explanatory dictionaries are compiled (in accordance with the typological instruction) for general use only. It therefore does not provide sufficient data for a limited field such as the above-mentioned industry. Inadequate data (data that is not field specific) and excessive data (because of general data supply) therefore necessitate the use of other sources for the sake of clearness. Making use of other sources is a time consuming process. Due to a too low frequency of use the omission of certain field specific words/terms from the mentioned dictionaries likewise creates problems for translators/interpreters. The result thereof is that translators'/interpreters' quest for very accurate dictionary definitions and translation equivalents is not satisfied. It is possible that translators cannot always meet deadlines for translation commissions resulting from the mentioned imperfections. In a competitive practice where translation accuracy and deadlines are formidable role-players, translators/interpreters in this industry need a dictionary that is the ideal user instrument. Such a dictionary can be a translator's dictionary with field specific, unambiguous and clear data that can significantly facilitate the task of translators/interpreters in the South African wine industry as such. Specific problems with recent general dictionaries come under investigation in this thesis. On grounds of the identified problems, recommendations are made for the compilation of a translator's dictionary for the South African wine industry. 105 INHOUD Opsomming Abstract Inleiding................................................................................................................. 1 1. Die struktuur van 'n woordeboek...................................................................... 3 2. Vertaaldilemmas in die Suid-Afrikaanse wynbedryf met bestaande woordeboeke as gebruiksinstrumente.............................................................. 49 3. 'n Vertalerswoordeboekmodel vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.............. 82 Bronnelys............................................................................................................. 99 106 HOOFSTUK EEN 1. DIE STRUKTUUR VAN 'N WOORDEBOEK................................................. 3 1.1 Die teikenmark en die doel van 'n woordeboek................................................. 3 1.2 Die tipologiese klassifikasie van 'n woordeboek................................................ 5 1.3 Die raamstruktuur van 'n woordeboek............................................................ 10 1.3.1 Inleiding........................................................................................................ 10 1.3.2 Die raamstruktuur....................................................................................... 10 1.3.3 Die sentrale lys.............................................................................................. 13 1.3.3.1 Inleiding......................................................................................................... 13 1.3.3.2 Alfabetiese ordening van lemmas................................................................ 13 1.3.3.3 Mikrostrukturele aspekte............................................................................. 16 1.3.3.3.1 Inleiding................................................................................................... 16 1.3.3.3.2 Artikelstruktuur..................................................................................... 17 1.3.3.3.3 Die lemma................................................................................................ 17 1.3.3.3.4 Aspekte van vormkommentaar............................................................. 19 1.3.3.3.5 Aspekte van semantiese kommentaar................................................... 19 1.3.3.3.5.1 Inleiding................................................................................................... 19 1.3.3.3.5.2 Betekenisverklaring................................................................................ 20 1.3.3.3.5.2.1 Definisies............................................................................................ 20 1.3.3.3.5.2.2 Polisemie en homonimie................................................................... 26 1.3.3.3.5.3 Betekenisbetrekkinge............................................................................. 30 1.3.3.3.5.4 Vertaalekwivalente................................................................................. 34 1.3.3.3.5.5 Etikette.................................................................................................... 43 1.3.3.3.5.6 Voorbeelde.............................................................................................. 44 1.4 Ten slotte............................................................................................................. 45 107 HOOFSTUK TWEE 2. VERTAALDILEMMAS IN DIE SUID-AFRIKAANSE WYNBEDRYF MET BESTAANDE WOORDEBOEKE AS GEBRUIKSINSTRUMENTE........... 49 2.1 Inleiding................................................................................................................ 49 2.2 Identifisering van vertaaldilemmas................................................................... 50 2.2.1 Probleme met algemene verklarende woordeboeke................................... 51 2.2.1.1 Die algemene aard van die definisies …………………………………….. 51 2.2.1.2 Onduidelike en dubbelsinnige definisies ………………………………… 58 2.2.1.3 Woorde nie in algemene verklarende woordeboeke opgeneem nie …… 61 2.2.1.4 Probleme met sommige sinoniemparadigmas…………………………… 65 2.2.2 Probleme met tweetalige woordeboeke....................................................... 68 2.2.2.1 Woorde nie in algemene tweetalige woordeboeke opgeneem nie………. 68 2.2.2.2 Omkeerbaarheidsbeginsel soms nie toegepas nie……………………….. 69 2.2.2.3 Probleme met nisting……………………………………………………… 70 2.2.2.4 Probleme met spellingvariante…………………………………………… 72 2.2.2.5 Vertaalekwivalente vir kultuurgebonde woorde ……………………….. 73 2.3 Bevindings van enkele vertaalteoretici............................................................. 74 2.4 Gevolgtrekking................................................................................................... 76 108 HOOFSTUK DRIE 3. 'N VERTALERSWOORDEBOEKMODEL VIR DIE SUID-AFRIKAANSE WYNBEDRYF..................................................................................................... 82 3.1 Inleiding................................................................................................................ 82 3.2 'n Vertalerswoordeboekmodel........................................................................... 82 3.2.1 Die teikenmark en die doel van hierdie woordeboek................................. 82 3.2.2 Die tipologiese klassifikasie.......................................................................... 83 3.2.3 Die raamstruktuur........................................................................................ 85 3.2.4 Die sentrale lys............................................................................................... 87 3.2.4.1 Alfabetiese ordening van lemmas................................................................ 87 3.2.4.2 Mikrostrukturele aspekte............................................................................. 87 3.2.4.2.1 Artikelstruktuur...................................................................................... 87 3.2.4.2.2 Die lemma................................................................................................ 88 3.2.4.2.3 Aspekte van vormkommentaar............................................................. 89 3.2.4.2.4 Aspekte van semantiese kommentaar................................................... 89 3.2.4.2.4.1 Betekenisverklaring................................................................................ 89 3.2.4.2.4.1.1 Definisies............................................................................................ 89 3.2.4.2.4.1.2 Polisemie en homonimie................................................................... 91 3.2.4.2.4.2 Betekenisbetrekkinge............................................................................. 92 3.2.4.2.4.3 Vertaalekwivalente................................................................................. 93 3.2.4.2.4.4 Etikette.................................................................................................... 95 3.2.4.2.4.5 Voorbeelde.............................................................................................. 96 3.3 Die leksikografiese proses en die vertalerswoordeboek................................. 96 3.4 Opsommend....................................................................................................... 97 109